LitNet Eerste slukkie: Web deur Naomi Meyer

  • 0

LitNet publiseer voortaan uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Naomi Meyer

Ná haar regstudies in Bloemfontein voltooi Naomi haar meestersgraad in Afrikaans met lof by die Universiteit van Kaapstad. Tussen 2002 en 2011 het sy in Ierland gewoon. Haar jeugroman Ruik jy die filmster? het in 2006 by Tafelberg verskyn. Deesdae is sy terug in Stellenbosch as LitNet se inhoudsbestuurder. Web is haar debuutroman vir volwassenes.

Foto: Naomi Bruwer


Opsomming

Web
Naomi Meyer

Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801204

Stellenbosch se studente is opstandig. Die dorp brand, en in Sophia se klein dog veilige huisie droom sy van Pompeii en wegloop, weg van elke dag se sleur by die sukkelende BoekWeb-webwerf waar sy werk, haar moeilike baas, Trouw, en haar man se speurderwerk wat hom aan soveel gesinstragedies blootstel. Wanneer hul klein Magriet, die bruin dogtertjie wat sy en Diederick oorsee aangeneem het, wegraak en Sophia self eers ontsenu word deur die herontmoet van ’n jeugliefde en daarna ontvoer word, moet sy spartel om uit die web te kom en haar kind van die spinnekop te red. Het die man wat haar kom wegraap het – weg, soos sy heeltyd gedink het sy wíl wees – iets met Magriet se verdwyning te doen? Of is dit ’n vreemde, die een wat so met Magrietjie gepraat het op die internet? Wáár is haar kind?

In Naomi Meyer se debuutroman word die Boland en SA se brandpunte helder verlig deur die storie van ’n wit gesin met een bruin kind, hul huiswerker en die gewig van die geskiedenis.


Uittreksel

SOPHIA, TWEE DAE NADAT MAGRIET WEGGERAAK HET
Saterdag 15 Julie, Faro, Algarve, Portugal

Sonskyn. Helwarm hawe. En sy, op die passasiersitplek van ’n onbekende motor.

Hier binne ruik dit na nuwe sitplekke en die sweet van die man wat pas aan die bestuurskant uitgeklim het. Die son brand haar kaal regterarm deur die toe ruit, maar die Kaapse winterreën is nie te ver weg nie. Die wind vanaf Simonsberg waai ysig in haar geheue. Op twee plekke, soos altyd. Selfs nou. Saam met die vrees. Deur die motor se voorruit sien sy ’n chaotiese skare op Faro se hawe. Hy is seker ook daar, maar haar oë vind hom nie tussen die baie mense nie. Alles is sedert die vlug nog uit fokus. Hoe het sy hier beland, in hierdie bedompige motor? Vasgekeer.

Soos in ’n droom waar mens weet hulp is net in die kamer langsaan, maar as jy wil skree, is daar geen klank nie. Sy kry nie asem nie, en sukkel om haar hand te lig. Alles nog pap, iemand anders se lyf.

Uiteindelik draai sy die ruit met moeite op ’n skreef oop.

“O sol está brilhando . . .”

Wat die res van die woorde ook al beteken, sy weet sommer die verbyganger praat van die son. Hierdie vreemde land s’n. Haar branderige oë kan nie lank oop bly nie. Sy maak hulle toe en agter haar ooglede is daar weer die baie ligte, nes op die vliegtuig.

Soos honderde flitsende rekenaarmonitors.

Die vars lug laat haar benewelde brein egter ’n oomblik lank verhelder, sodat sy besef: Ek moet hier wegkom. Tot dusver was sy te deurmekaar om iets te doen. Die bordjie langs die pad met die naam van die berugte strandoord daarop, het haar tot haar sinne laat kom.

Maak oop die deur, klim uit. Word ’n vakansieganger tussen die skare. Nóú.

Iemand klop aan die ander ruit, en sy weet dis die bestuurder.

Sy maak haar oë oop in ’n vertraagde refleksbeweging. Word tog nou regtig wakker – kom by, Sophia! Maar sy gáán nie vir hom kyk nie. Draai haar kop doelbewus weg.

Sy sien die skare op die hawe hergroepeer soos miere wat eers blindelings deur suiker geskarrel het en nou gedissiplineerd in ’n ry inval om die kosvoorraad nes toe te dra. Hulle het ’n doelwit voor

oë, hulle wil seker kaartjies koop vir bootvaarte. Hy beweeg om die motor, sy hoor sy voetstappe. Sy het al op die internet gelees wat mens moet doen as jy gekaap word. Dis op ’n manier dieselfde.

Moenie oogkontak maak nie. Bly kalm. Soek hulp. Soek hulp. Maar sy kan nie die miere op die kaai se taal praat nie. Hulle is van ’n ander dimensie. Hoe kommunikeer sy haar situasie aan enigiemand?

