LitNet Eerste slukkie: Kultuurvryheid en selfbestuur (Redakteur: Heinrich Matthee)

  • 0

LitNet publiseer voortaan uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Die skrywers

Bertus de Villiers is ereprofessor by Curtin-universiteit in Australië en ʼn lid van die State Administrative Tribunal van Wes-Australië wat oor ʼn wye jurisdiksie reg spreek. Hy was voorheen hoofregsadviseur van SANParke. In die vroeë 1990’s was hy betrokke by aangeleenthede rondom die nuwe Suid-Afrikaanse Grondwet, onder meer as tegniese adviseur vir die kommissie wat die provinsies afgebaken het. Hy het sy doktorsgraad in staatsreg behaal aan die Universiteit van Johannesburg (of RAU –  Randse Afrikaanse Universiteit – soos dit destyds bekend gestaan het). Hy het ʼn omvattende publikasielys van meer as 110 publikasies. Bertus spesialiseer in terreine soos minderheidsgroepbeskerming, federalisme en desentralisasie, asook administratiewe reg. Hy het in onlangse jare grondwetlike advies in Ethiopië, Soedan en Suid-Soedan gegee.

Innocent Maja is ʼn senior vennoot in die regsfirma Maja and Associates in Harare, Zimbabwe. Hy dien as direkteur in die rade van verskeie nieregeringsorganisasies wat menseregte en ontwikkelingshulp bevorder. Sy kwalifikasies sluit ʼn doktorsgraad in regte van die Universiteit van Pretoria se Sentrum vir Menseregte in. Hy is die skrywer van verskeie akademiese artikels oor menseregte en van die boek The law of contract in Zimbabwe.

Deon Geldenhuys is ʼn professor verbonde aan die Departement Politiek en Internasionale Betrekkinge, Universiteit van Johannesburg. Hy het ʼn meestersgraad aan die Universiteit van Pretoria verwerf en het ʼn doktorsgraad van Cambridge. Hy spesialiseer in die vakgebied internasionale betrekkinge, met die klem op afwykende staatsgedrag. Sy ander groot akademiese belangstelling is die politieke akkommodasie van etnokulturele minderhede. Hy  is ʼn voormalige president van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Politieke Studies en het in 2016 die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Stalsprys vir Politieke Wetenskap ontvang.

Yagyah Adams is die leier van die Kaapse Moslem-kongres (Cape Muslim Congress). Hy was lank werksaam by die Moslem-regsraad, onder meer as ʼn redakteur van die Ad-Dawah­-gemeenskapskoerant, navorser van die Moslem-gemeenskapsradiostasie Voice of the Cape, en projekbestuurder van programme gerig op armoedeverligting in Malawi en Albanië. Sy kwalifikasies sluit ʼn graad in opvoedkunde by die Universiteit van die Wes-Kaap in, sowel as ʼn hoëronderwysdiploma en ʼn sertifikaat in konflikoplossing van die US African Leadership Program. Hy is ʼn raadslid van die Kaapse stadsraad, waar hy tans ook as voorsitter van die komitee dien wat vir publieke munisipale rekeninge verantwoordelik is.

Louis du Plessis is ʼn politieke wetenskaplike. Hy verwerf ʼn meestersgraad in politieke filosofie aan die Universiteit Stellenbosch en doktoreer in 1988 in politieke wetenskap aan die Universiteit van Pretoria, met lof. As dosent in die Fakulteit Krygskunde in Saldanha, en as professor in en direkteur van die Sentrum vir Militêre Studie van die Universiteit Stellenbosch, het hy al feitesendings na weermagte op alle vastelande onderneem. Hy is mederedakteur van twee werke oor konflikbestuur, naamlik Protecting sub-Saharan Africa: the Military Challenge en Managing African Conflicts: the Challenge of Military Intervention. Hy dien tans as redaksielid van die Verklarende Politieke Woordeboek en is die skrywer van Die berge waaroor Afrikaners klim.

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy dien in die adviesraad van die Journal of Language Rights en is ʼn lid van die International Observatory on Language Rights. Hy het eers ʼn honneursgraad in staatsleer en internasionale politiek aan die Universiteit van Pretoria behaal en daarna die grade BIuris en LLB aan Unisa, waarna hy ook by Unisa gepromoveer het. Hy is ʼn gereelde deelnemer aan Fokus, ʼn weeklikse politieke-kommentaar-program op Pretoria FM, en die skrywer van Politokrasie: ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop, wat ook in Engels vertaal is. Hy publiseer verder oor ʼn aantal gebiede in die teoretiese staatsreg, soos grondwetlike oppergesag, grondwetlike verandering, demokrasie en minderheidskwessies.

Danie Goosen is professor in godsdiensfilosofie aan Unisa. Hy is sedert 2004 die voorsitter van die direksie van die FAK, terwyl hy onder meer ook in die direksie van AfriForum dien. Sy doktorale proefskrif het oor die tema van verwondering in die filosofiese denke van Nietzsche gehandel. Hy is die skrywer van verskeie akademiese en populêre artikels, asook van Die nihilisme. Notas oor ons tyd (2007), Die republikeinse gedagte (2013) en Oor gemeenskap en plek. Anderkant die onbehae (2015).

