Liefde is ... Inskrywings (IV)

  • 1

Hier verskyn nog inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Liefde is ..." ontvang is.

Inhoud:

  • Mia Dijkstra
  • Elize Barnard
  • Francois Meyer
  • Roeline van Schalkwyk
  • Patricia Viljoen
  • Alida Marais
  • Dietloff van der Berg
  • Paula Rossouw
  • Luisa van der Linde
  • Nicci Hefer
  • Anneke Langner

 

Mia Dijkstra

Liefde is vrye vers.

Liefde is wanneer jy my sug, so sag soos ’n blom wat verlep, hoor.
Liefde is giggels, vuurwarm soene en stywe handdrukke, al is ons grys.
Liefde is warm koppies hoop en versterking terwyl ek laat werk.
Liefde is wanneer jy my drome se doringdraad vir my lig, sodat ek kan groei.
Liefde is eenvoudig en vryheid binne veiligheid.
Liefde is onvoorwaardelike kruideniersware met rooiwyn pasella aan die einde van die maand.
Liefde is ’n begeerlike steelstaar as ek so deurskynend moontlik my broekbottelnek deurwurm.
Liefde is die Lotto van emosies, die salf vir my seer, my mallemeule van plesier en die lawa in my are.


 

Elize Barnard

Liefde is ...

Jou sagte aanraking op my lyf
Fluisterende liefdeswoorde en nie geskryf
Jou drukkies en soene net wanneer ons wil
Maak al my verlange na jou so stil

Liefdesbetuigings hou nie op hoe ouer jy word
Dit groei en blom en dit kom niks kort
Woorde en dade is wat ’n vrou wil sien
Geskenkies en bederfies so onverdiend

Opbouende woorde is vir die siel ’n lafenis
Elke vrou wil dit hoor, dit is gewis
Kwaliteit-tyd moet jul aan mekaar afstaan
Met God aan die stuur, sal alles goed gaan

Diensbaarheid doen liefde die wêreld se goed
Jou soene is altyd so soet
Weet dat ek jou lief het net soos jy is
Ons liefde gebou op die Rots, dis gewis.


 

Francois Meyer

Liefde is soos die winter

weefsel wou nog heimlik heg
in ’n beswyming van jou
na analogie van oorgawes
tot die middernagson 
en sy verskietendes
rondpronk in jou hemeloë –
ligkringe van óns melkweg
intensiveer deur my ysmymeringe
en sluier hittegolwe van dié oomblik ...
felheid van somerfantasieë
deurdring die bevrore begeerte
en ons borsholtes het herfs geword 


 

Roeline van Schalkwyk

my hartwarmlugballon

ek wil so graag, my hartedief
my warmlugballoon in ’n rooi hart verf
en ek weet
soos die vlam sal my liefde
binne-in jou lyf warm hou
en ek wil die ballon
hoog in die lug laat dryf
en waar ook al jy gaan
daar sal die ballon vlieg
soos my stukkie sweef saam met joune

kyk, my liefde is vir jou gemaak
gevorm uit jou hart
jou hart my hart
jou liefde my liefde
gemaak soos my hartwarmlugballon
en die begin einde van die wêreld
mag my hartballon
deur donker donderstorms
en lieflike lentedae
ons liefde rooi oorvloei


 

Patricia Viljoen

As liefde nie
maanskyn en rose
kaggelvuur en soetwyn
bloesende wange
en flinders in die maag is nie –

wat is dit dan?

liefde is die storms
terwyl jy vir die reënboog wag
dit is langs ’n siekebed sit
terwyl jou hele liggaam na slaap smag
dit is om elke sent om te draai
terwyl julle wag vir die skip
dit is om agteruit te staan
sodat jou eggenoot sy merk op die wêreld kan druk

dit is kouse op die vloer
en tandepasta in die bak
dit is die sagte drukkie
wat ’n moeilike dag beter maak
dit is om saam te lag
al wil jou binneste soms huil
om saam Christus te ken
en veilig by Hom te skuil

liefde is opoffering
om ’n ander eerste te stel
liefde is ’n vergifnis skuld
in ’n neutedop is liefde geduld


