LitNet Akademies-resensie-essay: Kamphoer deur Francois Smith

  • 3

Titel: Kamphoer
Skrywer: Francois Smith
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780624065517

Klik hier om Kamphoer te koop by Kalahari.com.

Tot verhaal kom

Afrikaans het ’n wonderlike uitdrukking: “om tot verhaal te kom”. In dié uitdrukking kom die wysheid tot uiting dat ’n mens, wanneer jy diep geskok is, jou “verhaal” verloor. Wat beteken dit, eerstens, om ’n verhaal te hê wat jy kan verloor? In die lewe van elke mens is daar ’n magdom van gegewens wat jou tot raserny sal dryf as jy alles waarvan jy kennis kan neem, sou probeer inneem, en as jy aan alle gegewens ewe veel aandag sou gee. (Probeer jou maar indink hoe dit sou wees as jy elke keer wanneer jy van jou slaapkamer na jou badkamer stap, sou probeer om aandag te gee aan alle gegewens wat jy deur jou sintuie kan waarneem.) Elke mens wat streef na ’n betekenisvolle lewe, orden (bewus of onbewus) sy lewe in die vorm van ’n verhaal. Jy onderskei tussen dit wat ’n wesenlike rol in jou verhaal speel en dit wat van weinig of geen belang vir jou is nie.

Om sinvol te kan lewe, is dit nodig dat jy die onuitputlike getal gegewens in die lewe omskep tot ’n verhaal wat vir jou sin maak en waarmee jy saam kan leef. Verweef met die skepping en ontwikkeling van ’n lewensverhaal is die ontwikkeling van ’n sin vir waardes, want elke keuse wat jy maak, word bepaal deur jou siening van wat waardevol en wat waardeloos is. Die skep van ’n verhaal beteken verder dat jy die volgorde van gebeurtenisse registreer, dat jy insig het in die oorsaaklike ketting van gebeure, wat oorsaak is en wat gevolg; dit behels ook die soeke na patrone wat herhaal word en wat jou help om betekenis in die lewe te vind. Deur jou verhaal ontstaan ’n begrip van die verlede en op grond daarvan beplan jy vir die toekoms. Omdat jy die hoofkarakter van jou verhaal is, kom jou identiteit daardeur tot stand, want jy raak bewus van die faktore wat jou gevorm het en die bepalende keuses wat jy gemaak het. Vra vir iemand om sy lewensverhaal (kortliks!) te vertel, en jy sal uitvind wie hy is.

Die samehang en betekenis wat deur ’n lewensverhaal geskep word, word deur ’n trauma vernietig. Dis belangrik om te onthou dat nie alle gebeurtenisse wat pynlik is, traumaties is nie. Om jou enkel te verstuit, is pynlik, maar nie traumaties nie; om jou been te verloor, soos wat met die swemmer Natalie du Toit gebeur het, is traumaties – die lewe soos jy dit verstaan en soos jy dit beplan het, val uitmekaar. Op meer as een manier verloor jy dan jou verhaal. Soms is ’n trauma so oorweldigend dat die psige dit nie kan hanteer nie en die gebeure in die onbewuste onderdruk, as ’n verdedigingsmeganisme om van die pyn ontslae te raak. Daarom kan jy nie daarvan vertel nie. Maar ook op ’n ander manier beteken ’n trauma die verlies van ’n verhaal. Woorde kan nie die verskriklike ervaring beskryf nie; die alles-oorweldigende trauma breek deur alle raamwerke van die taal. En so gebeur dit dan dat ’n intense trauma in die onbewuste weggebêre word; maar dit is nie die einde van die storie nie. Vanuit die onbewuste word die alledaagse lewe bepaal sonder dat die getraumatiseerde daarvan bewus is; die onderdrukte trauma gee steeds blyke van sy angste en maak sy verlange na heling bekend. Sodoende het die persoon geen beheer oor sy lewe nie, ook geen begrip daarvan nie. Om ’n trauma te verwerk, beteken om die trauma te konfronteer en dit te integreer met die verhaal van jou lewe. Jy moet weet wat gebeur het en in staat wees om daarvan te vertel. Sodoende kan jy beheer oor jou lewe terugkry – die beheer wat jy verloor het as slagoffer van ’n trauma.1

Click here for more on this titleNarrating Our Healing: Perspectives on Working through Trauma

Outeurs: Chris N van der Merwe en Pumla Gobodo-Madikizela

Uitgewer: Newcastle: Cambridge Scholars Publishing, 2007

ISBN: 9781847182081
Bestel die boek by www.c-s-p.org.

 

Francois Smith se opspraakwekkende debuutroman Kamphoer handel oor ’n vrou, Susan Nell, wat tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog, oftewel Anglo-Boereoorlog in ’n konsentrasiekamp deur twee Britse offisiere en ’n joiner verkrag is. Meer as ’n dekade later, wanneer sy as psigiatriese verpleegster in Engeland werk, ontmoet sy weer een van haar verkragters. Die roman handel wesenlik oor die verwerking van haar trauma en die soeke na ’n verlore verhaal.

Direk na die trauma van die verkragting het Susan “die sekerheid verloor [...] oor waar alles in die wêreld hoort, of hoe dit daar gekom het, of wat die rangorde van dinge is” (30). Wanneer sy tydelik by mev Marie Koopmans-De Wet woon, een van die genesers in haar lewe, dink sy na oor haar trauma: “Maar ek het dit nog nooit gesê nie. Ek weet nie wat die woorde is nie. Ek sal nog hier by tante Marie moet bly om die woorde te leer, en hoe dit in sinne pas sodat daardie sinne dit wat ek in my kop sien en hier binne voel, kan toewikkel sodat dit iets is wat ek voor ander mense kan neersit en sê kyk, dit is wat dit was” (229–30).

Susan, wat nêrens ’n plek het wat sy waarlik haar huis kan noem nie, besef ten slotte dat sy eintlik slegs in haar verhaal ’n tuiste kan vind (243). Deur haar storie, die een wat sý skep en wat deur háár perspektief bepaal word, kan sy beheer oor haar lewe terugkry: “Sy sou die skepper daarvan wees en niemand anders nie, veral nie ’n man nie” (243).

