Lara Frances: "Die musiek is altyd teenwoordig"

  • 0

Die sanger en liedskrywer Lara Frances stel ná ’n lang stilte weer oorspronklike musiek bekend. Sy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Lara. Hoe’s dinge?

Lekker en aan die gang, Henry!

Foto: Debra Roets

Baie geluk met jou jongste enkelsnit, “Running away”, wat onlangs vrygestel is. Dit is, as ek dit reg het, min of meer nege jaar sedert jou vorige vrystelling – die album Little rendition. Dis nogal ‘n lang breek, nadat jy aanvanklik heelwat sukses beleef het, veral met die treffer “High on life”. Waarom het dit so lank geneem voor jy weer begin musiek opneem en vrystel het? Hoe het hierdie lang ruskans jou gedagtegang oor musiek, en ook hoe jy daarmee wil omgaan, verander of geslyp?

Jy’s heeltemal korrek, dis omtrent tien jaar sedert die vrystelling van “High on life”. Ek het baie goeie herinneringe van student-wees op Stellenbosch toe die liedjie op KFM gespeel het (dit was ’n totaal surrealistiese ervaring om vir die eerste keer my stem op radio te hoor).

Wat die ruskans betref: ek skryf nog heeltyd nuwe musiek en gebruik dit nog steeds om my gevoelens en gedagtes uit te druk. Ek dink in werklikheid het my brein dalk ’n ruskans nodig gehad om meer te fokus op die musiek en minder oor die stres van “perform” en om ’n “naam te maak” in die musiekbedryf. Ek het ’n tyd lank ophou skryf, maar dit kom tog altyd terug – dit begin my pla as ek vir weke nie aan my kitaar raak nie.

Alles het verander toe ek ’n paar jaar gelede vir Craig Ormond van Bigleap Music & Post ontmoet het. Ek het eendag in sy ateljee ingestap en vir hom gevra of hy iemand nodig het om “jingles” te skryf of te sing op advertensies. Ons het kort daarna begin werk aan ’n snit vir Smirnoff en het toevallig die werk gekry, en die liedjie is toe gekies vir hulle televisieveldtog “Explore the night”.

As ek reg verstaan, is “Running away” die eerste snit van ‘n nuwe album – Relinquish – waarvan jy die snitte geleidelik, een vir een, wil vrystel. Dit is ‘n interessante benadering – baie musikante kies óf die een (digitale enkelsnitte) óf die ander (vollengte-albums). Jy kombineer dit op ‘n manier. Hoe het jy op die benadering besluit? Wat is jou filosofie hierrondom, in terme van wat ‘n mens wen of verloor met ‘n vollengte-album versus meer gereelde, korter digitale vrystellings? Met ander woorde, wat is die voor- en nadele van die twee, en hoe vind mens ‘n goeie balans tussen die artistieke en kommersiële oorwegings?

Om eerlik te wees het ons (ek en my vervaardiger, Craig) lank gedink oor ons proses en benadering en tot die gevolgtrekking gekom dat ons vir elke snit ’n digitale ervaring wil skep. Ons wil vir elke snit ’n musiekvideo vrystel sodat ons ’n storie kan vertel. Ons het lank saam gewerk aan die nuwe musiek. Die proses was baie organies in die sin dat ons van nuut af elke liedjie se verwerking saam uitgewerk het en al die instrumente op die snitte ook self speel. Ek het met my kitaar, melodie en lirieke opgedaag. Craig is ’n “Jack of all trades” en het tot die banjo uitgeruk vir ’n paar nommers!

Ons is tans besig met die musiekvideo van “Relinquish” en baie opgewonde oor hoe die prentjie besig is om bymekaar te kom.

“Running Away” getuig – soos jou vorige oorspronklike liedere ook – van ‘n besondere sin vir melodie en liedstruktuur. Hoe werk daardie liedskryfproses by jou? Wat kom eerste – die woorde of die musiek? Hoe vind jy die perfekte wisselwerking tussen die twee, en hoe weet jy wanneer ‘n lied nou “reg” of “gereed” is na al die geskaaf? Tot hoe ‘n mate speel vervaardigers en dies meer ‘n rol in die uiteindelike voltooiing van ‘n lied, of hoe sterk voel jy oor deurlopende kreatiewe beheer?

My liedjies se ontstaan is almal direk gekoppel aan my emosies ten tyde. Ek tokkel ’n wysie wat ek in my kop hoor en die lirieke volg kort daarna. Ek skaaf eintlik geensins daaraan nie en vind ek skryf soms selfs te vinnig aan iets.

Wat die vervaardiger se rol betref, is ek altyd ontvanklik vir kreatiewe insette – ek hou daarvan om te hoor hoe ander my musiek aanvoel en interpreteer. Ons het tot dusver ses snitte wat totaal uiteenlopend is, en dis ook een van die redes vir die musiekvideo’s wat individueel vrygestel word – die klank en gevoel van die snitte is nie een dieselfde as ‘n ander s’n nie en ons wil elke melodie uniek bekend maak, maar ook visueel.

‘n Paar jaar gelede het jy vir ‘n ruk op cruise ships gewerk as – ek hoop ek het dit reg – ‘n in-house musikant. Dit moes ‘n baie interessante ervaring gewees het – wat het jy in daardie tyd geleer oor musiek, jou eie doelwitte as musikant, en ook die uiteenlopende mark wat daar buite is? Hoe sou dié ervaring uiteindelik jou ambisies as Lara Frances beïnvloed?

