LAPA se boeke vir die Kerskous

  • 1

Kersfees lê om die draai en LAPA Uitgewers het ’n klompie boeke wat dalk net die keuse vir geskenke sou kon vergemaklik.


Fiksie

Mentje, kind van Pas-Opkamp
Irma Joubert
ISBN: 978 0 7993 8593 9
R280,00

Sy is so verskriklik eensaam. So verskriklik bang. Haar hart is verskriklik stukkend. Mentje de Vries, ’n Nederlandse oorlogswesie, beleef die Tweede Wêreldoorlog in al sy genadeloosheid. Eers moet sy onderduik in ’n geheime kamp vol Joodse vlugtelinge, en daarna beleef sy die hel wat die tyd net voor die bevryding voorafgaan, wanneer Britse troepe gestuur word om ’n brug in Arnhem oor te neem. In hierdie bloedige slag word ’n Suid-Afrikaner, wat deel is van die Britse Leër, gewond en die jonge Mentje red sy lewe. Maar wat word van die wesie? Hoe oorleef ’n alleenkind gedurende die berugte Hongerwinter van 1944 en 1945? Irma Joubert is ’n geliefde naam in historiese fiksie. Al haar vorige romans was topverkopers en met Mentje, kind van Pas-Opkamp sit sy hierdie tradisie voort. Soos gewoonlik is haar navorsing puik. Die Pas-Opkamp het werklik bestaan. Foto’s is op die internet beskikbaar.

Irma Joubert is een van ons groot uitvoerprodukte. Beide haar Tussen stasies-trilogie en haar Pontenilo-trilogie, asook die eerste twee boeke van haar oorlogstrilogie, naamlik Immer wes en Mentje, kind van Pas-Opkamp, is in Nederlands vertaal, waar dit telkens onder die topverkopers tel. Vier van haar boeke is reeds in Duits vertaal en HarperCollins in Amerika het The girl from the train (Tussen stasies) in 2015 uitgegee. Kronkelpad verower in 2014 die BCB Publieksprijs in Nederland. In die VSA is The girl from the train was in 2016 ’n finalis vir die Christi-awards, ’n buitengewone eer vir ’n vertaalde werk, en is dit deur Logos Books aangewys as die “Best Book of 2015”.


 

Drie vroue en ’n meisie
Hans du Plessis
ISBN: 9780799386110
R270.00

“Ek het vir prof ’n storie om te skryf.” Só begin Drie vroue en ’n meisie toe die mooie Katryn een middag ná klas ongenooid voor die skryfkunsprofessor se lessenaar kom staan.

Wat volg is soms lig en sexy, maar dié roman belig te gelyke tyd die afgryslike armoede van wit en swart Suid-Afrikaners, asook die klasbeheptheid van die vroeë Afrikanerelite.

Hans du Plessis het die vermoë om die leser te tart met heerlik speelse inligting, net om jou daarna weer bloot te stel aan die ellende van hulle wat nie het nie.

Ons leef nou, in die een-en-twintigste eeu, weer in ’n fase waar die politieke elite hulle vergryp aan die duurste en die beste terwyl die armes gewoon van honger sterf. Du Plessis hou ’n spieël na die verlede op en wys hoe eenders dit was toe die vorige heersersklas net vir hulself gesorg het en niks vir ander omgegee het nie.

Die einde bring hoop en daar is beeldskone verhale ook in die boek, maar uiteindelik is Drie vroue en ’n meisie ’n roman wat ’n diep seer blootlê en geen pleisters vir die wonde bied nie. Armoede se pyn en die elite se argwaan is skynbaar universeel.

Die ingrepe van die kerk en die staat se maatskaplike werkers bring uiteindelik verligting.

Drie vroue en ’n meisie vertel die saga en lotgevalle van drie generasies vroue wat by Katryn se grootjie in die miserabelheid van die delwerye van Miersehoop, wat byna reeds uitgewerk is, begin. Almal wat kom soek het na ’n diamant so groot soos ’n skaapkop, weet teen hierdie tyd die droom is aan ’t sterwe; maar die hoop bly, die hoop bly. Nypende armoede en hoogmoed, onnoselheid en opregtheid vermeng op die harde Noordwes-Hoëveld en verdring só alles wat goed kon wees.

Hieruit groei die verhaal van ’n weeskind wat nie kos of menswaardigheid gegun word nie, laat staan keuses. Daaruit ontvou nog ’n verhaal en daaruit nog een.

Die roman toon sterk ooreenkomste met JM Coetzee se Disgrace, hoewel die storie gans anders is; daar is ook iets van Herman Charles Bosman te bespeur.

Die Blondine? Hans sê hy wens ook die storie van mooie Katryn en die ou prof is dalk die reine waarheid. Hoekom dan nie? Hy is mos ’n prof wat fiksie opmaak.


