Liefde, seks, Vlam in die sneeu en Tristia

  • 1

Vlam in die sneeu, die liefdesbriewe van André P Brink en Ingrid Jonker
Redakteur: Francis Galloway
Umuzi, Penguin South Africa
ISBN: 9781415208816

Hierdie essay rondom Vlam in die sneeu is veral geïnteresseerd in André P Brink en Ingrid Jonker se voortdurende verwysings na NP Van Wyk Louw se Tristia1 in hulle korrespondensie.

Daar is ’n belangrike akademiese artikel op LitNet oor Tristia wat relevant is tot hierdie bespreking. Lees gerus Pieter Verster se Die soeke na God in "Groot ode" van NP Van Wyk Louw.2

Verster konsentreer op die tweede laaste gedig, “Groot ode”, maar hy deel ook heelwat inligting oor die bundel.

“Hét jy Tristia?”

Lees ook:
Flame in the Snow – the love letters of André Brink and Ingrid Jonker
The heart has spaces – the love letters of André Brink and Ingrid Jonker
Oor die transkripsie van Vlam in die sneeu se liefdesbriewe
US Woordfees 2016-onderhoud: Plant vir my 'n boom, André

André P Brink skryf die eerste keer op Sondag 21 April 1963 aan Ingrid Jonker. Tristia het in 1962 verskyn. Brink sou dus reeds bekend gewees het met die teks.

Op 30 Mei skryf Brink aan Jonker: “Hét jy Tristia, of moet ek hom aan jou stuur?”

Ons lei dus af dat hulle oor die teks gepraat het – waarskynlik oor die foon – en op 23 Junie skryf Jonker dat Brink sommige van Louw se gedigte met haar gedeel het op band.

Op 17 Junie, ná ’n gesprek oor kos en politiek, skryf Jonker skielik, sonder ’n nuwe paragraafbreuk: “Maar glo my, my André, ek het méér as een rede om aanhoudend aan Van Wyk Louw te dink:

Nou het die môre my
oor die rand van sy glas gemors
op die stoep waar die waterkraan drup
in die uur van die donkere dors.”3

Die sinisme slaan sterk deur, maar dit blyk dat sy eintlik praat oor ’n kraan in haar kamer. En dan: “Jammer oor Tristia, maar dié het ek nog nie hier bespeur nie.”

Ek vind Jonker se woorde belangrik, om drie redes:

  1. a) Dit toon hoe die twee mekaar uitgedaag het met aanhalings uit die wêreldletterkunde.
  2. b) Dit sê daar moes weer ’n gesprek oor Louw en Tristia gewees het.
  3. c) Die kanse is goed dat Brink die bundel na Jonker geneem het om dit vir haar voor te lees – dit is onduidelik of die voorlesing wel plaasgevind het.

Op 26 Junie skryf Brink: “Ek het Maandag toe Tristia vir jou gestuur.”

Op 22 November skryf hy welgeluksalig: “Op die draaitafel is die fyn reëndruppelnootjies van ’n Mozart aan die lewe. Onder my linkerelmboog lê Tristia.” En dan: “Vanmiddag moet ek Tristia se tweede deel in die honneursklas behandel – ‘Groet in bruin’ en al die ander goddelike goed wat hy namens my aan jou geskryf het.”

Op 3 Maart 1965, ’n aantal weke voor die finale nekslag op hulle verhouding toegedien word, skryf die siniese Jonker: “En wat sou die blerrie oom Wyk makeer? Hy raak darem in die laaste tyd té voor op die wa, Tristia of nie Tristia nie.”

Haar woorde staan in skrille kontras met Brink se eie, laaste woorde aan haar op 27 April. Hy vertel van ’n lesing voor die Akademie as “’n kil ding”, en dan: “Die partytjie daarna by Wyk was beter, maar ook nie sonder die irritasies van sosiale mense nie. Sou graag meer met hom wou gesels, maar die kosbare tydjies wat dit wel kon, was onvergeetlik. Hy’s so mens, hy’s so wys. Party mense het ’n aura van wysheid en kruip daaragter weg: hy is wys, baie diep en menslik.”

Die man wat ’n liefdesteleurstelling ken

Brink en Jonker was deeglik bewus van ander se skinderstories oor hulle verhouding. Dit mag nog ’n rede wees waarom die twee Tristia so gereeld genoem het.

