Luna Paige se Storielied vat vlam

  • 0

Luna Paige beweer sy is bietjie gespanne.

Dít sal jy nie met eerste oogopslag raai nie. Trouens, Paige is onder dié wat haar ken, net so bekend vir haar sagte geaardheid as wat sy vir vriend en vreemdeling is vir haar oorrompelende stemvaardighede.


Foto: Hannie du Plessis

Soft-spoken en innemend.

Dit is omstreeks middagete op ’n warmwordende lentedag op Stellenbosch. Ons sit op die stoep van die restaurant 5 Ryneveld in die middedorp. Die kleur van haar pienk lipstiffie spring gemaklik na die pienk van haar somerrok. ’n Perserige Blackberry vibreer. Die oproep word beantwoord, die besonderhede vir ’n opkomende optrede word haastig-haastig bepaal.

Haar nuwe projek, by name Storielied, word in ’n persvrystelling verklaar tot "’n Eerste vir die SA musiek industrie".

Nog uit die persverklaring: "Luna Paige skryf vir die afgelope 10 jaar Engelse liedere. Sy het besluit die tyd is reg om letterkunde en musiek in Afrikaans te verweef en iets nuuts aan Afrikaanse musiekliefhebbers te bied. Sy put haar inspirasie uit romans en kortverhale soos geskryf deur van ons land se mees bekroonde skrywers."

Daar is dié wat van mening is dat haar basuinwerk kragtiger op die verhoog is, agter ’n mikrofoon en klavier of kitaar, as op ’n CD wat in ’n ateljee opgeneem is.

Paige self deel dié mening. "Mense het nog altyd vir my gesê die recordings klink nie soos dit live klink nie ... Dit is hoekom ek die live CD wou doen – daar is net soveel meer adrenalien in die are."

Daarom is besluit om ’n DVD en "live" CD vir Storielied op te neem. In die Durbanville Ouditorium het sy saamgespan met uiters gerekende musikante soos Schalk Joubert, Kevin Gibson en Willem Möller en ’n verdere 13-stuk-orkes vir dié vertoning, waarvoor Albert Maritz die regie behartig het. Ongeveer 200 gehoorlede het die saal volgesit.

"Daar was selfs ’n interpretive danser!" lag sy. "So ’n mannetjie wat rondgehol het ... Daar was nie tyd vir direction nie, hy't basies net opgedaag en gestrek voor die tyd."

Die Clemengold-nartjiemaatskappy was die borg vir dié optredes, wat weerspieël is deur die magdom nartjies op die verhoog. Is dit nie ’n effe obskure maatskappy om ’n musiekproduksie te borg nie?

"Ek het by vriende gehoor hulle wil betrokke raak by die kunste. Ek het toe vir hulle ’n proposal gestuur en hulle het ja gesê – ek kon dit nie glo nie!"

Sy het genoop gevoel om vir Clemengold ’n liedjie te skryf om hulle hiervoor te bedank, en "Breek my oop" het uit hierdie behoefte gespruit.

"Dit is ’n suggestiewe nommertjie daai," sê sy, ietwat skaam, ietwat trots.

Die bekendstellingstoer vir die DVD en CD, waartydens sy ’n swetterjoel vertonings van die Kaap tot in Pietermaritzburg sal lewer, behartig sy egter op haar eie, slegs met ’n kitaar en ’n klawerbord. "Met al die uitgawes kan ek nie bekostig om ’n groot band saam te vat nie."

Lank voor die toer of die opname het sy al begin timmer aan die projek. Vir die Woordfees in 2011 is sy gevra om by ’n huldeblyk vir Margaret Bakkes op te tree. Dáár het die gogga gebyt.

"Ek was flat broke en het maar bib toe gegaan om boeke te kry, en ek het daar ’n ou storie van haar gekry wat my geïnspireer het. Dit het gevoel of ek weer op universiteit is soos ek gedeeltes onderstreep en notas gemaak het ..."

Dit het gelei tot gesprekke met verskeie skrywers oor van hul werk en mettertyd haar interpretasie van die stukke waarmee sy omgegaan het.

"Dit is definitief nie bloot toonsettings nie. Literatuur is mos so, dat dit oop is vir interpretasie. Dana se stuk oor sy ouma het op die ou end oor my ouma gegaan."

Hoe kies ’n mens juis wátter stukke jy vir so ’n projek wil gebruik?

Sy lag wérklik uitbundig: "Soos ek sê, ek was broke! Ek het wat ook al in die bib was gebruik, en ek het ook op Facebook gevra watter stukke mense dink ek moet gebruik."

Só het die deur stadigaan vir haar oopgegaan om in Afrikaans te begin musiek maak – iets waarteen sy lank geskop het.

"Ek was maar hardegat daaroor. Ek het al voorheen in Afrikaans probeer skryf, maar dit het nie lekker gesit nie. Maar as jy wil survive in die industrie ... Die realiteit is dat Afrikaanse mense die kopers is."

Sy vind ook dat "Engelse mense al meer Afrikaans begin luister", en juis daarom is sy opgewonde oor die gedeelte van die opkomende toer wat haar na die Ooskus sal neem. "Baie Afrikaanse kunstenaars gaan nie eens Durban toe nie, maar daar is Afrikaanse mense daar wat honger is vir die kunste."

Alles in ag genome is sy baie "chuffed" oor die projek, die CD en DVD en waarheen dit alles op pad is.

"Die mense reageer baie goed. Dis nie kommersieel nie en dit is wat dit krag gee."

Dit is al ná twee-uur. Vir Luna word ’n ontbytdis van roereiers, roosterbrood en rocket deur die kelner afgelewer.

Die belangrikste maaltyd van die dag hoef immers nie noodwendig die heel eerste te wees nie.

- Besoek Luna Paige se webwerf of haar Facebook-blad vir besonderhede oor die bekendstellingstoer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top