LitNet Akademies (Regte): Stylriglyne

  • 0

Medewerkers word vriendelik versoek om asseblief die volgende voorskrifte stiptelik te volg by voorleggings aan LitNet Akademies (Regte), aangesien enige afwykings daarvan die hele proses vanaf keuring tot redigering en oplaai op die webtuiste aansienlik vertraag en bemoeilik. Indien daar wel om uitsonderlike redes van die riglyne afgewyk moet word, moet sulke redes asseblief skriftelik aan die redaksie verskaf word.

Die kontrolevorm wat op LitNet Akademies se webblad beskikbaar is, moet ingevul, onderteken en saam met die artikel voorgelê word.

Ons moedig graag navorsers aan om, waar dit verrykend ten opsigte van die artikel kan wees, die multimedia-aard van die tydskrif in ag te neem en gepaste klank en/of visuele skakels voor te stel.

Klik hier om toegang te kry tot "Gespierde Afrikaans" waar ons voorstelle gee vir beter Afrikaanse alternatiewe vir woorde en uitdrukkings wat algemeen verkeerd gebruik word.

Help ons gerus om hierdie lys uit te brei deur voorstelle te e-pos aan akademies@litnet.co.za. Ons sal sinvolle voorstelle plaas.

TAALMEDIUM

Bydraes moet in Afrikaans wees.

 

PLASING

  • Hoogstens twee bydraes (artikels, aantekeninge of vonnisbesprekings) per skrywer per kalenderjaar kwalifiseer vir die R9 000 (navorsingsartikels) of R4 000 (aantekeninge en vonnisbesprekings) wat deur LitNet Akademies betaal word.
  • Die publikasiedatum van ’n bydrae berus by die redaksie, wat sal poog om finale weergawes van gekeurde bydraes so spoedig moontlik te plaas.

 

OPSOMMING 

  • ’n Artikel moet vergesel wees van ’n Afrikaanse opsomming van hoogstens 300 woorde. Die opsomming moet die volgende inligting bevat: die doel/navorsingsvraag, die teoretiese raamwerk/vertrekpunt, die metodiek en die bevindings. Die opsomming moet nie bloot ’n herhaling van die inleiding wees nie.
  • ’n Uitgebreide Engelse opsomming (Summary) van ongeveer 1 000 tot 1 500 woorde sal aangevra word wanneer ’n artikel vir publikasie aanvaar word. Dit is dus nie nodig om sodanige Engelse opsomming reeds saam met die aanvanklike voorlegging in te dien nie.
  • Verskaf asseblief ook ’n Engelse titel vir die artikel.
  • ’n Aantekening of vonnisbespreking moet vergesel wees van ’n Engelse opsomming van hoogstens 300 woorde.

 

TREFWOORDE (KEYWORDS)

Verskaf asseblief, in alfabetiese volgorde, toepaslike Afrikaanse en Engelse trefwoorde (keywords) vir alle artikels, vonnisbesprekings en aantekeninge.

 

LENGTE

  • Daar is geen lengtebeperking op artikels nie, maar ons beveel ’n minimumlengte van 7 000 woorde en ’n maksimumlengte van 20 000 woorde aan.
  • Aantekeninge en vonnisbesprekings moet nie korter as 4 000 woorde en nie langer as 7 000 woorde wees nie.

 

KRITERIA BY BEOORDELING

Hou asseblief in gedagte dat keurders by die beoordeling van ’n bydrae op onder andere die volgende let:

  • of die doel van die artikel duidelik geformuleer is
  • of die aard van die artikel (bv. navorsingsverslag/beskouing/oorsig) duidelik gestel is
  • opbou van die betoog
  • benutting, interpretasie en integrasie van primêre en sekondêre bronne oor die betrokke onderwerp
  • teoretiese gevorderdheid
  • oorspronklikheid van blik op die onderliggende problematiek
  • wesenlikheid van bydrae tot vakgebied
  • gehalte van tegniese en taalkundige versorging
  • voldoening aan stylriglyne
  • toepaslikheid van illustrasies/grafieke/tabelle.

