Luna Paige: "Natuurlik speel die 'independent artist'-status ’n rol ..."

  • 0

Die sanger-liedjieskrywer Luna Paige stel binnekort ’n nuwe album, Borders & Beyond, bekend. Sy beantwoord ’n paar vrae.

Baie geluk met die vrystelling van jou nuwe album, Borders & Beyond. Luidens ’n mediaverklaring het jy vyf jaar lank gewerk aan die liedjies vir die album … vir ’n bekende gesig op die toneel soos jy is dit nogal ’n ongewoon lang tyd tussen albums. Watter elemente het daartoe bygedra dat dit so lank geneem het om die album te voltooi, en hoe voel jy nou na die proses as jy daarna terugkyk?

Jong – ek het nog altyd redelik tyd geneem met die uitgee van CD’s – 2003, 2005, 2009, 2012 en toe weer 2014. Mens het seker maar ’n verskeidenheid van redes hiervoor – nie al die liedjies wat mens skryf maak dit op CD’s nie – dit neem tyd om hulle te skryf, hulle uit te toets op gehore en om ’n gevoel te kry van waarheen jy op pad is met jou nuwe liedjies. Na die derde Engelse CD (2009) het ek besluit om in Afrikaans te werk – en dit het baie tyd in beslag geneem. Ek wou die produk ordentlik bemark en daarmee toer en het goeie reaksie gekry. Dit het my ’n goeie twee jaar (2011–2013) besig gehou noudat ek terugdink daaroor. Dit is ook in dié tyd dat ek baie saam met Gerald begin werk het. Ek het ook meer gemaklik daarmee geraak om saam met ander musikante te werk – en dit het definitief ’n impak gehad op my eie liedjies en die rigting waarin ek nou beweeg. Natuurlik speel die “independentartist”-status ook ’n rol. Om CD’s te maak is duur en is nie iets wat ek jaarliks kan of wil aanpak nie. Ek sien die CD’s as “benchmarks” van my vordering as kunstenaar en ook my lewe. Dit is nie net iets wat ek uitgee elke jaar omdat ek voel ek moet nie. Ek skryf liedjies wanneer hulle kom. En hulle kom net wanneer hulle wil.

Jou vorige album, Storielied, was jou eerste Afrikaanse projek, en nou het jy weer teruggekeer na Engels. Hoe het jy die verskil ervaar om met ’n Engelse of Afrikaanse produk te werk, veral in terme van gehoorreaksies en optreegeleenthede?

Kyk – die Afrikaans het beslis my loopbaan baie goed gedoen. Snaaks genoeg was die meeste van my aanhangers nog altyd Afrikaans (al het ek in Engels gesing). Die Afrikaanse media was my beslis ook nog altyd meer goedgesind – so toe ek in Afrikaans werk, was die reaksie baie positief. Ek dink tog wel die Afrikaanse projek het nie goed gedoen net omdat dit in Afrikaans was nie, maar omdat die DVD wat uitgekom het, van hoë gehalte was en die musiek iets vars gebied het. Die skaal van die produksie was werklik nog seker die grootste projek wat ek aangepak het, die grootste risiko wat ek al geneem het, en ek kan gelukkig sê dat ek vandag die vrugte daarvan pluk. Optreegeleenthede in Afrikaans voel beslis vir my meer – en die rede daarvoor is maar omdat daar baie meer Afrikaanse feeste in die land is. Elke tweede dorpie in Suid-Afrika het ’n fees en die meeste van hulle is maar eintlik Afrikaans. Vir my is dit lekker om te weet dat ek nou ’n vinger in al twee “pies” het. Ek kan by Afrikaanse kunste- en gemeenskapsfeeste optree, maar ook by Engelse folk-, blues- en rock-feeste. My Engelse musiek kan weens die aard daarvan by ’n verskeidenheid genre-spesifieke feeste aansluit. Dit hou die lewe vir my ook interessant. Ek wil tog bysê dat ek soms verstom is oor die reaksie van oorwegend Engelse gehore wanneer ek in Afrikaans sing. Ek het in die Oos-Kaap en KZN gereis en vir oorwegend Engelse mense gesing en hulle het die musiek verorber. Ek vind weer baie Afrikaanse aanhangers wat my Engelse musiek verkies. Niks is ooit soos mens dink dit gaan wees nie. Daarom is dit belangrik om die heeltyd die grense van jou gemaksones te verskuif, om saam met soveel as moontlik ander kunstenaars van ander genre groepe te werk en altyd jouself te vernuwe – natuurlik slegs in rigtings wat vir jou gemaklik, uitdagend en lekker is.

