Lore of nutrition – Challenging conventional dietary beliefs deur Tim Noakes en Marika Sboros: ’n resensie

  • 3

Lore of nutrition – Challenging conventional dietary beliefs
Tim Noakes en Marika Sboros
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776092611

Opspraakwekkende uitsprake in die wetenskap wat teenstrydig is met die konvensionele opvattings word dikwels met groot teenkanting ontvang. Ortodokse opvattings veroorsaak hewige reaksies teen nuwe bevindings wat bestaande dogma bevraagteken. Ons dink maar hier aan enkele voorbeelde soos Galileo se uitspraak dat die aarde rondom die son wentel, en Semmelweiss se kiemweringsprosedures wat vir die mediese gemeenskap nie aanvaarbaar was nie.

Die nuwe boek van Tim Noakes en Marika Sboros, Lore of nutrition – Challenging conventional dietary beliefs, kan in dieselfde lig gesien word as bogenoemde voorbeelde waar wetenskaplikes se bevindings wat strydig is met huidige opvattings bekend gemaak word. Hierdie publikasie moet gesien word as ’n wetenskaplike relaas van die polemiek rondom huidige dieetaanbevelings, wat met reg deur die skrywers bevraagteken word, en sal verreikende gevolge vir dieetaanbevelings vir die mens hê indien hulle algemeen aanvaar sou word.

Die boek bevat ook ’n volledige weergawe van die tugverhoor wat deur die dieetkundige vereniging aanhangig gemaak is aan die Mediese Beroepsraad (HPCSA) teen Noakes. Volgens hulle het hy onkonvensionele raad verskaf aan ’n persoon wat hom op sosiale media gekontak het rakende dieetverwante vrae vir haar baba nadat die baba gespeen is. Die gevolg was ’n drie jaar lange hofsaak wat in die guns van Noakes beslis is. Ons sien hierdie uitslag as ’n oorwinning van die krag van die wetenskap wat staan by die waarheid wat spruit uit verskeie vooraanstaande navorsingspublikasies wat wys op die gevare van die hoë-koolhidraat-lae-vet-dieet wat oor die afgelope 40 jaar misleidende dieetriglyne aan die publiek verskaf het in die ontwikkelde Westerse wêreld. Die gevolg was ’n ongekende toename in vetsug, insulienweerstandigheid, hartsiektes, kanker, demensie en ander chroniese siektes.

Die waarde van hierdie publikasie lê in die feit dat dit aan die leser insig gee in die wetenskaplike proses wat in wese altyd op soek is na die waarheid, en indien nodig antwoorde bevraagteken. Soos wat beter insigte verkry word uit gevorderde navorsingsmetodes, word bestaande dogma bevraagteken en dikwels weerlê. Wetenskaplikes luister ook na wat mense intuïtief sê uit eie ondervinding. Hierdie anekdotiese verslae spoor oplettende wetenskaplikes aan om dieper te delf in hierdie tradisionele kennis van mense. Die ontwikkeling van die pokke-entstof deur Edward Jenner het gevolg nadat Jenner geluister het na die relaas van Sarah Nelmes, die melkmeisie wat beweer het dat sy nie bang is om pokke te kry nie aangesien sy koeipokke gehad het. Op die gebied van menslike voeding het ’n Amerikaanse joernalis, Michael Pollan, ’n boek saamgestel uit anekdotiese opmerkings van mense oor wat gesond is om te eet wat die toets van die tye deurstaan het. Baie van die tradisionele gelowe kon wetenskaplik bewys word. Uit ondervinding het ons oumas geweet wat gesond was sonder dat hulle noodwendig wetenskaplik onderleg was in dieetkunde.

Die moderne mediese wetenskap het groot vordering gemaak in die bekamping van akute mediese en chirurgiese noodgevalle. Dieselfde kan nie gesê word van die beheer van die chroniese en degeneratiewe siektes as gevolg van ’n ongesonde lewenstyl nie. Die beskikbare behandeling van siektes soos diabetes, kardiovaskulêre siektes, osteoporose en kanker het dikwels ernstige newe-effekte. Daar het ’n klemverskuiwing gekom na die voorkoming van hierdie toestande deur lewenstylaanpassings. Een van die belangrikste omgewingsaanpassings wat gemaak is, was op die gebied van voeding. Hippokrates, wat allerweë beskou word as die vader van moderne geneeskunde, het groot klem op dieet gelê. Ons keer weer terug na sy doktrines, en dit is goed dat ons krities sal kyk na die huidige dieetpatroon van die mens om te sien of dit nie die oorsaak is van die siekteprofiel wat oor die afgelope 40 jaar ontstaan het nie. Wetenskaplikes het met reg die huidige dieetriglyne begin bevraagteken. Hierdie riglyne was gebaseer op die navorsing van Ancel Keys wat die verkeerde afleiding gemaak het dat hoë cholesterol die oorsaak van hartaanvalle is en dat versadigde vette uit die dieet geneem moet word. Nuwe navorsing het egter begin bewys dat cholesterol slegs geassosieer is met hartsiektes en nie die oorsaak is nie. Die groot inname van suiker, eerder as vette, word aan hierdie verwante siektetoestande gekoppel.