 

Brand
Peet Venter
Politieke riller
ISBN: 9780799386141
R270.00

Hoë politici sweer saam om Suid-Afrika in ’n diktatorskap te dompel. Die armes het genoeg gehad en kom in opstand. Die land brand.

Sagte kolonisasie, noem party mens dit. Staatskaping noem die media dit.

Mense vir wie Thys Krige omgee, kry seer. Kort daarna word hy deur internasionale agentskappe genader om te help, want ons korrupte president speel in die hand van buitelandse moondhede met imperialistiese ambisies. Die tentakels daarvan is al so diep in die struktuur van mense in sleutelposte, dat niemand meer seker is wie betrokke is en wie vertrou kan word nie.

Die diknekke word ryker. Die armes krepeer.

Die prez weet sy einde is naby. Hy soek ’n rede om ’n noodtoestand af te kondig.

Thys se speurwerk kom of ’n afgryslike ontdekking af... Hy vermoed traangas word gedokter met dwelms om mense heeltemal berserk te maak. Is mieliepap, die stapel van die armes, volgende?

Brand is ʼn donker, skokkende verhaal, veral op emosionele vlak. Venter het min genade vir sy leser. Dié boek bied oplossings, maar nie spookasemeindes nie.

Brand is die vyfde boek in die Thys Krige-reeks. Dieper as die bloed, Ou bloed, Waar boosheid broei en Plasenta was die eerste vier.


Korter tekste

Die perfekte brander en ander verhale
Marieta Nel & Adinda Vermaak (samestellers)
ISBN 9780799383805
R150,00

Stories oor die pyn en vreugdes van verlief wees. Stories oor die waagmoed, twyfel en uitdagings van jonk wees. Stories wat jou sal laat glimlag of ’n traan laat wegvee. Stories wat wéét hoe dit voel om sestien te wees.

Bekende skrywers en nuwe stemme skuur skouers in hierdie fantastiese bloemlesing wat kyk na die lief en leed van ouer tieners.

Elizabeth Wasserman, Christien Neser, Nelia Engelbrecht, Leon de Villiers, Anzil Kulsen, Fawa Conradie, Nellie Alberts, Carina Diedericks-Hugo, Anzil Kulsen, Maria Vos, Solette Swanepoel, HemelBesem, Marlene Smit, Christine Barkhuizen le Roux, Jaco Fouché, Jaco Jacobs, Fanie Viljoen, Nathan Trantraal, Santie Nel, Dewald Koen, Tanya van Buuren Botma, Jan van Tonder, Eldridge Jason, Kobus Brown, Christo Davids, Madri Victor, Lynné Schoeman en Izak de Vries.

Jip, ’n bloemlesing met 27 splinternuwe verhale oor die vreugde, pyn en avontuur van jonk wees.

Marieta Nel en Adinda Vermaak het as samestellers reeds twee topverkoper-kortverhaalbundels die lig laat sien: Sweef (2009) het al meer as 40 000 kopieë verkoop en Skreeu (2010) se vier oplae het al meer as 17 000 kopieë verkoop.


 

Vroue Van Atlantis
Samestellers: Anastasia De Vries & Eldrige Jason
ISBN 9780799368291
R195,00

“En ons sal nooit weer dieselfde mense wees nadat die 12 vroue met ons gebeur het nie. Dit was 'n besondere voorreg om saam met Suzanne en Eldridge Jason te werk en die wonderlikste is dat van my kollegas en ons studente deel hiervan is.” – Anastasia de Vries

Twaalf ongelooflike vroue wat ’n verskil maak tussen die bendes, die werkloosheid en die koeëls. Atlantis is steeds die verlore stad, maar hierdie twaalf vroue se verhale inspireer. Dit is ’n moetlees vir almal wat glo dat liefde en geloof ’n verskil kán maak.

Atlantis aan die Weskus was die breinkind van ’n vorige regering se “desentralisasiebeleid” – maar is tans die toonvenster van ontheemding. Uit hierdie wanhoop, staan dié twaalf vroue se stories soos fakkels in ’n lang, donker nag.

Dit het alles begin met ’n gemeenskapsprojek deur die ATKV in Atlantis. Die vroue, en ander fakkeldraers, toon dat Atlantis ’n stad van verborge skatte is.

Die samesteller en bydraers: Anastasia de Vries en Eldridge Jason is beide skrywers en joernaliste. Anastasia is ook ’n dosent aan die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Wes-Kaapland (UWK).

Ander bydraers is die joernalis Christa Prinsloo, sowel as ses UWK-studente: Chandré Cloete, Suné van Rooyen, Geraldine Fortuin, Ebenesia Pieters, Jolyn Phillips en Courtneigh Ess.

