Lakenwit

  • 0

Wit lakens lê eensaam, gekreukel in nagmerries aan die regterkant van die dubbelbed. Voor die bekende geluid van die wekker, hoor ek my selfoon se luitoon tot vervelens toe sing.

"Hallo? Wat? O ... Nee ... Ja, ja, ek is Stiaan Reynders. Wanneer?" Aan die einde van die gesprek gaan die skreeuende wekker af.

"Voertsek!" raas ek. Ek beëindig besluitloos die oproep. Die selfoon tref die bed. Die wekker val na die houtvloer.

’n Koue stort en vinnige skeer fix als. Daarna klere, vandag geen suit en tie, net jean en hemp. Sedert verlede week se e-pos en aanhoudende geteister deur ’n ongeïdentifiseerde nommer, voel dinge nie juis pluis nie. Vanoggend se oproep het alles verander. Selfs die daaglikse protein shake word met ’n glasie whiskey vervang. Dit was die laaste strooi, besluit ek. Ek kan nie meer langer weghardloop nie.

’n Ek-beplan-nie-om-lank-te-bly-nie-rugsakkie word vinnig gepak. Ek gryp na die laaier en sleutel, albei verbasend vinnig opspoorbaar.

Wat het ek vergeet?

O, ja ... die katte. Die katte se kos word neergesit. Albei gemmerkatte baai nog in die oggendson. Ek groet  hulle met ’n handgebaar. My kinders het maniere van goud.

Die parkeerarea voor die blok flats waar ek bly sedert die bevordering, is grafstil. My blou Toyota se enjin veg teen die Bloemkoue. Na vyf minute se gevloek, kerm en skel, is ons in die pad.

"Thebo, demmit antwoord jou foon!" skree ek, maar al wat ek hoor is die beem-beem.

Ek's al byna voor sy huis, toe hy terugbel.

"Yes, bro? Sorrie brah, ek was nog deurie mis. Wat’s aan die gang?"

"Thebo, ek het ’n aanbod vir jou. ’n Proposisie, waaroor jy gou moet besluit."

"Bro, gooi dit!"

Ek vertel hom die hele storie. Van die vreemde e-pos van laasweek, tot en met vandag se oproep. Toe ek al die beans gespill het, stop ek op tyd by sy huis.

Thebo kom uitgehardloop, rugsak oor sy skouer, videokamera oudergewoonte om die nek.

Hy val langs my in. Ons stamp vuiste, soos ons as ou skoolbuddies nog altyd doen.

"Is jy seker hieroor?" vra ek voor ek die sleutel draai.

"Verseker. Bro's for life, Stiaan!" Hy klap my, oudergewoonte, op die skouer.

Dis nie net die manier hoe vriende mekaar opcheer nie. Ons is albei weeskinders, wat lank terug mekaar as broers aangeneem het. Ons twee ken mekaar al langer as wat ons onsself ken. Dus staan ons mekaar by, deur dik en dun.

***

Dis sterk skemer, toe Thebo se oë stadig oopgaan. Hy skuif-skuif homself orent hier langs my op die passasiersitplek. Maak seker sy kamera is nog veilig om sy nek en bestudeer die pad.

“Ja slaapkous ek weet wat jy gaan vra.”

Hy grinnik, maar vra steeds. “Hoe ver nog?”

“Van die naaste Engen af, of van ons destination af?” Ek haal vir ’n oomblik my oë van die pad af.

“Albei.” Sy skouers is ingetrek.

“Om en by so 10 km dan kan ons bene rek, maar nog ’n hele stootjie na Stompneusbaai,” verduidelik ek vinnig.

Thebo knik ingenome, vryf oor sy moeë oë en maak hulle weer toe. Ek wil aan hom stamp, hom dwing om wakker te bly. Sodat hy al hierdie stemme in my kop kan doodpraat. Maar ek weet ook Thebo het ingestem om saam te kom, maar nie om my heelpad te vermaak nie.

***

“Ugh,” kla ons albei gelyk  toe ons die padteken voor ons sien.

