Loammi Wolf oor bronne van die Boereoorlogverkragtings en ''boere consciousness''

  • 0

Ek het ernstig en lank daaroor nagedink of ek hoegenaamd gaan reageer op Mien van Rooyen se bitsige aanval en die verdraaiing van ’n ironiese opmerking in my De la Rey-artikel. Dis moontlik dat dit mense kan veronseker of ’n nasmaak kan laat wat negatief op my integriteit reflekteer. Dalk is dit dus sinvol is om dinge in perspektief te stel.

 

Om mee te begin, indien ek vir Pieter-Dirk Uys in ’n verleentheid gebring het met die ondeurdagte paragraaf wat Mien geïnstrumentaliseer het om ook sy Joodse ma op ’n baie onsensitiewe aard en wyse te betrek, vra ek hom graag om verskoning. Ek het eerder aan hom in sy rol as Evita gedink, en hoewel ek bewus is van die feit dat hy eers onlangs uitgevind het dat sy ma Joods was, het ek nie daaraan gedink nie. Ek is jammer daaroor. Dis allermins wat ek in gedagte gehad het, en as ek geweet het dat dit op hierdie manier deur ander mense misbruik sou word, sou ek dit definitief geskrap het uit die teks. Ek het groot respek vir Pieter-Dirk Uys se bydrae tot die demokrasie in Suid-Afrika.

’n Ander aspek wat ek eintlik ook graag sou wou aansny in my artikel, maar wat weens tyddruk ook nie moontlik was nie, is dat mens behoort te onderskei tussen verskillende soorte “boere consciousness”. Afrikaner-identiteit is nie iets staties wat kategories afgebaken of vakuumverpak kan word nie. Identiteit het baie fasette, en dubbel- en oorvleuelende identiteite is deel van die prentjie. Indien “boere consciousness” verstaan word as ’n trots op die nalatenskap van die Boererepublieke se helde soos De la Rey, kan mens in beginsel niks daarteen sê nie. Mens behoort egter duidelik te onderskei tussen boere consciousness in bogenoemde sin en boere consciousness in die sin waar dit omslaan in etnosentrisme. Eersgenoemde is heeltemal versoenbaar met die breër konsep van die reënboognasie, waar verskillende kulture hulle naas mekaar ontvou of ook deels oorvleuel. Etnosentrisme, daarenteen, is nie noodwendig versoenbaar met die ideaal van die reënboognasie nie, omdat dit eerder chauvinisties is. Anders uitgedruk: boere consciousness wat etnosentristies gedryf is, kan ’n probleem vir die demokratiese stabiliteit veroorsaak, omdat verregses soos die Boeremag al ’n staatsgreep probeer uitvoer het omdat hulle nie die legitimiteit van die nuwe Grondwet of die beginsel van gelykheid aanvaar nie.

Een van die redes waarom die ANC nierassigheid beklemtoon, het sekerlik daarmee te doen dat etnisiteit en ras in die verlede misbruik is om te verdeel en te heers, en ook om legitieme swart aspirasies te blokkeer. Die oorkoepelende idee van ’n reënboognasie is dus ’n goeie idee om ’n gevoel van samehorigheid te kweek. Dit het egter nie tot gevolg dat die kulturele diversiteit van Suid-Afrika daarmee opgehef is nie. Om die een ter wille van die ander te ontken, kan opnuut probleme veroorsaak. Indien mens dus sou kon aanbeweeg na ’n beskouing waar die een die ander nie noodwendig uitsluit nie, kan sterk-ontwikkelde dubbel- of meersydige identiteite dalk eerder tot voordeel strek om die demokrasie te stabiliseer. Sterk dubbelidentiteite van Afrikaners hoef nie noodwendig die ideal van nierassigheid te ondergrawe nie. Die tipe Afrikanerskap wat ontkoppel is van die ou apartheid-styl “Afrikaner nasionalisme” wat in die afgelope 20-25 jaar ontvou het, is duidelik so ’n dubbelidentiteit wat nie in konflik met die beginsel van “nierassigheid” is nie. Maar Afrikaners deel ook ’n taal met ander groepe, en die identifikasie met Afrikaans as hulle gemeenskaplike taal kan weer as ’n oorvleuelende kollektiewe identiteit tipeer word. Binne hierdie konteks kan sekere Afrikaners hulle as Afrikaanssprekendes beskou, maar byvoorbeeld nie vat kry aan die begrip boere consciousness nie, omdat hulle dit eerder met regse politieke ideale assososieer. Ander weer het dalk geen probleem daarmee om hulleself te tipeer as ’n Boer, ’n Afrikaner, én ’n Afrikaanssprekende binne die reënboognasie nie. Ook die begrip etniese Afrikaner het duidelik meer as een betekenis. Elke ou besluit maar vir homself waar hy tuis voel.

