Landbouproeë vir fynproewers by US Woordfees

  • 0

Shiraz en wildsvleis, Merino-lamsboud en Veritas-bekroonde wyne, topkase én rooibos is van die unieke proe-ervarings wat op fynproewers wag tydens die Agri-Expo Landboureeks by die US Woordfees van Vrydag 2 tot Maandag 11 Maart op Stellenbosch. Dié gewilde proeë, wat elke jaar vinnig uitverkoop, bestaan vanjaar uit ’n reeks van 10 proe-sessies.  

’n Opwindende nuwe toevoeging is die Shiraz-en-Wildsvleisproe waar jy sal ervaar hoekom Suid-Afrikaanse Shiraz-wyne as van die beste pasmaats vir wildsnitte beskou word. Edmund Terblanche, voorsitter van Shiraz Suid-Afrika, asook keldermeester en bekroonde wynmaker van La Motte-wynlandgoed, kom deel sy kennis terwyl glanssjef Bertus Basson van Overture- en Bertus Basson at Spice Route-restaurant faam verskillende wildsnitte – sonder enige tierlantyntjies soos konfyte, souse of speserye – voorsit.

Op aandrang van die publiek bied sjef Bertus vanjaar weer Merino-lambsboudproeë uit verskillende streke saam met Veritas-bekroonde rooi wyne aan. Die vleis is van Merino-lam wat telkens ewe oud is, ewe lank verouder en op dieselfde wyse gaargemaak is, met geen geurmiddels nie. Gaste kan dus die smaak en geure van die verskillende streke proe en self besluit watter streek se lam die beste smaak. Die bekende Kaapse Wynmeester en Veritas vise-voorsitter, Bennie Howard, sal die perfekte Veritas-bekroonde rooi wyne as pasmaats skink.

Carmién Tea, Piekenierskloof-wyne en Carmen Niehaus, Huisgenoot se kosredakteur, beloof ’n verruklike reis van geure en smake tydens hul proeë van kos, wyn én tee. Die Kaas-en-Wyn-proe werp lig op hoe nuwe kaassoorte en wynstyle geskep word, met die 2017 Boer van die Jaar Charles Back van Fairview wat kom vertel hoe vervaardigers te werk gaan om die smaaksin te betower.

Johan Ehlers, Hoof Uitvoerende Beampte van Agri-Expo, sê dat hulle as landbougenootskap poog om die beeld van landbou op die mees opwindende maniere te bevorder. “Met hierdie inisiatief, in samewerking met ons vennote, Skaapvleis SA, Merino SA, Wildbedryf SA, Shiraz SA, Fairview, Carmién Tee, BKB en Veritas glo ons dit is die regte rigting waarin ons met landbou beweeg. Die nuwe toevoeging van ’n wildvleisproe skep ’n ideale geleentheid vir die uitbreiding van dié bedryf in die Wes-Kaap.”

Die Kaas-en-Wynproe vind plaas op Vrydag 9 Maart; die Merino-en-Rooiwynproeë op Vrydag 2 Maart, Donderdag 8 Maart en Sondag 11 Maart; die Shiraz-en-Wildproeë op Woensdag 7 Maart en Saterdag 10 Maart; en die Carmién Tea-proeë op Saterdag 3 Maart, Sondag 4 Maart, Vrydag 9 Maart en Sondag 11 Maart. Al die geleenthede vind by Die Khaya in Ryneveldstraat, Stellenbosch, plaas. ’n Beperkte getal kaartjies is by Computicket beskibaar. Besoek www.woordfees.co.za of www.agriexpo.co.za vir meer inligting.

Skakels na die program op die US Woordfees se webwerf:
http://woordfees.co.za/event/agriexpo-landboureeks-carmien-tee
http://woordfees.co.za/event/agriexpo-landboureeks-kaasenwynproe
http://woordfees.co.za/event/agriexpo-landboureeks-merinoproe
http://woordfees.co.za/event/agriexpo-landboureeks-shirazenwildsvleis

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top