“Dis donkies ver!” kerm ek vanuit die passasiersitplek. Nadat ek byna voor ’n  Clover-vragmotor ingedraai het, het Thebo besluit om die leisels oor te neem. Al nadeel, Thebo bestuur volgens die padreëls en teen ’n bejaarde spoed.

“Dit sal jou weer laat dink, voor jy ’n rit vanaf Gauteng tot in die Kaap probeer indruk in ’n middag,” neem Thebo my kwalik.

“Hou op om so dramaties te wees.” Ek kruis my arms en kyk befoeterd die donkerte in.

“Hulle vat my seker vir ’n pop! Nog ’n bergpas, rêrig?” Thebo haat bergpasse, in totaal haat hy die N1, sowel as ’n grondpad. Dis nie abnormaal vir iemand wat as vyfjarige outjie albei sy ouers in ’n motorongeluk verloor het nie.

“Thebo!” gil ek meteens.

“Wat?” Dan sien hy die aankomende verkeer om ’n skerp draai op ons afpyl en swaai na links.

“’Skies brah. My fobie vir bergpasse het begin by my fobie vir afgronde en hoogtes en …”

“Chillax! Ek verstaan.” Hy lag verleë. “Jy’t soveel fobies, en dis die rede waarom jy hierdie afdraande soos ’n 70-jarige tannie agter die stuur aanpak.”

Thebo lag eers nie, maar toe ons die vallei binnery, teen ’n snelheid wat hy nog nooit gewaag het nie, begin hy verbouereerd lag.

“Hokaai!” terg ek, maar skielik begin die motor stamperig afbeweeg. Die wiele gly oor die nuut geteerde pad, totdat Thebo geen beheer oor die motor het nie.

“Wat gaan aan, Stiaan?” skree hy benoud, alles in die motor skakel af. Binne is dit donker, buite ook. Ons gille weergalm die nag in, soos die motor begin rol. Ons tuimel die donkerte in.

Toe ons uiteindelik tot stilstand kom, lê die motor op sy dak en my wêreld voel meer as net onderstebo. Ek sukkel om die sitplekgordel losgewikkel te kry. Met net ’n paar skrape, kruip ek uit die motor. Die lug ruik bedompig en die dampe wat uit die motor kom, maak my angstig.

“Thebo! Thebo!” Dit is stil in die vallei. Nie ’n enkele voertuig of enige hulp is te sien nie. Ek hardloop om na die bestuurderskant.

“Thebo?” Ek verwag om ’n bebloede, lewelose liggaam daar te kry, maar in plaas daarvan sien ek iets veel erger.

Ek sien niks. Thebo en sy kamera is skoonveld. Die voorste ruit, bestuurderdeur en -sitplek is onveranderd. Nie eers ’n druppel bloed op die toneel nie. Dit lyk of Thebo nooit daar was nie.

“Thebo!” roep ek oor en oor. Eers reageer ek soos ek altyd doen, woedend, maar na ’n ruk begin die vrees van die onbekende inskop. Ek dwaal al hoe verder van die geteerde pad af. Elke tree van die motor af is ’n tree dieper in die beboste valleiwoud in.

Na ’n paar minute van roep, gaan staan ek stil. Op soek na ’n geluid, ’n gevoel, selfs ’n aanraking, enigiets om my te oortuig, hierdie is nie net nog ’n nagmerrie nie.

Soos die natgeswete, wit lakens van vanoggend, so lyk die spookagtige beeld wat in die verte flits. Is dit ’n lig? Is dit Thebo se kamera?

Ek trek nuuskierig my oë op skrefies om elke meter van die woudtoneel voor my te ontsyfer. Toe ek terugkyk na waar die voertuig staan, sien ek uit die hoek van my oog ’n verbygaande beeld.

“Thebo, waar is jy my broer?” roep ek die woud in. In daardie einste oomblik hoor ek die motor agter my in vlamme opgaan. Die skielike skok dwing my magteloos op my knieë. My hart klop uit ritme uit. Die knetterende vuur verklaar dat als wat was, so pas verander het in verbrande as.