Verster sê: “‘Groot ode’ word as ’n persoonlike uiting beskou wat ’n doodswens na ’n verhoudingsteleurstelling insluit. Die vraag is of die verhouding met die digteres Sheila Cussons hierin ’n rol speel.”

Vir ’n duideliker omskrywing van Louw (wat met Truida getroud was) se verhouding met Sheila Cussons (wat met Stoffel Nienaber getroud was), lees gerus Louw se biografie deur JC Steyn,4 of, vir ’n korter, toeganklike stuk, klik hier

Beide Brink en Jonker vind soms hulle eie situasies so droewig dat hulle selfmoord oorweeg. Van Wyk Louw was skynbaar een van die min literatore wat nie neergesien het op Brink en Jonker nie; hy het immers die skindertonge aan eie lyf gevoel tydens sy affair met Cussons.

Bron: Flame in the snow - the love letters of André Brink and Ingrid Jonker (LitNet)

Waarom Tristia?

Die gevoel dat Louw hulle situasie verstaan, kon nie genoeg rede gewees het waarom sy bundel die twee so aangegryp het nie.

Waarom dan Tristia?

Ek dink die antwoord lê in die woorde van Brink oor die “goddelike goed wat hy namens my aan jou geskryf het”. Hy noem “Groet in bruin” by name. Die eerste strofe van die gedig stuur hy by geleentheid aan Jonker – in afwagting op hulle weersiens. Maar daar is ook ander verwysings. Lees maar self. Brink verwys gereeld na Jonker se bruin vel en in die laaste strofe van “Groet in bruin” word die geliefde beskou as “Lieflike, klein, vrou” – ’n beskrywing wat gereeld en in verskeie vorme gebruik word om Jonker te beskryf.

Die twee het hulself dus in Louw se teks ver-woord.

Die volgende gedig (“XXXII”) handel oor die stort van saad, en “papies”. Brink se penis word voortdurend ’n papie genoem – deur beide.

Daar is egter talle meer verwysings wat uit Tristia kom.

’n Onskuldige Brink

Was Brink ouer, was hy dalk wyser, dan sou sy briewe aan en sy besluite rondom Jonker dalk anders kon gewees het. Hy was egter 29 toe hy Jonker, wat marginaal ouer was, leer ken het.

Brink kom uit ’n patriargale, Christelike huis waar seks net binne ’n huwelik plaasvind.

Selfs al is hy op daardie stadium met Estelle, sy eerste vrou en die ma van Anton, getroud, slaap hy nie eers meer in dieselfde kamer as sy nie. Seksueel sonder hy hom af vir Ingrid, juis omdat hy seks as ’n heilige daad sien. Dit is aangrypend om Brink nie as wêreldbekende letterkundige nie, maar as ’n onskuldige, Afrikaanse seun, te leer ken.

Bron: Flame in the snow - the love letters of André Brink and Ingrid Jonker (LitNet)

Seks as mis

Verster skryf onder andere dat in Tristia “verskeie van die vorige temas verenig [word] met verwysing na die Rooms-Katolieke Kerk met sy groter klem op die lyflike en vleeslike, wat aanduidings is dat Louw hom sterker tot ’n meer aardse lewe en godsdiens wil verbind.”

Hier wil ek Brink self laat “antwoord”. In sy eerste brief aan Jonker, op 21 April 1963, skyf hy: “Maar gelukkig is dié dinge net beginpunte; is herinnerings en liggame net titels van lang gedigte; en is ons ‘bymekaar slaap’ ’n soort Mis-hou waarin die transsubstansie volkome is. (Is dít dalk ons ‘ongelowiges’ se suiwerste religie? [...]”

Daar is heelwat ander verwysings na seks as godsdiens tussen Brink en Jonker; Tristia is ’n bundel waarin beide ondersoek word.

Sou poliamorie ’n opsie wees?

Die voortdurende soeke na iets meer, iets dieper tussen Brink en Jonker is treffend. As leser wil ’n mens, soos by die lees van enige liefdesroman, die twee bymekaar kry. Jy dink aan maniere om die getroude Brink (en pa van Anton) by die geskeide Jonker (en ma van Simone) te laat saam wees. As leser is jy bewus van die komende tragedie en jy sien hoe misties hulle mekaar aanvaar – dit is meer as seks, hoewel die seks skynbaar uitstekend was.

