Lucy Jordan se verlore droom

Foto van Marianne Faithfull: wikipedia

My lewensmotto is dat ’n mens nooit uit drome uit mag hardloop nie, die geneuk is net dat jy op ’n dag agterkom dat jou drome se vervaldatum aangebreek het en dat dit nooit bewaarheid gaan word nie. Dit is ’n aaklige realiteitskok.

Dit is wat met die arme Lucy Jordan in "Ballad of Lucy Jordan" gebeur het toe sy besef:

At the age of 37,
she realised she’d never ride
through Paris in a sports car,
with the warm wind in her hair.

Hierdie realiteitskok het haar lewe op sy kop gekeer:

The mornin’ sun touched lightly on
The eyes of Lucy Jordan
In her white suburban bedroom,
In her white suburban town
As she lay there ‘neath the covers,
Dreaming of a thousand lovers
‘Til the world turned to orange
And the room went spinnin’ round.

Wie is die Lucy Jordan van wie Marianne Faithfull in “Ballad of Lucy Jordan” sing? Marianne Faithfull het die lied in Oktober 1979 op haar album Broken English opgeneem. Die lied is later ook opgeneem in die klankbane van die films Montenegro, Tarnation, Thelma and Louise en American Horror Story: Hotel. Die lied was ’n groot treffer in 1979, veral in Suid-Afrika, Oostenryk en Switserland.

Marianne Faithfull was egter nie die eerste sanger wat die lied op ’n plaat vrygestel het nie; dié eer kom Dr Hook and the Medicine Show toe – hulle het die lied alreeds in 1974 op ’n solus sewe vrygestel, maar hulle vrystelling was nie naastenby so gewild soos Marianne Faithfull s’n nie.

Die komponis van hierdie lied is ’n man met die naam Sheldon Allan Silverstein (hy het bekendgestaan as Shel Silverstein). Hy is op 25 September 1930 in Chicago gebore en het op 10 Mei 1999 op die ouderdom van 68 in Florida Amerika gesterf.

Silverstein het vir homself naam gemaak as ‘n strokiesprentkunstenaar en het verskeie strokiesprentboeke gepubliseer, onder andere Now here’s my plan (1960) en Around the world (2007).

Silverstein het egter ook ’n passie vir musiek gehad. Hy het verskeie pryse vir van sy komposisies gewen. Hy het treffers gekomponeer soos The cover of Rolling Stone”, “Freakin’ at the Freakers Ball”, “Sylvia’s mother”, “The thing I didn’t say”, “Rosalie’s Good East Café”, “The Mermaid”, “Tequila Sheila” en “Marie Laveau”, om maar net enkeles te noem. Hy het ook in 1970 ’n Grammy gewen vir “A Boy Named Sue”, en verder is hy vir ’n Oscar en Golden Globe benoem vir die lied “I’m checkin’ out”, wat deel van die klankbaan was vir die film Postcards from the Edge.

Die vraag bly egter steeds: Wie is of was Lucy Jordan? Silverstein se verduideliking is dat ons almal ’n Lucy Jordan binne-in ons het, want elke mens het ’n droom wat nooit bewaarheid gaan word nie. In die televisie-onderhoud op The South Bank Show wat op 24 Junie 2007 gebeeldsend is, het Marianne Faithfull gesê dat haar interpretasie van Lucy Jordan is dat “Lucy climbs to the rooftop but gets taken away by ‘the man who reached and offered her his hand’ in an ambulance (‘long white car’) to a mental hospital, and that the final lines (‘At the age of thirty-seven she knew she’d found forever/ As she rode along through Paris with the warm wind in her hair ...) are actually in her imagination at the hospital.”

’n Verlore droom is soos ’n verlore liefde: as jy dit nie tot nostalgie kan verwerk nie, sal dit jou tot raserny dryf – vra maar vir Lucy Jordan.

JP van der Merwe

Skrywer van Vrystaatse Dorpe en Noord-Kaapse Dorpe

 

Kommentaar

  • Cool! Was mal oor die song op hoërskool nou al 25 jaar terug! Bly ek weet ook nou darem waaroor dit gaan. Vir my is drome eintlik 'what keeps me going'!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top