LitNet Akademies: Elize Koch in gesprek met Michael le Cordeur oor moedertaalgebaseerde tweetalige onderwys

  • 0

Elize Koch gesels met Michael le Cordeur oor sy artikel "Moedertaalgebaseerde tweetalige onderwys: ’n moontlike oplossing vir Suid-Afrika se geletterdheids- en syfervaardigheidsprobleme" in LitNet Akademies.

Die sentrale fokus van jou artikel is, gegewe die belangrikheid van moedertaal- (MT-) onderrig vir kognisie en geletterdheidsontwikkeling en die negatiewe houding van veral sprekers van die swart Afrikatale tov MT-onderrig, die bevordering van MT-onderrig (MTO ) via ’n voorgestelde alternatiewe benadering van moedertaalgebaseerde tweetalige onderwys (MTGTO), met die MT en Engels as tale van onderrig tot ten minste einde graad 6. So ’n benadering sal beide die noodsaak van MT-onderrig en die negatiewe houdings van (hoofsaaklik) swart ouers ondervang. Is dit korrek of wil jy uitbrei en verder verhelder?

Dis korrek. Binne die swart gemeenskappe het MTO ’n baie negatiewe konnotasie, omdat dit steeds gesien word as ’n manier om hulle te verkneg. Die fokus moet verskuif na MTO as ’n meganisme om leerders die waarde van taal as draer van identiteit en kultuurgoedere te laat besef. Daarmee saam is dit belangrik dat leerders goed onderleg is in Engels, omdat die hegemoniese aard van Engels veral swart ouers onder druk plaas, omdat hulle dink dis die enigste opsie tot akademiese sukses. Die klem verskuif dus van MTO of Engels na MTO en Engels.

Volgens jou spreek die nuwe kurrikulumplan nie die taal-in-onderrig-kwessie voldoende aan nie, omdat dit eintlik daarop gerig is om Engels as taal van leer en onderrig (TvLO) so gou moontlik en so doeltreffend moontlik in te bring, reeds op graad 1-vlak in gevalle waar die MT van kinders nie die taal van onderrig vanaf graad 4 (Engels) is nie. Is ek korrek dat jou standpunt is dat die kurrikulumplan liewer meer effektief (en sterker) voorsiening moet maak vir ’n langer tyd van onderrig in die MT hand aan hand met onderrig in Engels totdat oorskakeling na Engels-alleen-onderrig in graad 7 plaasvind?

Korrek. Navorsing het bewys dat ’n kind se moedertaal eers na ses jaar van formele onderrig goed ontwikkel is, sodat hy/sy moedertaal kan gebruik as basis om ’n tweede taal aan te leer. My betoog is dus vir MTO tot minstens in graad 6, terwyl ’n tweede taal as vak aangebied word vir wanneer die leerder na Engelsmedium oorslaan.

Het hierdie artikel ten doel om hierdie saak na die regering en departement te vat en dit met hulle te bespreek?

Ja, ek lewer ’n lesing met dieselfde titel op 2/3 April by die konferensie van die Departement van Basiese Onderwys in Durban. Afhangend van die reaksie sal ek dit daarna ook in die kongresbundel publiseer en aanstuur na die regering.

Hoekom ’n artikel hoofsaaklik oor die swart Afrikatale in Afrikaans?

Sistemiese evaluering en grondlyn-assessering van geletterdheid en syfervaardigheid vir graad 3 en graad 6 wat deur die Departement van Basiese Onderwys onderneem is, dui daarop dat leerders se geletterdheid en syfervaardigheid veel laer is as wat nodig is om hulle doeltreffend te laat leer en ontwikkel. Een van die belangrikste oorsake vir die swak vertoning in geletterdheid en syfervaardigheid is die feit dat baie leerders nie in hul moedertaal onderrig word nie (Yeld 2009). Dit het ’n negatiewe uitwerking op leerders se vermoë om die kurrikulum baas te raak. Dit is belangrik dat leerders in dié vormingsjare in hul moedertaal onderrig word, omdat geletterdheid en syfervaardigheid kundighede is wat in die grondslagfase ontwikkel word. Daar is sekerlik etlike redes vir hierdie ontoereikende kennis en vaardighede, maar een daarvan is ongetwyfeld die gebruik van Engels as onderrigmedium onder veral swart leerders, terwyl hul vaardigheid in Engels nie voldoende is vir die doel van formele opleiding nie. Die ontoereikende vaardigheid in Engels kom veral voor in die mees weerlose gemeenskappe, naamlik die onderklasse en township- en plattelandse gemeenskappe.