Martin Pabst is die direkteur van ʼn politiekenavorsingsburo in München, Duitsland. Voorheen het hy navorsingsbeurse vir studie in Londen en Oxford ontvang. Tans is hy ook ondervoorsitter van die Duitse Vereniging vir die Verenigde Nasies in Beiere en ʼn lid van die redaksionele raad van die tydskrif Vereinte Nationen – German Review of the United Nations. Hy dien ook in die Duitse Bundeswehr se reserwemag met die rang van luitenant-kolonel. Hy het ʼn doktorsgraad in geskiedenis en is die skrywer van reisboeke oor verskeie lande en van akademiese artikels vir onder meer die Konrad-Adenauer-Stigting, Außenpolitik: German Foreign Affairs Review en Europäische Sicherheit & Technik.

Dirk Rochtus is professor in internasionale politiek by die Antwerpse kampus van die Katholieke Universiteit Leuven. Voorheen was hy ʼn eksterne adviseur van die Raad van Europa, en hy is ʼn ontvanger van die Duitse Bundesverdienstkreuz. Sy kwalifikasies sluit ʼn doktorsgraad in internasionale betrekkinge in. Hy is die skrywer van verskeie akademiese artikels oor internasionale politiek en ook van onder meer die boeke Turbulent Turkije, Dominant Duitsland, Turkije: De terugkeer van de sultan en Van Reich tot Republiek.

Martin Schönteich is ʼn kenner van strafregstelsels wêreldwyd. Voorheen was hy ʼn staatsaanklaer by die Departement van Justisie in Suid-Afrika, die parlementêre bestuurder vir die Instituut vir Rassebetrekkinge in Kaapstad en ʼn senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies in Pretoria. Sy kwalifikasies sluit ʼn LLB van die Universiteit van KwaZulu-Natal en ʼn meestersgraad in strafreg van die Stadsuniversiteit van New York in. Tans is hy besig met ʼn doktorsgraad in strafreg by laasgenoemde universiteit. Hy is die skrywer van etlike akademiese monografieë oor strafregstelsels, menseregte en veiligheidsake.

László Marácz is professor in Europese studies aan die Universiteit van Amsterdam, en is sedert 1992 as senior navorser en dosent aan dié universiteit verbonde. In 2015 is hy ook benoem as ereprofessor aan Gumilyov Eurasiese Nasionale Universiteit in Astana, Kazakstan. Sy kwalifikasies sluit ʼn doktorsgraad in algemene taalwetenskap van die Universiteit van Groningen in. Hy is die onderkoördineerder van die Europese navorsingsprojek Mobiliteit en inklusiwiteit in ʼn veeltalige Europa (MIME) en die skrywer van talle akademiese artikels en publikasiebydraes oor veeltaligheid, minderhede en groepspolitiek in Europa.

Heinrich Matthee is ʼn politieke-risiko-ontleder vir internasionale maatskappye en ʼn gasnavorser by die Universiteit van Amsterdam. Voorheen was hy ʼn navorser in Afrika-sekuriteit verbonde aan die Sentrum vir Militêre Studies van die Universiteit Stellenbosch, redakteur van die Emirates Occasional Papers by die Emirates Centre for Strategic Studies and Research in Abu Dhabi, en ʼn Midde-Ooste-analis by Control Risks in Londen. Sy kwalifikasies sluit ʼn meestersgraad in internasionale veiligheidstudies van Birmingham-universiteit en ʼn doktorsgraad (magna cum laude) in politieke wetenskap van die Universiteit van Marburg in Duitsland in. Hy is die skrywer van Muslim identities and political strategies en verskeie akademiese en populêre artikels oor politiek en ekonomie in Afrika, die Midde-Ooste en Europa.

Jaap Steyn is ’n biograaf en kultuurhistorikus. As joernalis was hy verbonde aan Die Volksblad en Rapport, en as dosent was hy verbonde aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth (nou NMMU), die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (nou UJ) en die Universiteit van die Vrystaat, waar hy professor in Afrikaans en Nederlands was. Hy het ’n MA (cum laude) in Afrikaans en Nederlands behaal by die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, soos dit toe bekendgestaan het, en in 1966 sy doktorale eksamen (cum laude) in algemene taalwetenskap aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam afgelê. Hy het benewens erelidmaatskap ook die volgende toekennings van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang: die Eugène Maraisprys vir die digbundel Die grammatika van liefhê; die Stalsprys vir geskiedwetenskappe vir Van Wyk Louw – ’n lewensverhaal; die Louis Hiemstraprys vir niefiksie vir Die honderd jaar van MER; die CJ Langenhovenprys vir taalwetenskap; en die NP Van Wyk Louw-medalje vir die volgehoue uitbouing van vertakkings van die geesteswetenskappe. Uit sy pen verskyn ook die kortverhaalboek Op pad na die grens (1976), die novelle Dagboek van ’n verraaier (1978), die taalpolitieke werk Tuiste in eie taal (1980), die herinneringsboek Hoeke boerseuns ons was (1991), die biografie Penvegter: Piet Cillié van Die Burger (2002), Sonkyker: Afrikaner in die verkeerde eeu (2008), en “Ons gaan ’n taal maak” – Afrikaans sedert die Patriot-jare (2014).

 


Opsomming

Kultuurvryheid en selfbestuur: Keuses van klein groepe wêreldwyd
Redakteur: Heinrich Matthee

Uitgewer: Kraal Uitgewers
ISBN: 9780992218942

Deur watter keuses verseker klein groepe hul kultuurvryheid in Europa en die Midde-Ooste? Hoe kan Afrika se menseregtestelsel ook taalregte verseker vir meer as 2000 taalgroepe in 54 state? Het Afrikaners en die Khoisan volgens die grondwet aanspraak op eie kultuurrade? Wat doen minderhede in Asië en Afrika as regerings hulle aansprake afwys, en watter menslike dilemmas bly bestaan in diverse ordes? In hierdie boek ondersoek twaalf kundiges uit Suid-Afrika, Zimbabwe, die VSA, Nederland, Vlaandere en Duitsland klein groepe se keuses op die lang pad na menseregte en kultuurvryheid.


