Liefde is ... Kortlys

  • 4

Met die oog op Valentynsdag het LitNet lesers genooi om ’n gedig met die tema "Liefde is ..." te skryf. 

Altesaam 148 uiteenlopende inskrywings is ontvang en die volgende 15 gedigte verskyn op die kortlys. Besoek hierdie bladsy om te sien wie aangewys is as die wenners.

Baie geluk aan die digters! (Die digters se name verskyn in alfabetiese volgorde.)

  1. Alida Marais
  2. Ansi Brits
  3. Dietloff van der Berg
  4. Elizabeth Arends
  5. Francois Meyer
  6. Jaomi Zeeman
  7. Marianne Jonker
  8. Maritza du Preez
  9. Marthé McLoud
  10. Melissa Grobler
  11. Petri de Klerk
  12. Susanne Pike
  13. Tinus van Staden
  14. Zalman S Davis
  15. Zerelda Esterhuizen

 

Alida Marais

Die verbond (wat liefde is)

wees nie meer bang nie
geliefde jý
wat die hemel in my skoot kom lê ’t

wees nie bang nie

want ek is met jou
al die dae wat kom en gaan
en al loop jy kaalgevoet en skigtig
is ek met jou

ek is met jou;
as die son jou naam vergeet
en wolke kras oor jou hemel draai
maar wees nie bang nie
want al slaan skurwe klinkers jou
aan die bors
sal ek by jou wees
soos die lengtes van liefhê
en die verbond van ewige dae

wees nie meer bang nie;
want ek het jou myne geroep
soos ’n seker hand
as jou nag se lêplek onbesonne hool
en ek doringtakke uit jou bloeisels
laat val soos dou

want ek is met jou

vir altyd

soos nou


 

Ansi Brits

Liefde is ’n kunstenaar
Hy oes die son se strale saans
en met die agterosse wat na geluk bly soek
verf hy hul met groot geduld saam op ’n doek

Randeiertjies wat op die grond sal bars
skuif hy versigtig in die nes sonder dat hulle knars

Liefde is nie haastig nie
hy luier saam met oud en jonk
en wag geduldig vir hul môrestond

Wanneer die branders woed en bulder
hou hy waak by die duine
en meng op sy palet ’n liefdeslied in sagte pastel.

Hy roep die korhaantjies in ’n kring
Sodat hy vir hul sy vredeslied kan sing.


 

Dietloff van der Berg

O Heer, laat na ’n lang, verskroeiende reis
deur die Vallei van Verlatenheid
U koel Karoowinde in die aande
oor my waai dat ek kan weet
U liefde en genade is so groot
en is met ons verby die dood
en al ons aardse vrees daarvoor
want al kan ek nie die werking
van die wind of wat liefde is
begryp nie, kan ek hier en nou
genadiglik weet hoe dit voel
as my klein wonderwerkie vrou
haar arms in liefde om my vou.


 

Elizabeth Arends

Liefde is vorme van lig

In hierdie duist’re grys mis
van onsekerheid,
onder die strawwe skadu’s
van veroordeling,
deur die dralende newels van
te veel
ter wille van en
heeltemal te min syn
(en samesyn)
durf ek nie
opgee meegee ingee.
Eerder van binne sterk gesmee
óp
sodat ek – wanneer die donker op sy nagste is –
die lig hóóg kan hou
as ’n soeklig wat
nimmer verflou
as ’n skans teen als wat
my wete wil doof
as ’n vlam met tonge
wat die laaste onsuiwerheid oplek
as ’n fakkel wat eindelik
triomfeer en dan
as ’n kompas - vir jou
wat séker die rigting roep:

O, kom dan nou
net een tree nog …
(en nόg)
na hier waar ek stralend
bly wag
totdat ons sáám
vry kan wees en helder
én lig.


 

Francois Meyer

Liefde is soos die winter

weefsel wou nog heimlik heg
in ’n beswyming van jou
na analogie van oorgawes
tot die middernagson 
en sy verskietendes
rondpronk in jou hemeloë –
ligkringe van óns melkweg
intensiveer deur my ysmymeringe
en sluier hittegolwe van dié oomblik ...
felheid van somerfantasieë
deurdring die bevrore begeerte
en ons borsholtes het herfs geword 


 

Jaomi Zeeman

Die liefde is

Die liefde is ’n cumulus
wat konvektief uitpof
met vogdruk wat latent verhit 
en siklies self leegplof.

Die liefde is ’n soutrivier
waar wit windmantels kiel
met rietneste vir vleilandvoëls
wat in sy kuile spieël.

Die liefde is ’n ou matroos 
wat swetsvaarte onthou
met ’n wiggelkim op sy gelaat
en ’n kaai met ’n ankertou.

Die liefde is ’n klein, klein huis
wat sagte sugte slaak
met ’n vuurherd en ’n stoomkombuis
as die dak saans koeler kraak.