Die boek bevat ook ’n aantal foto’s deur Izak de Vries.

Die opbrengs van dié boek sal deur die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Wes-Kaapland (UWK) aangewend word as studentebeurse.


Kinderboeke

Hoendervleis: Grillerige stories en rympies
Jaco Jacobs
Illustreerder: Juanette Smuts
ISBN: 9780799383874
R130.00

Kom slaap ’n nag lank in die spookkamer. Vind uit wat gebeur as jy ’n poets op ’n onnie soos juffrou Grimbeek bak. Waag dit om ’n paar baie spesiale handskoene aan te trek. Ontdek die nuwe rugbyheld se grillerige geheim. Vind uit waarom jou kleinboetie nog elke aand met sy bedlampie aan slaap. En kom swem in die Middernagmeer… as jy dapper genoeg is.

Hierdie boek vol grillerige stories en rympies sal jou heerlik hoendervleis laat kry! Daar is ’n weerwolf wat saam op die skoolkamp gaan, ’n paar spokerige handskoene wat goed is met klavier speel, ’n baie vreemde onderwyseres – en iets wat jou die hardste van almal in die fliek sal laat gil!

Jong grilvrate sal versot wees op hierdie versameling stories en rympies uit die pen van Jaco Jacobs.


 

Volmaan
Jaco Jacobs
Illustreerders: Nico Meyer, Kobus Faber, Alistair Ackermann & Stephen Wallace
ISBN: 9780799380798
R150.00

Veertien jaar gelede het Jaco Jacobs se eerste boek, Troetelgedrog, verskyn. Nou word dit weer uitgegee in hierdie wonderlike omnibus saam met vier van sy ander boeke wat nie meer in omloop was nie: Tande, Nag van die monsters; Nagvlerke en Voelers.

Ontmoet ’n onderwyseres wat op volmaannagte in ’n weerwolf verander. Ontdek ’n speelding wat allerhande vreemde dinge begin aanvang. Vind uit van ’n eksperiment wat jou in ’n insek laat verander. Besoek ’n vakansieplaas waar reuse-vlermuise snags buite rondvlieg en gaan beleef ’n grillerige monsterfliek waaruit jy nie maklik ontsnap nie! Kry jou flits uit, kruip onder die komberse in en maak gereed om lekker te ril en te gril met hierdie GROOT en GRILLERIGE versameling stories


 

La di da, Lulu
Fanie Viljoen
Illustreerder: Elsbeth Eksteen
ISBN: 9780799384291
R120.00

Lulu droom daarvan om eendag ’n modeontwerper te word. Niks is vir haar lekkerder as om pragtige ontwerpe in haar rooi tekenboek te skets nie.

Die skool beplan ’n spesiale verjaardagfees. ’n Groot fees met lekker kos, ’n pretpark en speletjies. Daarom vra die skoolhoof vir Lulu om nuwe uniforms vir die trompoppies te ontwerp. Iets asemrowends! Iets la-di-da waarmee hulle by die fees gaan optree. Maar ongelukkig is daar ’n vreeslike misverstand – en Lulu verbrou haar enigste kans om die uniforms te ontwerp. Lulu is stomgeslaan. Een van die ander kinders in die skool gaan die klere ontwerp en maak. Maar wie?


 

Prinses Klara en die krokodil
Laura Amy Schlitz
lllustreerder: Brian Floca
ISBN 9780799384314
R130,00

Prinses Klara se ouers glo ’n prinses moet skoon en slim en sterk wees. Daarom laat haar oppasser haar drie keer per dag bad. Haar ma lees vir haar vaal, vervelige boeke. Haar pa laat haar elke dag honderde keer touspring.

Prinses Klara is siek en sat daarvoor. Sy besluit wat sy nodig het, is ’n bietjie pret en avontuur. Daarom skryf sy vir haar towertante ’n spesiale briefie om te sê sy soek ’n hond. Die volgende oggend staan daar ’n boks voor haar bed … maar binne-in is nie ’n hond nie. Dis ’n krokodil! ’n Krokodil wat glad nie weet hoe om hom mooi soet te gedra nie … Prinses Klara besluit sy gaan die dag afvat. Sy beleef allerlei prettige avonture in die buitelug – sy klouter in bome rond, pluk aarbeie en raak heerlik vuil – terwyl die krokodil ’n rok aantrek, ’n kroon opsit en sy lyf prinses hou en die kasteel op sy kop keer!

Kinders sal versot wees op hierdie lawwe skaterlag-avontuur! Die boek is perfek vir voorlees of selflees.


 

Die Babalela-storieboek
Martie Preller
Illustreerders: Andries & Erica Maritz
ISBN: 9780799384239
R200,00

Diep, diep in ’n donker bos / waar die son net soms deur die takke loer, / diep, diep in ’n donker bos / waar die varings welig diepgroen staan, / diep, diep in ’n donker bos, / in ’n hol boomstomp, net onder ’n blaar, / woon die Babalela.