Uittreksel

Hoofstuk 4: ’n Politieke en ekonomiese strategie vir die Kaapse Moslemgemeenskap

Yagyah Adams

Geskiedenis van die Kaapse Moslems

Die oudste en grootste konsentrasie van Moslems in Suid-Afrika is in die grotere gebied van Kaapstad te vinde. Dit is waar die Suid-Afrikaanse Moslems al sedert die sewentiende eeu woonagtig is en vanwaar hulle ’n groot vormende invloed op die streek se geskiedenis, sosio-ekonomiese stelsels, argitektuur, kook- en koskultuur, godsdienstige infrastruktuur en multikulturele bewussyn uitoefen.1

Die Moslemgemeenskap van Kaapstad het ontstaan in die laat 1600’s toe die eerste verbanne politieke gevangenes deur die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie (HOIK), wat die Maleise en Indonesiese eilandgroep gekoloniseer het, na die Kaapkolonie geneem is. Die besetting van die argipel het tot gevolg gehad dat ’n aantal van die Moslemleiers en hulle volgers weens voortdurende weerstand teen die koloniseerders verban is.

Na hulle aankoms aan die Kaap, is die Moslemleiers aanvanklik vir enkele jare toegelaat om in betreklike vrede te leef. Mettertyd het die Nederlandse koloniale meesters probleme met plaaslike arbeid ondervind, aangesien die meerderheid van die inheemse stamme as gevolg van misbruik deur die HOIK die kolonie verlaat het. Dit het ’n arbeidstekort tot gevolg gehad. Moslems wat as politieke bannelinge aangekom het, se regte is misken en hulle is tot slawerny gedwing. Dit was tot voordeel van die kolonialiseringsprogram, aangesien gratis arbeid sodoende dadelik beskikbaar geword het.

Vir meer as 300 jaar het die Moslemgemeenskap onder die tirannie van slawerny, kolonialisme, imperialisme en apartheid gely. Dit is een van min gemeenskappe ter wêreld wat soveel onderdrukking beleef het en steeds daarin geslaag het om ’n eie kulturele en godsdienstige identiteit te behou. Die beoefening van Islam is soos Judaïsme deur die Nederlandse owerheid aan die Kaap verbied.2 Vir meer as 300 jaar het die Moslembevolking herhaaldelik ervaar dat hulle deur opeenvolgende owerhede van die materiële vooruitgang wat hulle kon maak, beroof is. Nogtans het hulle volhard in hulle viering van God.

Herfokus en herstrukturering van die gemeenskap se leierskap

Vandag maak die Kaapse Moslemgemeenskap ’n minderheid uit. Volgens amptelike ramings bestaan dit uit etlike honderdduisende, maar volgens hulle eie skatting word die gemeenskap op na aan ’n miljoen mense gereken. Sedert 1994 word Mosleminstellings sterk bevorder en uitgebou. Meer moskees, Islamitiese skole en instellings van hoër onderrig is reeds tot stand gebring. Verskeie gemeenskapsradiostasies speel verder ook ’n belangrike rol in hulle gemeenskapslewe.

Die Moslemregsraad (Muslim Judicial Council / MJC), wat in 1945 tot stand gekom het, het ten spyte van enkele ander kleiner aanspraakmakers, die mees gesaghebbende liggaam van geestelikes gebly. Tot op hede verkies die MJC om na aan die African National Congress (ANC) te bly met ’n houding wat die Noorweegse akademikus, Sindre Bangstad, “lojale akkommodasie” noem.3 Tog het die meeste Kaapse Moslems egter in die vyf parlementêre verkiesings wat sedert 1994 plaasgevind het, vir opposisiepartye gestem, met vele wat ook vir die ANC en enkele kleiner Moslempartye gestem het.4

Soos sir Winston Churchill opgemerk het, is verantwoordelikheid die prys van leierskap. As leierskap van die Moslemgemeenskap behoort ons te besluit of ons gemaklik daarmee is en kan voortgaan om die MJC hoofsaaklik as ’n kommunale regsliggaam te beskou, wat bloot maatskaplike regsaspekte en die opvoedkundige vereistes van ons gemeenskaplike aktiwiteite bestuur. Andersins moet ons oorweeg of die organisasie in staat is om ’n breër mandaat, visie en aard te hanteer. Die huidige verantwoordelikhede waarmee ons onsself besig hou, moet herdefinieer word. Dit moet geskied sodat ons na behore aan die diverse en veelvlakkige vereistes van ons gemeenskap kan aandag gee.

Die invloed van die wêreldwye ekonomiese ineenstorting van 2008 het ’n diepgaande negatiewe impak op die maatskaplike en ekonomiese wese van die plaaslike Moslemgemeenskap gehad. Op verskeie vlakke benadeel die huidige politieke en ekonomiese gebeure ons op wyses wat ons onsself nog nie eens kan voorstel nie. Hierdie gebeure en omstandighede wat steeds voortduur, sal vele ekonomies-aktiewe mense in werkloosheid dompel en die wyse beïnvloed waarop ons op die psigo-maatskaplike behoeftes van ons gemeenskap reageer.