Na die oorlog gaan sy in Nederland woon, waar sy vir haar ’n tuiste kan skep wat nie met plek te make het nie: “Net in Nederland, in die vreemde, kon ek ’n verhaal skep waarin ek tuis was. Mý verhaal” (246). Die verhaal wat sy skep, is ’n gemaakte werklikheid; dit beteken, soos wat die postmodernisme ons geleer het, dat jy nooit by die oorspronklike, “suiwer” waarheid kan uitkom nie – jy kan die werklikheid alleen deur die lens van jou eie, persoonlike perspektief waarneem: “om in ’n verhaal te woon, [is] om in ’n onwerklikheid te woon, ’n gemaakte werklikheid. Al is dit al manier hoe sy kon leef” (246). Om ’n verhaal te skep waarin jy tuis kan wees, beteken nie dat alle lewensvrae daardeur beantwoord en alle onsekerhede daardeur uitgewis word nie, want “ambivalensie [...] is sekerlik ’n kenmerk van enige betekenisvolle verhaal” (129). Susan se trauma het haar identiteit wesenlik aangetas. Sy weet nie waar haar tuiste is nie; sy weet ook nie wat haar naam is nie. Aanvanklik neem sy haar vriendin se van, Draper, oor; later neem sy haar van terug – sy word weer Susan Nell. Maar aan haar Sotho-redder Tiisetso sê sy haar naam is Ntauleng (63) – dit is die naam wat haar grootmaakvrou aan haar gegee het.

Wie is sy éintlik? Watter naam pas by haar (versplinterde) identiteit? Jou identiteit word ook bepaal deur wat met jou gebeur het en wat jou rol in die gebeure was. Maar om te onthou, is vir haar te pynlik; en die moeilikste vraag gaan oor haar eie rol in die trauma. Wie is sy – verkragte, of “kamphoer”, soos wat sy genoem is? Geleidelik daag die besef by haar dat sy haar unieke identiteit kan vind alleen in die gemaakte werklikheid van die verhaal wat sy skep, deur die vertel van die traumatiese gebeurtenisse vanuit haar eie perspektief.

Om te onthou of te ontwyk

Die verwerking van trauma is ’n dubbele proses: om te onthou wat gebeur het, en om woorde daarvoor te vind. Daar is ’n ambivalensie in die proses van onthou: aan die een kant is daar ’n diepe drang vanuit die onbewuste om te onthou, sodat die trauma kan aandag kry en die wonde kan genees; aan die ander kant is daar die angs om te onthou, omdat dit die pyn van die trauma terugbring. Deur haar psigiatriese opleiding het Susan tot die oortuiging gekom van “die noodsaak om die donkerte in jouself te konfronteer” (105). Hierin is sy dit eens met dr Hurst van die psigiatriese hospitaal in Denver, waar sy gaan werk. Hurst glo dat dit vir die getraumatiseerdes nodig is “om hul slegte ervarings met ’n nuwe energie te laai, ’n nuwe lig, ’n ander skakering daaraan te gee, iets positiefs daaraan te koppel” (105). Weer eens is hier sprake van ’n dubbele proses: om te konfronteer wat gebeur het en om die gebeure met ’n positiewe lig te laai.

Net na die verkragting kan Susan niks daarvan onthou nie; sy wil ook nie daaroor dink nie, want dit sou die pyn onuithoudbaar maak: “Ek moet liewer nie dink nie, want as ek dink dan druk my kop my vas, dan druk my gedagtes teen die been. Dis die dink wat dit laat oopkraak en so seer maak” (10). Wanneer sy in die grot lê waarheen haar twee Sotho-redders haar gebring het, en terugdink, dan kan sy net onthou wat gebeur het voordat sy na die konsentrasiekamp geneem is (50); wat in die kamp self gebeur het, is aanvanklik soos ’n groot gat in haar geheue. Die dubbelsinnigheid van haar verlange is tipies van die getraumatiseerde: “Ek wil weet”; maar ook: “Miskien wil ek nie alles weet nie” (51).

Net na die verkragting kan sy glad nie praat nie; sy moet weer leer praat (63). En dan begin sy met een woord, die woord wat een van die verkragters haar toegevoeg het: “Hoer!” (64). Wanneer sy haar verkragter, die Britse offisier Hamilton-Peake, na sestien jaar in die hospitaal in Denver teëkom, kan sy nog nie sy naam sê nie, dit maak te seer (8). (Let daarop dat Hamilton-Peake nooit ’n voornaam in die verhaal kry nie; ’n voornaam sou persoonlike erkenning beteken.) Sy eien hom aan die merk aan sy oor, die merk waar sy hom destyds gebyt het, maar meer as dit onthou sy nie by die oomblik van ontmoeting nie. Op bl 124 word die inset (7–8) herhaal: haar weersien van die verkragter en die herinneringe wat dit oproep. Met die tweede weergawe van hierdie toneel (124) kom daar ’n byvoeging: sy onthou nou meer, sy vertel hoe sy hom gebyt het, maar dan wil sy nie verder dink nie: “[S]y knyp haar oë dig dig dig om te keer, om weg te weer” (124).

Die sien van Hamilton-Peake is die katalisator vir die oproep van pynlike herinneringe. Maar tot aan die einde word die verkragting nooit in besonderhede beskryf nie – die seksdaad self bly uit. Openbaring en verswyging van wat gebeur het, loop hand aan hand. Sy laat weet aan dr Hurst dat daar twee ander verkragters saam met Hamilton-Peake was, maar sy laat weet net dit, niks meer nie (225); sy gee geen verdere besonderhede oor hul identiteit nie, en sy stel nie daarin belang om hulle te ontmoet nie. Perry die fotograaf, haar weldoener, herinner haar daaraan dat sy wel een van die ander verkragters later raakgeloop het, en dat sy hom (Perry) per brief daarvan vertel het, maar sy gee geen verdere besonderhede oor wat gebeur het nie – nie met die verkragting of met die herontmoeting van die tweede verkragter nie. Die oproep van die verlede het vir haar perke; dit is asof die herontmoeting van Hamilton-Peake die proses ver genoeg gevoer het.