Duisende Afrikaanse kleuters ken die betowerende openingsrefrein van Martie Preller se immergewilde, bekroonde Babalela-boeke. Meer as 85 000 eksemplare van die vier titels in die reeks is al verkoop. Kom kuier saam met die Babalela en sy maats Meermoskat, Knortand, Potifant, Wrrrumpie en die lawaaierige Fripperwakkies in die bos; kom beleef hope avonture! Vir die eerste keer verskyn al vier Babalela-boeke nou saam in een storie-omnibus. Dit sluit vier stories in: Babalela, Diep, diep in ’n donker bos, Los ons uit! en Ons kan!


 

Strikdans
Christien Neser
ISBN 9780799383867
R150,00

’n Ramp.

Daar is geen ander manier om dit te beskryf nie. Elle is in matriek. Dit is veronderstel om die beste jaar van haar hele skoolloopbaan te wees. Sy is immers vanjaar hoofmeisie, sy het die beste vriende waarvoor enige meisie kan vra, sy gaan met die ou van haar drome uit, en daar is hope opwindende dinge by die skool om na uit te sien.

Maar die jaar skop op ’n aaklige noot af. Dinge tussen haar en Alex loop skielik skeef en by die skool wag ’n groot skok op almal toe die hoof, mevrou Bender, onverwags ernstig siek word. Die waarnemende hoof, doktor Grimm, voel ’n veer vir die skool se tradisies en die spesiale projekte waaraan Elle-hulle soveel tyd en aandag bestee het. Al waarin die vreemde man met sy strikdas en sy fobie vir katte belang stel, is wiskunde. Hy is vasbeslote om Gravitas die beste wiskundeskool in die land te maak. Elle besluit sy kan nie net toekyk hoe Gravitas se trotse tradisies die een ná die ander sneuwel nie. Maar kort voor lank kom haar hoofmeisiebalkie in gedrang oor hierdie standpunte!

Christien Neser se reeks tienerboeke oor die wel en wee van Elle Kroon is baie gewild, met selfs volwasse lesers wat nie kan wag om elke nuwe Elle-avontuur te verslind nie. Hierdie een, die negende boek in die reeks beloof om net so skreeusnaaks, aweregs en romanties soos sy voorgangers te wees. Meer as 59 100 kopieë van hierdie uiters gewilde reeks is al verkoop.


Reekse

Dinowêreld

Rex Stone

 R130,00 elk

Is jy gereed vir die grootste avontuur ooit? Johan en sy beste vriend, Tom, ontdek ’n geheime grot met versteende voetspore in Dinobaai. Toe hulle op die voetspore loop, beland hulle in ’n wêreld vol regte, lewende dinosourusse. Saam met hul dino-maat, Wanna, beleef die twee seuns allerlei asemrowende – maar ook gevaarlike – oertyd-avonture!

Dinowêreld Omnibus 1
Rex Stone
ISBN 9780799380774

Hierdie omnibus bevat die eerste vier stories uit dié gewilde reeks:

Aanval van die akkediskoning: Johan en Tom ontdek die geheim van Dinobaai. Nou wag daar hope avonture op hulle. Op hierdie geheime plek is allerhande dinosourusse, ook ’n enorme T-rex wat warm op die twee seuns se spoor is …

Stormloop van die driehoring-monster: Johan en Tom keer terug na hul geheime dinosouruswêreld. Hulle kan nie wag om dit verder te verken nie. Maar toe ’n Triceratops-trop op hulle afstorm, lyk dit of die seuns platgetrap gaan word. Daar is net een uitweg – hulle sal op een van die dinosourusse se rug moet probeer ry!

Mars van die gepantserde reuse: Johan en Tom is terug in Dinowêreld. Hulle ontdek ’n jong Ankylosaurus wat in die modder vassit. Die seuns moet die baba-dinosourus red voordat die modder hom insuig – maar hoe? En wat sal gebeur as die ma terugkeer en haar reusagtige, dodelike stert begin rondswaai?

Vlug van die pterosourus: In hul geheime dinosouruswêreld soek Johan en Tom na die grootste vlieënde reptiel wat ooit geleef het, Quetzalcoatlus. Maar wat gaan hulle doen wanneer die reuse-pterosourus dink hul dino-maat, Wanna, is haar kuiken en met hom wegvlieg? Daar is bitter min tyd om hul maat te red …

Dinowêreld Omnibus 2
Rex Stone
ISBN 9780799380781

Hierdie omnibus bevat nog vier stories uit dié gewilde reeks:

Vang die dief!: ’n Blitsige Velociraptor steel die Fossielvinder en Johan en Tom moet hom agternasit. Ná ’n dolle jaagtog deur die gevaarlike oerwêreld, haal hulle die skelm dinosourus in. Maar hoe gaan hulle hom uit sy grot lok om die Fossielvinder terug te kry?