Op jou webwerf noem jy daar is voor die tyd besluit die opnames sou buite ’n ateljee gemaak word, en dit is ook so uitgevoer. Wat het tot hierdie besluit gelei en watter verskil het dit op die ou end gemaak? Wat was vir jou die hoogtepunte van hierdie ongewone proses?

Ja – ek is nogals ietwat van ’n gewoontedier. Ek het nog altyd al my CD’s by een ateljee opgeneem. Toe ek besluit om ’n live DVD en CD op te neem (Storielied), het ek besef dat daar alternatiewe maniere is om jou musiek aan jou aanhangers aan te bied. Weer eens gaan dit vir my om vernuwing. Ek het nog altyd gehou van die idee van rou, gestroopte, amper “live, one-take” opnames – soos in die dae van ouds. Daar is iets wat soms verlore gaan in musiek as dit in studio’s opgeneem word. Dit is asof mens se oor so verskerp dat jy nie die kleinste “flaw” in die musiek kan hanteer nie. En let’s face it – soms is dit daardie einste “flaws” wat ’n liedjie herkenbaar en spesiaal maak. Ek is ook ten gunste van ’n album wat ’n weerspieëling is van wat jy hoor wanneer jy ’n band live gaan kyk – veral wanneer dit by sanger-liedjieskrywers kom. Rock bands kan nog meer eksperimenteer met huge sounds en verrassende nuwe produksiestyle, maar vir my as sangeres wat baie solo optree, of saam met klein orkesgroepe, is dit belangrik dat mense iets huis toe vat wat hul persoonlike ervaring in die teater weerspieël. Dit het sin gemaak om die CD dan op te neem in ’n huis – waar ons almal eintlik maar net saamgespeel het. Niemand het meer as 2/3 “takes” gehad nie. Dit was verbasend maklik. Pynloos. En uiters gemaklik. Die hoogtepunt was vir my dat tyd nie ons baas was nie. En juis daarom het ons soveel vinniger gewerk. Ons het ook doelbewus daarop gefokus om nie die liedjies te veel te layer en te overproduce nie. Ons wou hê dit moes klink soos vier mense wat elk sy een deel speel om die mooier geheel te vorm. Selfs die viool en tjello is eenvoudig gehou.

Daar’s ook ’n paar heerlike collabs op die album, onder meer met Gerald Clark en Andriëtte Norman. Hoe het jy besluit wie jy by die album wil betrek in hierdie opsig en watter soort bydraes jy van hulle verlang? Hoe voel jy oor die eindprodukte van hierdie collabs?

Gerald was ’n vanselfsprekende keuse. Ons werk al sedert 2009 saam en hy het ’n groot impak gehad op my musikale uitkyk en selfbeskouing. Ons het ook goeie vriende geword en ondersteun mekaar. Ek dink rêrig hy is een van ons mooiste manstemme en dat hy ’n baie goeie liedjieskrywer is. Die liedjie “One day” waarop Gerald sing, is een wat ek spesiaal vir ons show geskryf het. Ons noem die show The Lovemore Show en dit is verbasend gewild. Ek dink gehore geniet die energie tussen ons en die feit dat ons beide iets verrassend onverwags uit mekaar uitlok. Gerald het sy parte so mooi gesing, dat ek verplig gevoel het om na die tyd my vocal parte oor te doen.

Ek het Andriëtte Norman deur Schalk Joubert ontmoet. Hy speel gereeld saam met haar en het nog altyd haar lof besing. Sy het ’n ongelooflike stem. Buiten dit is sy ook rêrig ’n wonderlike mens en een van die min vroulike sangeresse wat belangstelling getoon het in my musiek en van my shows kom kyk het. Dit is altyd vir my ’n kompliment en bemoedigend. Toe ons na die liedjie “Find your light” luister en bespreek wat ons daarmee wil maak, het ons besluit ons soek ’n tweede vrouestem. En ’n sterk stem! Andriëtte  was ’n natuurlike keuse. Ek was baie bly toe ek hoor sy is lus om die storie aan te pak. Sy het met absolute gemak daar ingepull en werklik ’n wonderlike bydrae gemaak. As ek die liedjie nou luister en moet voorberei om dit te sing – dis snaaks – as ek haar parte sing – voel ek skielik heeltemal anders. Daardie deel van die liedjie is nie meer myne nie. Dis hare. En dit voel half verkeerd om dit te sing. Dit beteken net een ding: she nailed it!