Wel het Susan een keer in fyn besonderhede vertel wat met haar gebeur het. Dit was teenoor Lucille, self ’n getraumatiseerde, iemand wat die verhaal nodig gehad het. Susan dink hieraan terug wanneer sy by Perry sit: “Sy het dit vir Lucille vertel. Gesorg dat sy elke besonderheidjie daarvan goed begryp, helder kan sien. Maar hoekom sal sy dit vir hom vertel. Hy het dit nie nodig nie. Lucille, ja, sý het die verhaal nodig gehad. Selfs nodiger as wat sy dit self gehad het” (249). Die intieme besonderhede van haar verkragting is vir haar ’n private saak wat sy nie deel met ’n psigiater of ’n vriend nie; dit vorm ook nie deel van die verhaal wat vir die leser aangebied word nie. Sy openbaar dit alleen waar dit nodig is vir iemand anders se genesing, en aan ’n medegetraumatiseerde wat dit sal kan begryp. Susan wil waarskynlik verhoed dat ’n baie private trauma deur herhaling getrivialiseer word, en dat dit haar in die verlede vasgevang hou.

Die roman eindig met Susan se terugkeer na Winburg, waar sy verkrag is; maar sy kry nie die presiese ligging van die kamp nie, ook nie die graf waarin die Britse soldate haar wou begrawe nie. Sy vind wel die graf van haar vriendin Alice Draper, wat naby haar “eie” graf moet wees; maar wanneer sy Alice se graf gevind het, wil sy van die toneel wegkom. Die roman eindig met haar dringende woorde aan die motorbestuurder: “Sal jy om vadersnaam net ry.” Terugkeer na die verlede en wegkom van die verlede behoort albei tot die proses van haar traumaverwerking.

Om te vergewe of te vergeld

Daar is twee groepe mense, dink Susan op ’n keer: “Soldate en verpleegsters. Dit is waaruit die wêreld bestaan. Dié wat breek en dié wat moet regmaak wat gebreek is” (198). Sy het deur ’n soldaat ervaar hoe erg dit is om gebreek te word, daarom skaar sy haar by die ander groep, dié wat moet regmaak wat gebreek is. Sy besluit dus om ’n psigiatriese verpleegster te word: “Sy is juis in hierdie beroep om te help genees; haar lewenspad het gelei na daardie wonde wat die diepste lê en die stadigste gesond word, die wonde aan die siel” (43). Sodoende kan daar iets positiefs voortvloei uit haar eie trauma; sy wil ’n gewonde geneser word, in Jung se terminologie. Sy wil nie vashaak in die pyn van haar verlede nie, maar voortbeweeg om ander te help wat in pyn verkeer.

Dit is ’n baie idealistiese siening, en haar werk as verpleegster het inderdaad die lewens van vele pasiënte verlig, soos wat Hurst ook opmerk (222). Wanneer sy Hamilton-Peake in die hospitaal sien, is die groot vraag hoe sy op hierdie ontmoeting gaan reageer. Die rolle het nou verander vanaf die tyd van verkragting. Hamilton-Peake het van oortreder na slagoffer verander: hy ly aan skok, soos wat Susan aan skok ly. Sal sy hom met medelye beskou, as mede-lyer, of sal sy hom steeds sien in die rol van oortreder en verkragter? Is hulle medegetraumatiseerdes in simpatie met mekaar, of sal hulle ontmoeting gekenmerk word deur ’n geveg tot die dood? Dit blyk nou dat Susan nie alleen verpleegster is nie, maar ook soldaat, en ’n soldaat kan twee rolle inneem: dié van oorlogslagoffer of dié van lewensvernietiger. Susan het iets van albei. Soos die soldate wat sy verpleeg, ly sy aan ’n tipe “bomskok”; soos die soldate is sy by ’n oorlog betrokke en is daar diep in haar ’n begeerte om te vernietig soos wat sy byna vernietig is; vir haar om te oorlewe, is dit nodig om ’n ander te laat sterwe.

Dit kom ons agter in die uiters boeiende toneel wanneer sy Hamilton-Peake op ’n motorfietsrit neem. Hy is in die syspan, swak en uitgeput, op sterwe na dood; sy ry die motorfiets en trek die versneller oop (180 ev). Die rolle van vroeër is nou omgekeer. Hy was die verkragter, sy die verkragte; nou is dit byna asof sy hom verkrag. Sy voel die krag van die motorfiets se enjin en sien hoe Hamilton-Peake se gesig vertrek is van vrees en afgryse. Sy is meedoënloos en hard, haar lag is soos die gegier van ’n roofvoël (181). Dit is haar manier om die mag en beheer terug te kry wat sy verloor het toe sy verkrag is. Hamilton-Peake moet weet wie sy is en gekonfronteer word met wat hy aan haar gedoen het; hy moet sy rol as die skuldige in die storie erken en haar as die verontregte eien. Daarom neem Susan sy hand in hare en laat hom voel aan die litteken aan haar kop, die plek waar hy haar indertyd met ’n whiskybottel getref het. Kort hierna sterf Hamilton-Peake, en dit lyk of die motorfietsrit die direkte oorsaak van sy dood was. Susan het haar wraak gekry; die magtelose vrou het beheer herwin; sy het oorleef en hy het ondergegaan.

Maar die situasie is meer kompleks; Susan is nie alleen die harde vergelder nie. Wanneer sy na die lyk van Hamilton-Peake kyk, gebeur daar iets onverwags: “En heeltemal teen haar wil sak haar oë af; teen alle rede in gee sy toe aan haar oë se hunkering om by daardie klankdigte plooi van sy mond in te glip om daar binne iets sags en liefs en tog ook heeltemal, hééltemal weerbarstigs te kry” (203). Sy is soos ’n kind wat deur haar vader mishandel is; diep in haar is die begeerte dat die een wat haar mishandel het, tog iemand moet wees wat haar liefde waardig is. In Susan se geval het die seksdaad van die verkragter haar vertroue in mans vernietig, maar die verlange na ’n man wat sterk is en tegelyk sag en lief, het diep in haar bly voortbestaan. Sy wil die gestorwe Hamilton-Peake herskep tot die man van haar begeerte.