Die standaard antwoorde op uitdagings wat ons van vorige geslagte geërf het, sal ontoereikend wees om oplossings vir die probleme wat ons tans in die gesig staar, te bied. Ons vermoë om te beantwoord aan die fisiese behoeftes van diegene in ons onmiddellike omgewing, soos byvoorbeeld die noodsaak van die skep van volhoubare werksgeleenthede, sal in die toekoms ons invloed in ons plaaslike gemeenskap en ook ons verhouding met die res van die Suid-Afrikaanse samelewing bepaal.

Rasgekoppelde nasionalisme van die ANC bedreig minderhede

Ons moet die erns van ons huidige ekonomiese, politieke en maatskaplike posisie as ’n minderheidsgemeenskap insien. Hoewel ons onsself as deel van die breër Suid-Afrikaanse nasie mag beskou, is dit nodig om dié idee te ontleed en te besin of dit feitlik korrek is. Dit is nie ongewoon om te hoor dat Afrikane wat in die staatsdiens werksaam is, praat van “inheemse Afrikane versus ander Afrikane” nie. Die politieke wetenskaplike, Nicola de Jager, het verklaar: “Daar is ’n toenemende ywer vir rasgekoppelde nasionalisme in die ANC se beleide”.5 Hierdie uitgangspunt ignoreer die veelheid van Afrikaidentiteite en die bydraes van lede van ander gemeenskappe in Suid-Afrika.

Die politieke ekonoom, Ismail Lagardien, het die volgende oor die ANC se terugkeer tot rassepolitiek geskryf:

Tydens besprekingsgeleenthede oor die afgelope jaar of so, en besoeke aan die provinsie [KwaZulu-Natal], het ek gevind dat daar ’n beduidende anti-Indiese gevoel bestaan, gekoppel aan oproepe dat die grootste inheemse gemeenskap, die Zulus, groter beheer van KwaZulu-Natal moet neem. In die provinsiale burokrasie word “gekleurde” mense van gesag ontneem en vind hulle dat hulle toenemend gemarginaliseer word; indien nie formeel en fisies nie, dan wel dermate dat hulle geïgnoreer word en hulle werk opsygeskuif word.

In die Wes-Kaap verloor “gekleurde” werkers – professionele mense soos verpleegsters en bibliotekarisse – hulle werk omdat “daar te veel kleurlinge” in die provinsie is. Die amptelike beleid bepaal dat die provinsie die “nasionale” bevolking/rassedemografie moet weerspieël ... Kwessies soos effektiwiteit, vermoëns en die doeltreffendheid van dienslewering is van sekondêre belang. Hoe vêr is ons daarvandaan om mense op treine te laai en hulle weg te stuur na gebiede waar hulle aan die rassekriteria van die staat-party nexus sal beantwoord?6

’n Kultuur van aanspraak maak op regte en herinneringe aan onderdrukking in die verlede het weer sterk begin opduik. Daar heers ook ’n groeiende persepsie dat lede van die Moslemgemeenskap vir finansiële gewin met die apartheidsregime saamgewerk het. Die oënskynlike ekonomiese voordele wat ons tydens en na afloop van apartheid verkry het, word met wantroue bejeën. Ons gemeenskap word kollektief beskou as deel van diegene wat uit die stelsel voordeel getrek het, terwyl die inheemse Afrikane gely het. Dit kwel die ANC en Economic Freedom Fighters (EFF) dat die meerderheid van die Moslems skynbaar in die nuwe Suid-Afrika floreer, terwyl hulle terselfdertyd vir die opposisie stem.

Die ANC beweer dat dit ten gunste van nie-rassigheid is, maar tog het dit nie-rassigheid aktief in die Kaap vernietig. Sommige lede van die Wes-Kaapse ANC het geglo dat die party dié provinsie sonder die steun van gekleurde ondersteuners wat gewoonlik die ANC steun, sou kon wen. Dit is die vernaamste rede waarom hulle voortdurend die gekleurde leierskap onder die aanvoering van Ebrahim Rasool uitgedaag en so maklik opsygeskuif het. Vele organisasies, insluitend die MJC, het hierteen gewaarsku. Die ANC se nasionale leierskap het egter nie hierop ag geslaan of ingetree nie, aangesien hulle ook oortuig is om te glo dat die gekleurdes se stemme in verkiesings ontbeer kon word. Die ANC se waagstuk om veral op die swart Afrikane se stemme te reken, het in die Wes-Kaap misluk. Die vernedering is ook nog vererger deur die besef dat duisende van die kleurling kiesers wat tradisioneel ANC-ondersteuners was, vir die Demokratiese Alliansie (DA) gestem het.

’n Regering het die plig om die burgers en die gemeenskappe van ’n land te beskerm. Wat duidelik uit huidige toestande blyk, is dat die regerende ANC skynbaar nie die verslegtende misdaadsituasie in Suid-Afrika ernstig opneem nie.7 Die eindelose stroom buitelanders wat die land binnevloei laat dit voorkom asof grensbeheer nie meer bestaan nie en dat misdade wat deur buitelanders gepleeg word, verdra word. In Kaapstad word die dwelmhandel grotendeels deur buitelanders beheer en polisieoptrede teen hulle word deur beskuldigings van xenofobie lamgelê.8 Die strekking van die Suid-Afrikaanse menseregte-agenda is tot só ’n mate uitgebrei, dat misdadigers kenners van hulle regte geword het, in teenstelling met dié van hulle slagoffers. Die indruk wat hierdeur geskep word, is dat die regerende ANC meer bekommerd oor die vestiging en welstand van ’n elite met politieke verbintenisse is, as oor die bestuur van die land.

