Learning to Live Music: ’n onderhoud met Vicky Davis

  • 2

Op inisiatief van die Cape Town Music Academy (CTMA) word daar hierdie week ’n gratis werkswinkel aangebied wat gemik is op hoërskoolleerders, naskoolse studente, professionele musikante en professionele musiekopleiers. Die werkswinkel word aangebied in samewerking met CTMA, Berklee City Music (die gemeenskapsbeen van Berklee College of Music in Boston) en Stellenbosch-universiteit.

Menán van Heerden het met Vicky Davis, regisseur en programbestuurder van die CTMA, gesels oor hul oogmerke en oor gemeenskapsgeoriënteerde programme met musiekopleiding as fokus oor die algemeen.

Vicky, vertel ietsie oor die CTMA – dit is ’n jong organisasie?

Die CTMA is ’n nuutgestigte nie-vir-wins-maatskappy wat ten doel het om geleenthede te skep vir ervare en opkomende musikante en verwante kunstenaars in die Wes-Kaap. Die CTMA fokus op die opheffing van kontemporêre musiek en het ten doel om werkskepping in die musiekveld te vermeerder en die algemene stand van die musiekbedryf te verbeter.

Ons ondersteun musikante deur vier hoofdoelstellings: om “performance”- en “recording”-geleenthede te skep vir musikante; om opvoedkundige “terugploeg”-projekte vir die gemeenskap te skep en om internasionaal uitruilprogramme te vestig.

Die CTMA-US-Berklee-uitreik is ons eerste terugploegprojek. Ons het Berklee genader omdat hulle ’n groot gemeenskapsbeen, Berklee City Music, het wat juis soek na internasionale vennote om gemeenskapsuitreike mee te vestig.

Ons het toe vir Felicia Lesch van die US Gemeenskapsmusiekeenheid genader om te hoor of hulle ook sou wou deelneem, aangesien die departement reeds 10 jaar lank musiekgedrewe uitreikwerk doen onder die gemeenskap se jeug.

Felicia Lesch (Foto: verskaf)

Ons het toe ses van Berklee se top-tutors ingebring vir ’n week lange werkswinkel by die US Konservatorium. Die werkswinkels is gemik op hoërskoolleerders en studente van die US Sertifikaatprogram in Musiek, wat almal musiektalent het maar nie die nodige blootstelling gehad het om “studiegereed”  te wees nie. Dan is daar ook ’n handvol pro musikante wat almal ook musiek doseer of onderrrig – hulle neem deel aan die Berklee PULSE Music Method-kursus – waar hulle hul onderrigvermoëns en -metodes verbeter om beter met die jeug te kan werk.

Die hoërskoolkinders (hul werkswinkel het Saterdag 10 Junie plaasgevind en die studente en mentors s’n Maandag 12 Junie tot Donderdag 15 Junie) kom van so ver as musiekskole in Khayelitsha, Steenberg en die Suid-Kaap.

Saterdag se werkswinkel (Foto: Verskaf)

Die mentors wat deelneem, is pro musikante soos Shaun Johannes, Kevin Gibson, Frank Paco, Andrew Lilley, Dan Shout, Sima Mashazi, Luna Paige, Zeke le Grange, Carlo Fabe en Babalwa Meintjies.

Ons hoop dat hierdie vennootskap met Berklee ’n volhoubare en jaarlikse gebeurtenis sal raak.

Wat lê voor vir CTMA?

Ons het twee verdere opwindende projekte aan die gang.

Die eerste is ’n album en live show genaamd Afrika my verlange / Afrique mon désir.

Met dié projek het die CTMA die bekende liedjieskrywer en komponis Laurinda Hofmeyr afgevaardig om ondersoek in te stel na Afrika-digters en -poësie om 13 nuwe liedjies te komponeer van Afrika-digters. Sy was onmiddellik aangetrokke tot Wes-Afrika se literatuur en musiek – en omdat sy self Frans praat.

Foto van Laurinda Hofmeyr en die Afrika my Verlange Ensemble (Foto: Verskaf)

Catherine du Toit van die Frans-departement aan die US het haar gehelp om Frans-Wes-Afrikaanse digters te ontdek en te vertaal. Sy het ’n samestelling van werke uit Madagaskar, Tsjad, Senegal, Ivoorkus, Mauritanië en ander gemaak.

Saam met haar vervaardiger, Schalk Joubert, en die CTMA se vennoot, die Alliance Française du Cap, het hulle op soek gegaan na ’n paar top Wes-Afrikaanse musikante om op die album te collaborate.