Ek wil graag ook kortliks ’n paar opmerkings maak ten opsigte van ’n Duitse bron waarna prof Andries Raath, ’n mederegsgeleerde wat deel is van die regsfakulteit van my alma mater, verwys het in ’n boek wat hy oor die ABO geskryf het. Oor die naweek het hierdie bron weer ter sprake gekom toe Ilse Salzwedel in die BY van Die Burger ook hierdie bron siteer het waarop prof Andries Raath oënskynlik in sy boek Die Boerevrou, 1899-1902 (2002) gesteun het as bewys dat 35 persent van alle Boerevrouens tydens die ABO verkrag is. Dit gaan om ’n werk van dr Wilhem Vallentin getiteld Hunnen in Süd-Afrika (1902). Me Salzwedel skryf dat Vallentin ’n mediese dokter was. Ek kon tot dusver egter geen data opspoor wat daaroor uitsluitsel gee of hy wel ’n mediese dokter was nie, en of hy nie dalk ’n gepromoveerde historikus was nie. Hy was in elk geval goed vertroud met die werke van ’n befaamde historikus van sy tyd, naamlik Mommsen, en het talle ander boeke geskryf wat óf ’n historiese invalshoek gehad het óf die bevordering van “Deutschtum” voorgestaan het. Me Salzwedel verwys ook na hierdie werk as ’n “verslag”. Ek sou daar heelwat meer terughoudend wees, en dit eerder in die kategorie van ’n agitasieskrif plaas.

Ek het ongeveer ’n jaar gelede twee historiese perspektiewe van tydgenote wat self by die ABO betrokke was, naamlik Conan Doyle en Wilhelm Vallentin, in die konteks van verkragtings wat tydens die ABO plaasgevind het, ontleed. Hulle weergawe van hoeveel vrouens verkrag is, dek die spektrum van Doyle se swye, wat die indruk wek dat daar geen verkragtings plaasgevind het nie, tot Vallentin se omstrede stelling dat 35 persent verkrag sou gewees het. Diegene wat geïnteresseerd is, kan dit gerus nalees in die artikel vir LitNet, "Versoening in die ban van geskiedskrywing as 'memory politics'".

Hierdie bron is die enigste waarvan ek weet van ’n tydgenoot wat so ’n statistiek noem. Die basis van hierdie statistiese stelling van Vallentin is wetenskaplik hoogs omstrede, omdat dit nie op lyste berus van presies hoeveel vrouens verkrag is wat gekontekstualiseer word binne ’n demografies verband van presies hoeveel vroulike persone in die Boererepublieke gelewe het nie. Hoe hy op die 35 persent gekom het, word hoegenaamd nie behandel in die boek nie.

Dit skep dan natuurlik probleme as akademici steun op sulke bronne en dit as geloofwaardig aanvaar. Ander persone, soos dr Dan Roodt en me Salzwedel, kan dan maklik tot die gevolgtrekking kom dat dit dan ook feitelik korrek is. As dit dan blyk dat dit nie die geval is nie, skep dit ’n groot verleentheid vir hulle en stel hulle ook op ’n manier bloot wat sekerlik baie onaangenaam is.

Sonder om prof Raath te verdedig, wil ek net daarop wys dat hy ’n regsgeleerde en nie ’n historikus is nie. Miskien het prof Raath hom op hierdie bron verlaat omdat ’n tydgenoot dit geskryf het wat boon-op die titel "dr" gehad het. Vroëer was daar ’n tendens om sulke bronne as primêre bronne te beskou sonder om die geloofwaardigeid daarvan te bevraagteken. Vandag aanvaar historici nie sommer elke bron van tydgenote as “primêre” bronne nie. Moderne historiografie het baie meer gesofistikeerd geword, en sulke bronne word vandag ook ontleed met ’n oog op wie die outeur was en wat die agtergrond is waarbinne hy/sy geskryf het. Ek vermoed dat prof Raath nie bewus was van die rol wat die Alldeutsche Verband binne die konteks van die Duitsers se koloniaalpolitiek en hulle idee van “kultuurimperialisme” gespeel het nie.