Hier kom die reuse-reptiele!: Johan en Tom se dinosouruswêreld is tjoepstil – geen dinosourusse brul nie, geen insekte zoem nie – en hulle vind gou uit waarom … ’n Meteoor stuur reg op hulle af. Boem! ’n Verskrikte Edmontosaurus-trop storm op die rand van ’n reuse-krater af. Sal die seuns hulle kan keer voor hulle in die dieptes afstort?

Stegosourus-probleme: Johan en Tom is terug in Dinowêreld – maar hierdie keer is dit in die Jura-tydperk! Die seuns en hul dino-maat, Wanna, kan nie wag om uit te vind watter avonture in hierdie nuwe prehistoriese tydperk op hulle wag nie. Toe ’n Stegosaurus in die moeilikheid beland, moet hulle probeer help …

Onderwater-avontuur: Johan en Tom gaan snorkelduik in hul geheime dinosouruswêreld. Selfs Wanna gaan dit in die see waag! Onder die water sien hulle ongelooflike oerdiere. Maar wat hulle nie weet nie, is dat ’n reuse-plesiosourus onder die branders rondswem …


 
Ek lees self-reeks

Wendy Maartens

Illustreerder: Zinelda McDonald

R50.00 elk

’n Liefde vir lees is een van die grootste geskenke wat jy vir jou kind kan gee!

Hierdie reeks is die perfekte wegspringplek vir beginnerlesers. Vind uit wat gebeur as Rooi Hen op ’n dag besluit om brood te bak, stap saam met die drie Rammetjies Rof oor die nare ou trol se brug, en ontmoet ’n padda wat op ’n dag baie, baie kwaad geword het…

Die Ek lees self-reeks bestaan uit pragtig geïllustreerde boeke, elkeen met ’n prettige dierestorie wat in eenvoudige taal oorvertel word sodat beginnerlesers dit maklik kan baasraak.

Elke boek bevat ook nuttige wenke wat ouers kan help om die jongklomp se leeslus aan te wakker.

Ek lees self: Rooi hen bak brood
Wendy Maartens
Illustreerder: Zinelda McDonald
ISBN: 9780799383706

 

 

Ek lees self: Die drie rammetjies rof
Wendy Maartens
Illustreerder: Zinelda McDonald
ISBN: 9780799383713

 

 

Ek lees self: Padda word kwaad
Wendy Maartens
Illustreerder: Zinelda McDonald
ISBN: 9780799383720

 

 

Ek lees self: Muis red leeu se lewe
Wendy Maartens
Illustreerder: Zinelda McDonald
ISBN: 9780799383737

 

 

Ek lees self: Die gans wat goue eiers kon lê
Wendy Maartens
Illustreerder: Zinelda McDonald
ISBN: 9780799383744

 

 

Ek lees self: Sprinkaan leer werk
Wendy Maartens
Illustreerder: Zinelda McDonald
ISBN: 9780799383751

 

 


 

Die Betty Misheiker-reeks

Betty Misheiker

R80,00 elk

Hierdie reeks bestaan uit drie oulike prenteboeke gebaseer op die lirieke van Misheiker se immergroen kinderliedjies “Die lappop”, “Die eensame krokodil” en “Die dapper muis”. Geslagte Afrikaanse kinders het grootgeword met Betty Misheiker se prettige liedjies. Nou word hulle in hierdie pragtige, volkleurformaat uitgegee.

Die dapper muis
Betty Misheiker
Illustreerder: Chris Venter
ISBN: 9780799383775

Ek’s ’n dapper muis, kyk hoe stap ek deur die huis,
en daar’s niks waarvoor ek skrik nie.
Vir niemand is ek bang, daar is niks wat my kan vang,
nee, daar’s niks waarvoor ek skrik nie.
En sê nou daar’s ’n kat ...?

 

Die eensame krokodil
Betty Misheiker
Illustreerder: Johann Strauss
ISBN: 9780799383782

Ooo ...
Ek is ’n eensame krokodil.
Mense kyk vir my en gril.
Ek soek maters hoog en laag,
maar almal sê ek vreet te graag.

 

Die lappop
Betty Misheiker
Illustreerder: Karen Ahlschläger
ISBN: 9780799383799

Iemand het ’n lappop op ’n ashoop weggegooi,
sy was gedaan en stukkend,
verbleek en nie meer mooi nie.
Op die ashoop hoor sy stemme praat
en dié verwelkom haar.
Maar o, ellende, toe sy kyk,
wat sien die lappop daar?
Net ’n vrot pampoen en ’n stukkende skoen,
’n grammofoonplaat en ’n kous sonder maat,
net ’n leë bottel bier, ’n verlepte angelier,
’n gelapte binneband en ’n ou koerant.