Deur die afrekening met Hamilton-Peake het Susan aan haar verhaal ’n tipe voltooiing verskaf. Maar ook dit is nie so ’n eenvoudige saak nie. Sy wil baas van haar verhaal wees – maar in watter mate is sy dit? Sy wil nie hê dat iemand Hamilton-Peake van haar wegneem nie, van die rol wat sy aan hom toeken nie (223); sy wil in haar verhaal die een wees wat Hamilton-Peake doodgemaak het; tog weet sy dit is nie waar nie (214). In ’n gesprek met Hurst blyk dit dat hulle twee verskillende verhale het oor wat gebeur het. Hurst verskuif die fokus met sy opmerking dat die groot vraag is of Susan genoeg medelye met haarself het – hy sien in dat Susan se primêre verhouding met haarself is, nie met Hamilton-Peake nie. Hy bevestig verder dat Hamilton-Peake gesterf het omdat hy wóú doodgaan; Hamilton-Peake self, en nie Susan nie, was dus baas van sy verhaal, tot die dood toe (214). Die gesprek tussen Susan en Hurst op bl 222 is nie soseer ’n tweegesprek nie as twee monoloë – elkeen hou met sy eie storie aan. Dit begin nou deur te skemer: naas die verhaal wat Susan skep en waarin sy aan elke persoon in haar lewe ’n bepaalde plek toeken, besit die karakters van haar storie elk ’n eie verhaal wat afwyk van hare. Susan se verhaal is nie dieselfde as dié van Hurst of Hamilton-Peake nie; haar begeerte om hulle met haar verhaal in besit te neem, berus dus grotendeels op ’n illusie.

Vroulikheid en manlikheid

Die tema van die vorige afdeling, die spanning tussen vergifnis en vergelding, hou verband met ’n ander spanning in Susan: dié tussen “manlikheid” en “vroulikheid” soos wat die begrippe in haar tyd geïnterpreteer is. Om wraak op Hamilton-Peake te neem, moet sy ’n tipies “manlike” rol vervul, die rol van die maghebber en lewensvernietigende soldaat – in teenstelling met die “vroulike” rol van die versorger wat sy as verpleegster vervul (alhoewel Hurst stom-verbaas is wanneer hy haar ontmoet en uitvind dat sy ’n vrou is – vanuit sy perspektief is selfs die rol van die psigiater vir mans bedoel – bl 34).

Manlikheid en vroulikheid is nie simplistiese kategorieë in Susan se gemoed nie – ek het genoem hoedat sy teenoor Hamilton-Peake aan die een kant die rol van ’n kragtige, ongevoelige man vertolk, maar aan die ander kant ’n sagte, erotiese verlange teenoor hom openbaar.

Susan wil haar kennelik nie onderwerp aan die tradisionele rol wat aan die vroue van haar tyd opgelê word nie. Wanneer sy in die syspan van ’n motorfiets sit wat deur Jacobs bestuur is (dus in ’n situasie waar die man aan die stuur is), sien sy ’n groep boerinne in mansklere. Hulle lyk ’n bietjie verspot, maar die gedagte aan vroue in mansklere is vir haar opwindend, en sy bloos oor haar opwinding (36). Aan die een kant begeer sy ’n ander rol as die ondergeskikte rol wat aan die vrou toegeken word – sy wil ook ’n vrou in “mansklere” wees, maar sy is nog so onder die invloed van die gender-sienings van haar tyd dat sy bloos oor haar verset teen die tradisie. By ’n latere geleentheid dink sy na oor die lewensvreugde van die Engelse vroue wie se mans op die oorlogsfront is – die afwesigheid van die mans beteken vryheid vir die vroue. Dit herinner Susan aan die bevryding wat Afrikaner-vroue tydens die Anglo-Boereoorlog ervaar het toe hulle mans op kommando was – “die vroue het op die plaas die septer geswaai” (88).

Weens die seksuele geweld wat Susan tydens haar verkragting ervaar het, het sy geen begeerte om haar in ’n konvensionele erotiese verhouding aan ’n man te verbind nie. Anne Maxwell, ’n senior verpleegster in die hospitaal in Denver, word vir haar ’n rolmodel. Anne is ’n vrou wat van geen sagte gevoelens blyke gee nie, en Susan dink dat Anne, “met haar mond van pantserstaal”, die ideale gesig vir die situasie in die hospitaal het (62). Sy droom op ’n keer dat haar ma sê sy moet haar pa se broek aantrek (151), en die droom berei voor op ’n volgende toneel: wanneer Susan in die kroeg saam met Anne is, vra sy Anne om haar spottende nabootsing van die traumaslagoffers te herhaal (168). Susan het nou besluit om haar te distansieer van die lydendes, om iets van Anne se hardheid aan te neem. Dit is net na hierdie toneel dat sy met Hamilton-Peake op die motorfiets ry; Anne se voorbeeld het haar daartoe geïnspireer. Daar is selfs tekens van ’n lesbiese aangetrokkenheid tot Anne (177–8), maar hierdie tema word nie verder uitgewerk nie.