Prof Andries Raath en prof Hennie Strydom het ook in die artikel waarna me Salzwedel verwys, net ingegaan op die Haagse Konvensies van 1899 en 1907 en het die toepassing daarvan ontleed binne die konteks van die wyse waarop die Britte oorlog gevoer het tydens die ABO. In die artikel verwys prof Raath wel ook na verkragtings wat plaasgevind het, maar daar is geen syfers genoem nie. Die bronne waarop hy gesteun het, was Spies, The Hague Conventions and the Boer Republics (1970); Spies, Methods of Barbarism (1978); Ardagh Papers; Ploeger, De Lotgevalle van de burgerlike bevolking gedurende de Anglo-Boere-oorlog (1990); St James Gazette (1900); Westminster Gazette (1900); Ogden, The War against the Dutch Republics (1901); Kestell, Met de Boeren-Commandos (1902); en Amery, The Times History of the War in SA (1906). Hy het dus nie in hierdie gemeenskaplike artikel na Vallentin verwys nie. Volksmoord is ook nie in daardie artikel ondersoek nie. Hierdie artikel het in ’n Suid-Afrikaanse Volkeregtydskrif verskyn tydens die gedenkjaar (1999) van die uitbreek van die ABO in 1899.

Wilhelm Vallentin het in sy Hunnen in Süd-Afrika self nie na die Haagse Konvensie van 1899 verwys nie, maar net na vroëe Geneefse Konvensies (die eerste dateer terug na 1864).

Ek het nog nie prof Raath se nuwer publikasies, waar hy die Havenga-versameling ontleed het, onder oë gehad nie. Ek het wel ’n berig in Die Burger (“Vroueleed nou volledig geboekstaaf” deur Martiens van Bart in die BY van 26 Junie 2004) daaroor gelees. Volgens hierdie berig het prof Raath in die samevattende afdeling 4 die vraag "Was dit moordkampe?" behandel. Daarin het hy die ontsluite inligting wat gebaseer was op getuienis, waarvan die meeste onder eed voor regter Hertzog en verskeie landdroste ten tyde van die oorlog en daarna deur die slagoffers afgelê is, op 'n juridiese grondslag probeer benader. Van Bart skryf in sy berig:

Sy gevolgtrekking is dat Brittanje hom beslis deur opset by moontlikheidsbewussyn (dolus eventualis) aan volksmoord skuldig gemaak het. "Die Britse owerhede, aan sowel die militêre as die siviele kante, het die opset gehad om die vroue en kinders te dood en te laat sterf. Die Britse konsentrasiekampe was moordinrigtings," sluit Raath sy betoog af.

Daar ek nie self vertroud is met hierdie werke van prof Raath nie, weet ek nie wat die bewyse is wat hy aanvoer om die juristiese grondslag van sy argument dat daar wel ’n volksmoord tydens die ABO plaasgevind het, te begrond nie. Ek wil dus geen mening daaroor uitspreek nie.

Mens moet egter ook in gedagte hou wat die stand van die volkereg op daardie stadium was. Die Haagse Konvensie van 1899 het sulke metodes van oorlogvoering soos afbrandtaktiek verbied, maar op daardie stadium was die reëls van die volkereg ten opsigte van volksmoord nog deur gewoonheidsreg gereguleer. Die “Convention on the Prevention and Punishment of the Crime of Genocide” is eers in 1948 deur die Verenigde Nasies aangeneem en dit het in 1951 in werking getree. In terme van artikel 2 van hierdie 1948-Konvensie word volksmoord soos volg gedefinieer:

In the present Convention, genocide means any of the following acts committed with intent to destroy, in whole or in part, a national, ethnical, racial or religious group, as such:

(a) Killing members of the group;

(b) Causing serious bodily or mental harm to members of the group;

(c) Deliberately inflicting on the group conditions of life calculated to bring about its physical destruction in whole or in part;

(d) Imposing measures intended to prevent births within the group;

(e) Forcibly transferring children of the group to another group.