Sy kan nie gered word nie, sy is vasgekeer.

En toe slaan die naarheid haar weer, in ’n groter golf as dié by die hawe.

Knars-knars. Voetstappe tot vlak by die oop ruit.

Iemand sê haar naam en sy hoor die deurslot oopwip. Sy kyk op en sien heel eerste die tande. Dan kom die seerkry soos wat sy vingers in haar boarms druk en hy haar by die motor uitpluk.

Alles is nie meer donkerblou soos die voorruit dit oomblikke gelede nog gekleur het nie. Terwyl die helder son alles oranje laat lyk, is dit nie aan haar eie lewe wat sy op dié oomblik dink nie.

Daar is net die een gedagte, asof hy dit in haar losskud. Dieselfde vraag, oor en oor.

Waar is my kind, waar is my kind, waar is my kind?

 

SOPHIA, OP DIE DAG WAAROP MAGRIET WEGRAAK
Donderdag 13 Julie, Stellenbosch

Dis ’n dag soos enige ander, dáárdie dag. Sy koester die kinders. Sy wil wegloop.

In die oggend se skemerdonker is daar ’n figuurtjie aan haar kant van die bed.

“Spinnekoppe, Mamma,” fluister die kind.

Tussen droomnewels deur begryp Sophia onmiddellik. Die natuur vereis dit van die moederdier. Diederick draai om in die bed, maar sy staan op en trek haar kamerjas aan en volg Magriet in die gang af en deur die kombuis.

Die oggendlug is klam toe sy die agterdeur oopmaak en sy besef dit reën steeds liggies soos dwarsdeur die nag.

Die dogtertjie se entoesiasme is onblusbaar. Sy en haar broer, wat hom vyf minute later by hulle aansluit, hare skeefgeslaap, laat hulle nie afsit deur ’n paar druppels nie. Hulle soek ywerig spinnekoppe in die agterplaas vir navorsingsdoeleindes. Hulle kon nie hier dinosourusse opspoor vir die vorige klastema nie, maar dié taak is ’n ander saak.

Dis nie woorde oor opwindende ontdekkingstogte wat uitkom toe sy praat nie.

“Julle gaan siek word, ons gaan laat wees, oppas vir knopiespinnekoppe . . .

“Ek’s Spider-Man!” skree Mathys en duik in sy sussie se rigting.

Magriet lig iets op en Sophia herken dit as ’n plastiekpop wat haar kop in ’n vorige skermutseling verloor het. Dis al waarvoor die pop nog goed is: selfverdediging. Sophia is met drie groot spronge by om die rusie stop te sit. Sy is besig om haar tussen die kinders en die afkop-pop in te forseer, toe iets op haar arm spring.

“ ’n Gogga!” gil Spider-Man, hoër as enige meisie. Terwyl Sophia na die insek slaan, registreer sy en haar dogtertjie gelyk wat dit is.

“ ’n Spinnekop!”

Magriet bulder dit uit. Hulle leer van spinnekoppe op skool. Sy is sewe – twee jaar ouer as Mathys – en sy wéét waaroor die lewe gaan, al is dit ook net die lewe binne hierdie paar vierkante meter. Die kind skree ook so hard, weet Sophia, omdat hierdie wrede ma pas die enigste resultaat van hulle soektog van kant gemaak het.

“Wat skree julle so, Sophia?”

Diederick se stem is ook hard. Hy staan op die stoepie en die bietjie kuif wat hy nog het, lig op in die bries. Nie meer ’n seun nie. Veertig.

Dit het haar agt-en-dertig lewens- en elf huweliksjare gekos om te besef soms moet sy haar mond hou, soos nou.

Dis die kinders wat skree, Diederick, en jy moenie ook nie. Sy sukkel om stil te bly, maar aan die ligkwaliteit kan sy sien sy is reeds laat genoeg vir werk soos wat dit is, hier tussen die houtstompe in die gras met sy normaalweg wye verskeidenheid spinnekoppe.

As sy nou reageer, gaan hy weer. Dan weer sy. En so aan. Soos ’n aggressiewe tenniswedstryd, ene sonder ophou. En soos sy hom hier van onder af bekyk, lyk hy opeens vir haar teleurgesteld. Sy wens sy kan sy moeë oë laat ophelder.


Lees ook

Web deur Naomi Meyer, ’n resensie

Deborah Steinmair
Resensies

"In ’n lesersmark met voortreflike misdaadfiksie transendeer hierdie boek die genre: dis heelwat meer as misdaad, terwyl dit al die elemente het om misdaadvrate te versadig."

Web – ’n onderhoud met Naomi Meyer

Naomi Meyer, Jonathan Amid
Skrywersonderhoude

"Nee, ek het nie die storie se einde geken toe ek dit begin skryf het nie. Ek het in die donker agter die storie aangeloop met 'n koplig wat net so 'n paar treë voor my uit skyn."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top