Ek onthou nog jou eerste album, en spesifiek die lied “La Luna”, baie goed van so tien, elf jaar gelede af. Dis baie interessant om nou terug te dink daaraan, terwyl ’n mens luister na die tunes van Borders & Beyond, wat nogal ’n sterk country-blues-aanslag het. Hoe beskou jy die groei en ontwikkeling van jou musiek oor die jare? Watter elemente het sterk rolle gespeel in die verskillende rigtings wat ingeslaan is?

Soos vroeër genoem, is die CD’s maar “benchmarks” van waar ek is as musikant en mens. Dankie vader ons bly nie dieselfde nie. Hoe vervelig sal dit wees. Ons invloede verander, die stories wat ons in ons liedjies vertel verander en tye verander. “La Luna” het ek in my skooljare geskryf en op daardie stadium was ek ’n Tori Amos fanatic. Mens kon dit hoor in my musiek. Net soos mens seker nou kan hoor dat ek onlangs saam met ’n blues-kunstenaar gewerk het, of dat ek country ontdek het (haha). Na ek Robert Plant en Allison Krauss se CD gehoor het, het ek meer Allison Krauss begin luister en toe begin luister na ander Amerikaanse country-sangers en -sangeresse. Die nuwe klank was beslis nie ’n doelbewuste ding nie. Dit het net so per ongeluk gebeur. Schalk het natuurlik ’n groot rol as producer gespeel. Hy is die een wat na die liedjies kon luister en sê: “Luna – hier is ’n neiging na iets hier en ons moet daai draad deurtrek.” Hy het seker gemaak dat selfs al is die liedjie nie country nie (sommige van die liedjies kan ernstig gerock word, of dit kan heeltemal pop gaan) was sy rol om te sorg dat die instrumentasie en produksie daarvan getrou bly aan die oorgrote gevoel wat ons wou skep. Mens kan maklik verlore raak in ’n liedjie, maar dis belangrik om die oorgrote geheel konstant in gedagte te hou. Ek dink Borders & Beyond is die naaste aan wie ek as liedjieskrywer is. Ek kan net bou hierop. So snaaks – Kevin sê gisteraand vir my: “Luna, I like this new look of yours.” Toe besef ek: haai, ek dra nie meer rokke as ek sing nie. Ek dink die frilletjie-fase van my lewe is verby. 🙂

Die besonderse stemvermoë waaroor jy beskik, was natuurlik nog altyd ’n belangrike pyl in jou koker. In watter mate het jy met die skryf en die opnames vir Borders & Beyond gewerk om jou stem soveel as moontlik lug te gee, of hoe werk jou benadering in hierdie opsig gewoonlik?

Ons het nie juis iets spesiaal gedoen nie. Ons het vir my ’n vocal booth in die huis gebou, die mic is daar neergeplonk en ek het twee dae lank gesing. Ons was almal baie verbaas oor die gehalte van die klank in die huis. Dit het beslis beter geklink as vocal takes wat in die ateljee opgeneem was. Dave Langemann (die ingenieur) het natuurlik baie te make hiermee. Hy is werklik ongelooflik goed in wat hy doen en het ’n goeie aanvoeling vir die genre van musiek waarin ons opgeneem het. Met die mixing het hy gesorg dat die stem sy plek het in die mix. Omdat die liedjies liriek- en vokaalgedrewe is, is die mixing baie belangrik. My stem het baie verander sedert 2009. Ek sing laer en het geleer dat ek nie die heeltyd op top volume hoef te sing nie. Daar is baie oomblikke op die CD waar ek baie intiem en sag sing – en daardie liedjies is by verre nou my gunstelinge. Dave sou die volume opstoot sodat ek baie sag kan sing. Dit gee die gevoel dat die luisteraar saam met my in die sitkamer sit. ’n Voorbeeld daarvan is “This space” – een van my gunstelinge op die CD. Sjoe, Peter Mitchell – wat al die backing vocals gedoen het – sing hoendervleismooi op die liedjie. Hy is ’n ongelooflike sanger. Dit was ’n voorreg om hom daar te hê. Ons het besluit dat al die backing vocals manlik moet wees. Vir so bietjie jing en jang. Peter het die musiek soveel beter gemaak!