Die moderne volkereg ná die Konvensie van 1948 aanvaar dus ook die uitwissing van groepe van ’n volk as volksmoord . Volksmoorde vind egter nie net binne die konteks van ’n oorlog plaas nie. In soverre is dit problematies om die reël in sy volle konsekwensie deur te trek dat as ’n deel van ’n groep slagoffers word van wat kan deurgaan as ’n uitwissing van die groep, dit per se ’n volksmoord is. Dit kan ook “crimes against humanity”, ’n slagting of ’n bloedbad (massacre) wees, of in die kategorie “gross human rights violations” val.

In die volkereg is volksmoord ’n verskuldingsdelik van die mees ekstreme aard. Daar moet bewys word dat daar ’n georganiseerde polities-militêre doelwit bestaan het wat met opset daarop gerig was om ’n volk te vernietig. Die skuldmaatstaf wat in terme van die 1948-Konvensie vereis word, is opset (dolus directus). Volksmoord is ’n hoogs sensitiewe aangeleentheid. Dit gaan nie meer net om díe individuele verantwoordelikheid van soldate of offisiere wat oorlogsmisdade gepleeg het nie. Die implikasies daarvan is verreikend. Tot dusver is nog net vier persone aan volksmoord skuldig bevind binne die konteks van wat in Joego-Slawië gebeur het. Al die ander beskuldigdes is net aan “crimes against humanity” skuldig bevind. Dis ongelooflik moeilik om ’n volksmoord te bewys, weens die streng volkeregtelike skuldmaatstaf wat daarvoor verlang word.

Volgens die heersende mening is die skuldmaatstaf vir volksmoord nie dolus eventualis (skuld met moontlikheidsbewussyn), soos prof Raath klaarblyklik geargumenteer het nie, maar dolus directus (direkte skuld). Dolus eventualis is wel ook al ten opsigte van oorlogsmisdade in die volkereg aangewend om individuele aanspreeklikheid van soldate of offisiere te begrond, maar nie ten opsigte van volksmoord nie.

Een van die argumente wat aangevoer kan word dat ’n volksmoord beoog was, is onder meer die sistematiese verkragting van vrouens as oorlogsdoelwit om ’n nasie in die knie te dwing. Indien prof Raath dus op die twyfelagtige statistiek van Wilhelm Vallentin dat 35 persent van alle vroulike persone tydens die ABO verkrag is, sou steun om ’n volksmoord te begrond, mag dit nodig wees dat hy hierdie posisie heroorweeg in die lig van nuwe feite wat aan die lig gekom het oor die omstrede wetenskaplike basis van hierdie statistieke.

Om tot die konsentrasiekampe as “moordinrigtings” terug te kom: Die Britte het na hierdie konsentrasiekampe as “refugee camps” verwys en het die mense daar probeer versorg omdat hulle geen heenkome gehad het nadat hulle die plase afgebrand het nie. Die een was dus ’n gevolg van die ander. Die toestande in die konsentrasiekampe was haglik en het ’n hoë sterftesyfer tot gevolg gehad. Daar was groot logistieke probleme om hierdie derduisende mense te versorg in die konsentrasiekampe. Verder het die lewens van die Boere in die konsentrasiekampe ook baie min getel vir die Britse soldate.

Frik Jacobs, die direkteur van die Oorlogsmuseum kom in sy werk Suffering of War - A photographic portrayal of the suffering in the Anglo-Boer War (uitgegee deur Kraal Publishers, 2003, p 17) tot die volgende slotsom:

The high mortality rate can be attributed to the unhygienic conditions from which the country was suffering as a whole. The air, water and soil was polluted. All agricultural activity was virtually at a stand still. These conditions complicated by an exceptionally virulent outbreak of measles with complications such as pneumonia and diarrhoea were the cause of many deaths, particularly amongst the most vulnerable of the camps' inhabitants namely the children. Measles is associated with childhood and as babies acquire a passive immunity from their mothers, it usually makes its appearance in older children. Where children were isolated on farms and contact has not provided immunity everybody can and was affected. Dr G Pratt-Yule noted in a report on the situation: 'It seems that the Dutch by their long sojourn in South Africa and the isolation of their dwellings had practically lost this immunity ... (as) is abundantly shown by the extremely malignant type the disease assumes in camps.'

