Leer lees en skryf vir graad 1, 2 en 3 deur Mart Meij: ’n resensie

  • 12

Leer lees en skryf: graad 1, 2 en 3
Mart Meij
Uitgewer: Best Books
ISBN: 9781776071814 /  9781776071821 /  9781776071838

Nóg ’n kleintjie op pad …?!

In werklikheid het dié nuwe aankomelinkie reeds op 13 Oktober 2017 sy opwagting gemaak – springlewendig en gesond – én al die vingertjies en toontjies daar …

Die nuwe Leer lees en skryf-werkboek vir graad 1 tot 3 Afrikaans Huistaal is goed beplan deur ervare opvoedkundiges en taalkundiges en volgens die vereistes van die KABV: die leeslesse en handskrif- en taaloefeninge in dié werkboeke sal leerdertjies se woordeskat verbeter, hulle help om met selfvertroue en begrip te lees, hulle help om die uitspraak van klanke korrek aan te leer, en hul handskrifvaardighede help ontwikkel.

Die werkboeke is ook uiteengesit volgens die voorgeskrewe KABV-volgorde vir die leer van klanke, drukhandskrif en taalwerk in die onderskeie grade.

Die handskrifoefeninge, skrifstrokies en skrifpatrone is daarop gemik om lettervormingsvaardighede en druk- en lopende skrif in die regte lettertipe en met die korrekte reëlspasiëring, soos die KABV vereis, te oefen.

Die nuwelinkie is gretig om tevrede te stel en plesier en genoegdoening te verskaf: ná elke leesstukkie (volgens progressie in moeilikheidsgraad gegradeer) volg daar oefeninge wat die bepaalde klanke, spelling en taalstrukture en sigwoorde vaslê, en die leerdertjies sal leer hoe om woorde en volsinne te skryf, én terselfdertyd fyn motoriese en lopende en drukhandskrifvaardighede in die korrekte fonttipe en reëlspasiëring ontwikkel. Dié oefeninge kan ook vir assessering ingespan word.

Benewens ’n aantreklike voorblad is daar duidelike en kreatiewe illustrasies, met ’n Suid-Afrikaanse aanslag, wat die leerdertjies ook kan inkleur om hulle verder te stimuleer en betrokke te hou.

Die temas is gepas vir die ouderdomme en interessant en oorspronklik – vanaf die onmiddellike omgewing, alledaagse menslike bedrywighede en verskillende kulture tot die verkenning van die natuur, die aarde en die maan!

Elke kleintjie kom met sy eie potjie pap, lui die spreekwoord. Só kom dié kleintjie ook met ’n CD en die nodige gebruiksaanwysings vir onderwysers en ouers voor in elke boek.

Hierdie nuwelinkie verdien om met ope arms verwelkom te word.

  • 12

Kommentaar

  • Annatjie van Niekerk

    Dit sal baie help met die kindertjies.Sal graag wil weet waar kan mens dit koop.Sal dit beslis in my skool gebruik.

  • Waar kan ek daarvan kry? Ons is twee vroue met geen onderwysopleiding nie wat kinders by Hoogekraal-skool help om te lees. Ons het geen hulpmiddels nie en het baie uitvalle opgetel. Met dank Elma Visser.

  • Moet ek die boek vir graad 1 en 2 koop en waar of kan ek dit aflaai van 'n rekenaar af? Dankie, Connie

  • My kleinseun is in graad 4 en sy huistaal is Engels. Hulle neem as vak wel Afrikaans op skool en ek sou baie graag vir hom 'n liefde vir Afrikaans wil leer sodat hy ook vlot kan wees in Afrikaanse lees en verstaan. Sy mamma is Afrikaans en sy oupa en ek, Afrikaans. Glo egter deur die proses met die boekie leer en leef - hy dit ook met gemak sal kan doen.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top