Susan sien haar interaksie met mans as ’n magspel, as ’n kans om die konvensionele onderworpenheid van die vrou uit te daag. Dit blyk uit haar vriendskap met Jacques in Nederland. Sy ry saam met hom in sy motorfiets, soos later met Hamilton-Peake. Met Jacques is sy nog nie aan die stuur nie, maar haar waaghalsigheid en lewensgulsigheid berei voor op die latere toneel met Hamilton-Peake. Jacques is ’n sensitiewe, kwesbare mens, en haar uitdagende houding maak hom doodbang (103–4). Tydens die oorlog verloor Jacques sy kinderlike onskuld, en hy keer terug met ’n uiterlike soos wat hy dink Susan van hom verlang – as ’n soldaat met ’n snor, in teenstelling met die onderwyser met die Latyn-handboek wat hy vroeër was (148). Jacques met sy nuwe snor verwys terug na ’n episode waarvan Susan hom vertel het, toe ’n man met ’n snor haar die hof wou maak en sy met hom gespeel het – “sy het geproe hoe mag smaak” (149). Wanneer Jacques die storie hoor, “verskrompel [hy] voor die hitte van haar verhaal” (149); sy snor is aan die een kant ’n patetiese poging om haar begeerte op te wek, maar dui ook op ’n besef dat Susan hom nie kan bied wat hy nodig het nie: ’n liefdevolle, simpatieke verbintenis. Jacques se klop aan haar deur (148) en die behoefte in sy oë (149) toon dat hy haar mededoë verlang – maar dit kan sy hom nie gee nie.

Haar ervaring met die verkragters het haar hard gemaak.

Wanneer Jacques van die oorlogsfront terugkeer, besef Susan hy is ’n “sterwende man” (150) wat haar nodig het. Sy begeer vir ’n oomblik om haar hand na sy oor uit te steek en dit liefdevol te frommel – dit is ’n herinnering aan haar verkragter wie se oor sy gebyt het, en die begeerte dui op transformasie, op genesing van die verkragting: in plaas van byt, wil sy liefdevol streel. Maar sy doen dit tog nie (151). Die hardheid triomfeer, en sy laat Jacques ongenees agter. In hulle verhouding is sy die maglustige eerder as die versorger. Later, wanneer sy uit Denver na Nederland terugkeer, vind sy Jacques nie in sy kamer nie, en sy hoor dat hy dood is. Sy lewensverhaal is verby sonder dat sy daarin ’n helende rol kon speel of kennis van die afsluiting daarvan kan bekom. Sy verhaal en haar verhaal bly los van mekaar sonder ’n verbindende mededoë. Die vriendskap met Jacques word opgeroep net voor die motorfietsrit met Hamilton-Peake – haar hardheid teenoor Jacques berei voor op die meedoënloosheid teenoor Hamilton-Peake. En tog is daar nie net hardheid in haar nie – nogmaals ervaar sy teenstrydige en ambivalente gevoelens. Die harde rol wat sy aanneem, word gevolg deur emosies van skuld en skande – sy voel sy behoort nie so teenoor Jacques op te getree het nie; sy wil nie werklik so wees nie. Sy dink aan haarself by hul laaste ontmoeting en besef dat sy verstar van vrees gesit en wag het “dat hý deur haar sien, dat hy tot in haar veragtelike hoerehart kyk, dat hy kyk en wéét” (151).

Skuld en skande

Dit is nodig om te onderskei tussen skuld en skande, twee begrippe wat albei nou verbonde is aan die ervaring van verkragting. Alhoewel hulle in ’n mate oorvleuel, is daar tog ’n verskil. Skuldgevoelens word gewek deur ’n oortreding wat begaan is; dit is die gevolg van ’n immorele daad. Skande is dieperliggend: dit gaan gepaard met skaamte, met selfveragting – nie oor wat jy gedoen het nie, maar oor wie jy wesenlik is.2

Click here for more on this titleUnderstanding shame

Outeur: Carl Goldberg

Uitgewer: Jason Aronson, Inc

ISBN: 9780876685419

Susan word gekwel deur gevoelens van skuld. Met ’n verkragting sou ’n mens dink daar is ’n duidelike onderskeid tussen oortreder en slagoffer – die verkragter is die oortreder, die verkragte is ’n onskuldige slagoffer. Verkragtings lei egter dikwels tot skuldgevoelens by die verkragte. In die vorige twee afdelings is aangetoon hoedat die magteloosheid wat Susan as verkragte ervaar het, later by haar ’n hardheid en meedoënloosheid wek waaroor sy skuldig voel. Ander moet ly as gevolg van haar begeerte om mag en beheer oor haar lewe te herwin.

Nog dieper en pynliker as haar skuldgevoelens is haar gevoelens van skaamte, die gevoel dat die skande van die verkragting deels te wyte is aan haar geaardheid, aan wie sy is. Dis ’n tipiese reaksie op verkragting – Susan merk dit by sommige van haar pasiënte: vroue wat “onder ’n hakskeen vermorsel is, geheel en al vertrap, en tog nie kan loskom van die gedagte dat hulle die slang was nie, dat hulle dit verdien het, dat die gif nog altyd in hulle was” (190). Hierdie gevoelens word in ’n groot mate veroorsaak deurdat die verkragter homself wil verontskuldig deur die blaam op die verkragte oor te dra.

Dit gebeur ook by Susan. Die eerste woord wat sy onthou na die verkragting, is “hoer”. Sy sê dit drie keer; dit is die woord wat een van die verkragters haar toegevoeg het (waarskynlik Hamilton-Peake), en wat haar selfbeeld wesenlik verander het. Hy het haar selfrespek vernietig; haar siening van haarself kom ooreen met sy oordeel, want sy dink: “Ek is nikswerd. Die Here sal my uit sy mond spoeg. Hoer is my naam!” (64). Heelwat later in die roman word die aanklag herhaal, hierdie keer deur die joiner wat ook aan die verkragting deelgeneem het: “Krisjan Schutte skreeu hier is sy, die kamp se hoer, hier is sy” (143). Nou kan Susan meer besonderhede van die verkragting oproep (hoewel nog nie in fyn besonderhede nie) – die leser word voorberei op die verdere openbaring van dit wat vir haar die pynlikste is, die gevoelens van skaamte en selfveragting.

