My leeu van ’n vriend, Johann Botha

  • 12

Johann Botha (Foto: Youtube)

Deur Johann Rossouw*

Ek het Johann Botha in 1998 ontmoet. Die aanleiding van ons ontmoeting was ’n idee van my vriend en later ook kollega, Pieter Duvenage, dat ons Johann nader oor die moontlikheid om ’n gereelde program oor filosofie, kultuur en aktuele vraagstukke saam met hom aan te bied op Radio Sonder Grense (RSG).

Pieter het die aanvoorwerk gedoen, Johann het gereageer met wat ek later as sy kenmerkende geesdrif vir ’n nuwe avontuur sou leer ken, die idee aan die stasiebestuur voorgelê, en so is ons program Spookstasie gebore. Volgens my en Pieter se geheues is ons eerste voorafopgeneemde uitsending uitgesaai op ’n Saterdagaand pas ná die elfuurnuus – eens op ’n tyd was dit die gleuf waarin die legendariese Fonnie du Plooy se ’n Raps voor middernag uitgesaai is, en Johann het nie die kans laat verbygaan om ons te vertel van die verontwaardiging waarmee die enigsins dubbelsinnige programnaam aanvanklik uit moralistiese geledere begroet is nie. So het ek dan ook Johann se fyn humorsin die eerste keer beleef.

Ondanks die grafgleuf waarin Spookstasie aanvanklik weekliks uitgesaai is, het die program skynbaar genoeg aftrek gekry dat die stasiebestuur gediend was daarmee dat die program kort voor lank geskuif is na die primagleuf van Maandagaande net ná die negeuurnuus. In daardie stadium het Johann Maandagaande van ses tot middernag geanker, en opeenvolgend vanaf halfagt tot middernag Tempo gemik op tieners en ná die negeuurnuus sy rockprogram aangebied vir ’n meer volwasse gehoor. Die feit dat hy dit regstreeks gedoen het nadat hy op Sondagaande vanaf tienuur Dis opera (dikwels ook regstreeks) uitgesaai en daarna die nagskof tot die Maandagoggend geanker het, was sprekend van Johann se energie, lewenslus, geesdrif en werksetiek. Dat hy ook nog geesdriftig was daaroor om sy rockprogram met Spookstasie te vervang, het ook heelwat oor Johann se vrygewigheid gesê. Toe ek en Pieter hom vra of hy seker is hy wil dit so doen, was sy antwoord beslis, want hy geniet die intellektuele stimulasie en wat hy self tydens die program leer.

Daardie antwoord van Johann het nie net iets gesê van sy natuurlike nuuskierigheid nie, maar ook van sy beskeidenheid, want die feit van die saak is dat Johann hoogs intelligent was, en as gebore student wat altyd meer wou weet, ons twee filosowe nie net deeglik op ons tone gehou het nie, maar inderwaarheid die hoeksteen van die program was – ondanks die feit dat sowel ek as Pieter selfs nou nog destydse luisteraars raakloop en hulle waardering ontvang, is dit so dat die program doodeenvoudig nie sou geslaag het as dit nie vir Johann se fenomenale insig, skerpsinnige vrae en manjifieke radiopersoonlikheid was nie.