Die ANC se begeerte om die mag wat so verloor is, te herwin, is kommerwekkend, aangesien hulle in der waarheid geen idee het wie die ware gemeenskapsleiers is nie. Net soos die operasionele styl van die voormalige Nasionale Party (NP), dring die ANC daarop aan om self te besluit wie die kleurlinggemeenskap se leiers behoort te wees.

Het die MJC die vermoë om ’n breër mandaat, visie en aard te ontwikkel?

Weens die veranderende politieke en ekonomiese landskap en omdat ons buite die grense van hierdie opportunistiese en gestruktureerde omgewing bestaan, moet ons – die leiers van ’n minderheidsgemeenskap – wyses vind waarop ons ons bestaan en omstandighede kan beskerm. Ons verhoudings en toekomsstrategieë kan nie bloot net op ’n benadering van opportunisme berus nie. Ons moet strategies beplan en ons toekoms in hierdie nuwe Suid-Afrika verseker.

As gevolg van die huidige stand van sake het vele Moslems reeds (en sal meer van hulle ook nog) soos ander inwoners van Kaapstad, hulle werk verloor. Dit het die onvermoë om hulle gesinne te huisves en te voed, skoolfonds te betaal en by te dra tot gemeenskapsprojekte tot gevolg. Verskeie maatskaplike projekte in die Moslemgemeenskap spartel om behoeftiges na behore te help voed en klee weens ’n afname in skenkings wat ontvang word.

Onderlinge gesprekvoering, die omskrywing van maatskaplike euwels, asook waarskuwings teen en die verbod op sosiale misdade, het ’n bepaalde doel en is onontbeerlike prosesse in die ontwikkeling van ’n gesonde en morele gemeenskap. In hierdie moeilike ekonomiese tyd is ’n meer gedetailleerde en gevarieerde projekinisiasie egter nodig. Die MJC behoort leierskap te bied wat ’n streeksekonomiese en politieke program aanbetref. Indien dit nie aan hierdie uitdaging kan gehoor gee nie, loop dit die gevaar om betekenisloos te raak vir die hantering van die behoeftes van diegene wat dit veronderstel is om te dien.

As leiers van hierdie gemeenskap moet die taak van werkskepping deel van ons maatskaplike verantwoordelikhede vorm. In hierdie kritieke stadium van die ekonomiese krisis, pleit ek dat die MJC moet begin om sy doel as regsliggaam wat hoofsaaklik die maatskaplike, regs- en opvoedkundige behoeftes van ons aktiwiteite bestuur, te herdink en -aktiveer.

Historiese sosio-ekonomiese ontmagtiging en huidige uitdagings

Ons begin met vele agterstande. Onder Britse kolonialisme en die apartheidstelsel is die plaaslike Moslemekonomie oor die afgelope eeu stelselmatig vernietig. Moslemgemeenskappe wat woonagtig was van Simonstad tot die Strand, en van Constantia tot Distrik Ses, het almal soortgelyke ervarings in gemeen. Hulle was selfstandige groepe wat in eie diens was – vissers, boere, klere- en meubelmakers, handelaars en groothandelaars van goedere en produkte. Hulle het huise en waens gebou en ’n enorme bydrae tot die ontwikkeling van ’n moderne stad gelewer.9

Maatskaplike probleme het slegs op ’n beperkte skaal voorgekom, aangesien die gemeenskap oor ’n sosiale netwerk beskik het wat hierdie uitdagings bestuur het. Die instelling van groepsgebiede het egter die gemeenskappe se bestaande inkomstebasis vernietig, deur byvoorbeeld boere van grond wat vir geslagte lank aan hulle behoort het, te verwyder, en mense vêr van hulle markte en werksplekke te versprei. Bestaande maatskaplike netwerke en onafhanklike plaaslike ekonomieë wat oor generasies opgebou is, het eenvoudig onder die druk van die skeidingsproses ineengestort.

In al hierdie ontwortelde gemeenskappe het maatskaplike probleme soos alkohol- en dwelmmisbruik, wat vantevore onder beheer was, handuit geruk.

Vandag sien ons dat die fabrieke wat tot die vernietiging van die tradisionele snyers- en kleremaakbedryf bygedra het, gesluit word en dat vervaardiging ter wille van groter winsgewendheid na China verplaas word.10 Werknemers met beperkte vaardighede word uit diens gestel aangesien hulle hulle doel in die groot industriële proses gedien het en nie meer langer wins oplewer nie.

Die tragiese gevolge van hierdie grootskaalse afleggings en die vernietiging van die inkomste van hele gemeenskappe in die naam van wins, speel oor die Kaapse Vlakte af. Mense wat skoolfonds moet betaal en hulle gesinne moet voed, word desperaat. Die desperaatheid het tot gevolg dat hulle begin oorweeg om hulle tot ander wyses te wend om ons gemeenskap se kenmerkende produk, naamlik selfgemaakte oorlewing, te bekom – wyses wat ook misdaad insluit. Vele gesinne word uiteen geruk omdat dwelmhandelaars doelbewus jong en kwesbare tieners wat in ’n gemeenskap met weinig rolmodelle woon, teiken. As die statistiek van die derduisende dwelmsake, verkragtings en inbrake op die Kaapse Vlakte nie voldoende rede vir ’n maatskaplike rewolusie bied nie, wat meer is dan nodig?

