Leopard’s Leap-Leesmedalje: Dad – Joan Hambidge

  • 0

Hambidge se Dad word ‘n werklike belewenis in bekende eenvoudige woorde, ‘n woordbegeleiding na die verlede … Dad word gou ook jou Dad, jou grootouers, jou Ma en jou verlede.

Dad word lewend in die plekke waar jy jou familie, met al hul dinge, in jou siel se jaarringe gestoor sien opstaan en herinneringe lewend word. Dad se woorde rym in die lewenseenvoud, nie in woorde nie.

Dad, met Hambidge agter die spieël, spieël ondersoekend die leser se eie belewenisse van sy eie Dad en skets dan in gewone sketse, ongerymd ru klip van die eie Gibraltar’s. Dad skink later met sy klein orkessie in die lewensplekke waar baie vuil skottelgoed staan ‘n groot kelk wyn vir die leser, omdat Dad wyse musiek maak deur die “mishaps” van die lewe.

Dad is ru met jou herinneringe van die verlede, aards, onpretensieus en ongewoon, omdat Dad die leser se eie Pa oproep en hy en Dad dieselfde dinge begin doen, dieselfde dinge bedoel, dieselfde dinge sê en op dieselfde manier ordentlik is soos hulle aantrek.

Ma word ook in ‘n mindere mate die leser se ma, kromgetrek met die tyd, maar dis hier waar Hambidge met haar ryme misbruik maak van die leser se gewete, sorg dat die redelike leser nie objektief wil bly nie. Kort-kort word die leser genoop om saam met Totius te wil uitroep: “O, die pyn-gedagte ...”

Hambidge beskrywe in enkele woorde louterend die voorbereidende “tyd” waarin die leser weet dat Dad en sy ouers moet heengaan, die onbeskryflike verliese aan jou eie word opgewel, liefde wat afsterf, kromgetrek en soos Ma sê: “verkieslik nie in haar woorde en versies vasgevang moet word nie.” Dis asof sy wetend wil gaan rus en die herinneringe van hierdie wêreld vir ewig wil nalaat.

Hambidge tref mens steurend in “Lyfgedigte ix”:

“Hier sit hulle, my ouers
Die twee ou vernieldes
In ‘n gedig van hul naasoudste kind …”

En voor die leser hom kry, sit sy ouers met hul vermaninge in Hambidge se woorde vir jou en “my kind” preek, wys vinger en vermaan jou verstand en rebelse vrae tot rede. Hambidge bring jou daar by hoeveel plekke waar jou ouers so kenmerkend en geplooid gesit en koffie drink het, in die kombuis, op die stoep, voor die koolstoof … om die tafel, met ma se ewige beskuit, draadloos sit en luister.

Hambidge soldeer ‘n mosaïek van verganklikheid wanneer sy in aardse eenvoud Dad drapeer wanneer sy in “Vyf” vir hom ‘n blou hemp met ‘n das saamstuur met die woorde in ‘n kaartjie: ”Dad, jy moet veilig reis …”

Mens onthou Dad se oë, in trane en op skrefies, diep beplooid waar hy in eenvoud en afhanklikheid opreg opkyk na God toe, en dan gee Hambidge ons Dad af na die ewigheid: “veilig reis … Dad, was die wense van die kant”. Die verlies tref jou en Dad moet weer gelees word.

Dad word onverganklik as die leser hierna weer in “Huisgodsdiens” Dad lewend voor jou sien staan. Dan word Dad die rede waarom God Magtig en geloofwaardig is, wanneer die leser die rede vir Dad se plooihande onthou ... en God se bestaan definieer.

My Pa

My pa was ‘n ankerman
‘n Old Mutual man,
Een wat kinders ‘n lewe wou verseker …

Pierre van Niekerk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top