Learning to Live Music: ’n onderhoud met Luna Paige

  • 2

Op inisiatief van die Cape Town Music Academy (CTMA) word daar hierdie week ’n gratis werkswinkel aangebied wat gemik is op hoërskoolleerders, naskoolse studente, professionele musikante en professionele musiekopleiers. Die werkswinkel word aangebied in samewerking met CTMA, Berklee City Music (die gemeenskapsbeen van Berklee College of Music in Boston) en Stellenbosch-universiteit.

Menán van Heerden het met die sangeres, musikant en liedjieskrywer Luna Paige gesels om meer oor haar werk en die werkswinkel uit te vind. Luna se maatskappy, Iluminar Productions, het die werkswinkel gekoördineer. Luna neem ook as mentor aan die werkswinkel deel.

Luna, vertel vir ons meer oor jou agtergrond as sanger en liedjieskrywer. 

Liedjieskryf en musiekskryf is in my bloed en iets wat ek nie kan ontsnap nie. Die pad was lank, opwindend, senutergend en bly ’n daaglikse uitdaging. Ek het sedert 2003 ses CD's vrygestel sowel as twee enkelsnitte in 2016.

Watter kunstenaars het jy onlangs mee opgetree en saamgewerk aan projekte? 

Ek het al deelgeneem aan verskeie projekte saam met ander kunstenaars. Ek was betrokke in die musiekteaterproduksie Elders aan diens (kabaret rondom die werke van Jeanne Goosen, onder leiding van Albert Maritz) saam met die aktrises/sangeresse Nicole Holm en Frieda van den Heever. Ek was verder ook vir  jare op toer saam met die blues-man Gerald Clark – met die Lovemore Show (wat baie gewild onder musiekliefhebbers was). In 2015 het ek begin om musiekproduksies te vervaardig. Die eerste van sy soort was Die ander konsert – ’n vermaaklike musiekproduksie saam met kunstenaars soos Peter Mitchell, Nick Turner, Frieda van den Heever, Mavis Vermaak, Ronan Skillen, Gerald Clark en Schalk Joubert. Die produksie het groot aftrek gekry by die Woordfees en KKNK (2015).

Einde 2015 het ek aan my tweede produksie begin werk, naamlik Korreltjie Kantel. Ons het dié jaar (met die ondersteuning van RSG en RSG Kunstefees) die Korreltjie Kantel- CD bekendgestel en toer steeds landwyd hiermee in 2017. Dit sluit Nick Turner en die multi-instrumentalis Jamie Jupiter in. Die  CD en verhoogproduksie handel oor die liefdesverhouding tussen Ingrid Jonker en André P Brink. By dié jaar se Woordfees het my derde verhoogproduksie die lig gesien. Konnexi was ’n nuwe projek, met nuwe uitdagings, waar ek my hand aan teaterwerk gewaag het. Saam met my op die verhoog was Schalk Joubert en die legendariese Pops Mohamed. Ons neem dit nou Juliemaand na die Vrystaat Kunstefees. 

Watter kunstenaars inspireer jou?

Plaaslike kunstenaars wat daarin kon slaag om nie net musiek te lewe nie, maar ook daarin geslaag het om hul musiek te omskep in suksesvolle besighede. In ons uitdagende ekonomiese omstandighede dink ek dit is belangrik vir kunstenaars om die besigheidshoed te dra en buite die boks te dink. Voorbeelde vir my hiervan is Nataniël, Chris Chameleon, Karen Zoid en Carien Loubser, Emo Adams en die Bellville-musikante (Fokofpolisiekar, Francois van Coke, Jack Parow ens). Musiek is harde werk. Internasionaal geniet ek veral om na singer-songwriters te luister – dit is my kos – en ek vind inspirasie by goeie liriek en liedjieskrywers. Voorbeelde is Over the Rhine, Nick Cave en Paul Simon.  

Wat lê alles voor? 

Soos ek gesê het, het ek ’n produksiemaatskappy, Iluminar Productions gestig, met Denise Barnes as my vennoot. Ons werk reeds aan drie produksies vir die res van 2017 en 2018. Ons sien uit daarna om hulle aan musiekliefhebbers bekend te stel. Intussen werk ons saam met die ongelooflike CTMA en is ons verantwoordelik vir die koördinering van die werkswinkel wat nou in Stellenbosch aangebied word. Ons sal in 2018 ook nou saamwerk met die CTMA. Hulle beplan opwindende projekte en ons is trots om deel te wees van die inisiatiewe. Intussen is ek te siene by verskeie teaters en musiekvenues. Lesers kan gerus na my webwerf gaan kyk: www.lunapaige.com.

Luna Paige (Foto: Verskaf)

Wat is vir jou die waarde van ’n werkswinkel soos die huidige CTMA-een vir die Suid-Afrikaanse jeug? 

Ek dink wat my opgewonde maak is die feit dat die werkswinkel gratis is. Dat niemand uitgesluit hoef te word nie. Ordentlike musiekopleiding kos geld, en dit is nie vir alle talentvolle mense beskore nie. Ek dink elke deelnemer gaan iets waardevol huis toe neem na afloop van die werkswinkel. Die Berklee-aanbieders het ongelooflike CV's en ek glo die leerders gaan baie leer. Vir professionele musikante is dit ook ’n wonderlike geleentheid om hul eie vaardighede op te skerp, nuwe inspirasie te kry en om ook bemagtig te word om te kan terugploeg in hul gemeenskappe en as mentors vir jonger, aspirantmusikante te kan optree. Die CTMA skep op dié manier ook werk vir professionele musikante, wat altyd ’n goeie ding is.  

  • Die werkswinkel vind van 10 tot 15 Junie 2017 plaas.
  • Op Donderdagaand 15 Junie word daar ’n gratis Showcase Concert aangebied waar die deelnemers, pro musikante asook die Berklee-tutors ’n uitvoering gaan hou – 20:00 by die Fismersaal, US Konservatorium. Deure maak al 18:30 oop. Soos ek gesê het, gratis! Bespreek by luna@iluminarproductions.co.za.

Lees ook

Learning to Live Music: ’n onderhoud met Vicky Davis

Menán van Heerden, Vicky Davis
Onderhoude

"Die CTMA fokus op die opheffing van kontemporêre musiek en het ten doel om werkskepping in die musiekveld te vermeerder en die algemene stand van die musiekbedryf te verbeter."

  • 2

Kommentaar

  • Bets de Flamingh

    Dankie dat julle aan ons jongmense dink wat talent en n liefde vir musiek in enige vorm het maar nie die fondse nie. Wanneer kom julle Johannesburg toe?

  • Aryeh Barenboim

    Goed om te sien. Dalk kan dit help om die dalende kwaliteit in SA te help keer alhoewel ek dink dit is te laat. Musiek in SA is in 'n baie donker tyd. Musikale kennis onder die publiek is pateties. Die kombinasie veroorsaak dat die kwaliteit in 'n haas onkeerbare dorre woestyn van swakheid vasgeval het. Ongelukkig geld dit ook vir onderrig. Jammerlik.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top