LitNet-Spens: Nou wil jy hê – ek moet sê – hoe sien ek die lewe!

Naam van skrywer: Henk Seymore

Naam van teks: Nou wil jy hê ek moet sê hoe sien ek die lewe!

Subgenre (bv kabaret, eenmanstuk, radiodrama): vir verhoog-optrede  of radio-mikrofoon 

Aantal spelers: Een

Kort opsomming indien beskikbaar: Insig tot en kommentaar oor kontemporêre leefkwessies. Kontemporêre aktualiteite wat onlangse en merkbare veranderinge, (asook nuwe uitdagings) aandui oor eise wat die lewe tans stel, word vanaf voor geboorte tot sterfte as verouderde mens gesnoer in versvorm binne bestek van 1 133 woorde.

‘n Wakker en kompakte stuk skryfwerk vir ’n jong akteur wat maksimum impak wil bereik met ’n klein aantal woorde wat handel oor ’n besonder groot verskeidenheid uiteenlopende uitdagings wat die hedendaagse lewe stel.      

Vorige opvoerings: n.v.t. Die stuk is vars uit die skrywer se rekenaar.

Pryse toegeken: n.v.t. Die stuk is vars uit skrywer se rekenaar.

Naam van kopiereghouer: Henk Seymore

Persoon/instelling wat gekontak moet word ivm opvoerregte: Henk Seymore  - hseymore@telkomsa.net


Manstem:   Nou wil jy hê – ek moet sê – hoe sien ek die lewe!

Noudat navorsers weet fetusse in baarmoeders luister na die klang, kleng, kling en klong van klinkers in hul ma’s se gebabbel; noudat talle mense weet drank en dwelm benewel en beneuk ongeborenes; noudat miljoene mans nie pa staan nie; noudat patriargie kwyn en plek-plek in die derde wêreld stuiptrek, en periodiek internasionaal opspraak wek met rampokkers as fokkers wat gru-roof-en-verkrag op soek na maksimum mag, nou wil jy hê – ek moet sê – hoe sien ek die lewe! Sou jy maar vra, “herken jy vandag gister se mens in  die jongste portret van samelewe?”

Noudat ontwikkelde aspirant-ouers koelkop plek huur in surrogaat-baarmoeders vir hul ongebore babas en barbaarse babbelasma’s moedeloos en toekomsloos hul kleine kraamsels sommer onder kommer vrek moer en sonder doek of seremonie hul nuutgebore brose bloedjies as pas-gedode kleine lykies vir rotte en kokkerotte op ashope voer, noudat ontvangskassies krassies op katedraaltrappies snags suutjies oop-en-toe-rits en weggooi-wesies invat, nou wil jy hê – ek moet sê – hoe sien ek die lewe! Sou jy maar vra, “herken jy vandag gister se mens in die jongste portret van samelewe?”

Noudat daar oral oor derduisende straatkinders in reën slaapplek soek; noudat daar nie langer probleemkinders is nie en probleemouers seuns goormaak in hul grootraak met drog-denke om kragtiger-magtiger as Superman te vlieg en as grootman-moordman klaar te speel met woede wrokke oor kinderjare deur skokke uit te deel met doodskiet van kleuter-kleintjies asof lekkergoed, nou wil jy hê – ek moet sê – hoe sien ek die lewe!

Sou jy maar vra “herken jy vandag gister se mens in jou  jongste portret van samelewe?”

Noudat geslagsaflaggers die lekkerste lag, noudat homofobieërs afdwing van doodstraf wil terugbring; noudat die derde en vierde soorte geslagsmense amper oral oor tel en wettig in huwelike tree, noudat party kinders by twee pa’s met g’n ma grootraak, en noudat twee ma’s en g’n pa party kinders grootmaak, en noudat aptekers en snydokters van party seuns meisies maak, en noudat nkele meisies mans word, en noudat kennis van trans-geslag-mense dié met slegs een geslag se verstandelike bankrotskap veroorsaak; en noudat geslag relatief uitruilbaar is, nou wil jy hê – ek moet sê – hoe sien ek die lewe! Sou jy maar vra, herken jy vandag gister se mens in die  jongste portret van samelewe?

Noudat vele na-moderne modes na-volg en astrant tydsones saam met vlug-brandstof verbrand net om agterna pê te bly lê totdat breins weer sestien onse weeg as pond; noudat eerste wêreld se leiers nie probleme met kuber-openbaring van staatsgeheime kan opklaar; noudat Instagram poog om internasionaal te baat deur foonfoto’s te ver-onteg, nou wil jy hê – ek moet sê – hoe sien ek die lewe! Het jy maar gevra, herken jy vandag gister se mens in  die jongste portret van samelewe?

