Lonkie onbeperk: Faecolalia Maggsii

  • 0
 
Ek wag nou al byna vyf maande lank vir 'n “gut”-reaksie op Jeremy Maggs se strontstorting oor onderwysers wat vroeër vanjaar in The Herald verskyn het. 
 
Beteken hierdie lang stilswye dat ons onderwysers nou maar net vuisvoos op 'n hoop bly lê terwyl elke infantiele bullebak en sy maat van ons 'n slaansak maak? 
 
Terug by Maggs se dermlediging, veral die slotkutteltjie:
 
It’s my belief that most (teachers) fail miserably. Until I see some change on this front, my antipathy to the profession remains and I’ll continue believing that cruel description: those who can’t do, teach.     
 
Nouja, ek skaam my gruwelik vir ape wat deurgaan vir onderwysers, maar elke beroep lewer sy kwota misgewaste op, die koerantwese inkluis. Dit beteken bloot dat toegewyde kollegas hulle vrek moet werk om die kastaiings van vrot onderwysers – en seker ook skrywers soos Maggs – uit die vuur te moet bly krap.  
 
Aan Germy Maggot dus: As jy vir slegs een termyn die skoene van enige ware onderwyser in eietydse Suid-Afrika kan vol staan, en steeds jou huidige mening huldig, sal ek dit dalk oorweeg om na jou te luister. Onthou net om jou koeëlvaste onderbaadjie aan te trek voor jy die skoolterrein betree, hoor.      
 
Sommer ook aan die ouers van goddelose leerders: Kry ruggraat. Hou op om alewig in julle kinders se goeie boekies te probeer wees. Hulle hét pelle. Konsentreer julle energie eerder daarop om julle ouerlike pligte op 'n empatiese wyse na te kom. Die inskerping van basiese aanvaarbare sosiale gedrag sou alreeds 'n REUSE-tree vorentoe wees. En as dit dalk te veel gevra is, prent darem net “hallo”, “koebaai”, “asseblief” en “dankie” by hulle brose gemoedjies in. Of is dit óók te veel gevra? 
 
Aan my kinders in die onderwysberoep: Ek salueer julle. Nie alle ouers is so bevoorreg om dié wonder te beleef nie: spruite wat hul menslikheid en formidabele breinkrag inspan om ander mense se misbaksels te stimuleer, eerder as om die heersende kru materialisme in ons land na te jaag.
 
Aan al die ware onderwysers in die parallelle universum van Suid-Afrikaanse onderwys vandag: Ek sien julle raak. Ek eer julle. Julle is gladiators. En engele.
 
Hou goeie moed.   
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top