Kon dit anders?

Jonker was ouer en wyser as Brink. Sy was ook deurmekaar met Jack Cope.

Cope was, teen die tyd dat hy Jonker ontmoet het, veel ouer en reeds gewoond aan ’n huwelik wat nie monogaam was nie.

Wat meer is, Uys Krige, Cope se goeie vriend en gedurige plakker, was goed bekend met Roy Campbell se huwelik. Campbell se vrou, Mary, was vir baie jare ’n lover van Vita Sackville-West. Cope het dit murmurerend ervaar en aanvaar, hoewel hy literêr wraakgeneem het op Sackville-West in sy bundel The Georgiad.5

Sackville-West se man, Harold Nicolson, had lovers van albei geslagte.6

Hierdie poliverhoudings was bekend onder die Engelse skrywers; Cope moes daarvan geweet het, en Krige het lank by die Campbells ingebly as onderwyser en het dit eerstehands ervaar.

Sou dit nie vir Brink en Jonker werk nie?

Dit is egter baie maklik vir ons as moderne mense om te sê: Wees openlik oor julle verhoudings, want daar is talle huwelike wat vandag meer as twee mense akkommodeer, net soos dit in daardie tyd ook die geval was.

Ons moet egter die tydsgees in gedagte hou. Nie al hulle vriende het hulle verhouding gesteun nie, om dit sagkens te stel. Brink was ook nie so wêreldwys in die Jonker-periode soos ’n mens sou dink nie – vir hom was seks iets wat binne ’n monogame verhouding moes geskied.

Dit is Jonker wat belangstel in Estelle se welsyn, wat skuldig voel, wat haar wil ontmoet. Tog, die briewe toon ook dat Jonker nie Brink se toenaderings bloot as ’n vlugtige tussenkoms sien nie. Sy was lief vir hom en was by tye moeilik oor Cope se toenadering.

Jonker se ander probleem was die pa van haar kind, wat skietgoed gesoek het om Simone van haar weg te neem. ’n Openlike poliverhouding sou waarskynlik vir hom in daardie jare genoeg kon gee om Simone deur die hof te laat vervreem.

’n Aanvaarding van hulle eie verhouding as blote minnaars, en dus nie amptelik nie, sou dalk gewerk het; maar die briewe toon hulle was werklik lief vir mekaar en wou dus meer as lovers wees.

Maklik kan ons dus (aanmatigend) “moderne” oplossings probeer bied, maar plaas jou eers in hulle skoene ... Temas wat vandag in die ATKV-Tienertoneel aangeraak word, en die openheid waaroor daar rondom seks gekommunikeer word, is bevrydend. Lees hier. Dit was daardie tyd nie moontlik nie.

Dan was Brink jaloers ook. Hy was werklik benoud oor die feit dat Jack Cope, ouer en wyser, finansieel onafhanklik en soveel nader aan Jonker, haar weer sou kon afrokkel. Om nie jaloers te wees nie, is een van die belangrikste, en moeilikste, elemente van ’n poliverhouding; maar moenie vir Brink te hard blameer nie. Hy was jonk. En hy was eerlik.

Brink se onverhole vreugde in die belewenis van sy seun, Anton, is ewe pragtig. Ook is sy belewenis van en liefde vir Ingrid se Simone baie mooi. Verder is daar ’n teerheid in die hunkering na ’n eie dogter, saam met Jonker, wat baie aangrypend is.

Tog het ek myself telkens betrap dat ek Brink se stem as baie jonk ervaar en moes dan bewustelik afstand doen van die lang man wat gereeld op ’n Sondagoggend Spar toe gestap het vir die Rapport – wêreldwys en gehul in die liefde van sy vierde huwelik.

Hoe wys was ék op 29? Brink se briewe, meer as Jonker s’n, was vir my ’n spieël. Ek het telkens my eie denke daarin raakgeloop – en moes bloos.

Die feit dat Brink bereid was om, kort voor sy dood, homself aan die wêreld te openbaar deur die publikasie van die briewe, is merkwaardig. Brink is nié die een wat in blinkertjies gehul uit hierdie bundel kom nie. Tog het ek vandag baie meer simpatie met hom as ooit tevore.