Op bl 165 kom die besluit: “Wat ook al gebeur, wil sy onbevrees in die gesig staar, sy wil dit konfronteer, sy wil ingedompel word in die maling.” Die herinnering aan ’n gebeurtenis op die boot waarop sy destyds uit Suid-Afrika weggevaar het, is die katalisator vir die konfrontasie van haar skande. Op die boot was ’n ouerige egpaar, mnr en mev De Goede, geeneen van hulle helaas baie “goed” nie. Die man wou haar kop van luise reinig, maar was kennelik in meer as luise geïnteresseerd; die vrou kyk haar veroordelend aan, asof dit haar skuld is. Boonop het die man die litteken aan haar kop ontdek wat sy wou wegsteek. Dit alles lei tot die pynlike herinnering aan die danstoneel wat die verkragting voorafgegaan het:

“Dit is ’n danstoneel. Sy en Alice en Hamilton-Peake dans tussen die tente van Winburg se kamp [...] wild tollend soos ’n warrelwind al om en om, sy hand droog en warm om haar arm, die materiaal van sy uniformbaadjie sagter as wat sy gedink het dit sal wees – oe, maar jy is monate,3 sê hy, jy is lekker, en sy wil haar rok wat oor haar skouer afgesak het, optrek, maar sy kan nie die kring van hande verbreek nie” (196).

Het sý dalk aanleiding gegee tot wat met haar gebeur het? Was haar lewensgulsigheid en verleidelikheid die oorsaak van haar verkragting? Was haar “lekkerte” die rede waarom hy haar wou “proe”? Die oproep van die toneel bring by haar ’n diepe gevoel van ellende; sy wonder of dit nie beter sou gewees het as sy vroeër gesterf het nie (197). Sy identifiseer haar met “die skuldiges, wat van binne verrot en besmet is” (199); en haar gevoelens van “verrotting” lei tot allerlei religieuse angste – die feit dat sy geen pas het nie en bang is die Britse soldate sal dit uitvind, word met die oordeel van God verbind (199-200).

Die herinnering aan die danstoneel bring in haar die tipiese skuldgevoelens van die trauma-oorlewende (“survivor’s guilt”) na vore:

“Sy voel hoe Hamilton-Peake en Alice se hande koud word op haar vel, sy sien hoe hul oë verstar, hoe hulle in haar arms doodgaan, en sy bly staan, die enigste een – die enigste een wat durf lewe in daardie vervloekte land, die enigste een wat steeds bly lewe” (196).

Sy het oorleef, Alice en Hamilton-Peake is dood. Waarom lewe sy nog, en hulle nie? Is sy enigsins beter as die ander twee saam met haar op die dansbaan? Verdien sy nie om saam met hulle te gesterf het nie?

Helende figure

In Susan se lewe tree daar ’n paar helende figure op, mense wat haar help om te oorleef en van haar trauma te herstel. Hulle is figure met empatie wat nie in hulle eie verhale opgesluit is nie, sodat hulle hul kan inleef in die verhaal van ’n ander en hulp verleen waar nodig. Sulke figure is die fotograaf Perry, mev Koopmans-De Wet en die Sotho-man en -vrou wat vir Susan vind en haar ’n tyd lank in ’n grot verpleeg. Ek wil my hier beperk tot die laasgenoemde twee: Tiisetso en sy vrou Mamello.

Tiisetso is ’n “dokter van die veld”, ’n inheemse geneser (50). Hy groet haar met die woord kgotso, wat “vrede” beteken; en inderdaad is hy ’n brenger van vrede. Sy simpatie met die verkragte, bebloede Susan staan in skerp kontras met die houding van die veroordelende dominee wie se preke Susan onthou:

“Daar is ’n dominee wat sy hande in die lug opsteek, pylreguit steek hy sy hande op na die wolke en hy kyk af na my, en ek kyk weg van sy verskriklike aangesig, weg van sy oë wat na my kyk soos ’n gloeiende oond en net die kwaad en ellende sien [...] Sy naam is Tiisetso. Hy sê nie nooi nie. Maar dan kyk hy weg van my en sê ke sôno. Dis ’n groot jammerte, sê hy (28).

Met groot wysheid en sorgsaamheid gee Tiisetso en Mamello aan Susan wat sy in haar kritieke toestand nodig het. Die eerste wat sy nodig het, is nie ’n sedeles nie, maar water, en dit gee Tiisetso dadelik aan haar (27). Later, wanneer sy daarvoor gereed is, speel hy vir haar op sy lesiba, ’n snaar- en blaas-instrument, en die musiek dring diep in haar in – “die heserige, garingrige klanke” kom in haar bors sit (80). Tiisetso weet kennelik van die terapeutiese krag van musiek. Hy weet ook van die terapeutiese waarde van stories. Hy vertel vir haar ’n oorgelewerde storie van die Sotho-mense wat nogal baie ooreenkom met die Jesus-geskiedenis (80, 92). In Tiisetso se storie is daar die stryd tussen goed en kwaad, tussen ’n goeie kaptein en ’n valse man met die naam Akkedis, tussen ’n boodskap van opstanding uit die dood en ’n boodskap wat dit ontken. Vir Susan, wat ’n stryd om oorlewing voer, is dit die verhaal wat sy nodig het – om vas te hou aan die ware boodskap van hoop en oorlewing.