 

Alida Marais

Die verbond (wat liefde is)

wees nie meer bang nie
geliefde jý
wat die hemel in my skoot kom lê ’t

wees nie bang nie

want ek is met jou
al die dae wat kom en gaan
en al loop jy kaalgevoet en skigtig
is ek met jou

ek is met jou;
as die son jou naam vergeet
en wolke kras oor jou hemel draai
maar wees nie bang nie
want al slaan skurwe klinkers jou
aan die bors
sal ek by jou wees
soos die lengtes van liefhê
en die verbond van ewige dae

wees nie meer bang nie;
want ek het jou myne geroep
soos ’n seker hand
as jou nag se lêplek onbesonne hool
en ek doringtakke uit jou bloeisels
laat val soos dou

want ek is met jou

vir altyd

soos nou


 

Dietloff van der Berg

O Heer, laat na ’n lang, verskroeiende reis
deur die Vallei van Verlatenheid
U koel Karoowinde in die aande
oor my waai dat ek kan weet
U liefde en genade is so groot
en is met ons verby die dood
en al ons aardse vrees daarvoor
want al kan ek nie die werking
van die wind of wat liefde is
begryp nie, kan ek hier en nou
genadiglik weet hoe dit voel
as my klein wonderwerkie vrou
haar arms in liefde om my vou.


 

Paula Rossouw

In sessies van soete stille denke
word herinneringe helder prente,
waar die verlede ontvou,
en dan dink ek aan jou.

Dertig jaar is jy deel van my lewe
my vriend, my lief, vennoot en strewe,
na beter kennis van jou siel en hart.
Dankie vir liefde, lag en soms ook smart.

Veel meer jare mag ons saam wees
die stiltes vul met gesprekke uit die gees,
saam in ons drome geluk najaag.
Gelukkige Valentynsdag.


 

Luisa van der Linde

Reis

My hart is oor die see
dit vlieg in stukkies en brokkies
oor berge en dale
pieke en paaie

Waar jy stop
by mere en diere
mis dit ’n slag.

Dit loer oor jou skouer
as jy vinnig koffie sluk
voor jy board.

... en nestel vrypostig teen jou
as jy jou lang bene dubbel vou
in die beknopte vliegtuig.

My hart voel veilig by jou
Dit reis met jou saam.


 

Nicci Hefer

Die Liefde
(Gebaseer op 1 Kor 13)

Die liefde is geduldig,
Maar aai die mens is so gulsig.
Die liefde is vriendelik,
Tog die mens is mislik.
Die liefde is nie afgunstig nie,
Maar die mens, hy is jaloers.
Die liefde is nie grootpraterig nie, 
Tog die mens en sy spoggery is broers.
Die liefde is nie verwaand nie,
Maar ja, die mens is eiewys.
Die liefde tree nie onwelvoeglik op nie,
Tog die mens is met onfatsoenlikheid gekys.
Die liefde soek nie sy eie belange nie,
Maar die mens is met sy voordele gemoeid.
Die liefde is nie liggeraak nie,
Tog die mens is tot aanstoot geneig
Die liefde hou nie boek van die kwaad nie,
Maar by die mens ontstaan daar net weerwraak.
Die liefde verbly hom nie oor onreg nie,
Tog die mens maak homself skuldig aan onregverdige daad.
Die liefde verheug hom oor die waarheid,
Maar die mens floreer in sy leuens.
Die liefde bedek, glo, hoop, verdra alles.
Tog daarsonder lei die mens nuttelose lewens.


 

Anneke Langner

Die liefde is …

Die liefde is
die sweempie
soet heuning
in die byekorf

die dooprok
aan ’n ongoddelike
stout baba
wat skree,

die poskaart
en koevert
– gesoenseël –
in ’n soldaat se sak …

die rooi en wit
blare van vars
geplukte rose
in ’n oop graf.

Die liefde is
’n paradoks
vir die mens se
G e b r o k e n h e i d

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top