’n Poliamorie van intertekstualiteit

Verster wys in sy artikel ook dat “Groot ode” weens ander verse bestaan. Hy noem “die figure van Dido en Aeneas in Vergilius se Aeneïs, met Dante se Goddelike komedie, die Beatrice-liefdesage, Rimbaud se Une saison en enfer en die Oudengelse diere-epos The owl and the nightingale.”

Brink was op 29 reeds geweldig wyd belese, en beslis bekend met Dante en Beatrice. Beatrice het ’n soort argetipe vir Nicolette (in Die Ambassadeur) gevorm – selfs dalk vir Brink se beskouing van Jonker. Daar is talle verwysing na Dante in die briewe, maar ook Rimbaud word in die twee se korrespondensie genoem.

Vlam in die sneeu is voorsien van ’n volledige persoonsregister. Om ’n volledige teksregister op te stel, sal waarskynlik ’n magister- of PhD-studie verg.

Brink, veral, was dus baie goed toegerus om Louw se intertekste te snap en te verstaan.

En tog ... Jonker was slim. Haar poësie het nie toevallig gekom nie.

Liefhebbers van Brink en Jonker se werk sal veel baat by die lees oor die ontstaan van sommige van die groot-groot werke in Afrikaans.

Ons sien Die ambassadeur en Orgie voor ons oë groei en dan verskyn. Heelwat latere werke deur Brink word reeds met Jonker bespreek.

Jonker was ook op daardie stadium polities veel meer bewus as Brink, en sy gee hom dikwels raad.

Ook Jonker se tekste, soos “Plant vir my ’n boom, André” gebeur terwyl ’n mens lees.7 Sy skryf in ’n stadium aan hom: “ek herhaal jou” ... Daar is vele meer.

Hierdie versameling briewe toon dat Jonker net so wyd belese was as Brink, hoewel sy net Engels, Afrikaans en Nederlands kon lees – Brink natuurlik veel meer.

Intellektueel was Jonker punt vir punt Brink se gelyke, hoewel sy geen formele opleiding ná skool gehad het nie.

Haar besondere liefde vir Simone is ook pragtig. Talle van die besluite wat sy geneem het, moes om Simone draai.

Dat sy soms emosioneel onstabiel was, weet ons, maar die nugterheid waarmee sy haar eie situasie in die oë staar, is ook interessant.

Selfs al is jy bekend met die storie ...

Die meeste mense wat in die letterkunde belangstel, weet dat Brink en Jonker ’n affair gehad het en dat Jonker selfmoord gepleeg het. Dié van ons wat meer wou weet, het al biografieë oor Jonker gelees en het Brink se Vurk in die pad8 deurgedraf. Ons het Black butterflies9 gesien.

Vergeet dit. Jy ken nie eens ’n breukdeel van die verhaal nie.

Brink is snedig in Vurk in die pad teenoor Jack Cope, en in Black butterflies, wat weer duidelik Cope se kant kies, word Brink se invloed op Jonker heeltemal onderbeklemtoon.

Lees liewer Jonker se eie, nugter insig in haarself en in haar liefde vir André.

Lees wat Jonker sê oor Cope ...

In haar briewe leer jy waaragtig vir Jonker ken, in haar eie woorde. Tog, hand aan hand daarmee, word talle mites rondom Brink ook eiehandig vernietig deur sy woorde oor homself. Selfs toe ek op universiteit was, is gereeld na die mens agter die sensuele romans verwys as sou hy ’n byna onblusbare sekslus hê. Wel. Lus was André P Brink wel, maar ons leer hom in sy laat twintigs ken as ’n redelik kuis persoon wat oorrompel word deur Jonker se seksuele bedrewenheid en dat hy daarna ’n kuis, monogame lewe van masturbasie en drifte lei, hunkerend na ’n vrou wat hy werklik aardskuddend lief het.

Die bundel lees baie maklik

Hierdie korrespondensie raak ‘n mens diep.

Die briewe lees baie makliker as wat ek gevrees het; om die waarheid te sê, dit lees soos ’n roman. Ek is nie die eerste wat hierdie gedagte uitspreek nie. In die voorwoord, deur Willie Burger, staan daar (bl 7):

Die taal waarmee hulle hul eie gevoelens blootlê en waarmee hulle mekaar met ontblotende eerlikheid oor ’n groot afstand leer ken, gee aan hierdie “briefroman” ’n liriese kwaliteit, terwyl voortdurende vooruitwysings en terugverwysings spanning skep.

