Liewe Kersfeesvader: ’n resensie

  • 1

Liewe Kersfeesvader: ʼn Fynbesnaarde komedie

As mens kyk na regisseur Ettienne Fourie se drie films – Die windpomp, Dis koue kos, Skat, en nou Liewe Kersfeesvader – is dit duidelik dat hy soos gooie wyn beter word met tyd. Ek kan nie wag vir sy sesde of sewende film nie.

Ettienne het ʼn definitiewe (visuele) styl – van die tuindwergies, die (oor)gebruik van spesifieke kleure, en die 1950’s-klere en -radio’s, tot Wouter se solderkamer, Hendri se gevoude onderbroeke en Nonnie se outydse fiets. Dit herinner my aan Wes Anderson se stelinkleding en surrealistiese karakters en tonele. Waar Wes soms oorboord gaan en die menslikheid van karakters verloor, voel ek behou Ettienne sy karakters se menswees. Ek dink hy is wel te sag op hulle. Meer daaroor later.

Daar is ʼn ander gemene deler in sy films. Daar is te veel skote, onnodige skote wat die films minder kragtig maak. Kersfeesvader het omtrent vyf eindes gehad. Net as jy dink die eindtoneel is perfek, is daar nog ʼn toneel. En nog een. (Selfs die lokprent verklap te veel. Die kuns van ʼn goeie lokprent is egter ʼn ander debat.) Ek dink hy kan meer aan ons verbeeldings oorlaat en die gehoor minder met ʼn lepel voer. Daar moet dus bietjie gesny word.

Die hoogtepunt van die film is die tipe humor wat gebruik word. Dit is nie slapstick of die tipiese Hollywoodse een-reël-grappies nie, maar fyn humor. Dit herinner aan groot Australiese flieks soos Strictly ballroom of selfs (die minder geslaagde) The dressmaker. Die Aussies kan oordryf met humor, die mees surrealistiese tonele saamflans, onvergeetlike karakters skep en in twee sinne jou hart breek, maar jou ook laat lag terwyl die trane nog loop. Kersfeesvader se tonele en karakters is ook oordrewe, maar tog steeds menslik en snaaks en onvergeetlik.

Ja, Eloff Snyman beïndruk en Milan Murray steel elke toneel waarin sy verskyn (kan iemand asseblief vir haar ʼn vollengte-draaiboek skryf?), maar dit is uiteindelik Mila Guy se vertolking wat die film dra. Jy lag vir haar, jy voel vir haar. Sy voer jou mee. (Haar vertolking as Bruid in Wonderlus is net so verstommend. As jy nie kan wag vir haar volgende film nie, volg haar op instagram.com/milaguy. Kyk uit vir Oppie pad met Kat en Sus saam met Ilse-Lee van Niekerk.)

Terug na Ettienne wat te sag omgaan met sy karakters. (Bederfwaarskuwing  X 10.) Herman en Marta se karakterontwikkeling is nie geloofwaardig nie. Herman wat sy roeping as Kersfeesvader aanvaar, sou soveel meer diepte gehad het as hy bloot ʼn senu-ineenstorting gehad het. Die breingewas was ʼn maklike uitweg. Dieselfde geld vir Marta, wat haar twee kinders en man bloot agterlaat vir ʼn nuwe kêrel en lewe as aktrise. Die feit dat sy geweet het van die breingewas en gewag het vir haar man om tot sy sinne te kom, is weer eens die maklike uitweg. Werk met Herman se ineenstorting, sy geestelike versteuring, en hanteer Marta se totale verraad. Moenie vir hulle ʼn uitweg gee nie.

Opsommend: Liewe Kersfeesvader is ʼn vars, onvergeetlike komedie, met ongelooflike spelers in die rolverdeling en ʼn belowende regisseur (en skrywer) wat nog groot hoogtes gaan bereik.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top