Liewer deur Tertius Kapp: ’n boekresensie

  • 0

Foto van Tertius Kapp: http://www.litnet.co.za/litnet-akademies-resensie-essay-oorsee-deur-tertius-kapp/

Liewer
Tertius Kapp
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624084389

“Die liefde is ’n vreemde ding. Dit bestaan net as jy daarin glo.” (2017:50)

Lief. Liewer. Liefste. Die liefde is blind. Die hart is ’n idioot en moet liefs meer na die brein luister. Maar wanneer vlinders in die maag begin fladder, word logika bysaak.

Tertius Kapp, tesame met Willem Anker en Wessel Pretorius (om maar enkeles te noem) is die nuwe generasie “Wunderkinders” van die Afrikaanse drama. Kapp is in 2015 met die Hertzogprys bekroon vir sy dramas Rooiland (2013) en Oorsee (2014). Hierdie jong dramaturg beskik oor die verstommende vermoë om grensverskuiwende tekste te skryf wat gehore se emosies uit hul derms gaan krap, skok, debat teweegbring en diep ontroer.    

2017 was ’n droë oesjaar vir gepubliseerde Afrikaanse dramatekste ten spyte van die groot aantal puik dramaproduksies wat vanjaar by kunstefeeste aan bod was. (Sal dit nie wonderlik wees indien toneelstukke soos Neil Coppen se Buite Land en Wessel Pretorius se Klara Maas se hart is gebreek in gedrukte formaat gepubliseer kan word nie?) As literator, letterkundedosent en resensent vind ek dit kommerwekkend dat daar jaarliks minder dramatekste gepubliseer word. Drama is immers naas prosa en poësie een van die drie genres binne die letterkundige sfeer. Finansiële oorwegings word aangevoer vir die afname in gepubliseerde dramatekste – kruissubsidiëring kan sekerlik deur uitgewers toegepas word om die publikasie van meer dramatekste moontlik te maak? Alhoewel dramatekste meestal gepubliseer word vir die voorskryfmark, het die gebrek aan gepubliseerde dramatekste ’n negatiewe invloed op die toekoms van dié letterkundige genre. Dit bemoeilik navorsing indien dramas nie gepubliseer word nie. Die Afrikaanse letterkunde word sodoende verarm en individue wat nie die toneelstukke by kunstefeeste kan kyk nie, word van die ryk ervaring ontneem. Wat gaan van die Hertzogprys vir drama word indien daar nie meer gepubliseerde dramatekste is wat vir dié gesogte letterkundeprys in aanmerking geneem kan word nie? Ek is bevrees die toekoms van gepubliseerde dramatekste in Afrikaans sien alles behalwe rooskleurig daarna uit. “Die hemel help ons” – om Koos Prinsloo aan te haal. Gevolglik is die publikasie van Liewer ’n welkome sonstraaltjie op die donker horison.

Liewer het vanjaar op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn gedebuteer. Met ’n gesoute rolverdeling en Jaco Bouwer as regisseur het dié dramaproduksie gehore in vervoering gehad en nie minder nie as ses Kanna-benoemings ontvang.

Die teks tree intertekstueel in gesprek met die Britse dramaturg Patrick Marber se Closer (1997). Marber het die teks tot draaiboek verwerk en in 2004 is die film met dieselfde titel vrygestel met Julia Roberts, Jude Law, Natalie Portman en Clive Owen in die hoofrolle. Alhoewel Liewer met Marber se Closer in gesprek tree, hoef die gehoor of leser nie oor kennis van Marber se teks te beskik om Kapp se drama te kyk of lees nie. (Letterkundiges sal egter die intertekstuele spel verrykend vind.)

In Liewer plaas Kapp die liefde onder die vergrootglas. Daar word onder die oppervlak gedelf en ondersoek ingestel na die vele fasette van die liefde – beide aangenaam en onaangenaam. Hier is geen sprake van die spreekwoordelike liefdesdriehoek nie, maar eerder ’n komplekse vierkant wat so ingewikkeld soos die liefdesverhoudings van die antieke Griekse en Romeinse gode is. Annie, Vincent, Beatrice en Xander se paaie kruis op ongewone (toevallige) wyse en die soeklig word op hul onderskeie verhoudings geplaas. Alhoewel die  struktuur van die teks met die van Marber ooreenstem, het Kapp talle veranderinge aangebring om sy eie stem te laat hoor. Opvallend is die Suid-Afrikaanse stempel wat Kapp op Liewer afgedruk het presies twintig jaar na die publikasie van Marber se Closer. Op vernuftige wyse word Suid-Afrika se sosio-ekonomiese probleme, komplekse rasseverhoudings en geskiedenis by die teks geïnkorporeer.

Kapp se fyn sin vir humor is treffend, dog is die teks ryk aan lewenslesse wat amper filosofies daarna uitsien. Die komplekse verhoudings tussen die vier karakters dissekteer as’t ware elke faset van die liefde. Liefde is ’n gewaagde onderwerp aangesien dit maklik in clichés verstrengel kan raak. Met Liewer is dit nie die geval nie en word liefde as tema op eerlike wyse ondersoek.

Maja Jagielska se omslagontwerp is treffend. Die teks bevat egter twee foute naamlik “Teksnota’s” (sic) en die herhaling van “ons” op bl 19.  

Liewer is geen soetsappige liefdesverhaal nie. Die dramateks vertel die waarheid oor die liefde. Soos die karakter Vincent tereg opmerk: “Op elke straathoek ’n toneelstuk.” So is die liefde ook. ’n Begin en ’n einde. Die een drama gevolg deur ’n ander.

Met Liewer bewys Kapp weer eens waarom hy die Hertzogprys waardig is.   

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top