Burger is ’n gewikste literator en ek dink hy som hierdie merkwaardige “roman” baie akkuraat op.

Die einde

Móénie dat iemand ooit die inhoud van die laaste brief verklap nie. Soos ’n goeie roman jou absoluut oorrompel met ’n laaste paragraaf, is dit hier ook die geval.

Ek het die boek toegemaak met ’n gevoel van ontreddering, al was ek bekend met die feite, selfs met die persone wat beskryf word.

Vlam in die sneeu is ’n beeldskone teks oor ’n onskuldige jong man wat skielik intellektuele én seksuele liefde ervaar. Dit is oorrompelend; veel beter, veel aandoenliker en veel meer spannend as wat ek ooit kon gedroom het; maar wees gewaarsku: dit maak dat ’n mens onmiddellik van die intertekste wil gaan opsoek waaroor hierdie twee soveel geskryf het.

Die eerste teks wat ek van die rak gaan haal het, is Tristia.

Bronverwysings

  1. Louw, NP Van Wyk. 1962. Tristia, en ander verse, voorspele en vlugte, 1950–1957. Kaapstad: Human & Rousseau.
  2. Verster, Pieter. 2015. Die soeke na God in “Groot ode” van NP Van Wyk Louw. LitNet Akademies, 12(3). http://www.litnet.co.za/die-soeke-na-god-in-groot-ode-van-n-p-van-wyk-louw.
  3. Die oorspronklike versreëls lees soos volg:

En nou het die môre my
oor die rand van sy glas gemors
op die stoep by die kraan wat blink
in die uur van die donker dors.

“Ballade van die nagtelike ure” het reeds in 1942 in Gestaltes en diere verskyn. (Louw, NP Van Wyk. 1942. Gestaltes en diere. Kaapstad: Nasionale Pers.)

  1. Steyn, J.C. 1998. Van Wyk Louw, ’n Lewensverhaal. Kaapstad: Tafelberg.
  2. Vergelyk Uys se vertellings aan sy broer, Bokkie. Dit is te lese in Briewe van Uys Krige uit Frankryk en Spanje, onder regie van Peet van Aardt, op bl 102 en elders. (Van Aardt, Peet. 2010. Briewe van Uys Krige uit Frankryk en Spanje. Hermanus: Hemel & See Boeke.)
  3. Nicolson, Nigel. 1986. Portrait of a marriage. Londen: Futura. Enigeen wat hou van briewe tussen geliefdes, sal ook hierdie bundel geniet. Nigel is die glanspaar se seun en hy het hulle briewe beskikbaar gestel. Vir ’n resensie van die teks, kliek hier. http://blogs.litnet.co.za/izak/2010/01/14/portrait-of-a-marriage.
  4. Van hierdie tekste gaan by die US Woordfees opgevoer word. Die toneelstuk Plant vir my ’n boom, André is ’n fiktiewe vertelling van ’n gesprek met Ingrid. Die titel is natuurlik afgelei uit ’n gedig van Jonker met dieselfde titel. Lees alles hieroor in Vlam in die sneeu. En gaan kyk Orgie; jy sal móét wanneer jy klaar is met hierdie briefbundel. Lees meer hier: http://www.litnet.co.za/us-woordfees-teateraanbod-beste-ooit.
  5. Brink, André P. 2009. ’n Vurk in die pad. Kaapstad: Human & Rousseau. Lees veral die hoofstuk oor Ingrid Jonker.
  6. Black butterflies (2011) onder regie van Paula van der Oest, geskryf deur Greg Latter, is die moeite werd om te sien, hoewel dit sonder twyfel vanuit Cope se hoek vertel word. Brink se naam word nie eens genoem nie, hoewel die fiktiewe Marthinus Van den Berg baie duidelik Brink se rol vertolk. ’n Aantal insidente in die film word in die briewe genoem. Lees dit in Jonker se eie woorde. Daar is twee ander tekste oor Jonker wat ook gelees kan word: Metelerkamp, Metrovna. 2003. Ingrid Jonker: Beeld van ’n digterslewe. Hermanus: Hemel & See; en Viljoen, Louise. 2012. Ingrid Jonker: A Jacana pocket biography. Johannesburg: Jacana.
  • 1

Kommentaar

  • Leave a Reply to Paul Murray Cancel reply

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top