Jacobs noem swak administrasie van die kampe, verkeerde ligging van sekere kampe, swak sanitasie en onvoldoende water en kos as bykomende faktore. Na aanleiding van die “Fawcett Report Findings” wat aan die Britse Parlement voorgelê is nadat Emily Hobhouse se The brunt of war opslae veroorsaak het in die Britse gemeenskap, stel Pakenham vas dat:

“Of course, they [die verslag se bevindings] were of no comfort to the government. But Chamberlain had at long last got the message … Milner was in theory the man responsible for the camps, but the main decisions (or their absence) had been left to the soldiers, to whom the life or death of the 154,000 Boer and African civilians in the camps rated as an abysmally low priority.” (T Pakenham, The Boer War, p 549, New York: Avon Books, 1979)

Verder moet mens in gedagte hou dat selfs President Steyn in die bittereinder fase van die oorlog baie besorg was dat die Engelse weer hierdie kampe wou opgee te midde van ’n streng winter waar die mense dan geen heenkome of kos sou hê nie. (Andrew McLeod en Fransjohan Pretorius, "MT Steyn se ervaringe in die Anglo-Boereoorlog vanuit ’n sielkundige perspektief", Historia, 47(1) Mei 2002, 33-55.)

Teen hierdie agtergrond kom heelwat aspekte bymekaar vir ’n beoordeling of daar by die konsentrasiekampe van die ABO werklik ook sprake van volksmoord kan wees, juis omdat daar groot grys gebiede is waar mens nie definitief kan sê dat dit uit en uit daarop gerig was om volksmoord te pleeg nie. Dit skyn meer korrek te wys om te sê dat die sterftes in die konsentrasiekampe eerder ’n insidentele resultaat van die heersende omstandighede in die kampe was as ’n instrumentele oogmerk van die kampe.

Ek vermoed dat die beswadderingsveldtog teen my op LitNet ook ’n teenreaksie daarop was dat ek die houdbaarheid van die syfer van 35 persent verkragtings tydens die ABO, wat Vallentin nie begrond het nie, in twyfel getrek het. Waarskynlik het sekere persone wat hulle op die geloofwaardigheid van hierdie bron verlaat het, blootgestel gevoel. Ek het egter ook gemerk dat hulle nie meer op Vallentin steun nie, en waardeer dit. As ek egter lees wat my alles in die mond gelê word, is ek taamlik ontredderd.

Ter agtergrond: ek werk aan ’n boek waar ek die wyse waarop latere generasies ’n belastende verlede verwerk, ondersoek. Ek vergelyk die onderskeie ervaringe van Afrikaners en Duitsers. Die interessante aan hierdie vergelyking is egter nie die oppervlakkige ooreenkomste wat daar op die oog af bestaan tussen apartheid en nasionaal-sosialisme nie, maar juis die verskille. Die dinamika van wat in hierdie twee gemeenskappe gebeur het, is grondliggend verskillend, maar juis daarom interessant om te ondersoek binne ’n breë spektrum aspekte soos kulturele identiteit, transformasie, die impak van xenofobie, en hoe mense vleis sit aan dit wat hulle vir hulself as ’n demokrasie skep.

In hierdie konteks kyk ek noodgedwonge ook na begrippe soos kollektiewe skuld, omdat dit altyd weer opduik na aanleiding van historiese voorbeelde in die volkereg. Maar ek dink, op die keper beskou, is kollektiewe skuld ’n taamlike tameletjie. Dit is geneig om almal oor een kam te skeer – die plegers van onreg word oor een boeg gegooi met blote meelopers, en selfs latere generasies word daarby ingetrek. Deel van die probleem is dat hoewel latere generasies werklik nie verantwoordelik gehou kan word vir wat hulle voorvaders gedoen het nie, hulle nogtans gestigmatiseer word. Amitai Etzioni, een van die wêreld se grootste intellektuele en self ’n Nazi-vlugteling, het eenkeer voorgestel dat eerder gepraat word van ’n besondere verantwoordelikheid om toe te sien dat so iets nie herhaal word nie. Dit maak nogal vir my sin.