Ha! Dis korrek – ek het vir ses maande gesing op die Pacific Dawn wat deel is van die P & O-vloot. Ek het bedank na drie jaar by die plek waar ek gewerk het vir dié geleentheid en het twee maande gehad om my repertoire op te bou tot 300 liedjies, in ’n verskeidenheid van genres. Ek het “covers” gespeel van groepe soos die Beatles en Stones tot Kasabian, MGMT en musiek wat op daardie stadium gewild was op radiostasies; natuurlik ook ’n paar Johnny Clegg-treffers – die Australiërs was mal daaroor! Dit was ongelooflik uitdagend om so vinnig “gig-ready” te wees, maar terselfdertyd lonend om elke dag te sing (soms vier ure per dag). Ek het mense “from all walks of life” ontmoet en ek het uiteindelik verstaan wat “cabin fever” beteken!

Terug in Suid-Afrika het ek myself voluit in die besigheidswêreld begewe, maar die musiek is altyd teenwoordig en wanneer die inspirasie kom, gryp ek dit aan!

Terug by die nuwe album: daar is ook ‘n heerlike video van jou en Ramon Alexander wat die lied “Grizzly son” saam uitvoer. Dit is ‘n heerlike gestroopte klank, vir wat geensins ‘n “eenvoudige” lied is nie. Is daar nog sulke samewerkings op pad? Wat geniet jy die meeste omtrent dié soort collabs, en waar het dit al moeilik geraak in die verlede? Met wie sal jy nog graag in die toekoms wil saamwerk? En ook, as jy werklik énigiemand kon kies vir ‘n collab, lewend of dood, wie sou dit wees en hoekom?

Ek is mal oor collabs en verkies dit eintlik bo solosang – daar is iets ongelooflik wat gebeur wanneer twee musikante net “gel”. Daar is samesyn in ’n oomblik van perfekte harmonie wat ’n persoon nie op sy eie kan ervaar nie. Ramon is groot pret en ons werk al jare saam. Al opgetree saam met Mel Botes op sy Pink Floyd-toer.

Ek het altyd gedroom om saam met ander sangeresse te sing, en dit het waar geword toe ek en die tweeling van The Taros begin collab het. Leandi en Lelani het fenomenale sterk stemme, en dit is definitief op my “bucket list” om nog saam met hulle op te tree. Ek dink Kate Bush kan ’n belewenis en ’n HALF wees! Tori Amos is vir seker ook ’n talent om te aanskou, en ’n geniale liriekskrywer.

Dis interessant dat jou eerste album, High on life, ‘n hele paar Afrikaanse liedere bevat het. Daarna het jy nie werklik in Afrikaans vrygestel nie. Is daar ‘n spesifieke rede agter dié besluit? Hoe het jy destyds die verskil in reaksie op die Afrikaanse en Engelse snitte ervaar, en ook die verskil in jou eie voorkeure of gemaklikheid? Hoe dink jy verskil die Engelse en Afrikaanse mark en toneel in Suid-Afrika, en hoe sal jy dit graag wil sien verander, veral wat jou betrokkenheid of deelname daaraan betref?

Dit was vir my lekker om in Afrikaans te skryf met my eerste album, maar alhoewel die liedjies speeltyd gekry het op Kosmos, Jacaranda en RSG, het ek gevind mense hang die Engelse snitte meer aan. Ek het soms gevoel asof die musiek te eerlik of naïef was as ek gekyk het na die bekende Afrikaanse musikante. Ek skryf soms net makliker in Engels en, soos ek al genoem het, wanneer die musiek vloei, gryp ek pen en papier. Ek dink ook mense koop veel eerder ’n album wat in een taal geskryf is – ’n les wat ek geleer het met High on life.

Alhoewel jy vir ‘n lang ruk stil was op die vrystellingsfront, trek jou musiekloopbaan nou al by meer as tien jaar. Watter spesifieke hoogtepunte was daar tot dusver, wat dit betref? Enige herinneringe – in die ateljee of op die verhoog – wat jy nie sommer sal vergeet nie, of enige minder aangename herinneringe wat jy eerder sal wil uitvee?

Sjoe, dis ’n moeilike vraag, daar is omtrent nét hoogtepunte! Ek onthou die dag soos gister toe ek vir Albert du Plessis ontmoet het van Rhythm Records – hy was so ’n inspirasie en mentor vir my op so ’n jong ouderdom. Ek onthou hoe ek die “Karre”, Valiant Swart en Chris Chameleon ontmoet het vir die eerste keer omdat hulle by dieselfde platemaatskappy was – dit was omtrént ’n belewenis.

Ek het herinneringe van elke optrede in die laaste tien jaar – soms speel en sing jy vir duisende en ander tye vir drie mense – elke ondervinding was vir my ‘n unieke voorreg. Ek het al die voorreg gehad om saam met ongelooflike musikante op te tree en om van die beste te leer.

Toere saam met die manne wat my ondersteun het op die verhoog was altyd vet pret. Ons het stories wat jou hare sal laat rys (snaaks en skrikwekkend), die interessante mense wat ons ontmoet het in Bethlehem en die Wendy-huis in ’n woud waar ons een aand geslaap het – ek onthou als soos gister.

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Lara Frances, in so verre jy dit kan beheer?

Soos ek genoem het – die titelsnit word tans verfilm en ons beoog om dit binne die volgende maand of twee vry te stel. Ek geniet my musiek meer as ooit en hou mense op hoogte soos dit ontwikkel.

Wat is die sin van die lewe?

Sê vir my wanneer jy uitvind!

Foto: Debra Roets

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top