Ander mense het al sedert sy heengaan melding gemaak van Johann se veelsydigheid, asook sy enorme en hoogs eklektiese musieksmaak en -kennis. Wat ek hier graag wil byvoeg, is sy voorliefde vir wat na my beste wete tot met sy heengaan sy gunsteling rockalbum was, naamlik Roger Waters se meesterwerk, Amused To Death. Johann was van nature iemand wat nie sy agenda op mense afgedruk het nie en wat gedy het as hy ruimtes vir mense om hom kon skep om te gedy, maar met daardie eerste regstreekse Maandagaand-uitsending, het hy baie mooi gevra of ons nie tog die program aan Amused To Death kon wy nie. Ons kon hom nie weier nie, ook omdat die album filosofies gesproke so ’n enorme kunswerk is. Die uiteindelike gevolg hiervan was dat ons die album daardie Maandagaand snit vir snit vanaf net ná die negeuurnuus tot, wel, ’n raps voor eenuur die Dinsdagoggend deurgewerk het. Daarmee is ook iets gesê van Johann se kreatiwiteit en sy ouwêreldse verbintenis tot radio as ’n opvoedingsmedium, en sommer tot opvoeding as sodanig, want Johann se hele loopbaan staan in die teken van iemand wat uit onvoorwaardelike liefde vir hierdie lewe en hierdie land met al sy mense, diere en plante sy haas onuitputlike kennis oor hierdie dinge ter wille van geregtigheid en die groter goeie met sy luisteraars en kykers bly deel het. Bykans twintig jaar later kan ek my nie vandag voorstel dat daar veel radiostasies ter wêreld is waarop so iets sal gebeur nie, wat ook ’n hartseer verhaal van sy eie vertel, maar dit daargelaat.

Weens buitelandse studie vanaf Maart 2001 tot Maart 2003 was dit vir my nie moontlik om self by die program betrokke te bly nie, en Johann en Pieter het die program vir ’n tyd lank nog saam aangebied. Ek was ná my terugkeer na Suid-Afrika bevoorreg om op my beurt weer die program saam met Johann tot in 2005 aan te bied, toe ons albei se skedules dit toenemend onmoontlik gemaak het om genoeg tyd in te ruim om genoeg programme gereeld op te neem – Johann was toe nog meer as voorheen op sy nimmereindigende reis na nuwe stories vir sy omgewingsjoernalistiek, en ek moes al om die paar weke vir werk uit die Kaap na Gauteng pendel.

’n Ander aspek van Johann wat ook hier uitgelig moet word, was sy meedoënlose opstuurdery van kruipers en pretensie. So het dit een Oujaarsaand, toe hy geanker het en ek by hom in die ateljee gekuier het, gebeur dat hy te midde van sy bedenkinge oor die ambisie van die kollega wat vanaf middernag by hom moes oorneem as anker, enkele minute voor middernag met ’n ondeunde kyk in sy oë vir my sê: “Kom ons sorg dat hy eers op die lug kan gaan as die nuwe jaar klaar ingetel is …” – en daarmee het hy ’n snit musiek aangeskakel wat eers, wel, ’n raps ná middernag klaar was. Die arme omroeper het ietwat skaapagtig sy pose probeer hou, maar dit was nie heeltemal geslaagd nie.

As ’n mens so lank so intiem saamwerk, leer jy mekaar baie goed ken en mag jy gelukkig wees om ’n hegte vriendskap te ontwikkel. So was dit my voorreg met Johann. Van die lug af het ek hom leer ken as ’n ontsettend private, sensitiewe en bedagsame mens. Hy was ontsaglik lojaal en vreesloos. Hy is onder die teken van die Leeu gebore en so onthou ek hom ook met sy wilde boskasie maanhare, sy lojaliteit en sy vreesloosheid as ’n leeu. Gegewe hoe vurig Johann teen geblikte leeujag gekant was en hoe vreesloos hy daardie bedryf in sy omgewingsjoernalistiek aangedurf het, skuil daar iets ontsettend ironies in hoe hierdie leeu van ’n man bykans soos ’n geblikte leeu in ’n klein kamp doodgeskiet is deur rampokkers vol bravade. Dit laat my onvermydelik dink aan Roger Waters se snydende kritiek op Amerikaanse “patriotte” wat George Bush senior se vuil imperiale oorlog in Irak geesdriftig volg “from bars three thousand miles away … with the bravery of being out of range”.

Ons het een aand op Spookstasie Dire Straits se meesterwerk, Brothers In Arms, bespreek. Toe ons by die grootse titelsnit met sy anti-oorlog boodskap kom, was dit amper onvermydelik dat die Grensoorlog ook ter sprake kom. Nie een van ons was aanhangers van PW Botha nie, en toe ek in geen onduidelike taal my mond uitspoel oor die verwoestende effek van daardie oorlog op vele van my vriende en tydgenote se lewens, het ’n luisteraar ingebel en my op die lug van crimen injuria beskuldig. Johann het vreesloos by my gestaan.