 

VOORLEGGING

  • Slegs elektroniese voorleggings word aanvaar, maar nie in PDF-formaat nie.
  • ’n Bydrae (of ’n wesenlike gedeelte daarvan) wat aan LitNet Akademies (Regte) voorgelê word, mag nie elders óf onder oorweging óf reeds gepubliseer wees nie (dit sluit vertalings en plasing op LitNet se SeminaarKamer in).
  • ’n Bydrae moet vergesel wees van ’n kort biografie (nie langer as 300 woorde nie) en ’n foto van die skrywer in JPEG- of ’n soortgelyke formaat. Die biografie moet narratief wees en minstens die volgende gegewens bevat: die outeur se voor­letters en van, sy/haar akademiese kwalifikasies, ’n beskrywing van sy/haar betrekking en die naam van die instansie waaraan hy/sy verbonde is.
  • Bydraes moet behoorlik, en tot in die fynste besonderhede, taalkundig en tegnies versorg en volgens die stylriglyne geformateer wees.
  • Dit is die plig van die skrywer om kopieregklaring/oordrukregte vir die gebruik van illustrasiemateriaal te verkry indien nodig.
  • Kopiereg van artikels berus by die skrywers. Indien ’n artikel, of ’n verwerkte vorm daarvan, later ook elders gepubliseer word, sal ’n erkenning aan LitNet Akademies waardeer word.

 

FORMATERING

  • Stuur asseblief alle tekste in Verdana 10-punt.
  • Tekste moet linksgerig (left-aligned) wees.
  • Begin paragrawe teenaan die linkerkantlyn (dit wil sê nie met die eerste reël ingekeep nie), en skei paragrawe met ’n enkele oop reël.
  • Gebruik enkelspasiëring, en laat ook telkens net een spasie na die einde van ’n sin.
  • Die laaiproses word aansienlik vergemaklik as skrywers oop reëls tussen paragrawe skep deur eenvoudig “Enter” twee keer te druk, en nie deur vooraf die paragraafspasiëring via die “Formateer (Format) > Paragraaf (Paragraph) > Spasiëring (Spacing)”-bevele te stel nie – verseker dus asseblief dat “Spasiëring (Spacing) > Voor (Before)” en “Spasiëring (Spacing) > Na (After)” albei op 0 gestel is voordat u begin.
  • Skrywers moet ook nie opskrifte met bevele soos “Opskrif 1” (“Heading 1”), “Opskrif 2” (“Heading 2”), ensovoorts formateer nie, maar moet eenvoudig “Enter” twee druk om ’n spasie tussen die betrokke opskrif en die teks wat volg, te verkry.

 

OPSKRIFTE

1. Hoofopskrifte - Kleinletters en vetdruk.

1.1 Subopskrifte - Kleinletters, kursief en vetdruk.

1.1.1 Sub-subopskrifte - Kleinletters, kursief, geen vetdruk nie.

Let wel:

  • Opskrifte moet genommer word.
  • Daar is geen punte na opskrifte nie.
  • Laat ’n eenreël-spasie tussen opskrif en teks.

AANHALINGS

    • Gebruik dubbelaanhalingstekens (enkelaanhalingstekens slegs binne aanhalings).
    • Aanhalings moet nie gekursiveer word nie.
    • Aanhalings van vier reëls en langer mag “geblok” en ingekeep word, met ’n eenreël-spasie voor en na die aanhaling, en sonder aanhalingstekens.
    • Sluit ’n ingekeepte aanhaling volledig met die nodige/betrokke leesteken af en verskaf dan die bronverwysing onmiddellik daarna tussen hakies, sonder ’n punt binne die hakies.

 

VERWYSINGS

Volg in die algemeen asseblief die Harvard-metode, en meer bepaald soos hier onder illustratief vir verskillende soorte bronne uiteengesit. Let asseblief baie noukeurig op interpunksie.

1. Bibliografie

Let wel: Nie “Bronne”, “Verwysings”, ens. nie.) Maak asseblief seker dat elke verwysing in die teks in die bibliografie verteenwoordig word.
    • Waar daar ’n bron met meer as een skrywer in die bibliografie voorkom, kom net die eerste skrywer se voorletters ná sy/haar van; by die res van die skrywers kom die voorletters vóór die van.

 

    • By die titels van bronne word ’n hoofletter slegs by die eerste woord gebruik, nie by alle hoofwoorde nie.

 

    • Teleskopeer bladsynommers, byvoorbeeld: 198–9 in plaas van 198–199; 20–1 in plaas van 20–21. Gebruik ’n en-lyn (wat o.a. in Word by Voeg in [Insert] > Simbool [Symbol] beskikbaar is), nie ’n koppelteken nie.