Basiese Moslemekonomie aan die Kaap

Die herbemagtiging van ons gemeenskap moet begin op die maatskaplike en ekonomiese gebied. Ten einde die impak van ons bestaande vermoëns te maksimaliseer, word ’n professionele benadering tot die basiese Moslemekonomie aan die Kaap vereis. Met die nodige respek is dit nodig om te noem dat die oordeel wat onder uitgespreek word, nie ten doel het om tradisionele metodes te verkleineer nie, maar eerder om aan te toon dat dit nie volhoubare oplossings vir die huidige en toekomstige uitdagings kan bied nie.

Tradisioneel is die imam, sjeg en moulana wat aan ’n moskee toegewys is, deur die moskee se komitee in diens geneem.11 Hulle salarisse was van invorderings, skenkings, fondsinsamelings onder diegene wat die moskee gereeld besoek en uit die inkomste wat eetgoed- en koekverkopings opgelewer het, afkomstig. Ons moskee-gebaseerde ekonomie kan egter nie dié marginale groei volhou nie.

Die imam, sjeg of moulana moet verkieslik oor ’n kontrak met bepalings en verpligtings beskik. Dit sal verseker dat die individu aan die komitee en die gemeenskap aanspreeklik bly. In wese bly dit egter die komitee wat die verhoudings van die moskee en daaruit voortspruitend ook van die onmiddellike gemeenskap bestuur. Dit is duidelik dat die meerderheid van die moskees nie hulle bedrywighede as ’n besigheid beskou nie. Daar kan dus met redelike sekerheid aanvaar word dat hulle ook nie oor ’n besigheidstrategie sal beskik nie. Die feit dat elke moskee inkomste en uitgawes het, bewys dat ’n soort besigheidsplan wel noodsaaklik is. So het die moskee self, as ’n strukturele entiteit, stygende eiendomswaarde, veral ’n moskee wat in ’n gevestigde gebied geleë is.

Ekonomiese kommunalisme en werkskepping

Mosleminstellings moet nuwe inisiatiewe en projekte ontwikkel om die vaardigheidsbasis en ekonomiese vermoëns van hulle gemeenskap aan te vul. Weens die enorme hoeveelheid werksverliese in ons stad, raak diegene wat tradisioneel tot die reserwe inkomste van hulle moskee en ander maatskaplike instellings bygedra het, minder geneig om skenkings te maak. Hierdie individue moet nou dikwels na nabye familielede wat werkloos is, omsien.

’n Aanvang kan gemaak word deur onder meer ’n vaardigheidsoudit in ons gemeenskap onder diegene wat tans werkloos is, te onderneem. Daar word voorgestel dat ’n vaardigheidsdatabasis geskep word, wat individue wat oor bepaalde vaardighede beskik, identifiseer, sodat hulle moontlik in diens gestel kan word. So kan ’n bestuurder van ’n fabriek wat uit diens gestel is sonder dat hy hoegenaamd enige skuld aan sy ontslag gehad het, byvoorbeeld doeltreffend in ’n soortgelyke werksplek aangewend word as die geleentheid aan hom gebied word.

Die MJC of ’n toepaslike borg kan kapitaal insamel waarmee ’n fabriek dan opgerig word. Die betrokke werklose bestuurder en ’n aantal vaardige werkers uit ons gemeenskap kan daar begin om hoë gehalte kledingstukke, byvoorbeeld langbroeke, hemde of truie van basiese materiale te vervaardig. Deur die bestaande netwerke van die moskeë moet die plaaslike gemeenskap vervolgens aangemoedig word om verplig te voel om die pogings van hierdie voormalige werklose mense te steun. As ons ons eie bedrywighede só kan ondersteun, sal dit beteken dat ons gehalte produkte, ’n mark daarvoor, wins en ’n verminderde werkloosheidskoers in ons gemeenskap tot stand sal bring.

Sodra die konsep in ons eie gemeenskap sukses behaal, kan dit ook in die res van die swart gemeenskappe as ’n tipe uitreikaksie van Islam toegepas word en sodoende vir ander minderbevoorregtes waarde toevoeg. Ons moet aanvaar dat werksgeleenthede wat verdwyn het, nie noodwendig weer tot stand sal kom nie. Dit is tans nou maar eenmaal goedkoper om goedere in China te produseer – as ’n samelewing en gemeenskap kan ons nie met hierdie koste kompeteer nie.

Wat ons egter wel kan doen, is om die gehalte van ons produkte, diegene wat van ons koop en aan wie ons verkoop, te bestuur. Hierdie tipe kollektivisme het deur die eeue oor die wêreld heen aanleiding tot die sukses van vele minderheidsgemeenskappe gegee. Ons gemeenskap bestaan uit ’n selfgeraamde een miljoen mense in hierdie metropool. Indien 20% van hulle hulle tot so ’n skema verbind, bied dit aan ons ’n mark van 200 000 mense wat almal behoefte aan ’n verskeidenheid goedere het.

Daarbenewens beskik ons histories oor reserwes van maatskaplike kapitaal, talentvolle entrepreneurs en innoveerders. Ons gemeenskap het ook plaaslike en internasionale netwerke. Dit was dikwels entrepreneurs en innoveerders wat gemeenskappe gehelp het om teenslae te bowe te kom en hulle lewens te hervorm. Dit behoort dus ’n prioriteit vir die gemeenskapsinstellings te wees om ’n ondersteuningsekosisteem vir Kaapse Moslementrepreneurs te bou, nuwe entrepreneurs op te lei en ’n kultuur van lewenslange leer onder alle ouderdomsgroepe te vestig.

