Liefde is ... Inskrywings (V)

  • 1

Hier verskyn nog inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Liefde is ..." ontvang is.

Inhoud:

  • Alida Walker
  • Petri de Klerk
  • Christiaan du Plessis
  • Sunelle Geyer
  • Caryn Roberts
  • Annora Eksteen
  • Helena Mellet
  • Theresa Postma
  • Suzanne Ongansie
  • Marthé McLoud
  • Clive Ontong
  • Jessica Venter
  • Debbie Coertse
  • Caren Kearley
  • Henri von Steen
  • Chantal Pretorius

 

Alida Walker

Tweeling van my siel

Eenling, eensaam, egoïsties
was ek in my wording
van menswees sonder maat.
Hunkerend, vol heimwee en o so hol
soekend na vervulling
en toe ontmoet ek jou . . . tweeling van my siel
nou
verdubbel ons die geluk
halveer ons die smarte
want
emosies stort na vore
in die krake van my glimlag
vulkane gevul met vreugde
bars oop en vul my lewe
terwyl bloed (die lawa van my hartklop)
stormwater speel in my are
bereik ons hoogtes of daal ons neer
maar
nooit ooit my geliefde
sal leemtes my hart weer vind.
Vir ewig is ons, my beminde,
aan mekaar verbind.


 

Petri de Klerk

Inwyding

die afwagting      ’n sluier lig
die vae gedaante van die geheue
bly vasvang, bly invou:
’n ooparmafdruk van ’n engel
so tuiskomswarm so toedeksag
ingewikkel tot een samehang

o my naaste naaste, die skerp onthou
sypel blink en blindelings
die liefde wat mens toe-oë salf
met trane so warm soos bloed
skeur hemele voor ons oop
oop soos ’n wond
en sluk die heiliges stil
voor oomblikke wat stadig stadig
val soos ’n kleed
en my naakste naakste fluister

kom maak my vorm volmaakvol
lê hande oor my binnedom
sonder dekmantel, sonder skyn:
die ligdag straal so oopgordyn
en huldig in warm grepe
dat selfs die lae onder my vel bly voel
hoe die lewe beweeg van naderby

die liefde is ’n insakaanraak
ter inseën en voltooiing


 

Christiaan du Plessis

gryswoorde

dis tussen die oop blou hemel
en die spuitnaalde op die sypaadjie,
daar vlerk iets van die liefde

dis in die hoek van jou mond
ná jy my sien en
by die venster uitkyk altyd
wys die liefde ditself in vlietende stukkie

tussen die herwinde, swart-en-wit, pop-opinies
van woorde oor wat liefde is
is dit:
’n kind wat sien hoe ouma teen skemer oor oupa se wang vryf
in soveel skakerings van grys


 

Sunelle Geyer

Liefde is ’n regsgevoel

Liefde is bladuitleg
as jy ook skielik op die redaksie dien
saamstap deur Magnoliadal
matriekvakansie
poskaarte uit Parys en
sonderophousoene as ons Inleiding tot die Reg moet leer

Liefde is vasdans
gedigte skryf in die Op-Reggebou oor jou
Sharper Image-arms om my vas te hou
woorde maak op ’n ongerepte strand
en uiteindelik net die vruggebruik van jou
Uitleg van Wette-notes

Liefde is Tukkieweek
ons lywe nat en bruin en jonk
“Jessie paint your pictures
‘bout how its gonna be”
om die stryd in mekaar se oë te sien
te verstaan ons moet dit nóú laat vaar

Liefde is sêr
as uit die hele gehoor ek
doer agter
BLC LLB
één uit die donker in die
lig sien tree


 

Caryn Roberts

’n Gedig aan my man

Liefde is ...
Die oggendlied van die tortelduif
Met jou hande styf om my lyf,
Met jou oë, jou mond,
Jou drome deel ...
Elke wens saam met jou verbeel.
Liefde is ...
Deure toeslaan
Met harte oop –
Om te bly wanneer die wêreld sê Loop ...
Om te probeer wanneer jy op wil gee,
Om daar te wees – tree vir tree.
Liefde is ...
Oggend-asem en skelm poep ...
Om te antwoord wanneer dit jou hart is wat roep.
Om te gee soms sonder om te ontvang,
En te deel in drome al is dit nie in jou belang.
Liefde is ...
’n roos sonder rede,
’n gedig ...
’n lied!
Liefde is die antwoord op jou gebed!