Dmv die Alliance Française se netwerk het hulle op vier ongelooflik talentvolle musikante van die DRKC afgekom – twee manlike sangers, een vrou en ’n kitaarspeler. Verder het die wêreldbekende akkordionspeler Regis Gzavo van Madagaskar ingestem om ook op die album opgeneem te word.

Die bekroonde animasiekunstenaar Diek Grobler (hy is die stigter van Filmverse) het ook ingestem om ’n reeks animasieflieks te skep nav die liedjies, wat dan gedurende die lewende show geprojekteer sal word. Die hele album en proses word ook in ’n dokumentêre fliek, deur die filmmaker Hein de Vos, vasgevang.

Ons beoog om in 2018 die album, DVD en ’n show-toer plaaslik en in Europa (Frankryk, Holland) te loods.

Die ander projek is ’n musiekteaterstuk gefokus op Xhosasprekende laerskoolkinders, genaamd  Kwathi ke kaloku (Once upon a time) – A celebration of Xhosa children’s literature and indigenous music with Mam’ Sindiwe Magona & Bongani Sotshononda.

(Die legendariese Xhosa-storieverteller Mam’ Sindi Magona  en wêreldmusikant Bongani Sotshononda span kragte saam om tradisionele kinderstories aan jonges te vertel op die ritme van tradisionele Xhosa-musiekinstrumente en -musiek. Die toneelstuk sal in die Septembervakansie by skole en sentrums in Gugulethu en Langa vir kinders beskikbaar wees.

Bongani Sotshononda (Foto: Verskaf)

Mam'Sindi Magona (Foto: Verskaf)

Hoe dink jy maak sulke gemeenskapsgeoriënteerde programme, organisasies en projekte ’n verskil?                  

Dit maak ’n hengse verskil – in Suid-Afrika is daar baie min fokus op die ontwikkeling van kontemporêre musiek (rock, jazz, wêreldmusiek, hip-hop ens). Die meeste organisasies fokus op opheffing van klassieke musiek, terwyl ons wêreldklas musikante en wêreldklas jong talent in dié areas het. Dit word nie genoeg gesien as ’n akademiese wetenskap nie – en dis iets wat ons by Berklee College of Music kan leer. Die CTMA wil graag hierdie tekort aan ondersteuning wat daar in die kontemporêremusiekbedryf is, die hoof bied.                                                               

Wat is die algemene toestand van Suid-Afrikaanse musiekopleidingsprogramme wat op die jeug gemik is? Kan daar meer werkswinkels en projekte op die been gebring word vir leerders en studente wat nie toegang tot instrumente en formele musiekopleiding het nie? Hoe kan skole ’n rol hierin speel?

Ja beslis – iets wat die CTMA graag wil bereik deur hierdie Outreach-projek met Berklee, is dat die pro musikante en musiekonderwysers wat vanjaar deelneem, verdere geakkrediteerde Berklee PULSE-tutors word, sodat die CTMA in die toekoms plaaslik soortgelyke werkswinkels met hierdie musikante kan aanbied, waar hulle die tutors is en hulle genoegsaam kan vergoed word vir hul “terugploeg”.

Vicky Davis (Foto: Verskaf)

  • Die werkswinkel vind van 10 tot 15 Junie 2017 plaas.
  • Op Donderdagaand 15 Junie word daar ’n gratis Showcase Concert aangebied waar die deelnemers, pro musikante asook die Berklee-tutors ’n uitvoering gaan hou – 20:00 by die Fismersaal, US Konservatorium. Deure maak al 18:30 oop. Soos ek gesê het, gratis! Bespreek by luna@iluminarproductions.co.za.

Lees ook

Learning to Live Music: ’n onderhoud met Luna Paige

Menán van Heerden, Luna Paige
Onderhoude

"Ek dink wat my opgewonde maak is die feit dat die werkswinkel gratis is. Dat niemand uitgesluit hoef te word nie. Ordentlike musiekopleiding kos geld, en dit is nie vir alle talentvolle mense beskore nie." Daar vind ’n gratis konsert op Donderdag 15 Junie plaas.

  • 2

Kommentaar

  • Alda de Villiers

    So jammer ek sien dit nou eers. Ek gee kitaarlesse en wil net mense "stir" om weer musiek te maak.

  • Estie van Zyl

    Uitreikprogramme in Komporêre musiek is van soveel waarde vir die jeug! Ek sou graag meer daarvan in ons eie plattelandse omgewing wou sien ... Baie dankie aan Berklee College of Music en CTMA vir die geleenthede wat u skep in die verband. Ek sou ook ook graag in die toekoms die werkswinkels wou bywoon en sal dankbaar wees oor meer inligting in die verband.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top