Leiers en loskoppe

  • 9

Ek wonder of die DA se onervare en seremoniële leier Mmusi Maimane oor die moed, wil of vermoë beskik om sy party se “loskoppe” soos Solly Msimanga en Helen Zille in toom te hou en te temper?

Maimane (36), ook ’n pastoor in die konserwatiewe Liberty Church, is ongetwyfeld “onervare” omdat hy eers in 2014 ’n parlementslid geword het en in Mei 2015 tot DA-leier verkies is omdat Zille, voormalige DA-leier, glo daarop aangedring het dat hy haar as leier opvolg. Selfs buite die parlement het hy nie veel ervaring nie, want hy is in 2011 tot ’n Johannesburgse stadsraadlid verkies.

Hy is ’n “seremoniële leier” omdat hy slegs die “swart gesig” is van die DA wat hom dienstig gestel het om swart stemme te trek om regsebelange te bevorder. Zille, Wes-Kaapse Premier, is die de facto leier en James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, is eintlik die parlementêre leier of leier van die amptelike opposisie.

Maimane is ’n lewendige spreker sekerlik vanweë sy ervaring as prediker, maar sy toesprake is met substansie dun gesaai. Hy klink meer en meer soos ’n populistiese leë blik.

Kort na sy verkiesing as DA-leier in 2015 het ek geskryf:

 “Mmusi Maimane is op dieselfde plek as wat die Britse Arbeidersparty in 2010 met Ed Miliband was – tussen die duiwel en die diepblou see”.

Niks het intussen verander nie.

Trouens, Maimane word meer seremonieel, terwyl jong wit Engelse mans, met Ikeys of Wits akademiese grade, die DA verder regs druk om (wit?) minderheidsbelange te bevorder.

Die DA is koersloos sonder enige werkbare idees om antwoorde vir die komplekse politieke, maatskaplike en ekonomiese uitdagings na apartheid te bied.

Hul teenstand teen die regering se voorgestelde minimum loon van R3 500 is ’n absolute skande en getuig van hul politieke skynheiligheid omdat hulle voortdurend die  intellektuele vermoëns van die armes onderskat.

Msimanga en Zille het tot in die onlangse verlede die DA groot skade berokken.

Die jongste DA-flater is Msimanga, uitvoerende burgemeester van Tshwane, se besoek aan Taiwan se hoofstad, Taipei. Dié besoek vlieg in die gesig van die regering se buitelandse beleid wat nie die Taiwanse regering erken nie. Dié beleid – om die Republiek van China te erken as wettige regering van die gebied waaronder Taiwan ook val – is in1998 deur oudpresident Nelson Mandela bekragtig.

Ironies genoeg probeer die DA en die Afrikaanse media – wat besaai is met huigelary, politieke korrektheid en intellektuele oneerlikheid – Msimanga se minagtende houding teenoor die grondwet en die regering se buitelandse beleid met absurde denke en drogredenasies regverdig.

Die vertrekpunt van die argument of beginselsaak is dat alle regeringstrukture, insluitend DA-beheerde munisipaliteite, die nasionale regering se (buitelandse) beleid moet erken en respekteer.

Enige aantygings dat die regering korrup is of dat Msimanga in die belang van werkskepping Taiwan besoek het, moet tot die periferie reduseer word omdat dit niks met dié debat te doen het nie.

Suid-Afrika is ’n eenheidstaat en nie ’n federale staat nie. Provinsies en munisipaliteite kan dus nie ’n beleid wat teenstrydig met nasionale beleid is, beoefen nie. Die regering moet dus streng optree teen enige (regering-) struktuur wat nasionale regeringsbeleid ondermyn.

Al sou ons ’n federasie gewees het, word beleid ten opsigte van die nasionale begroting, verdediging en internasionale politiek (buitelandse beleid) deur die federale regering bepaal en implementeer.

Intussen wag ons dat Maimane vir Zille in die openbaar repudieer of om haar te dissiplineer vir haar onverantwoordelike en onbeskofte gedrag op Twitter. Haar uitsprake is minagtend en dit grens aan politieke opportunisme en ook aan ’n algehele disrespek jeens ons ontluikende demokratiese bestel en teenoor mense wat daagliks met die fisiese en emosionele skade van apartheid moet saamleef.

  • 9

Kommentaar

  • Intussen begaan Lloyd ook 'n fout deur die Volksrepubliek van China die Republiek van China te noem. Die Republiek van China is Taiwan se amptelike naam ...
    Buitendien kan politieke partye seker wel kontakte hê met groeperings wat nie deur die wetlike regering van 'n (buitelandse) land erken word of deur die eie (binnelandse) regering erken word nie. Hoe kon daar tydens die vyftigerjare ander stemme wees in Europa en Nederland wat die ANC wou ondersteun - en bande met dié party gehad het - terwyl die ANC deur die Suid-Afrikaanse as Nederlandse regering onwettig beskou is? Laer owerhede het seker de facto die reg om ander keuses te maak as die nasionale regering - solank die bande maar informeel bly. Só werk 'n demokrasie, meneer!

  • Jason
    "Sour grapes makes you nasty." "The joy in the pudding, is the eating thereof."
    Ervare of nie. Seremoniële leier of nie. Hy trek die swart skare vir die DA soos nooit tevore nie. Kom, wag en sien wat hierdie man nie in die 2019 verkiesing nie gaan vermag nie Lloyd! Jou ANC is 'n "has been" op pad uit. Jou bitsige uitsprake toon jou politieke bankrotskap!

  • "Hul teenstand teen die regering se voorgestelde minimum loon van R3 500 is ’n absolute skande en getuig van hul politieke skynheiligheid omdat hulle voortdurend die intellektuele vermoëns van die armes onderskat."

    Dus moet 'n huishulp wat nie lees of skryf nie meer betaal word omrede sy oor "intellektuele vermoëns" besklik?

  • Dedalus

    Wat het hierdie begaafde kunstenaar se sang met die onderwerp onder bespreking te doen? Die woord "Loskop" vir wat jy hierbo skryf, sal dit nie kan beskryf nie, wel 'n ander woord wat ek hier nie sal waag nie.

  • As jou eie huis afbrand, moenie gaan karring aan jou bure se gebreekte venster nie. Jy's lastig. Jou ANC is 'n dodelike kanker. Praat eerder oor goed wat saak maak.

  • Jaco Fourie - ter sake is jou woorde - lees jouself weer. Dit is eenvoudig verstommend hoe mense soos jy julself genoop voel om namens mense te praat wat julle steeds in 'n 'baas en klaas' situasie probeer dwing. Begaafde kunstenaar of nie maar Nina Simone het veel aansluiting by Jason Loyld se skrywe - sy stel dit net meer naief - miskien vandaar die begaafdheid - want beleefdheid is ook 'n kuns.

  • Ag hoe sou navorsing nou die artikel gehelp het! Die nasionale regering het 'n kantoor ... in Taiwan. En daar is al 'n paar amptelike besoeke, onlangs, deur die nasionale regering aan ... raai-raai ...Taiwan. En die eerwaarde Minster Rob Davies homself het al gepraat van hoe ons handelsbande met Taiwan moet bou.
    Nee wat. Hierdie is die ANC se stories omdat hulle fair and square verloor het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top