Liefde is ... Inskrywings (II)

  • 0

Hier verskyn nog inskrywings wat vir LitNet se skryfkompetisie "Liefde is ..." ontvang is.

Inhoud:

  • Susan Tiervlei
  • Ursula Elize Botha
  • Michelle Venter
  • Margy Pretorius
  • Hélène van Wyk
  • Lize-Mari Steyn
  • Hesté Dannhauser
  • Lindi de Jager
  • Emile Moelich
  • Sunita Keyser
  • Jeanette Snyman
  • Marissa du Plessis
  • Margeaux Vorster
  • Karen Ellis

 

Susan Tiervlei

Liefde is

wanneer die regterhand nie weet wat die linkerhand doen nie
wanneer mense jou met klippe gooi
en jy gooi dit nie terug nie

wanneer jy vir jou kinners sê hulle is mooi
al is hulle met ou klere opgetooi
liefde is wanneer jy vir jou stout kinders bid
wanneer hulle jou deur hel sit

wanneer jy jou naaste bystaan
wat besig is om van die honger te vergaan
wanneer jy tyd uitkoop vir jou bure of familie wat op ’n siekbed lê
dis die tyd wanneer hulle jou teenwoordigheid die nodigste sal hê

liefde is wanneer ’n man tyd maak vir sy vrou
deur hard te werk om hulle liefde aan die brand te hou
wanneer die vrou haar man pamperlang
en hom nie rede gee om na ’n ander vrou te verlang

liefde is wanneer ouers gereeld vir hulle kinders sê
hoe geseënd hulle is om hulle in hul lewe te kan hê
wanneer die kinners tyd maak vir hulle ouers, veral op hulle oudag
want dan het hulle nie meer so baie krag

liefde is
baie goed
vergifnis, deernis
geduld, hoop, vreugde, vrede, verdraagsaamheid
veroorsaak soms moeilikheid
’n mengsel van bittersoet


 

Ursula Elize Botha

Liefde is wanneer ek verdwaal in die diepte van jou oë
Dis wanneer my hart vinniger klop as ek jou stem hoor
Ek kyk vir jou en jy vir my
Ons harte is saam so bly
Jou lippe sag, jou soen so soet
Dit herinner my aan lekkergoed.
Die liefde is klopdisselboom wanneer ons saam oor die toekoms droom.
Die liefde is soos goeie wyn ...
Bring die skoenlappers, bring champagne
Saam sal ons liggies helder skyn.


 

Michelle Venter

Liefde is nie net ’n woord nie, dit is ’n gevoel
Die diepste gevoel wat ek vir jou bedoel
Ek wil saam jou sing
Maar dit is moeilik om te doen
Jou woorde verskil van myne
Ek wil saam jou dans
Maar dit is onbegonne deur my wat afbeen is
Ek wil saam jou lag
Eendag wanneer jy ophou huil

As ek skree vir jou, my engel
Sal jy dan my roepstem hoor
Of moet ek eerder vir jou fluister
Die sang van ’n engelekoor
Dalk eendag as jy luister
Sal jy ook weet liefde is nie net ’n gevoel nie ...


 

Margy Pretorius

Liefde is ...
’n oop voëlhokkie

Bietjie saadjies en ’n stokkie

En die vryheid van
vlug

Liefde
bring jou altyd weer terug.


 

Hélène van Wyk

Jy is vir my
Marseille

In die breek
Van elke baguette
In elke happie
Kaas
Jy is die anys
In elke slukkie Pastis
Jy is die Nicoise-slaai
Op Bandol se hawe
Jy is die bougainvillea-ranke
By Cassis
Jy is vir my
Die azure
Van die Calanques
Jy is die lang tog
Na die
Notre-Dame de la Garde
Jy is die uitsig
Op die see by
Aix-Marseille
Dit is jy

Jy is vir my
Marseille


 

Lize-Mari Steyn

Met jou liefde, soos ’n ou sprokie,
Het jy vir my ’n liefdesboodskap vertaal.
Daardie storie, wat jou altyd laat terugdink aan slaaptyd onder die helder pêrelmaan.
Sorgloos, warm en spontaan ...

Met al jou mooi woorde wat verdwaal, in my hart se glaskasteel, het al die donker gange, weer liefdesliedjies op herhaal begin speel, kleur gekry, met ’n melodie wat altyd in die lug sal bly.
Stille water, diepe grond, suikerbossie in jou mond, jy het sonder twyfel, my hart kom steel.

Jong soldaat, voer ’n oorlog binne my, saam sal ons met oorwinning hierna kyk,
Jy het die pad gevind, die kompas van my hart het jou gelei,
Die feëprinses, het uiteindelik haar held gekry.