 

    • Laat ’n oop reël tussen inskrywings.

 

  • In die geval van Engelse publikasies moet alle besonderhede wat in Afrikaans kán verskyn, wel in Afrikaans aangegee word, byvoorbeeld:

    Kaapstad in plaas van Cape Town; Londen in plaas van London; en in plaas van and; (red.) in plaas van (ed.). 

    Name van uitgewerye word egter nie in Afrikaans vertaal nie, behalwe waar ’n bepaalde uitgewery wel ook amptelik onder ’n Afrikaanse naam bekend is (bv. ABC-uitgewers naas ABC Publishers).

  • Dui die name van al die publikasieplekke (-stede) in die bron aan, byvoorbeeld:

          Londen, New York: Macmillan.

Let wel:

  • Waar twee of meer bronne van dieselfde skrywer aangegee word, word hulle chronologies van die oudste na die jongste georden:

    Krog, A. 1995. Relaas van ’n moord. Kaapstad: Tafelberg.

    —. 1998. Country of my skull. Johannesburg: Random House.

    —. 2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwela.

  • Waar twee of meer publikasies van ‘n bepaalde skrywer wat in dieselfde jaar verskyn het, aangegee word, word hulle met 'n klein a, b ens. onmiddellik na die jaartal, sonder hakies, van mekaar onderskei: 

    Opperman, D. 1986. Môre is ’n lang dag en Die teken. Kaapstad: Tafelberg. 

    —. 1996a. Donkerland. Kaapstad: Tafelberg. 

    —. 1996b. Dankie aan die ATKV se Kampustoneel. Beeld, 24 September, bl. 3.

  • Waar werke aangegee word van 'n skrywer wat (i) die alleenskrywer is, en (ii) 'n redakteur/-samesteller is, en/of (iii) 'n medeskrywer is wie se naam eerste verskyn, verskyn die inskrywings in die volgorde waarin hulle pas hier genoem is:

    Van Rensburg, M.C.J. 1980. Fasette van die studie van Niestandaardafrikaans. Taalfasette, 27(2):71–98.

    Van Rensburg, M.C.J. (red.). 1987. Die Afrikaans van die Richtersveld. Pretoria: RGN.

    Van Rensburg, M.C.J., L.T. du Plessis en A.H. Klopper. 1989. 'n Verkenning van Afrikaans: Gister. Bloemfontein: Patmos.

1.1 Boeke

Burchell, J.M. 1998. Personality rights and freedom of expression. The modern actio iniuriarum. Kenwyn: Juta.

Scott, T.J. en D.P. Visser (reds.). 2000. Developing delict: Essays in honour of Robert Feenstra. Lansdowne: Juta.

Van der Merwe, N.J. en P.J.J. Olivier. 1989. Die onregmatige daad in die Suid-Afrikaanse reg. 6de uitgawe. Pretoria: Van der Walt.

1.2 Hoofstukke in boeke

Soos in onderstaande stel voorbeelde geïllustreer, verskyn slegs die naam van die skrywer/redakteur van ’n boek, ’n aanduiding van skrywer-/redakteurskap en die publikasiedatum ná ’n hoofstuktitel. Die volledige besonderhede van die boek verskyn as afsonderlike inskrywing in die bibliografie:

McQuoid-Mason, D.J. 2000. Invasion of privacy: Common law v constitutional delict – Does it make a difference? In Scott en Visser (reds.) 2000.

Scott, T.J. en D.P. Visser (reds.). 2000. Developing delict: Essays in honour of Robert Feenstra. Lansdowne: Juta.

1.3 Verhandelinge/proefskrifte

Alberts, R.W. 2005. The relevance of prior use in trademark conflicts. Ongepubliseerde LLD-proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika.

Let wel:

Die titels van verhandelinge/proefskrifte word nie gekursiveer nie.

1.4 Vaktydskrifartikels, tydskrifartikels en koerantartikels

Midgley, J.R. 1999. Media liability for defamation. South African Law Journal, 116(2):211–25.

Neethling, J. 2007. Raakpunte tussen die Suid-Afrikaanse en Duitse grondwetlike beskerming van menswaardigheid – enkele riglyne vir die ontplooiing van ons reg. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 70(3):489–96.