Jy is al lank ’n bekende op die toneel en het die land al telkemale platgetoer. Watter hoogtepunte of gunsteling-plekke om op te tree koester jy? En in die teendeel, is daar plekke of geleenthede waarby dit moeilik is om op te tree, of waarheen jy nie gou sal terugkeer nie?

Oe, elke plek het sy bekoring. Die meeste venues word besit deur mense wat net so ’n groot passie vir musiek het, en dit is soms ’n wonderlike recharge om saam met die mense uit te hang. Daar is te veel plekke waarvan ek hou – en elk om verskillende redes. Kom ek noem ’n paar:

Open Strings in Kloof naby Durban – Nichol en sy vrou Karen is so gasvry en het so ’n liefde vir musiek. Hulle venue is pragtig en almal wat hulle venue ondersteun, is interessant en passievol oor musiek. Mens voel deel van die familie daar.

Murambi Country Kitchen in Oos-Londen – dit is presies soos Open Strings. Die liefde vir musiek daar is ongelooflik.

Stoep in Nelspruit – ek love die mense van Nelspruit. Hulle is vol lewe. Dis omtrent al hoe ek dit kan beskryf. En Nelspruit is vrek mooi. As ek daar is, voel dit vir my of ek in Afrika is. Kaapse Hoop is ook natuurlik daar naby en ek vind die dorpie magies.

Mojo’s in Welkom – Louis en Charmyn is heerlik. “Welkom in Welkom” is what comes to mind. ’n Aand eindig daar altyd agter Louis se bar, met hom wat lepels speel, jembe’s en baie glase wyn. Louis en Charmyn is lief vir Suid-Afrikaanse musiek en hulle doen alles in hulle vermoë om seker te maak die kunstenaar stap gelukkig by hulle deure uit

Klein Libertas Teater – dit is nou eenmaal net die plek om te speel in Stellenbosch. Hulle bou konstant aan die teater se infrastruktuur en elke keer wat hulle dit doen, maak hulle ’n bydrae tot die Suid-Afrikaanse musiek circuit. Teatereienaars met ’n kop vir besigheid. Dis hoe dit moet wees!

Alma Café in Rosebank, Kaapstad. Richard en sy vrou is soos ouers en die musikante hulle kinders. Die gehoor is die uitgebreide familie wat kom aansit vir ’n feesmaal oor Krismistyd. Die plek is spesiaal.

Wat hou die nabye en verre toekoms vir Luna Paige in?

Ek toer nou met my nuwe CD. Dan gaan ek Nederland toe. Daar sal ek solo-optredes by ’n paar teaters en musiek-venues doen en het ek ook vier optredes by die International Singer-Songwriter Festival wat in ses verskillende stede plaasvind. Ek sal binnekort inligting oor die shows op my webwerf sit. Wanneer ek terugkom, is dit reguit Grahamstad toe vir die National Arts Festival, waarna ek baie uitsien. Ek is mal oor die fees. Ek vind die verskeidenheid daar verfrissend. Dan wil ek graag vanaf Julie tot Augustus my nuwe Storielied-vertoning op die pad neem, wat ek natuurlik gaan afwissel met landwye Borders & Beyond-vertonings. Die Storielied-shows gaan meestal huiskonserte wees. Ek en Gerald Clark beplan ook weer ’n toer in Oktober-November en beplan om twee singles vry te stel in daardie tyd. Vir nou dink ek is dit nogal genoeg werk! Volgende jaar wil ek graag die VSA en VK speel (watch this space!)

Wat is die sin van die lewe?

Haha, slaan my dood met ’n pap vis as ek dit weet. Die vraag laat my nou wel dink aan ’n line uit een van Boo! se liedjies … “The point is ... there is no point” ... Ons sal maar almal moet wag en sien.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top