Laggend in rou

  • 1

Marietjie tuit haar lippies saam. Die fyn plooitjies maak ’n obsene prentjie van haar mond. Wanneer sy die sametrekking weer ontspan, vorm ’n horisontale streng lyn van oor tot oor. Sy lyk deesdae permanent geïrriteerd. Soos wat sy voel. ’n Suurlemoen van ’n vrou wat die klank van ’n lagbui met ’n intense haat begin vermy.

Karel kê-kê-kê waar hy langs die stoeptafel sit. Sy hand krampagtig om die brandewynglas gevou. Sy oë is nou getrek teen die ondergaande son, sy voete rus op die rots langs die bedding en sy gril vir die onversorgde tone in die bruin sandale. Hy is die versinnebeelding van ’n gek. Haar man het ’n idioot geword. ’n Laggende ligsinnige sot wat oor alles grinnik. Hoe meer hy drink, hoe meer gier hy en hoe meer hy lag, hoe meer bring hy die glas met die donker vog nader na sy mond.

“Brannas en Coke is die léwe!” gil hy en salueer sy glas vir wie ook al verby hul huis in die straat afstap. Marietjie het sku geraak vir mense. Die skaamte soos ’n permanente rooi geboortevlek oor haar gelaat.

“Dominee moet my help. Praat met Karel. Hy suip soos ’n vis en dis tog sonde as jou man jou so walg dat jy wil vlug. Dominee, help asseblief.” Sy het snot-en-trane haar binneste oopgevlek voor die predikant. Hom gesmeek om iets aan die saak te doen, want sy wat Marietjie is, is by radeloos verby. En wat haar betref, is Karel by reddeloos verby. Drank het sy god geword.

Treurniet Dominee het net sy kop geskud: “Jy moet geduldig wees, Marietjie. Die skok van julle Margatjie het hom kwaai geruk. Ek is seker dit sal weer oorgaan. Mense verwerk hulle hartseer op verskillende maniere.” Sy wou die predikant tot sy sinne klap. Kan die man nie sien wat besig is om te gebeur nie? Hy sal die stommerik nog so ewe kans gee en voor hy weet waar hy is, is Karel ’n volslae alkoholis.

En sy self treur net so oor Margatjie. Dit was haar lieflingkind. En dit is after all sý wat die kind uit die swembad moes gaan haal. Karel was ’n soutpilaar. ’n Versteende standbeeld geruk tot volslae stommigheid. Sy het ingeduik, Margatjie weer tot lewe probeer dwing. Haar longetjies gepomp en histeries geskree na bo. Terwyl haar man soos ’n verstarde beeld op een plek bly staan het. Waarom kan sý aangaan met haar lewe, die tragiek ten spyt? Wat is fout met hom? ’n Vrou wil opkyk na haar man, respek betoon. Maar die Vader weet, sy is nie in staat daartoe nie.

Die dood het nie net vir Margatjie kom haal nie. Dit het ook haar man geneem. Hierdie … uh ... ding is nie haar man nie. Sy ken hom nie.

Sy hardloop verskrik na buite toe sy ’n glas hoor val. Die splinters lê verstrooi oor die teëls. Karel staan rukkerig op en giggel soos ’n verspotte skoolseun. “Jammer Mammie, die glas was nat. Toe g-g-gy dit uit my hand. Kê-kê-kê,” bulder hy en gryp na die leuning van die stoel toe hy struikel en sy val probeer keer. Dit geluk hom nie en hy sak met ’n swaar slag na benede. ’n Stuk van die glas sny sy arm en hy laat ’n bloedstreep op die vloer agter toe hy strompelend probeer regop kom.

Marietjie voel die argwaan en die teensin in haar opstoot soos dik slym wat haar wil verstik. Sy soek na iets venynigs om hom toe te snou toe sy sy skouers sien ruk en sy laggery verander na ’n weeklaag en hartverskeurende geween. Hy huil soos ’n kind. Die snikke neem besit van hom en sy hele lyf ruk onbeheerst.

Marietjie se stoïsynse houding verander stadig toe sy onverwags deernis in haar voel opwel vir haar man van ouds. Sy stap na hom en neem hom in haar arms. Laat haar lippe teer oor sy gevlekte wange gly terwyl sy koergeluidjies maak.

“Ons sal hieroor kom, my man. Jammer dat ek so afsydig is. Dis maar net my manier. Ons sal hieroor kom.”

Sy sien begrip in sy ligte oë verskyn toe hy knik. “Ek is so jammer, Marietjie. Ek sal harder probeer. Dis net … dis net ... dis ék wat vergeet het om die swembadnet terug te sit. Ek het Filemon ’n duisend rand gegee om die blaam te vat.”

Hierdie keer kom daar nie ’n lag saam met sy woorde nie.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top