Ngqiyaza, B. 1997. Socio-economic rights must be enforced in South Africa – Pityana. Business Day. 19 September, bl. 4.

Sonnekus, J.C. 2011. Verbeurdverklaring van voordele – welke voordele? Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 4:787–800.

Let wel:

  • In die bibliografie word titels van artikels, hoofstukke, kortverhale en gedigte nie tussen aanhalingstekens geplaas nie.
  • Waar ’n artikel in druk én ook op die internet beskikbaar is, en die skrywer albei soorte bronne wil aangee, kan dit gedoen word deur eers die bron se volledige drukbesonderhede te verskaf en dan die bronadres (URL). Indien die skrywer die internetbron geraadpleeg het, volg “[datum] geraadpleeg” tussen hakies daarna, met ’n punt ná die sluithakie, soos in die voorbeeld in 1.7 hier onder.

1.5 Romeinse en Romeins-Hollandse bronne

Grotius (De Groot), H. 1631 (1767). Inleiding tot de Hollandsche rechtsreleerdheyt. Amsterdam.

Voet, J. 1698-1704. Commentarius ad Pandectas. Den Haag.

Let wel:

Gee die Latynse of Nederlandse titel van die boek en nie ’n vertaling daarvan in Engels of Afrikaans nie. ’n Nuttige gids vir titels is te vinde in Hahlo, H.R. 1985. The South African law of husband and wife. Kaapstad, Wynberg, Johannesburg: Juta. xi e.v. en Corbett, M.M. e.a. 1980. The law of succession in South Africa. Kaapstad, Wynberg, Johannesburg: Juta. ix e.v.

1.6 Argivale bronne

Omdat argivale bronne so uiteenlopend is, word skrywers na die artikel  “How to Cite Archival Sources”, http://www.lib.mtu.edu/mtuarchives/Brochure-CitingArchivalSources.pdf verwys vir riglyne. Die riglyne kan ook hier in PDF-formaat afgelaai word. Wees dan net asseblief so konsekwent as moontlik wat betref die vorm waarin die besonderhede aangebied word.

Sien asseblief die bibliografie by Hein Viljoen se artikel “Op soek na Leipoldt se oom Gert – ’n studie in historiese resonansies” in LitNet Akademies as voorbeeld: http://www. litnet.co.za/Article/op-soek-na-leipoldt-se-oom-gert-n-studie-in-historiese-resonansies.

1.7 Internetbronne

Mamoepa, B. 1997. The Act on Higher Education. http://www.star.hsrc.ac.za/nche.html (16 November 1997 geraadpleeg).

In die geval van ’n aanlyn-artikel waarby geen skrywer of datum verskaf word nie:

Amersfoort legacy: Education, freedom and development. South African History Online. http://www.sahistory.org.za/classroom/feature/hiseduc.htm (10 November 2009 geraadpleeg).

Let wel:

Waar meer as een bron deur dieselfde skrywer in die bibliografie verskyn, word by verdere verwysings ’n em-lyn (wat o.a. in Word by Voeg in [Insert] > Simbool [Symbol] beskikbaar is) in plaas van die skrywer se van gebruik. Dit geld egter slegs (i) as die betrokke skrywer se besonderhede identies is aan dié wat voorafgegaan het; (ii) as die naam alleen staan (d.w.s. nie die eerste van ’n lys skrywers is nie); of (iii) as die persoon nie as redakteur of samesteller opgetree het nie. Andersins verskyn die skrywer se besonderhede opnuut volledig:

Neethling, J. 1998. Persoonlikheidsreg. 4de uitgawe. Durban: Butterworths.

—. 2008. Van Heerden-Neethling unlawful competition. 2de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Maar:

Neethling, J. 2008. Van Heerden-Neethling unlawful competition. 2de uitgawe. Durban: LexisNexis.

Neethling, J. en J.M. Potgieter. 2010. Neethling-Potgieter-Visser deliktereg. 6de uitgawe. Durban: LexisNexis.