 

Marianne Jonker

’n verkleurmannetjie
wat met klewerige voetjies
klein stetoskopies
aan die hartswand sit
en stip
luister hoe klawers teen klankbord
klop-klop
in morsekode vertaal
en hervertaal in kleur
en ons maak dans op die maat van
grys
of geel
of van koraal
terwyl hy selftevrede toekyk
(hy wieg soms begeesterd saam)
klein antieke towenaar
... die liefde is sy naam


 

Maritza du Preez

Verlief

In daardie soen vermurwe ek,
saam met jou lyf se lyne,
die spitsword van jou ken.

Wil ek my toekombers ...
aan jou lag se strelende
vingerpunte raak.

Vintage portraits smeulend
vanuit jou oë se ylblou kyke haal
Onverpoos voor jou hart se poorte waak.

Want jý, skryf die poetry ...
wat my lyf ’n lovesong maak.


 

Marthé McLoud

Valentynsdag

Sewe jaar oud en my pa
lê in die bad die water
is ligpienk en my mond
gil die stilte stukkend.

Pa lê in die hospitaal sy polse
is toegerol in verbande net sy
skelethande steek uit en sy oë
sê nie eens dankie nie.

Een oggend in Mei klim hy
in sy motor en verdwyn.  
Hy het dan nog die oggend saad
uit honderde katalogusse bestel?

Ma koop vir haar ’n dubbelgraf
so asof Pa na drie-en-dertig jaar
soos ’n verdwaalde olifant sal onthou
en na sy saad terug sal keer.

Elke jaar op Valentynsdag pluk ek
vir hom vergeet-my-nie's,
sit dit in ’n pot bo die kaggel
en wonder: Is dit wat liefde is?

(Na Richard Zimler se kortverhaal "Personal Fulcrums")


 

Melissa Grobler

Liefde is,
beloftes oor die son en die maan

maar

ek voel nog steeds hoe my doene spartel om rein te bly,
My intensies, wat selfsugtig mense verlei 

te vermy

ek moet bid vanaand,
ek sal die verontagsaming
afstry


 

Petri de Klerk

Inwyding

die afwagting      ’n sluier lig
die vae gedaante van die geheue
bly vasvang, bly invou:
’n ooparmafdruk van ’n engel
so tuiskomswarm so toedeksag
ingewikkel tot een samehang

o my naaste naaste, die skerp onthou
sypel blink en blindelings
die liefde wat mens toe-oë salf
met trane so warm soos bloed
skeur hemele voor ons oop
oop soos ’n wond
en sluk die heiliges stil
voor oomblikke wat stadig stadig
val soos ’n kleed
en my naakste naakste fluister

kom maak my vorm volmaakvol
lê hande oor my binnedom
sonder dekmantel, sonder skyn:
die ligdag straal so oopgordyn
en huldig in warm grepe
dat selfs die lae onder my vel bly voel
hoe die lewe beweeg van naderby

die liefde is ’n insakaanraak
ter inseën en voltooiing


 

Susanne Pike

liefde is ’n tydbom

per maand    per week    per dag
per uur
(per se)
het ons passievuur
verskrik verstik
in genadelose terugtik
van kwaliteittyd –

skugter geretireer as ek dit weer
in my kaal arms wou vang
om die bitterallenigheid (bang)
aan die klokwerk van jou hart te hang: 

in my toekomsberou
sal ek steeds ons tydloosheid onthou
as ek ons loslyfliefde
nog net één ewige sekonde
in my hartseerhande vas kan hou


 

Tinus van Staden

ek het gisteraand ’n jyvormige
leemte op my kussing uitgebloei
voor slaap se belofte
dat sy sal kom as ek soos ’n offer
jou afwesigheid aan ingrid sal wy

so strooi ek nou ’n roosrooi
sloop oor die see se wange,
want sý weet mos lankal –
die liefde’s niks anders
as die verlange


 

Zalman S Davis

Jou liefde sal om my verstyf

Liefde vorm wanneer Picasso
sy kwas in rooi doop en die buitelyne
van jou mond op canvas vorm,

die gousblomme op die dorre
Karoo-vlaktes knoop,

En jy, my lam,
wat met jou lyf
in my lêplek nesmaak.

Ek onthou toe jy wieg-wieg
in my arms lê op ’n Guy-Fawkes-aand
op Mosselbaai,
en vir my singend van appelliefies vertel het,
en die skape teen die berg se hange.

En nou’s al jou liefde om my verstyf
wanneer ek die sterre
soos bruin vlinders
vanuit die lug pluk.


 

Zerelda Esterhuizen

Breytenbach sê dit met ’n rooiborsduif
en Boerneef met ’n veer
Maar laat ek gou rymelary en gevleuelde woorde keer,
want as die liefde suburbia, selluliet, snot, koors en skuld oorleef
is dit liefde
Dis daai hand wat donkernag na joune soek
die holte van twee lywe op ’n matras
die takeaway ná die soveelste verbrande kos
die sag praat in die stil ure van die nag
So mits dese wil ek vir jou sê
Liefde is nie net ’n engel nie
Maar dis die liefde
En dis al

  • 4

Kommentaar

  • Tanya Hoffmann

    So eenvoudig gedig, tog skree die prente wat dit optower in mens se kop. Pragtig, Marthé McLoud.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top