 Niefiksie

Sielsiek: Die psiges van SA se koelbloedigste kriminele
Carla van der Spuy en Dr Henk Swanepoel.
ISBN: 9780799382914
R230,00

Waarom haak mense se koppe uit?

Chris Mahlangu, wat vir Eugene Terre’Blanche vermoor het, het hom nie net doodgeslaan nie, hy het hom letterlik aan stukke gekap met ’n staalpyp. Een jong man slaan ’n verpleegster met ’n stuk hout in die veld dood en haar kêrel tot in die hospitaal se waakeenheid. ’n Ander slaan beide sy aanneemouers bewusteloos met ’n krieketkolf en dan steek hy hulle meer as 20 keer elk in die bors met ’n mes, voor hy sy pa keelaf sny. ’n Manlike prostituut slaan sy vriend soveel keer met ’n knopkierie oor sy “onsedelike voorstelle” dat dié sterf aan ’n skedelbreuk. Waarom sal ’n heteroseksuele man wat by prostitute slaap ’n seun by winkelsentrum oplaai en met hom lol?

Vyf gevallestudies oor ware Suid-Afrikaanse geweldsmisdadigers, vertel deur ervare misdaadskrywer Carla van der Spuy en kliniese sielkundige Dr Henk Swanepoel.

Die boek bevat inligting oor persoonlikheidsversteurings, elke misdadiger se agtergrond, die dag van die misdaad, die hofsaak, Dr Swanepoel se onderhoude en bevindings tydens die verhoor, tot die opvolg tronkbesoek – van aangesig tot aangesig met die persoon.

***

The book is also available in English as Disturbed (ISBN: 9780799382945).


 

50 Hoendergeregte
LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799382853
R160.00

Jy loop ná ’n harde dag by die huis in, daar is die reuk van hoender wat prut... Ja, met hierdie resepte is dit moontlik, want selfs die niekokers in jou huis sal dit regkry. Of, as jy self moet kook, dan soek jy juis hierdie resepte met bestanddele wat reeds in jou koskas is of maklik by jou plaaslike supermark bekombaar is.

50 Hoendergeregte bevat vyftig veelsydige hoenderresepte wat aan gesinne maaltydinspirasie gedurende moeilike ekonomiese omstandighede bied.

Oondgerooster, oor die kole, as deel van bredies, sop of pasteie – hoender is maklik om voor te berei en ’n ekonomiese keuse vir elke gesin. Die resepte bestaan uit treffers soos: Blatjanghoender, Oros-hoender, Hoenderbobotie, Romerige hoender-stroganoff, Pikante hoender-en-lensiesop, Pynappelhoender, Hoender-en-brokkoli, Hoendersamoesas ’n Appelkoos-en-hoenderpotjie.


 

Beatrix Says: Get Chrochet Savvy
Beatrix Snyman
ISBN 9780799384673
R260,00

Join the trend!

Crochet has developed into the number-one craft for both young and old with a colourful variety of yarns and an endless array of patterns available.

But what to do when you don’t even know how to grip a crochet hook? The simple answer is, get Beatrix says: Get crochet savvy!

This is a complete crochet guide and a comprehensive manual to introduce beginners to the art of crochet. The full-colour photos and detailed instructions are complemented by beautiful crochet projects that will test your newfound skills. It includes the following:

  • Crochet hook sizes, types and the materials that hooks are made of.
  • A crochet-hook conversion chart between US, UK and metric sizes.
  • Stitch markers, yarn needles and measuring tools.
  • How to correctly grip the crochet hook and yarn (and what to do if you are a lefty).
  • How to choose the right yarn, the pros and cons of natural and artificial fibres, yarn weight, yarn substitutions and how to calculate quantities.
  • Colour theory and how to combine colours.
  • How to read patterns and diagrams and a complete list of general terminology and abbreviations between US, UK and Afrikaans.

Beatrix Snyman calls herself “an expert hooker” who has been offering crochet classes and workshops since 2012. She creates original crochet patterns for reputable local crochet yarn manufacturers such as Vinnis Colours and Nurturing Fibres.

Beatrix recently started her own range of alpaca and merino crochet yarn. She is well known and loved in the South African crochet community and she also runs her own crochet blog.

***

Die Afrikaanse weergawe van hierdie wonderlike boek, as Beatrix sê: Raak hekel-slim! Het vroeër vanjaar by LAPA verskyn. Die eerste oplaag is reeds uitverkoop.


Romanza

Hierdie handelsmerk vervul ’n bepaalde behoefte. Die goedvoel ná die lees van enige romanses skei dieselfde hormone af as wanneer ’n mens fisies iets doen wat jou laat goed voel. Dit help dus om swaarmoedigheid te verlig.