Die Joodse gemeenskap

Ons moet ook bereid wees om uit ander se suksesse te leer. Dié soort lesse was ook nog altyd ’n belangrike bron van innovering. In die Joodse gemeenskap word alles wat byvoorbeeld kosjer is, deur maatskappye wat deur Jode besit en bestuur word, vervaardig. Dit is in teenstelling met die halaal industrie, waar die MJC en enkele ander bloot ’n toelaag vir hulle goedkeuring van produkte ontvang. Joodse besighede skep deurlopend werksgeleenthede en volhoubare groei vir hulle mense. Vroeë Sioniste wat hulle in Palestina gevestig het, het die konsep van kibboetse geskep. Dit was veel eerder die sukses van die kibboetsstelsel as politieke oplossings en gewapende geweld wat dit uiteindelik die moeite werd gemaak het vir mense om hulle in Palestina te gaan vestig. Dit was die maklikste manier waarop die probleem van grootskaalse werkloosheid opgelos, maatskaplike onrus voorkom en ’n volhoubare plaaslike ekonomie geskep kon word.

In Augustus 2011, het die toenmalige ANC-visepresident Kgalema Motlanthe12 die Joodse Raad van Afgevaardigdes besoek en hulle hulp gevra met die skep van werksgeleenthede vir minderbevoorregtes. As ’n toekomstige leier van Suid-Afrika die belang van hierdie gemeenskap betreffende ekonomiese ontwikkeling kan insien, durf ons dan waag om ons rol in dié verband te ignoreer?

Verbeter die demokratiese en verteenwoordigende aard van Mosleminstellings

Moslems moet verskeie maniere oorweeg waarop hulle hulle instellings meer demokraties en verteenwoordigend kan maak, terwyl steeds by die beginsels van Islam gehou word. Hoe word moskee- en ander komitees saamgestel? Wanneer ’n moskeevergadering byvoorbeeld geskeduleer word, word enige Moslem toegelaat om dit by te woon en aan ’n stemmery daar deel te neem, of is dit slegs vir diegene wat in die onmiddellike omgewing woon, beskore? Wat van die moskees wat geleë is in gebiede waar min Moslems woon, byvoorbeeld in Constantia, Claremont, die middestad en Mowbray? Uit wie bestaan die moskeegemeenskap en hoe word dié samestelling bepaal? Pas moskees die registrasie van lidmate toe en hoe word ’n mens lid – kan enigeen by enige moskee aansluit?

As die MJC nie histories verplig is om sy geloofwaardigheid deur middel van ’n demokratiese verkiesingsproses in die Moslemgemeenskap te kwalifiseer nie, is dit nie statisties moontlik om die organisasie se numeriese ondersteuningsbasis te bepaal nie. Hierdie unieke verskynsel moet met versigtigheid bejeën word.

Hoe sal ons byvoorbeeld daarop reageer indien die Geslagsgelykheidskommissie sou besluit om die aantal vrouens in uitvoerende posisies te ondersoek of as die Gelykheidskommissie die demografiese verteenwoordiging in ons leierskapsvlakke sou bevraagteken? Hoewel die MJC reeds sedert 1945 bestaan en die oudste organisasie van sy aard in die land is, kan ons die bestaan daarvan nie as ’n vanselfsprekendheid beskou nie. Die MJC kan nie aanneem dat ons immuun teen die uitdagings in ons onmiddellike omgewing is nie.

Watter politieke rol behoort Moslems te vertolk?

Indien ons saamstem dat die MJC tot ’n breër visie en mandaat in staat is, hoe meet en bou ons dan die kragte van die organisasie verder uit? As leiers van ’n minderheidsgemeenskap, moet ons die politieke verantwoordelikheid met betrekking tot ons verlede, hede en toekoms in ag neem, terwyl ons ook die beperkings en swakhede van die bestaande politieke stelsel in gedagte hou.

Onder duisende openbare verteenwoordigers, wat plaaslike raadslede, lede van burgemeesterskomitees, provinsiale en nasionale ministers en parlementariërs insluit, is minder as 50% van die plaaslike verteenwoordigers direk deur die publiek verkies. Geen nasionale of provinsiale parlement is demokraties met openbare stemme verkies nie. Gevolglik dien die oorgrote meerderheid van die openbare verteenwoordigers hulle party, en nie die mense nie, aangesien dit die party is wat hulle evalueer en vergoed, en nie die publiek nie. Dit is die party wat hulle met belastingbetalers se geld onderhou, en nie die mense wat hulle veronderstel is om te dien nie.

Selfs onder die enkeles wat deur die mense verkies is, is dit op grond van die feit dat ’n party hulle in die eerste plek uitgesoek het, wat hulle verkiesbaar geword het. In al ons politieke partye berus die besluit oor wie op die kieslys vir die betrokke raad, provinsiale of nasionale parlement kom, by ’n klein uitgelese groepie. Die leiers, omring deur enkele hekwagters besluit oor alles agter geslote deure. ’n Verkiesingsvergadering waar openheid en deursigtigheid sogenaamd bestaan, is slegs ’n front en oëverblindery om moontlike interne moeilikheidmakers in bedwang te hou. Onder uitsonderlike omstandighede word aanpassings aan plaaslike lyste soms gemaak; maar oor die algemeen word die besluite egter selde verander. Daarbenewens voer die regerende party en die vernaamste opposisieparty hulle veldtogte met reuse begrotings – ’n opsie wat nie vir die ander partye beskore is nie.