 

2. Regspraak

  • Die name van die partye en die v daartussen word gekursiveer.
  • Alle nienoodsaaklike inligting word weggelaat, soos “NO”, “and others”.
  • Hakies en vierkantige hakies word in die reël in verwysings weggelaat, maar die afkorting van die naam van die hof word wel tussen hakies geplaas.
  • Die Engelse verwysings van die naam van die hof vir voor-1947-vonnisse word ook in Afrikaanse bydraes gebruik.
  • Vir die verwysings van die naam van die hof na 1947 tot 2009, asook die herbenaming van die howe na 1 Maart 2009, raadpleeg asseblief Herbenaming van die Hoë Howe 2009 3 SA 4.
  • Vir ongerapporteerde vonnisse word die saaknaam, die datum van die uitspraak, die saaknommer en die naam van die hof aangegee.

Voorbeelde

Carmichele v Minister of Safety and Security (Centre for Applied Legal Studies Intervening) 2001 4 SA 938 (KH).

Telematrix (Pty) Ltd t/a Matrix Vehicle Tracking v Advertising Standards Authority SA
2006 1 SA 461 (HHA).

Freddy Hirsch Group (Pty) Ltd v Chickenland (Pty) Ltd
2010 1 SA 8 (GSJ).

Botha v Botha
1979 3 SA 792 (T).

Talbot v Von Boris
1911 1 KB 854.

Ex parte F
1963 1 PH B9 (N).

Re Waxed Papers Ltd
1937 2 All ER 481 (CA).

Shatz v Josman
1935 NPD 142.

Maimela v Makhado Municipality
2011-5-20 saaknr. 269/10 (HHA).


3. Wetgewing

Die naam en nommer van ’n wet word nie gekursiveer nie en word só weergegee: Die Wet op die Nasionale Kernreguleerder 47 van 1999; die Lugvaartwet 74 van 1962.

Waar die wet net in Engels gepromulgeer is, word die Engelse benaming gebruik, byvoorbeeld: die Consumer Protection Act 68 van 2008.


4. Bronverwysings

  • Alle bronverwysings word in die eindnotas, en nie in die teks nie, geplaas.
  • In vonnisbesprekings en aantekeninge moet slegs lang verwysings wat die lees van die bydrae bemoeilik in eindnotas geplaas word.
  • Die verwysings na bibliografiese bronne is soos volg: Die skrywer se van, gevolg deur die publikasiedatum (sonder ’n komma tussen die skrywer se van en die jaartal), gevolg deur ’n dubbelpunt teen die jaartal, en dan die bladsynommer(s) (sonder ’n spasie tussen die dubbelpunt en die bladsy).
  • Waar meer as een skrywer betrokke is, word die woord en, nie die ampersand nie, gebruik.
  • Waar drie of meer skrywers betrokke is, word slegs die eerste skrywer se van gebruik, gevolg deur “e.a.”.
  • Die eerste verwysing na ’n vonnis of ’n wet moet volledig weergegee word. Daarna kan die verwysings (ook in die teks) meer informeel wees sodra dit vir dle leser duidelik is na watter vonnis of wet verwys word (byvoorbeeld: die Maimela-saak of bloot Maimela; die 1926-wet, die Maatskappywet).

 

ENKELE ANDER REDAKSIONELE PRAKTYKE EN VOORKEURE

1. Afkortings

  • Geen afkortings word in die teks gebruik nie; in die eindnotas, daarenteen, word soveel erkende afkortings as moontlik gebruik.
  • Al die erkende konvensies soos deur Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (2009) voorgeskryf (o.a. die gebruik van punte waar dié as verpligtend aangedui word), moet in bydraes gevolg word.

2. Hoofletters

Die gebruik van hoofletters word sover moontlik beperk.

Voorbeelde

  • In die teks: regter; appèlregter; regterpresident; hoofregter; maar R; AR: RP; HR in die eindnotas
  • staatspresident; parlement, minister

Soos by afkortings, moet die voorskrifte van Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (2009) ten opsigte van die gebruik van hoofletters egter verder stiptelik gevolg word. Hiervolgens begin woorde wat as eiename optree met hoofletters. Dit geld wat Regte betref veral vir die amptelike name van bv. die howe, staatsdepartemente en die ministers van sodanige departemente: dus  Hooggeregshof van Suid-Afrika; Hoogste Hof van Appèl; Konstitusionele Hof; Grondeisehof; Arbeidsappèlhof; Departement van Justisie; Departement van Korrektiewe Dienste; Minister van Justisie; Minister van Menslike Nedersettings; ens.