Noudat amper almal toegang het tot ’n onbeperkte pinakoteek, sonder grensmure, sonder gesigseinder, en oorvol oortollige weelde van beelde wat sonder perk of entmerk op skerms tuimel, flits en/of blits, spring, rol en jol om mekaar ongestol af te wissel, nou wil jy hê – ek moet sê – hoe sien ek die lewe! Noudat die mensdom onbevredigbaar vraatsugtig verder en al hoe verder soek na iets nuuts om te sien, nou wil jy hê – ek moet sê – hoe sien ek die lewe! Sou jy maar vra, herken jy vandag gister se mens in die jongste portret van samelewe?

Noudat beelde-woorde, aanmekaar, deurmekaar –asof ineengepas – nes stelle dik- en dunderms, asof skynbaar ingewande, verskyn en verdwyn, aaneengelas as eindelose wors vir volgehoue vreet en verteer van vermaak. Een na die ander wors word afsonderlik tuisgemaak volgens enige Leen of Stander se resep en smaak. Onstuitbaar vliet, vloei en versnel die onderlinge strome van drog-denke se dommighede, skimme en stille skynsels as herhaalde verskynsels; onophoudelik – onbevredigend; nou wil jy hê – ek moet sê – hoe sien ek die lewe! Sou jy maar vra, herken jy vandag gister se mens in die jongste portret van samelewe?

Noudat wetenskaplikes besef die heelal werk onbeperk aan nuwe natuurskatte ongetel, noudat aardbesoedeling, asof ’n doodsengel, vooruitgang verstrengel en versmoor, noudat klimaatkenners propvol onverdrote ywer wag staan teen aardskending en oorverhitting van hierdie nou ongesonde aardplaneet, en reg staan vir waak by die sterfbed, noudat ander skrander denkers sonder ophou soek in tot nou toe onverkende sonnestelsels na ’n nuwe tuiste vir die mensdom op ’n ongeskonde planeet, nou wil jy hê – ek moet sê – hoe sien ek die lewe! Sou jy maar vra, herken jy vandag gister se mens in die jongste portret van samelewe?

Noudat te veel swak-opgeleides, sonder nerings, onbekwaam as hoofde van staatsake staan, en onvergenoeg en onverkwiklik pal smag na meer mag, maar keer op keer op hul gesigte val, sodat vooruitsigte vir die meeste mense agteruitloop, noudat te veel lande reeds te veel aardse erfgoed ontgin en uitgeleef het, noudat enkeles gans te veel besit, en te veel burgers nie genoeg het om te oorleef nie, noudat sovele sake-ondernemings se waardigheid vir krediet al hoe meer verklein, en te veel mense gans te veel skuld om dit ooit te kan delg, nou wil jy hê – ek moet sê – hoe sien ek die lewe! Sou jy maar vra, herken jy vandag gister se mens in die jongste portret van samelewe?

Noudat Zeit Geist in bankiersbuurte probeer spook en duisende mense aanhoudend fyn let op hoe onophoudelik bedink onbekende denkers en filosowe ongehoorde wyshede en hoe onomwonde bid priesters daagliks vir brood en hoe boosaardig beloof politici brood, hoe onbeskaamd beding prostitute geld vir brood – en hoe onverskrokke polisie ongeskik lang vingers in prostitute se monde steek om brood te steel! Nou wil jy hê – ek moet sê – hoe sien ek die lewe! Sou jy maar vra, herken jy vandag gister se mens in die jongste portret van samelewe?

Noudat eensame oues van dae hulle alleen na hospies-tehuise begeef sodat hulle daar waardig kan sterf, noudat lykhuise vol lê met dooies sonder identiteitsdokumente, noudat masjiene sterwendes goedelik of genadeloos aan die lewe hou, noudat naasbestaandes regters in howe nader vir besluite oor sterwe of lewe. Nou wil jy hê – ek moet sê – hoe sien ek die lewe! Sou jy maar vra, herken jy vandag gister se mens in die  jongste portret van samelewe?

Is my ore en kop oop? Is ek genoop? – Kyk na die lewe deur ’n ander se oë en kyk op die een of ander skerm, of deur die een of ander instrument met ’n naam wat eindig op skoop – enigiets van arto tot tele! Watter een van vele, soek jy as antwoord op “hoe sien jý – die lewe?” Sou jy maar gevra het, “herken jý vandag gister se mens in die jongste portret van samelewe?

Slot
 

Lees hier ongepubliseerde Afrikaanse tekste wat betrekking het op die uitvoerende kunste.
>> Klik hier vir die alfabetiese lys tekste in die LitNet-spens <<

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top