Laat ek dan nou maar vandag weer my mond oor politici uitspoel: Dit is ’n godskreiende skande dat hierdie leeu van ’n man en soveel ander goeie mense soos geblikte leeus in hierdie land afgemaai word deur monsteragtige moordenaars, ’n skande wat verdiep word deur die feit dat rampokkers die opofferinge wat deur soveel Suid-Afrikaners – vanaf Hendrik Biebouw (“Ik ben een africaander” voor ’n koloniale landdros in Stellenbosch in 1707), tot Nelson Mandela se “...  an ideal for which I hope to live for and to see realised. But, My Lord, if it needs be, it is an ideal for which I am prepared to die.” voor die regter wat hom in 1964 lewenslank tronk toe gestuur het, tot Breyten Breytenbach se “vir my het dit gegaan om die voortbestaan van ons volk, ’n voortbestaan met geregtigheid soos Van Wyk Louw dit uitgedruk het, oor die inhoud en gehalte van ons beskawing” voor die regter wat hóm in 1975 tronk toe gestuur het – oor meer as drie eeue van onreg gemaak is, vandag minag deur die staat as hulle persoonlike spaarvarkie gebruik om hulself vet te voer en in paleise te gaan woon, terwyl die goeie, gewone, gematigde mense van hierdie land verkneg, verneder en vermoor word in hulle eie land.

God weet – inderdaad – so kan dit nie langer aangaan nie.

My laaste kommunikasie met Johann was op Oujaarsaand 2014. In ’n WhatsApp-boodskap skryf hy om negeuur die aand: “En so sit ek en rum drink terwyl ek U2 luister en Bert Olivier se kolom in Thoughtleader lees en onthou ek die Oujaar van 1999 en maak ek ’n rare Nuwejaarsvoorneme om jou te sien voor dit te laat is – en vra ek om verskoning dat ek jou Oktober-streekbesoek [aan Gauteng] gemis het. Kannie meer die detail onthou nie, maar daar was ’n geldige rede. Hoop jou lewe loop vlot 😊 ” (sic)

My antwoord om 09.14 het gelees: “Hoekom is dit dat ek pas Where The Streets Have No Name op volle volume gespeel het? 😊 Sien jou weer.”

Vyf dae voor hy vermoor is, is Roger Water se langverwagte opvolg en in vele opsigte voortsetting van Amused To Death uitgereik. Ek sou Johann nog wou vra wat hy daarvan dink, maar ons het mekaar toe nooit weer ná ons destydse WhatsApp-boodskappe gesien nie.

Toe die nuus die oggend van die aand ná sy dood my bereik, het ek my oorfone ingesit en sonder om daaroor te dink eenvoudig die album waarna ek vroeër die oggend voor werk begin luister het, verder laat speel. Op daardie presiese oomblik het die klanke van die klokhelder stem van ’n sopraan wat ’n lament vir die beleërde, verwoeste, verminkte stad Sarajevo tydens die Joego-Slawiese oorlog op Max Richter se Memoryhouse aanhef, in my ore opgeklink:

In daardie oomblik het dit ook ’n lament geword vir my leeu van ’n vriend wat soos ’n dier afgemaai is.

Ek eer sy gedagtenis hier. Mag ons nooit vergeet nie. Mag sy dood nie ongestraf gaan nie. En mag die rampokkers wat direk – sowel as indirek, in sagte staatskussings – sy bloed aan hulle hande het, kry wat hulle toekom. Want die onreg van die moord op een regverdige man wat sy lewe aan geregtigheid in hiérdie land gewy het, mag nie bly staan nie.

Tot siens, Johann. Sien jou weer. Eendag.