In hierdie boek bevraagteken Noakes en Sboros twee diepgewortelde dogmas: die rol van koolhidrate in voeding, en die hipotese dat versadigde dierevette die oorsaak van hartaanvalle is. In Suid-Afrika, waar ons so ’n hoë voorkoms van hartaanvalle het, sal die inligting in hierdie boek die leser in staat stel om ingeligte keuses te maak oor sy of haar eie gesondheid. Ons kan ons hoed afhaal vir Tim Noakes wat gestaan het by sy beginsels, en met groot wetenskaplike integriteit sy standpunt verdedig teen sy eie kollegas en akademiese instellings wat hom ongenaakbaar gekritiseer het. Ons glo dat hierdie dieetbenadering belangrike gevolge sal hê vir die siekteprofiel van die moderne mens. Hierdie boek is ’n “moet lees” vir almal wat erns het met hulle gesondheid.

  • 3

Kommentaar

  • George Bekker

    Reeds lank voor Noakes was daar wetenskaplikes met besondere insigte. Die vraag is net of die farmaseutiese industrie sal toelaat dat sodanige beskouings verkondig en algemeen aanvaar word. Die volgende stelling kom uit G Edward Griffin se boek World without cancer, bl. 53 oor die oortuigings van 'n medikus uit die 1950's, wat die oplossing vir alle metaboliese siektes soos volg bewoord het:
    "Dr [Ernst T] Krebs [Jr] has pointed out that, in the entire history of medical science, there has not been one chronic metabolic disease that was ever cured or prevented by drugs, surgery, or mechanical manipulation of the body. In every case - whether it be scurvy, pellagra, rickets, beri-beri, night blindness, pernicious anemia, or any of the others - the ultimate solution was found only in factors relating to adequate nutrition. And he thinks that this is an important clue as to where to concentrate our scientific curiosity in the search for a better understanding of today’s diseases, particularly cancer."
    Hierdie benadering (voedsel eerste en medikasie in die mindere posisie) word sterk deur die farmaseutiese industrie teengestaan want hulle kan ernstige skade ly.
    Griffin voer die probleem terug na die groot Amerikaanse stigtings (bl 381) :
    "Under no circumstances will even one of Rockefellers shiny dimes ever go to a medical college, to a hospital, to a teaching staff, or to a researcher that holds the unorthodox view that the best medicine is in nature. Because of its generous patron, orthodoxy always will fiddle a tune of man-made drugs.
    Whatever basic nutrition may be allowed into the melody will be minimal at best ..."
    Hierby kan gevoeg word dat anorganiese medikasie, uit chemikalieë vervaardig, nie so goed is soos die oorspronklike plant waarop dit dikwels gebaseer is nie. Die mens is immers organies van kop tot tone, maar organiese produkte kan nie gepatenteer word nie - alleen dit wat anorganies in die laboratorium of fabriek vervaardig is, en teen ontsaglike winste aan die publiek beskikbaar gestel word.
    Ter wille van ons eie gesondheid en wetenskaplike beginsels behoort Noakes ondersteun te word.

  • Adriaan Reinecke

    My vraag is baie eenvoudig: Hoeveel van die mense wat Noakes op "wetenskaplike" gronde so vyandig teengestaan het, is bereid om, soos dit goeie wetenskaplikes betaam, persoonlike strydbyle weg te pak en (selfs op hierdie forum) apologie aan te teken en vorentoe sodoende mee te help aan die verbetering van openbare inligting (en opleiding) sodat die publiek met wetenskaplike kennis toegerus word om ingeligte besluite te kan neem oor wat hulle eet ?
    Ek haal my hoed af vir Noakes wat volhard in sy soeke na waarheid. Die laaste woord oor dieet sal sekerlik nooit gespreek word nie, maar ons moet nie ophou vra en soek nie. Dit is nie in die aard van die wetenskap nie.

  • Gerhard Bonzet

    Geagte lesers
    Tim Noakes het beslis iets beet. Wat hy egter nie aanspreek is die krag van vas (fasting).
    Die sg LCHF-dieet is natuurlik wonderlik vir enige persoon. ( Dit was 'n standaard dieet voor 1945 in Duitsland en Noordelike Europa, jammerlik in die opsig het die VSA met sy junk food die oorlog gewen.)
    Deur 1 x LCHF ete 'n dag te eet in 'n twee uur voedingsperiode - maw 'n 22 uur vas per dag kan ongelooflike resultate verkry word VERAL deur verder 'n ete of twee 'n week oor te slaan.
    Ketose kan so binne 36 dae bereik word.
    GB

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top