***

“Het jy seergekry?” Haar stem kom van nêrens af nie. Ek deins terug van die stroompie waar ek water geskep het.

“Wie is jy?”  My hande is voor my uitgestrek, in beskerming.

My oë beweeg oor haar lyf. Rooibruin lokke val oor haar weggeteerde skouers, haar lippe in bloedrooi kontras met haar spierwit vel en lakenwit satynrok. Aha! Sy’s die vinnig bewegende lig wat ek deur die bome sien vleg het.

Sy steek haar bewende hand na my toe uit, maar ek beweeg opsetlik ’n paar tree terug. Totdat ek vasgekeer word. My rug is teen die bas van ’n akkerboom gedruk.

“Moenie bekommerd wees nie. Ek’s nie ’n reeksmoordenaar nie.” Sy giggel, ek sluk hard. Veg teen botsende emosies, toe die volmaan wat op die water skyn, haar skoonheid weerkaats.

“Hulle sê altyd so in die movies! Hoe kan ek jou glo?” stry ek, met die redenasievermoë van ’n tiener.

“Glo my of glo my nie.” Sy swaai om, haar krulhare word verder verstrengel in die wind.

“Wag!” Sy loer geamuseerd na my. “Waarheen gaan jy? Hoekom sal ’n meisiekind soos jy hier in ’n nare woud bly?”

Sy lag, sodat die takke van die bome afbuig om haar geluk te omhels. Haar immergroen oë fokus alleenlik op my.

“Hierdie is nie ’n nare woud nie.”

Ek wys na my bebloede knie en handpalms. Sy grinnik sag. “Wel,  nie teenoor sy bewoners nie, maar die woud hou nie van vreemdelinge nie.”

“So, jy bly hier? Is jy ’n bosfeetjie of wat?”

Sy lag nie, lyk doodernstig. “’n Ou soos jy lyk nie na die tipe wat in slaaptydstories glo nie.”

“Ek doen nie. Ek is ’n weeskind, niemand het ooit vir ons sprokies vertel nie,” sê ek verbitterd.

“Ag, shame,” spoeg sy die woorde uit, sonder enige simpatie. Ek hou van haar. “Vir jou informasie, ek is ook ’n wesie wat in ’n woud bly. En voor jy vra … nee, ek is nie deur wolwe of gorilla’s grootgemaak nie.” Sy storm befoeterd weg. Ek sit haar nuuskierig agterna.

“So dit lyk my ek en jy het baie in gemeen, meisiekind?” terg ek. Sy klap in my rigting, asof ek ’n knaende muggie is.

“Ek bejammer myself nie,” sê sy.

“Ek …” ek bly liewer stil. “Jy het nie dalk my vriend gesien nie, het jy meisiekind? Ek en hy was op pad Stompneusbaai toe, toe ons motor gerol het en hy net spoorloos verdwyn het.”

Haar blik verklap alles. Sy glo my nie, dink dalk selfs nog ek is van my trollie af.

“Toe daardie motor gerol het … het jy nie miskien op jou k…” sy lag weereens, die keer onbeheersd.

“Nee-nee, ek belowe. Sy naam is Thebo, ons is dieselfde lengte en hy het ’n kamera om sy nek. Het jy hom nie êrens gesien nie? Dis immers jou woud.” Dié keer glimlag sy selfvoldaan.

“Net om te verseker jy word nie lewendig opgeëet nie, sal ek jou vriend help soek. Belowe my dan, julle trap uit hierdie woude uit. Erik sal nie daarvan hou dat twee stadsjapies hier rondloop nie.”

“Erik? Ek dog jy sê jy is ’n weeskind?” vra ek deurmekaar.

“Ek is. Erik huisves my net. Kom jy? Of bly jy?” Sy kies koers die digte bosse in, en as ek nie na haar hand gegryp het nie, het ek in die eerste sekondes al verdwaal.

***

“Ons loop in sirkels en hierdie nag kom net nie tot ’n einde nie,” kla ek na ure. Uitgeput val ek op die modderige grond neer.