* Rossouw doseer filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy is die skrywer van die roman Verwoerdburg (2013), oor ’n vergane plek waar sowel hy as Johann Botha grootgeword het en gevorm is. Lees meer van sy werk by johannrossouw.co.za

  • 12

Kommentaar

  • Dit is vir my onmoontlik om by bogenoemde by te las of weg te neem. Al het ek Johann Botha nie persoonlik geken nie, was ek nog altyd betower deur sy kennis, geesdrif en verkleurmannetjie-agtigheid wat by die programme wat hy aangebied het, gepas het. Dus al wat ek in hierdie verband kan doen is om dié huldeblyk hierbo 100% te beaam.

  • Uitstekende huldeblyk. Baie dankie. Ek onthou die uitstekende besprekings oor Karel Schoeman se werk. En dan het Johann en SPOOKSTASIE ook vir Jeremy Cronin een aand as gas gehad. Kan net onthou dat ek geweldig beïndruk met sy kennis was.

  • Johann het my geleer van Van Wyk Louw se "mooi is die lewe, en die dood is mooi".
    Mooi stuk oor 'n baie mooi mens! Wens ek kon sy stem oor die foon weer hoor.

  • Jeanne Snyman

    Daardie hol naar gevoel van sinloosheid wanneer groot edel geeste soos Johann Botha, David Rattray, Pieter Pieterse en soveel ander deur scum afgemaai word.

  • Henda Momberg.

    Ek was nog altyd gek oor Johan 'die aanbieder'. Ek het hom altyd as 'n 'enigma' beleef en beskou. Ek het egter niks van sy privaatlewe geweet nie. Ná hierdie pragtige, insiggewende huldeblyk, is ek nog meer gek na hom. Dankie daarvoor. Van 'n 'mede-Leeu'.

  • Pieter Haasbroek

    Ons kan net dankbaar wees dat ons 'n man soos Johann Botha saam met ons gehad het. Dankbaar vir sy lewe en sy bydrae.
    Nou voel ek saam met jou bitter oor sy moord. Jy is reg: die verfoeilike daad van drie lafhartige skurke met pistole is bemoontlik deur die gunstige omstandighede wat deur ons politici vir hul rooftogte geskep het.

  • Baie dankie Johann! Ek hoop ons verstaan eendag waarom daar so 'n sinnelose daad gepleeg moes word. Ek het hom ook nie persoonlik geken nie, alhoewel dit vir my so gevoel het. 'n Mens sonder weerga!

  • Antonette du Toit

    Beste Johann. Ek is ’n ou skool- en universiteitsvriendin van Johann en hierdie huldeblyk is ’n perfekte opsomming van Johann se veelsydigheid, skerpsinnigheid en beskeidenheid. Vir my stukkende hart was gewone woorde nie genoeg nie maar jou skrywe en die gepaste musiekstuk (Max Richter - Sarajevo) was raak. Johann het elke mens, wat gelukkig was om sy lewenspad te kruis, onherroeplik aangeraak. Dit is vir my baie tragies om te dink dat die mensdom hom op die einde gefaal het.

  • Pierre Schnehage

    "Confront your enemy, avoid him if you can, a gentleman will walk but never run."
    Maar Johann, in die kort tyd wat ek met hom te doen gehad het "could outstare the enemy", "and ambled away as if inviting more debate."
    If I had 3 wishes I would leave the night of the shooting out of reality.
    Rus in vrede Johann - ons paaie het op meer as een manier gekruis.
    https://www.youtube.com/watch?v=SWEPrenL5d8

  • Dankie Johann R vir jou uitmuntende huldeblyk en uitgebreide skrywe oor ons geliefde Vriend Johann Botha. Sy nalatenskap van sy wye en deeglike kennis en liefde van musiek, veld, natuur, mens, lewe en geregtigheid sal nooit geëwenaar word nie. Ons eer hom vir sy opregtheid en omgee, asook vir die Lig van die Lewe self wat altyd uit sy helderblou oë gestraal het. Hy is beroof van die Lewe, onverdiend, maar sal vir altyd bly voortleef in ons harte én in ons denke. Baie dankie vir jou kosbare bydrae in woorde wat sy mooie menswees in ons harte vergestalt.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top