Wat sal die implikasies van ’n meer uitgesproke MTGTO-beleid vir Engelssprekende kinders wees? Of is tweetalige onderwys net vir nie-Engelssprekende kinders? Of net vir kinders wat MT-sprekers van die swart Afrikatale is? Indien die laaste twee, wat is die diskoers wat so ’n standpunt onderlê?

MTGTO geld ook vir Engelssprekende leerders. Kulturele diversiteit het met die eeuwisseling as ’n sleutelbegrip na vore getree. ’n UNESCO-verslag beklemtoon die belangrike rol van taal om gestalte aan kulturele diversiteit te gee. Nasionale integrasie en nasiebou is die vernaamste strategiese doelwitte van die voorgestelde Taal-in-Onderwysbeleid (TiOB). Verder moedig die TiOB die aanleer van ander Suid-Afrikaanse tale deur alle Suid-Afrikaners aan ten einde nasionale eenheid, meertaligheid en multikulturalisme te bevorder. Engelssprekende leerders moet dus ook aangemoedig word om naas hulle moedertaal nog ’n Suid-Afrikaanse taal (of selfs twee) aan te leer ten einde bg doelwitte te bereik.

Sou jy sê dat MTGTO die diskoers om Engelse hegemonie (die sogenaamde monolinguale habitus) voldoende (of effektief) betwis? Indien nee, wat moet hand aan hand met die ontwikkeling van MTGTO plaasvind om hierdie habitus meer eksplisiet te weer, of te betwis? Is dit selfs nodig, gegewe die projek van nasiebou in Suid-Afrika?

Dalk nie. ’n Aparte artikel is nodig om die Engelse hegemonie voldoende (of effektief) te betwis. Dis beslis nodig binne die breë raamwerk van nasiebou. Daar is groeiende kommer dat kinders wat net Engels grootword, baie minder sensitief is vir die diversiteit en die waarde daarvan in ons land. Monolinguale Suid-Afrikaanse burgers is nie die antwoord in ’n land met 11 amptelike tale nie.

Sal die catch-22-situasie waar programme wat MTGTO ontwikkel, slegs bewyse moet lewer van goeie en doeltreffende Engelse taal- en geletterdheidsontwikkeling (gegewe die voortgesette uitgesproke fokus op oorgangstweetaligheid), dus ooit werklik suksesvol ’n verandering van houdings tov MT onderrig kan dryf?

Ek glo so. Die Suid-Afrikaanse werklikheid is dat die toenemende hegemonie van Engels in die postapartheid-era geweldige druk op ouers plaas om Engels as onderrigtaal vir hul kinders te kies. Hierdie aspirasies is volkome te begrype, maar hoef nie ten koste van MTO vervul te word nie. Ouers is oningelig oor MTO en het dikwels ’n wanpersepsie dat Engels hul kinders se enigste opsie is. Hierdie mistasting kan uit die weg geruim word deur aan ouers die waarde te demonstreer van moedertaalgebaseerde tweetalige onderrig.

Hoekom het jou empiriese ondersoek nie meer sprekers van die swart Afrikatale ingesluit nie? Indien hulle nie gereageer het nie, kan jy dink aan ’n rede waarom nie?