“Hy moet hier êrens wees.” Sy kom versigtig langs my sit.

“Sal die Erik-vent waarvan jy gepraat het, nie dalk vir Thebo gesien het …?”

Sy val my in die rede. “Nee, as Erik vir Thebo gekry het, is hy lankal bokveld toe en ons sou die geweerskoot enige plek in die vallei gehoor het. Hy haat vreemdelinge.” ’n Rilling oortrek haar lyf.

“Wie is hierdie Erik-ou?” My stem klink swak en bang.

“Hy is ’n kluisenaar.” Haar oë sterf as sy oor hom praat.

“Waarom jou dan huisves?” Sy kyk weg. “Jammer, dis nie my plek om te vra nie.”

Sy gryp haastig na my hand, vou dit toe in hare.

“Nee, dis orraait. Hy is nie só sleg nie. Eintlik het hy my lewe gered. Toe ek nog ’n baba was, het my ouers in hierdie einste vallei verongeluk. Hy het my gered van die vlamme. En van toe af groot gemaak in sy bos-cabin. Ek skuld hom my lewe.”

“Ek verstaan, maar gebeur hierdie motorongelukke dan gereeld hier?”

Sy skud net haar kop en fluister: “Nee, julle ongeluk was die eerste een sedert daardie dag. Dis soort van ’n spookroete dié! Sommige aande wag ek, maar hier kom nooit ’n enkele motor verby nie.”

Vrae hardloop deurmekaar in my kop, deur my bloed en na my ingekrimpte hart. Hoekom het ek en Thebo afgedraai op ’n verlate pad en in die situasie beland?

“Het Erik ooit probeer om jou te herenig met jou familie?” vra ek. ’n Enkele traan rol oor haar wang.

“Hy het probeer. Maar blykbaar was dit net my ma, pa, boetie en ek. Hulle al drie het daardie nag gesterf. Erik is al wat ek het.”

Ek het niks verder gevra nie. Ek weet hoe sy voel. Verlore.

***

Die geweerskote in die middel van die nag het my laat wakker skrik. My arm was beskermend om haar gevou, waar ons gerus het onder ’n boom. Maar selfs haar nabyheid het nie die nagmerries van vlamme, rook en huilende stemme laat verdoof nie.

“Erik!” gil sy en spring terselfdertyd orent.

“Hy het vir Thebo gekry!” gil ek toe ek tot die besef kom.

“Dalk is dit nog nie te laat nie. Kom!” Sy volg haar instinkte en sit die klank agterna.

***

Die takkies kraak onder ons voete soos ons deur die modderige grond ploeg. Op die verste punt van die digte woud is daar ’n steil afgrond. Met swaaiende voete hang Thebo met sy hele gewig aan niks meer as sy kamera se band nie.

“Thebo?”

In die vroeë oggendlig kan ek sy oë sien blink. Die angs daarin is onmisbaar. Hy reik uit na my, soos hy oor die rand hang en veg vir sy lewe.

’n Sterk geboude man met breë skouers en ’n helse baard loer met pikswart oë na my.  Hy staan tussen my en my broer.

“Karien, wat dink jy doen jy met hierdie vreemdelinge in ons woud?” bulder Erik se stem. Hy praat met die meisiekind, genaamd Karien.

“Erik, bewys tog genade aan hulle. Hul voertuig het gerol … hul was verlore en …”

“Bly stil. Hou op met snik!” snou hy haar toe.

“Moenie so met haar praat nie!” verdedig ek haar. Hy gee my ’n vuishou in die gesig.

Ek val vir ’n tweede keer na die grond. Byna lights-out. Sy kniel by my, beskermend. Die band tussen ons is sterk.

“Stiaan!” skree Thebo diep in die nood.

“Asseblief, meisiekind. Help my en Thebo. Ons sal jou uit hierdie ou se kloue laat …” Erik skop weer na my en voor ek weet is hy op my. Sy houe reën neer soos ’n haelbui en die skade bly moeilik om te bepaal toe ek my bewussyn verloor.