3. Vreemdtalige woorde, frases en aanhalings

Woorde en frases in ander tale as Afrikaans (soos Engels, Duits en Latyn) word gekursiveer en nie tussen aanhalingstekens geplaas nie, bv. rule of law, dolusfait accompli, Grundnorm. Die name van vreemdtalige wetgewing word egter nie gekursiveer nie, soos die Child Justice Act 75 van 2008.

Vreemdtalige aanhalings (ook dié uit Latyn) word tussen aanhalingstekens geplaas en nie gekursiveer nie.

4. Sogenaamde selfnoemfunksie by woorde

Wanneer ’n woord of frase gebruik word om na homself te verwys, word dit kursief geskryf, soos byvoorbeeld in:

  • Die woord agaat verkry in hierdie teks …
  • Sedert Kleinboer sy opwagting gemaak het, is kontrei vir baie lesers nie meer maar ’n sinoniem vir geografiese gebied nie …
  • Om metafoor te definieer, is nie so maklik nie. (Teenoor byvoorbeeld: ’n Metafoor is ’n stylvorm wat ...)

5. Betekenisaanduiding

Die betekenis van ’n woord of frase word tussen dubbelaanhalingstekens aangegee, soos byvoorbeeld in:

Donker beteken gewoonlik “afwesigheid van lig”, maar in hierdie gedig …

6. Aandagstreep teenoor koppelteken

Tussen datums, bladsynommers e.d.m. word nie ’n koppelteken nie, maar ’n aandagstreep (en-lyn, o.a. by “Insert” (“Voeg in”) > “Symbol” (“Simbool”) beskikbaar). Dus:
1969–70, nie 1969-70 nie.

7. Eindnotas teenoor voetnote

  • Die internetformaat van LitNet Akademies vereis dat daar slegs van eindnotas gebruik gemaak kan word.
  • ’n Eindnotasyfertjie volg onmiddellik op ’n leesteken, nie omgekeerd nie; dus:

"... verantwoordelik,1 maar aan die ander kant …"

nie

"... verantwoordelik1, maar aan die ander kant …"

nie.

8. Drie stylsakies

8.1 Germaans teenoor Klassiek

Die redaksie van LitNet Akademies wil graag die Germaanse karakter van Afrikaans probeer bevorder en bewaar. Skrywers word dus vriendelik versoek om, waar moontlik, voorkeur aan Germaanse bo Klassieke woorde te gee; dus byvoorbeeld ontleed eerder as analiseer; vasberade eerder as gedetermineerd. Ons herhaal graag: dit is bloot ’n redaksionele versoek en voorkeur, nie ’n voorskrif nie.

8.2 Oortollige frases

Vermy asseblief die gebruik van frases soos ek dink, myns insiens en na my mening as aanlope tot stellings. Benewens die ooglopende feit dat ’n skrywer immers nie die daaropvolgende stelling sou maak indien dit nié sy/haar mening is nie, kan die herhaalde gebruik van sulke frases hinderlik raak. Ironies genoeg werk die gebruik van dié frases boonop nie ’n aanduiding van die skrywer se beskeidenheid in die hand nie (vermoedelik gedeeltelik die doel daarmee), maar juis eerder die teenoorgestelde.

8.3 Eerste versus derde persoon

  • Die gebruik van die eerste persoon word verkies. Skryf dus “Ek het in 2009 op ’n artikel afgekom wat my navorsing ’n hupstoot gegee het” eerder as “Hierdie navorser het in 2009 op ’n artikel afgekom wat haar navorsing ’n hupstoot gegee het.”
  • Terselfdertyd moet eerstepersoonsvorme oordeelkundig gebruik word: beperk die gebruik daarvan tot stellings waarmee u spesifiek u eie aandeel wil beklemtoon, byvoorbeeld waar u ’n persoonlike uitspraak lewer of oor ’n persoonlike episode of eksperiment verslag doen. Die lydende vorm kan soms gebruik word om te veel eerstepersoonsvorme te vermy, maar nie ten koste van vlotheid en duidelikheid nie.
  • Waar slegs een skrywer betrokke is, of ’n skrywer nie spesifiek namens ’n span skryf of verslag doen nie, is die woord ons (om my uit beskeidenheid te probeer vermy) onvanpas.
  • Konsekwentheid is belangrik: eerste- en derdepersoonsvorme moet nie in ’n artikel vermeng word nie.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top