Click here for more on this titleEngel uit die klip

Outeur: DJ Opperman

Uitgewer: Tafelberg

ISBN: 9780624028062

In die versorging van Susan staan Mamello en Tiisetso mekaar getrou by. In ’n aandoenlike toneel lei Mamello vir Susan na ’n watergat en help haar om haar rok te was en haarself te reinig. Dit is meer as ’n fisiese handeling; dis ’n religieuse ritueel wat help om Susan innerlik te suiwer. Vir die eerste keer kry sy dit reg om te huil: sy huil en huil terwyl Mamello haar saggies en versigtig was; dit wat in die onbewuste onderdruk was, kom nou tot uiting (113–5). Tiisetso gee op die regte oomblikke vir haar die lewenslesse wat sy nodig het. Hy sê dat sy haar beeste moet gaan soek. In advies wat sterk aan Opperman se “Sprokie van ’n spikkelkoei”4 herinner, maan hy haar om die koei met “kolletjies soos ’n tarentaal” te vind (95) – sy moet haar skuld en skande konfronteer. Later gee hy haar ’n spieël wat dieselfde strekking het – sy moet haarself leer ken, ook haar skadukant. In hierdie stadium is sy egter nog nie sterk genoeg daarvoor nie (133–4). Die meerkat wat Tiisetso haar gee (116), bring die verantwoordelikheid van versorging mee. Waar sy nog geneig is om haarself te verag en te verwaarloos, kan die versorging van die diertjie haar help om ook die les van selfversorging te leer. Teen die einde van haar verblyf betrek die twee Sotho’s haar by ’n diepsinnige ritueel. Hulle sing en dans, en sy doen mee – sy het hul gebruike goed aangeleer en kan haar daarmee identifiseer. Dan, in ’n toneel wat aan die Christelike nagmaal herinner, word ’n tarentaal geslag; hulle eet sy vleis en drink sy bloed (142–3). Die tarentaal verwys terug na Tiisetso se advies om die koei met die kolletjies te vind; dit hou verband met haar gevoel van bevlektheid. Die ritueel stel haar in staat om ’n pynlike episode te onthou, van die joiner wat haar as ’n hoer uitskel en op die grond neergooi, en die drie verkragters wat haar op ’n bed vasdruk (143). Die gemeenskaplike maaltyd het haar gehelp om die skande van die verlede na bo te bring en sodoende uit haar sisteem te kry.

Nadat die twee Sotho’s gehelp het om die verlede te konfronteer, stuur hulle haar weg, want sy het nog ’n pad om op haar eie te loop. Dit word op ’n sagte manier gedoen; Mamello verseker haar: “jy is ons kind” (144). En inderdaad is dit die geval, want hulle het haar ’n lewensmoontlikheid gebied. In die omgewing waar ’n graf vir haar gegrawe is, was daar ook die twee Sotho’s se grot, wat vir haar soos ’n baarmoeder was. Sy het ’n wedergeboorte ervaar, van die graf tot die grot.

Later, wanneer sy ’n verpleegster in Engeland is, pas Susan baie van die dinge wat sy by Tiisetso en Mamello geleer het, op haar pasiënte toe. Sy verduidelik aan Hurst wat sy by die twee Sotho’s ervaar het: “dat ’n mens deur verhale, soos met liedjies, by die bron van jou genesing kan uitkom” (129). Susan weet dat haar terapie gegrond is op wat sy by die mense van Lesotho geleer het – hulle danse en liedere, en hulle verhale waarin die geloof in die wonderbaarlike lewend gehou word (127–8). Die storie wat Susan in die Vrystaat gehoor het, is ’n “storie wat soos die rook van ’n misvuur moet bly hang” (129) – ’n duidelike verwysing na Minnie Postma se versameling Sotho-legendes getitel Legendes uit die misrook. Hierdie opvattings van Susan het my laat dink aan Vera Bührmann se boek Living in two worlds, wat wys op die parallelle tussen die terapie van sangomas en die dieptesielkunde van Carl Gustav Jung – onder andere deur hul gemeenskaplike insig in die belang van droomontleding. Dit blyk duidelik uit die roman: die Sotho’s is nie barbare, soos wat die rassistiese wit man dink wat Susan na Alice se graf neem nie (259), maar mense met groot wysheid van wie wit mense baie kan leer.

Tydsaanbod

Susan se verhaal word vanuit die onbewuste bepaal: uit die verwonde onbewuste kom die soeke na heling. Vanuit die onbewuste is daar ’n terugkeer na dit wat die verwonding veroorsaak het en ook ’n wegkeer van dit wat te veel is om te verwerk. Die onbewuste is nie tydruimtelik gestruktureer, soos die bewussyn nie: wat ver in die verlede lê, skynbaar vergete, bly daar bewaar; wat in die toekoms lê, is reeds bekend. As gevolg van die werking van die onbewuste in die verhaal is die tydsaanbod in die roman so verwikkeld.

Susan se besluit om verpleegster te word, is bepaal deur die begeerte om getraumatiseerdes te genees: “haar lewenspad het gelei na daardie wonde wat die diepste lê en die stadigste gesond word, die wonde aan die siel” (43). Sy word getrek deur die mense wat aan bomskok ly, maar is self iemand wat “bomskok” het. Wanneer sy na oorlogslagoffers getrek word, word sy getrek deur die begeerte om self genesing te vind; sy wil haarself genees deur ander te versorg. Vanuit die onbewuste word die verlede opgeroep; vanuit die onbewuste word ook die toekoms bepaal. Waarskynlik was dit bestem dat sy Hamilton-Peake weer sou teëkom (137); die misterievolle kennis van die onbewuste het ingesien dat dít is wat sy nodig het, en het haar na hom gelei. Ná haar besoek aan Engeland kry sy die advies om Freud se Zur Psychopathologie des Alltagslebens te lees – as sy dit doen, sal sy haar eie lewe veel beter kan begryp, hoedat die alledaagse handelinge vanuit die onbewuste gedikteer word.

Die verhaal word in die teenwoordigetydsvorm vertel – ’n teken dat Susan se verlede nooit werklik verby is nie. Hierdie enkele tydsvorm wat gebruik word, verwys egter na ’n groot aantal verskillende tye in Susan se lewe, ’n teken dat al hierdie tye gelyktydig en verstrengeld in die onbewuste teenwoordig is. Susan se ervaringe in Engeland word reëlmatig afgewissel met vertellinge van haar ervaring in die grot met Tiisetso en Mamello; maar die tydshantering is veel meer ingewikkeld as ’n blote wisseling tussen ’n bepaalde hede en ’n bepaalde verlede. Om ’n idee te kry van hoe verwikkeld die hantering van tyd in die roman is, kan ’n mens ble 30–2 as voorbeeld neem. Sy verkeer in gesprek met dr Hurst, dan dink sy terug aan haar tyd saam met dr Reymaker in Nederland, dan beweeg haar gedagtes vorentoe na haar latere terugkeer na Nederland, dan na ’n nog latere tydperk wanneer sy sal kans sien om na Winburg terug te keer, en dan keer die verhaal terug na haar gesprek met Hurst. Dit alles binne die bestek van minder as drie bladsye.