“Klim af van my brah af!” hoor ek Thebo meteens langs my gil en ek besef Karien moes hom gered het.

“Vat so, jou niksnut! Niemand mors met die orphan-bro’s nie!” en daarmee saam tackle Thebo hom soos ek hom geleer het.

***

“Kom saam met ons, meisiekind,” smeek ek vir Karien toe ons weer by die pad uitkom. In die verte hoor ons Erik gil. Na Thebo hom byna doodgeslaan het, het ons hom aan ’n boomstam vasgebind, met Karien se hulp natuurlik. Sy is soos die Suid-Afrikaanse meisie-weergawe van Tarzan, wat my, Stiaan Reynders dan die rol van Jane gee.

“Ek kan nie. Hierdie is my huis. My hele wêreld, dis al wat ek ken,” verduidelik sy.

“Erik gaan jou lewe hel maak nadat jy ons gehelp het,” sê Thebo.

“Hy sal weer goed word. Asseblief gaan nou. Ek sal oorleef, ek doen altyd.” Sy wil net weghardloop, toe ek my lippe vinnig teen hare druk.

***

Thebo sit langs my op die strand van Stompneusbaai. Die water spoel oor ons voete en wat gister gebeur het voel soos ’n droom. ’n Goeie kombinasie van ’n droom en ’n nagmerrie.

Na die prokureur die testament van my sogenaamde oom gelees het wat nooit die verantwoordelikheid geneem het om my te versorg nie, het ons nie ’n sent ryker daaruit gestap nie. Net ’n brief. Dis al waarvoor ons die hele pad gekom het.

Ek vou dit onbelangstellend oop.

“So, wat sê dit?” vra Thebo, toe ek die papier woedend opfrommel.

“Dit sê my ouers het verongeluk en is vermoedelik opslag dood. Plaaslike inwoners het rook en vlamme een nag agter die bergreeks gesien. Reddingswerkers is ontbied en het my, ’n  huilende baba op die agterste sitplek gered.”

Thebo frons. “Wag, ’n bietjie hoekom klink die storie so bekend…”

“My ouers het op ’n verlate pad, aan die onderpunt van ’n vallei verongeluk. Vermoedelik as gevolg van iemand wat op die motor geskiet het.”  Ek verduidelik die brief hardop. “Ek het ’n tweelingsussie gehad wat daardie nag net spoorloos uit die voertuig verdwyn het.”

“Dink jy wat ek dink, Stiaan?” Ons kyk vreesbevange na mekaar.

“Dat ek my tweelingsuster gesoen het,” blaker ek uit.

“…en vir Karien agter gelos het by die man wie sy dink haar lewe gered het, maar wat eindelik julle ouers se dood veroorsaak het.” Thebo se stem bewe.

“Erik haat nie net die vreemdelinge in sy woud nie, hy haat ook die vreemdeling op die valleipad. Hy wou ons vermoor soos hy my ouers vermoor het. Ons moet vir Karien gaan red.”

“Ek is in!” beaam Thebo sonder om te twyfel.

***

“Is julle seker, Kaptein?” pleit ek vir die hoeveelste keer.

“Ja, mnr Reynders. Ons het hierdie woude gefynkam. Hier is geen teken van menslike aktiwiteite nie, ook nie van ’n skuiling van enige aard nie. Ek hoop regtig nie u het die polisie se tyd gemors met ’n wolhaarstorie nie.”

“Ek belowe, Kaptein. Hier was…” maar niemand glo ons nie.

Toe die polisie in die skemerte inry, bly Thebo en ek daar staan. Ons luister na elke ritsel, elke voëltjie wat fluit en hoor die nagmerries weergalm.

“Meisiekind!” roep ek sonder om ’n antwoord te kry.

Toe ons wegry, begin dit saggies reën.

In die truspieëltjie kon ek sweer ek sien ’n bosmeisie in ’n lakenwit rok op die geverfde geel lyn staan. Maar wie sal nou die weeskind, Stiaan Reynders, se storie glo?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top