 

Hesté Dannhauser

Sonder dat ek werklik besef,
het jakkarandabloeisels my saai, leë bestaan kom kielie en koester.
Jy het op jóú manier,
stadig in my wese kom inklim en groei.
Ek kan sê wat ek bedoel
en wees wie ek is.
Jy vat my nét soos ek is –
onvoorwaardelik,
sonder vereistes en vrae.
Dankie, Heer, Almagtig God.
U het my weereens;
vir die soveelste keer laat besef –
U is aan die stuur van sake


 

Lindi de Jager

Filterliefde

Liefde is ’n grougrys filter tussen my en jou
’n Film wat verdraai
Die blou van Facebook sê alles is goed en wel
Ons lewe grotesk verfraai
Ons selfgemaakte Kersboom van houtpaaltjies is reg in die mode
Gepas afgewit
Die batteryliggies wat diep in Januarie steeds flou skyn verklap niks van Desember
’n Lewe te vroeg afgesit
My glimlaggende selfie kry ’n lewe van haar eie, soos ek gesmag het
’n Groot genoeg gehoor
Terwyl hy by ons huis my pogings tot nuwe voornemens ignoreer
Woordpyle my deurboor
Liefde is die filter tussen ons, sodat jy kan sien wat ek wil hê gesien moet word
Rosig pienk gekleur
Want die waarheid is skelrooi en vloekoranje en nie lekker om te deel nie
Ons huis bewapen en beleër
Ek wonder of die filter jou huis, jou lewe, ook sagter en mooier laat lyk
Met reënboog en sprankel
Sodat ek ook net kan kyk waar getuies mag sien wat julle aan mekaar doen
Terwyl jy ook seervaal wankel


 

Emile Moelich

Wat is liefde?

Elkeen het sy eie definisie.
Vir party is dit ’n visie.
Vir ander ’n kompetisie.
Vir sommiges ’n mooie liedjie,
van ’n ou geykte rusie.
“Tugtig hom wat jy lief het.”

Is dit die liefde?
Om te onthou om te onthou.
Om oop wonde oop te hou?
En te rou.
En almal in die proses te kou.
Of?
Om te vergewe en te vergeet.
En saam met jou naaste te eet.

Elke Jan het sy San.
San kyk wat is in Jan se kan.
Saam kry hul dieselfde van.
San werk met die pan.
En Jan by die dam.
Saam kry hul ’n hanslam.
En geniet saam die ham.
Jan is ’n regte ou ram.
En kan San se hare kam.
Daaronder by die dam.
Nooit word hul vir mekaar tam.
Hoog brand hul twee se liefdesvlam.
Van die roes en roet in Roedtan.
Tot die saamsing, in Swellendam.


 

Sunita Keyser

liefde is

liefde is
die onsigbaar net
wat onverpoos
tydloos
en simmetries
kortlengte mikrogolf
data van omgee
uit die sender
van my hart
in die gelade lugruim stort
’n sein wat speur
om al soekend
sonder draadwerk
net met jou
te bind
te bluetooth
maar daarvoor moet jy
baie naby aan my wees
by my bly


 

Jeanette Snyman

Liefde is soos vuur in die bloed
maar sonder suurstof bly net roet

Liefde is waarna die mens die meeste smag
en as jy gelukkig is, tref dit jou op ’n dag

Liefde is bedagsaam wees en luister
nie selfgerig met die ander in die duister

Liefde is soos helder water
waarin kinders heeldag skater

Liefde is ’n skuiling om in te lewe
binne voel jy veilig en sonder bewe 

Liefde is om te vergeet en vergewe
Seker die allermoeilikste in die lewe

Liefde is die suiwerste by ’n ma
Sy wat jou naaste aan die hart dra

Liefde is ’n viering van die lewe
Daarsonder is alles ’n sinnelose strewe


 

Marissa du Plessis

Hy was heuning

Ek wil gedigte skryf oor jou lyf met my mond
Stroopsoet heuningkind

Jy hou my gedagtes vas,
daar waar jy is,
ver ver heuningkind.

As ek my oë toe maak
sien ek die heelal van jou siel in my hart dans.
Ek sien die sirkels wat jou vuurpylwese
in my wentelbaan laat.

Want waar ek nou lê en rondrol
en jy van sy tot sy draai,
ver, ver weg heuningkind.

Weet ek en jy,
ek of jy is op die verkeerde plek.

Sterligkersies en floumaan aan jou voete,
Melkweg-glorie.

Heuning
Kind
Stroopsoet
Kind

My stroopsoet heuningkind.


 

Margeaux Vorster

Liefde is…

Gevoelens sonder ervaring
Gevoelens wat nooit gevoel was.
Daar is honderde metafore
Wat bestaan uit woorde,
Om te verduidelik wat jy net kan:
Voel.
Beleef.
Ervaar.
Jy is liefde,
Ek wil jou net:
Voel.
Beleef.
Ervaar.
Ek wil op jou skryf met metafore sonder woorde.
Ek wil voel waar daar emosioneel,
Fisies en geestelik nog nooit gevoel was.
Ek raak aan jou, sonder ervaring.


 

Karen Ellis

Liefde is

waaghalsig
soos prooisoek-kat
vir hart wat
by joune legkaart pas

bevestiging van
wat is en nie meer
wat kan wees nie

reëndruppelsoene
op Vrystaatse grondpad
handevleg saamwees

die lente in die winter
die somer midde in die herfs

verliefwees-vreugde
kwistig geverf
vlamhelder innigheid

molblind
rondomtalie dronk
granaatsoet mooi

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top