Tydens die WVK was daar baie Afrikaners wat werklik diep geskok was oor wat alles op die lappe gekom het, en op ’n manier skuldig gevoel het dat hulle nie meer gedoen het om die apartheidsregime teë te staan nie. Mens moet egter versigtig wees om hierdie soort “skuldig voel” gelyk te stel met “skuld” in ’n juristiese sin. Prof Willie Esterhuyse het onlangs ’n goeie bydrae in Die Burger gehad onder die opskrif “Amnestie: Toetssteen vir Versoening en Vrede” (14 Maart 2007), waarin hy heengewys het op die dilemma waarmee Suid-Afrika in dié konteks gekonfronteer word: die voetsoldate moes destyds álle aanspreeklikheid én verantwoordelikheid aanvaar vir menseregte-vergrype van die staatsveiligheid-establishment, terwyl die verantwoordelike politici wat in die Staatsveiligheidsraad gedien het, en die sekurokrate wie die klandestiene operasies beplan het, hulle hande in onskuld gewas het. Dit skep ’n etiese konflik wat probleme veroorsaak, soos prof Esterhuyse ook uitwys.

Wat ek egter persoonlik ontstellend vind, is die manier waarop persone in PRAAG kringe mense wat nie hulle sentimente deel nie, sommer so geredelik toesnou as “holocaust-ontkenners”. Omdat ek gesê het dat daar wel verkragtings plaasgevind het tydens die ABO, maar dat die fiktiewe statistiek wat Wilhelm Vallentin propagandisties lanseer het om die doelwitte van die Alldeutsche Verband te bevorder, nie houdbaar is nie, word ek bestempel as ’n “holocaust-ontkenner”. Stilswyend word daarmee aangedui dat ek geen piëteit het met die leed wat ons voorouers tydens die ABO deurgemaak het nie. Dis allermins die geval. Ek dink juis dat ons waardig met hierdie geskiedenis moet omgaan, en "waardig" is ook om by die waarheid te bly, al is die soeke daarna soms moeilik na ’n honderd jaar.

Vanaf ongeveer die middel van die 19de eeu het daar ’n fenomeen opgeduik waar massa-uitwissings van inheemse bevolkings in kolonialiseringsprosesse as ’n legitieme middel van verowering beskou is. Daarna het die konsentrasiekampe en/of verskroeide aarde as ’n middel bygekom – eers in Kuba, toe in Suid-Afrika, Duitswes- en Duitsoos-Afrika. Wát presies die implikasies daarvan is vir studies oor volksmoord, xenofobie, kultuurstudies, ens is baie kompleks en raak ’n wye spektrum van grondliggende vrae. Die traumatiese gevolge van sulke konsentrasiekampe vir die mense wat dit moes deurmaak, en ook vir hulle nasate, het ’n groot invloed op die hede; so ook die gevolge van die vernietiging van welvaart, kultuur en die ekonomie deur die verskroeide-aarde-tegniek. Ons kan dit waarskynlik nie in sy volle omvang begryp of selfs analiseer nie, maar ons word nogtans met die gevolge daarvan gekonfronteer.

Hoewel konsentrasiekampe dus almal binne hierdie traumatiese konteks pas, dink ek dat die Shoa in baie opsigte uitstaan as besonder ekstreem. Die term holocaust is self omstrede, omdat dit afgelei is van twee Griekse terme wat ’n “brandoffer” tipeer. Jode het al dikwels daarteen kapsie gemaak en verkies die term Shoa, omdat dit gegaan het oor ’n kil en koue vernietigingsproses van menselewens van ’n aard en op ’n wyse wat byna met ’n industriële proses vergelyk kon word. Om iemand dus ’n “holocaust-ontkenner” te noem, het taamlik verreikende implikasies.

Hierdie manier om mense in ’n lewendige debat te probeer monddood maak, is nie waaroor dit vir ons behoort te gaan nie. ’n Gewisse graad van respek vir die mening van ander persone en toleransie vir onderskeie menings is juis dit wat ’n goeie debat uitmaak. Ek dink dat ’n oop en veelsydige uitruil van idees oor die toekoms van Afrikaners as ’n eiesoortige groep in Suid-Afrika baie belangrik is. Dis ’n lewende en skeppende proses.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top