Romanza is ook die perfekte manier om jong meisies (van vyftien en ouer) aan die lees te kry. Navorsing wêreldwyd toon dat slegs 3% van alle romanselesers nie ook swaarder boeke lees nie. ’n Produk soos Romanza is dus ’n manier om jong mense lief te maak vir boeke.

LAPA gee elke maand vier vars Romanzas uit, ons gee ook nou ’n SuperRomanza uit en twee korter e-boeke.

Lesers wat by die Romanza-klub aansluit, kry boonop enorme afslag op LAPA se boeke.

Skakerings van liefde
Madelie Human
ISBN: 9780799385908
R200,00

Hoe lank straf die samelewing ’n meisie wat oor die tou trap? Baie lank, is Nadia se antwoord. Elke dag dink jy aan daardie seun wat jy weggeteken het. Om oorsee te vlug en ’n loopbaan na te jaag, help ook net ten dele.

Dan, eendag, sien sy haar kind op rolskaatse ry. Hierdie seun van haar het reeds ’n pa, al is dit sy aanneempa. Dat hy onlangs ’n wewenaar geword het, is nie regtig hoopvol nie. Wie kan hom kwalik kan neem dat hy agterdogtig, selfs vyandig, is toe hy uitvind hoe Nadia by hierdie oulike seuntjie van hom betrokke is?

Met stampe en stote leer sy die man beter ken.

Die aanneempa besef dat Nadia dalk ’n goeie ma sal maak, en die aanbod van ’n huwelik hang skielik bo haar kop. Wil die man vir háár hê, of dink hy net aan sy kind? Soek hy dalk net ’n lekker lyf, een wat reeds een maal té gou té gewillig was?

Romantiese fiksie het groot geword en LAPA is trots op ons skrywers wat die rou seer van menswees kan aanspreek sonder om te wroeg. LAPA is ewe trots daarop dat die Romanza-logo op die voorblad enige leser sal gerusstel dat hierdie boek se einde hoop sal bied aan die karakters én die leser. Ons handelsmerk waarborg dit.

Skakerings van liefde is Madelie Human se tweede SuperRomanza in die Skakerings-reeks. Dit volg op Skakerings van hoop wat in April 2017 verskyn het en uiters gewild is.


 

Bewustelik joune
Elsa Winckler
Superromanza
ISBN: 978 0 7993 8608 0
R210.00

Bruce Fordyce, die beroemde Comrades-atleet, het jare gelede al gewaarsku dat langafstandhardopers nie goeie troumateriaal maak nie...

Kris se lewe is weer op koers. Dit was vyf jaar van harde bene kou ná die aanval. Die letsel op haar gesig is steeds daar, die nagmerries ook. Haar verbreekte verlowing? Dit is iets van die verlede. Haar aanvallers is agter tralies.

Dit was ’n lang, lang pad waartydens sy baie van haarself geleer het. Om hierdie rede breek sy soms weg uit haar haar fisioterapiepraktyk om ander te help om bewustelik te lewe, mindfulness word dit in Engels genoem.

Tydens een van die kursusse kruis haar en Luca se paaie. Hy is ’n ultra-atleet wat nog verder hardloop as Bruce Fordyce. In sy wêreld daar nie plek is vir enigiets anders as hardloop nie, laat staan ’n vrou, veral nie een met issues nie. Daarvan het hy genoeg gehad.

Hoe gemaak as jy skielik ’n huis deel met iemand wat bewustelik dáár is? Wat doen jy as jy haar nagmerries nie kan ignoreer nie?

Luca moet fokus vir sy volgende wedren in Amerika om sy borge tevrede te hou. Hy moet wen, anders het hy verloor, dis sy leuse.


 

Onwillig verlief
Marijke Greef
R295,00
ISBN 9780799386806

Hierdie lekkerleesmega-omnibus is net reg vir die vakansie wat voorlê! Dit bevat drie van Marijke Greeff se vorige Kaapse liefdesverhale: Esmeralde, Seerower vir Shakira en Markies vir Melesinda.

Swaarde! Passie! Bloed!


 

Moed vir die liefde
Marilé Cloete
ISBN: 9780799385786
R85,00

LAPA kondig trots aan dat ons Romanza-reeks weer eens grense breek. Romantiese helde moet mos perfek en foutloos wees, nie waar nie?

Wel, nie in Marilé Cloete se Moed vir die liefde nie.

Dawid het ’n donker kant en dis nie bloot sy mooi hare nie. Dawid ly aan depressie.

Ja, Dawid, die man met die mooiste blou oë, wat die eerste kliënt in Renate se tatoe-studio gaan wees, sit met ’n wesenlike probleem.