Binne dié heersende stelsel is dit nie vir ’n minderheidsgemeenskap moontlik om hierdie partye betekenisvol teen te staan nie. In die vernaamste partye self, is so ’n gemeenskap se invloed ook beperk. Tog kan hulle eise en ideale op ander wyses bevorder word. Ons moet druk uitoefen vir die erkenning van die godsdienstige en kulturele dimensies wat aan burgerskap verbonde is.

Die vernaamste demokrasie in die Europese Unie, naamlik Duitsland, deel ’n persentasie van die land se belastinginkomste aan kerke toe. Waarom kan godsdienstige of kulturele gemeenskappe in Suid-Afrika nie ook ’n klein gedeelte van die land se belastinggeld ontvang om hulle instellings en jeug te ontwikkel nie? Is dit regverdig dat net sekere projekte, byvoorbeeld die president se Nkandla-kompleks, by almal se belastinggeld baat?

Daar kan ook ad hoc alliansies met partye, asook ander organisasies en gemeenskappe (klein en groot) oor kwessies van gemeenskaplike belang gevorm word. Die vernaamste fondament vir die beskerming van ons erfenis en die skep van ons toekoms sal egter steeds ons geloof en ons gesinne, ons entrepreneurs en talentvolle individue, ons skole en woonbuurte, asook ons gemeenskapsinstellings wees. Dit is hier waar die nuwe generasie Moslemleiers ontwikkel sal word en waarom ’n herstrukturering en herfokus van die MJC en ander instellings noodsaaklik geword het ten einde die uitdagings wat die toekoms inhou, die hoof te kan bied.

Histories beskou, is die Moslemgemeenskappe van Kaapstad die enigste mense op aarde wat die proses van slawerny, Nederlandse kolonialisme, Britse imperialisme, apartheid en nou Afrikanasionalisme oorleef het. Binne die beperkinge van ons gedagtes gee ons voor en ly ons in stilte. Min het die moed om die rekonstruksieproses van hierdie gemeenskap aan te pak.

Dit is egter ons inherente reg as Moslems, as inwoners van Kaapstad, en as mense om veilig en beskermd te voel en om besoldigde diens in ons geboorteland te verrig. Ons historiese ontmagtiging kan nie tot geskiedenisboeke gerelegeer word nie en ons kan ook nie verder bloot net geïgnoreer word nie. Ons mag nie toesien dat ander ons as buitestaanders in ons eie geboorteland etiketteer nie. Verder kan ons ook nie voortgaan om voor te gee dat ons dien, terwyl ons steeds aan die gunste en genade van ander wat die voorwaardes dikteer, uitgelewer is nie. Kortom, ons moet onsself en ons gemeenskapsinstellings herbemagtig.

Eindnotas

1 Vir die geskiedenis van Moslems in Suid-Afrika, sien Yusuf da Costa & Achmat Davids, Pages from Muslim history (Shuter and Shooter, Pietermaritzburg, 1994); Ebrahim Mohamed Mahida, History of Muslims in South Africa: A Chronology (Arabic Study Circle, Durban, 1993); Abdulkader Tayob, Islam in South Africa: Mosques, Imams and Sermons (University of Florida Press, Gainesville, 1999).

2 Ebrahim Moosa, “Islam” in John W. de Gruchy & Martin Prozesky (eds), A Southern African Guide to World Religions (David Phillip, Cape Town, 1991), pp 203-207.

3 Sindre Bangstad & Aslam Fataar, “Ambiguous Accommodation: Cape Muslims and Post-Apartheid Politics”, Journal of Southern African Studies, 36(4), 2010, pp 817-831.

4 Vir die tydperk 1994-2000, sien Heinrich Matthee, Muslim identities and political strategies: A case study of Muslims in the greater Cape Town area of South Africa, 1994-2000 (Kassel University Press, Kassel, 2008).

5 http://mg.co.za/article/2015-11-03-sa-is-in-danger-of-becoming-a-radicalised-society-again.

6 http://www.dailymaverick.co.za/opinionista/2015-04-27-the-re-racialising-and-tribalisation-of-politics-where-will-we-end-up/#.VXmAcmPALmQ. Sien ook John Kane Berman, “Race and racism”, Moneyweb, 25 January 2016.

7 “Crime stats simplified” at http://www.crimestatssa.com/province.php?ShowProvince=Western+Cape.

8 Khalil Goga, “The Drug Trade and Governance in Cape Town”, Institute of Security Studies, 263, September 2014.

9 Robert-Shell, “Islam in Southern Africa” in Nehemia Levtzion & Randal Pouwels (eds), The History of Islam in Africa (James Currey, Oxford, 2000), pp 327-348.

10 “Imports killing SA’s textile industry” published on 3 July 2015 at http://www.iol.co.za/business-report/economy/imports-killing-sas-textile-industry-1879877; https://issafrica.org/iss-today/selling-our-future-for-a-bric-time-to-rethink-south-africas-foreign-policy.

11 Heinrich Matthee, Muslim identities and political strategies: A case study of Muslims in the greater Cape Town area of South Africa, 1994-2000 (Kassel University Press, Kassel, 2008), pp 125-132; Abdulkader Tayob, Islam in South Africa: Mosques, Imams and Sermons (University of Florida Press, Gainesville, 1999).

12 https://www.youtube.com/watch?v=Ocr6wDl_rEk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top