Uit die aard van die saak is die vraelys uit na baie mense. Slegs diegene wie reageer het, se reaksie word ingesluit. Ek dink daar is steeds groot agterdog by swart burgers om weg te bly van enigiets wat lyk na MTO, omdat hulle net slegte herinneringe hiervan het (dink maar aan die 1976-opstande). Baie en harde werk lê dus voor om persepsies te verander en hierin kan die regering ’n leidende rol speel (wat hulle nie tans doen nie). Terloops, wat is swart? Walter Sisulu het een Xhosa- en een bruin ouer gehad. Neville Alexander ook.

Terwyl jy ’n sterk betoog ontwikkel rondom die mislukking van Engels-alleen-onderrig op die platteland en in landelike gebiede, spreek jy nie die feit aan dat daar duisende kinders is wat moedertaalsprekers van die Afrikatale is wat baie suksesvol is waar die onderrig van Engels en in Engels effektief plaasvind nie. Kommentaar?

Die sukses waarna jy verwys, is slegs onder die minderheid, die handjievol (duisende) swart leerders wie se ouers dit kan bekostig om hulle in Engelse skole te sit. Van baie groeter belang is dat die meerderheid (miljoene) swart kinders ’n tweederangse onderrig ontvang wat hulle ironies genoeg steeds net laat kwalifiseer om arbeiders te wees, dus presies soos Verwoerd dit wou gehad het.

Jou standpunt dat die nie-erkenning van die MT in die onderrigsituasie tot ’n swak selfbeeld lei, is te sterk geformuleer (sonder voldoende bewyse) en essensialisties. Kommentaar?

Ek stem nie saam nie. Navorsers het reeds vasgestel dat leerders se skoolprestasie met die erkenning van die sosiale en kulturele waarde van hul moedertaal korreleer. Ek kon dalk wel meer bewys aangetoon het. En is dit ook te sterk geformuleer as Mamphele Ramphele die volgende sê?

Children who are taught in the first few years in their mother tongue, while other languages are introduced as subjects, tend to become more proficient in all languages. It provides the anchor for better and deeper learning by linking it to everyday life and one's own identity.

En:

If language is not only the medium of communication, but also a means of cultural heritage transmission between generations, how are our children to know who they are and what heritage they bring to South Africa’s diversity? Ultimately, our children pay the price for the constant erosion of African languages. (Ramphele 2009:11)

Sou jy sê dat die insluiting van persone met ’n eksplisiete Afrikaanse (Afrikaner-?) agenda (soos Jacques van der Elst) in jou empiriese ondersoek jou betoog van meet af kan ondermyn?

Wat is ’n Afrikaner? Volgens die werk van Daniel Hugo (Halala Afrikaans) was Biebouw die eerste wat homself ’n Afrikaner genoem het om te wys hy kom van gemengde ouers af en is in Afrika gebore. En waarom een persoon in hierdie boksie plaas? Kan ons aanbeweeg en ophou na mense verwys as voorwerpe met etikette om hul nek? Dis ’n Verwoerdiaanse beginsel wat so diep in wit mense se koppe geprent is dat diegene wat so maklik etikette om mense se nekke hang, vergeet dat ons wat nie wit is nie, dit slegs sien as jou manier om jouself te verontskuldig. Wat is meer verkeerd: Om nóú ’n Afrikaner te wees of om ’n Afrikaner te wees wat vir Verwoerd gestem het? En moenie vir een oomblik dink ons glo dis net Afrikaners wat vir Verwoerd gestem het nie; die Engelse (wat die ingenieurs was van apartheid) het net so lustig meegedoen.

Het jy praktiese voorstelle hoe programme wat MTGTO ontwikkel, daar moet uitsien? Wat is van die praktiese voorbereidingswerk wat gedoen moet word?

Hieroor is baie navorsing nodig. Allereers moet die regering geld bewillig (die R500 miljoen wat die Departement van Onderwys nie verlede jaar gebruik het nie, sou baie help) om mense wat in Afrikatale kan skryf, te bemagtig om leermateriaal vir graad 1 tot 6 in hul eie taal te skryf. Dink aan hoeveel navorsingsgeleenthede dit vir swart jongmense sal skep. En dink aan hoeveel werksgeleenthede dit vir jong afgestudeerdes uit die swart gemeenskappe sal skep.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top