 

Annora Eksteen

Liefde is my berg-engel

sy – wat eenkeer per jaar deur my bergdorp sweef
stop en aan my venster klop
inloer en sê
sy is nog steeds
so lief
vir my


 

Helena Mellet

Nog ’n dag

Met die eerste strale van die son
streel sag die dag se groet
oor jou slapende gesig
waar ek bevoorreg en geseënd
jou asem teen my voel
as ons saam ’n nuwe dag begin
en gister se ure
deel word van ons sprokie


 

Theresa Postma

Daardie dag was anders gewees

Daardie dag was anders gewees.
"Die seuns het my in die koi-dam gedoop," het hy vertel.
Ek kon die lied van die water steeds hoor galm aan sy lyf,
woorde wat akoesties gaan die hemel vol.
Vroeër het hartseer klotsend in my skoot gespoel.
Ek het gehuil oor die las wat ek nie kan dra nie
oor divertikulitis, die operasies en sy hartaanval
die nagelate letsels soos tatoeëermerke op ons lewens
die pyn wat sy postuur oumankromrug trek
en sy stofbedekte audi waarvan die vlees ook gebreek is.
Ek het gehuil omdat hy vir my koffie in die bed bring
en die vuil skottelgoed was,
die takbokvaring en bonsai's met soveel sorg natlei.
Ek het gehuil oor die las wat ek nie dra nie
omdat dit lankal reeds by God was.
"Ek het jou lief," het hy gesê.
Ek het gedink aan die alewige pille en sy sperwyd oë
die waas van afwesigheid
soos ’n gesig met geen gedagtes nie,
die seer stiltes in ’n wond wat uitbloei.
Tóg het ek geweet ek kan hom glo
want daardie dag was anders gewees.
Ek het die liefde geroep
en die liefde het gebly as dun wit splinters aan my hart.


 

Suzanne Ongansie

’n paar korreltjies suurdeeg
knippie sout
kruie of speserye
na smaak
nét genoeg
om te eet
waardeer
te verteer
en dan te smag
na meer


 

Marthé McLoud

Valentynsdag

Sewe jaar oud en my pa
lê in die bad die water
is ligpienk en my mond
gil die stilte stukkend.

Pa lê in die hospitaal sy polse
is toegerol in verbande net sy
skelethande steek uit en sy oë
sê nie eens dankie nie.

Een oggend in Mei klim hy
in sy motor en verdwyn. 
Hy het dan nog die oggend saad
uit honderde katalogusse bestel?

Ma koop vir haar ’n dubbelgraf
so asof Pa na drie-en-dertig jaar
soos ’n verdwaalde olifant sal onthou
en na sy saad terug sal keer.

Elke jaar op Valentynsdag pluk ek
vir hom vergeet-my-nie's,
sit dit in ’n pot bo die kaggel
en wonder: Is dit wat liefde is?

(Na Richard Zimler se kortverhaal Personal Fulcrums)


 

Clive Ontong

Gesteelde uurtjies

Die ongeduldige afwagting …
dan die blydskap
wat blits deur my liggaam,
óns uur is hier,
die dag van ons samesyn.

Dit waarvoor ons so lank moes wag,
uiteindelik is jy myne
al is dit net vir ’n paar uur,
en so vlieg al die gesteelde uurtjies.

Dan die totsiens met net herinnering wat hou,
so tel ons elke sekonde tot ons weer ontmoet.


 

Jessica Venter

Rubáiyát 1

my liefde skenk vir jou ’n wens
’n fluister uit my hartslens
vloei douwoorde ’n seën
na holtes van my siel se spens

wanneer kristaldruppels hoop verleen
oor my dowwe spore reën
en as vrede in my hart kom sing
weet ek jy's net vir my geleen

elke keer as jou lag sonskyn bring
en so my pêreltrane verdring
dans vreugde oor my voorstoep spontaan
ons liefde is volbring

onder satynsagte lig van die volmaan
het ons harte reeds verstaan
huppel geluk deur my siel
jy's die kern van my bestaan


 

Debbie Coertse

Liefde is ...

Wanneer jou oë die eerste keer na my kyk –
Jy my opsom en in jou klaar bely
Vir my gaan jy nog eendag kry!

Jou eerste aanraking was sag en vol deernis ...
met liefde vol betekenis ...

Jou hartklop was vinnig!
Jou liggaam het jou gevoel verraai
en nou weet ek hoekom my kop so draai.


 

Caren Kearley

Die lewe se vlam

Dis nie die lewe nie, dis die liefde
wat homself onuitblusbaar vuur
uitspattend en oogverblindend –

dis hoe ek jou ook gevind het
toe jou facebook-boodskap
’n halwe leeftyd te laat
my inbox bederf het.

Met ’n oorjas vol dou
het ek sleepvoet gestap tot by jou
net om te onthou
– dis jóú son
wat die soliede lyne
van my ewenaar versier.

Ek wou toe al woorde hê
om met ’n leë bakhand vir jou te sê:

“My hart is joune
my lippe ook
want sonder jou 
is die vlam van my lewe verkramp.”


 

Henri von Steen

Liefde is ...

soos doringdraad en
jy is my lewensmaat en
ons verhouding word ’n roosboomblaar.

Ons het mekaar deur die liefde gevind
mekaar met houtfotorame opgebind.


 

Chantal Pretorius

Liefde is ...

meer as net ’n sesletterwoord
dit spreek boekdele met jou
hart en siel
en liefde is wat almal verdien!

  • 1

Kommentaar

  • Baie sterkte aan al die deelnemende skrywers. Mag die liefdesvlam vir Afrikaans hoog bly brand.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top