Oktober is Geestesgesondheidsmaand. Die doel is bewusmaking en die skep van hoop. Dawid is ’n held, maar hy is ook ’n mens, soos so baie ander in die samelewing. Hy is nie perfek nie.

Hoe hanteer Renate hierdie inligting?

Beter nog, hoe hanteer die skrywer so ’n swaar onderwerp sonder om te verval in ’n gekners van tande? Want, as daar ’n Romanza-logo op die voorblad is, beteken dit die leser wéét daar is hoop.

Onthou: Depressielyers kan ook romantiese helde wees.


 

Hoe die liefde werk
Annarie Linde
ISBN: 9780799385816
R85,00

In Londen sit Wilmien die orige “Batman” en sy pel mooi op hul plek. Hoe durf hulle haar op haar rokkie en hoëhakskoene takseer? Terug op eie bodem kry sy ’n skok: Batman van die moltrein is haar nuwe baas se seun.


 

Vir nou, altyd en daarna
Felicia Snyman
ISBN: 9780799385847
R85,00

MacKenzie skep goeie aantreklike en intelligente vir-altyd-helde vir haar blog. Maar in haar wêreld is hierdie mans so skaars soos hoendertande... Of so dink sy totdat sy Scheepers Rossouw in die tou by die stembus ontmoet.


 

Man van die maand
Karlien Badenhorst
ISBN: 9780799385878
R85,00

Mia se redakteur vra haar om die Man van die maand-rubriek oor Luc Raath te skryf. Hier is haar kans om die pos as rubriekskrywer te verdien en niks mag verkeerd loop nie. Maar een kyk in Luc se groen oë en sy weet hier is moeilikheid.


 

Liefde vir ’n ridder
Didi Potgieter
ISBN: 9780799385960
R85,00

Annabel en haar klein Ami moet vir drie maande in New York saam met JackParker in sy suite bly. Hy sal dit oorleef. Hy is tog immers nie die troutipe nie. Maar hoekom voel sy hart deesdae so snaaks?


 

Bêre my soen
Dina Botha
ISBN: 9780799385991
R85,00

Jaybee en Maxwell moet met mekaar trou want die eenwording van hul twee familiename sal ’n ongeëwenaarde sakeryk skep. Ai, maar sy is verlief op ’n ander man, Will, wat sy pas ontmoet het… Hoe gaan haar hart dit oorleef?


 

Maskerdans
Frenette van Wyk
ISBN: 9780799386028
R85,00

Loiselle is by Angelique Parfumeurs om die geur van Afrodite – die godin van liefde – in ’n bottel parfuum vas te vang. Nie om haar hart te verloor nie! Nie op haar baas Francois Valour of die geheimsinnige Kenzo wat sy by die maskerdans ontmoet nie.


 

Vonkelwyn en liefde
Madelein Stoltz
ISBN: 9780799386059
R85,00

Anouk se hardkoppige ouma veil haar in ’n e-pos aan haar gunstelingskrywer, Dexter Buys, op. Gelukkig sal sy nooit die man ontmoet nie. Maar Dexter is haar vriendin se nuwe swaer. Waarom voel Anouk afgehaal omdat hy haar nie herken nie?


 

Liefste omgeeman
Petronel Louw
R85,00
ISBN 9780799386776

Janika het ná haar ouers se dood op haar werk gefokus en met sukses ’n dik en baie hoë muur om haar hart gebou. Maar majoor Brink Lategan en sy helder grys oë vind ’n swak plek in die muur… en haar hart.

Ons eie spioen-Romanza! Bietjie aksie en liefde vermeng. Beide die held en heldin werk vir ondergrondse netwerke wat misdaad bekamp.


 

Verbode liefde
Alma Carstens
R85,00
ISBN 9780799386714

Zoey ontmoet die enigmatiese dokter Jano Marnitz terwyl sy met vakansie in Parys is. Hy ontwikkel ’n obsessie om haar gesig, wat in ’n motorongeluk geskend is, te herstel. Het hy dalk gevoelens vir haar of is dit slegs sy doktersinstinkte wat inskop?


 

Gister is lankal verby
Salomé Schutte
R85,00
ISBN 9780799386745

Om sy voete teen die warm sand te beskerm, tel Lia ’n seun by die strand op en ontmoet sy mooie, maar moeilike pa, Viljé. Sy weet sy moet wegbly van hulle, maar die oulike seun steel haar hart − ’n talent wat hy blykbaar met sy pa deel.


 

Op die sypaadjie
Elsa Winckler
R85,00
ISBN 9780799386370

Lokteks: Armin is te befoeterd vir Sabrina en Sabrina verkies surfers met sexy bolywe wat nie heeldag werk nie. Maar dan leer sy hom van feng shui en hy begin wonder of sy dalk die yin van sy yang is.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top