Susan se belewing van haar omgewing is deurspek met assosiasies uit die verlede. Wanneer iemand haar die huis in Denver wys waar generaal Rundle gewoon het, is haar gedagtes dadelik terug by die oorlog wat sy in Suid-Afrika beleef het, waar Rundle “sy soldate soos miere oor die Brandwaterkom laat swerm het” (71). Wanneer sy in gesprek met haar hospita in Denver, mev Simms, verkeer, word hierdie gesprek die stimulus vir ’n magdom indrukke van ander tye en plekke:

“? Eenvoudige gesprek met ’n goedige vrou word sienderoë deurwurm met indrukke, beelde, herinneringe, goed wat sy glad nie onder woord kan bring nie [...] Alles wat gesê word, raak sinspelings op wie sy is en waar sy hoort” (70).

Susan se verhaal is dus ’n baie subjektiewe verhaal, gekleur deur allerlei persoonlike assosiasies, bepaal vanuit die getraumatiseerde onbewuste waar al die verskillende tydruimtes gelyktydig bestaan.

Die verhaal van Susan is die verhaal van ’n soeke na ’n verhaal. Die verhaal van die tydlose en grenslose onbewuste moet omskep word in ’n verhaal wat vir haar sin maak, met ’n duidelike chronologie en oorsaak en gevolg, met ’n herkenbare tyd en ruimte. Die omskepping van ervaring tot verhaal begin met die soeke na ’n begin; hierdie beginpunt word verskaf deur die herontmoeting met Hamilton-Peake. Dit is ’n spilpunt in haar verhaal, daarom hoort dit aan die begin; hierdie gebeurtenis is klaarblyklik die stimulus vir die oproep van ’n verwarrende aantal herinneringe en indrukke wat volg en wat geleidelik, in die loop van die roman, tot groter klaarheid kom.

Wesenlik vir die verhaal is ook, naas die vind van ’n begin, die vind van ’n gepaste afsluiting. Susan se verhaal word op ’n ambivalente wyse beëindig. Die lyn van haar verhaal word deurgaans gekenmerk deur twee teenstellende bewegings: weg van Winburg en terug na Winburg. Sy gaan van Winburg na Kaapstad, dan na Nederland, na Engeland, en weer na Nederland. Uiteindelik keer sy terug na Winburg, dus vorm die verhaal ’n siklus – Winburg is die begin en die einde daarvan. Dit is egter nie die volle storie nie. Soos reeds genoem, eindig die roman met haar dringende versoek om van die plek weg te kom – terugkeer en wegreis is albei deel van haar lewenslyn. Maar terugkeer sowel as wegreis word deur die begin van haar storie bepaal: die trauma in die Winburgse konsentrasiekamp.

Wanneer Susan haar ambivalente verhaal voltooi het, is die roman ook voltooi: haar soeke na ’n verhaal is die roman se verhaal. Maar die saak is nog meer kompleks as dit. Susan se verhaal is nie maar ’n persoonlike verhaal nie; dit is ’n verhaal wat in ’n roman omskep is. Daarom moet Susan se soeke gestruktureer word in ’n tydruimtelike verhaal wat vir die leser sin maak en sy belangstelling wek en behou. En dit kry die skrywer uitstekend reg. Met die pakkende begin word die leser onmiddellik betrek; die inset lei tot die oproep, stuk vir stuk, van ’n verlede waarin openbaring en verswyging mekaar voortdurend op ’n boeiende wyse afwissel. Met die herontmoeting van Hamilton-Peake word ook die spanning gewek: hoe sal Susan teenoor die man reageer – vergewend of vergeldend? Die antwoord word in ’n uiters oortuigende toneel gegee, met die motorfietsrit, wat nie in enige cliché-raamwerk pas nie – nie die raamwerk van eenvoudige vergifnis of eenvoudige vergelding nie. Nêrens is die vertelde antwoorde op die vrae wat by die leser gewek word, simplisties nie. Ook die einde pas nie in ’n eenvoudige patroon nie – nie van blote terugkeer of rugdraai nie; dit is ambivalent, en “[A]mbivalensie [...] is sekerlik ’n kenmerk van enige betekenisvolle verhaal.”

Hierin is dan (onder andere) die prestasie van die skrywer geleë: dat hy die historiese gegewens waarmee hy gewerk het, omskep het tot ’n roman met ’n volkome outentieke hoofkarakter; dat hy die werking van die tydlose onbewuste weergee in ’n verhaal wat tydruimtelik so gestruktureer is dat die leser daardeur vasgevang word, van die dramatiese begin tot die oortuigende slot. Susan het inderdaad “tot verhaal gekom”.

 


 

 

1 Oor die verband tussen verhaal en trauma het ek uitvoeriger geskryf in die boek van my en Pumla Gobodo-Madikizela, Narrating our healing – Perspectives on working through trauma, ble 1–7.

2 Engels onderskei in dié verband tussen “guilt” en “shame”. Vgl bv die volgende verduideliking: “Unlike the guilty act for which one can make confession, expiation, penance, or reparation, the shameful act requires an alteration of the person. The person thinks “I can not have done this. But I have done it, and I can not undo it because it is I.” In Goldberg, C (1991), Understanding shame. Northvale, NJ: Jason Aronson Inc, bl 54.

3 Monate is die Sotho-woord vir “lekker”.

4 Uit Engel uit die klip.

  • 3

Kommentaar

  • Nee hierdie is eerder 'n promosie as 'n resensie. Ek het die boek gister begin lees; is al by bls 60 verby en die verhaal sit en maal nog altyd net op een plek. Dan spring dit van die ek perspektief na die alwetende verteller, sommerso. Dit wil al in die karakters se koppe inkom; hopeloos te vroeg in die verhaal. Wat het tog geword van "Showing" eerder as "Telling"? My eerste indruk: Onbeholpenheid.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top