Laat die spelling van jou taal soos ’n paal bo water staan

  • 0

Taalmonument bied werksessie oor die nuwe AWS aan

Alle Afrikaanse taalpraktisyns word hartlik uitgenooi om saam met Gerhard van Huyssteen, voorsitter van die Taalkommissie, om ’n tafel te sit en touwys gemaak te word oor die veranderinge in die jongste, omvattende Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS).

Hierdie opwindende 11de uitgawe van die ‘taalbybel’, wat ’n eeu gelede vir die eerste keer verskyn het, bevat onder meer die nuutste nuutskeppings, nuwe woorde uit Afrikaans se gebruiksvariante, duidelikheid oor die gebruik van leestekens asook ’n lys Oosterse plekname en name van elemente in die periodieke tabel. 

As jy dus verward is oor die verskil tussen ‘handvol’ en ‘hand vol’, nie weet wat ’n ‘hommeltuig’ of ‘googleloer’ is nie of nog altyd trappe van vergelyking en afstandsamestellings beter wou verstaan, is hierdie werksessie (en boek) beslis vir jou. Gerhard sal vergesel word deur Jana Luther, ’n lid van die eindredaksie van hierdie lywige handleiding van meer as 800 bladsye (ook elektronies beskikbaar) wat deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Taalkommissie saamgestel is.

Die werksessie vind op Donderdag 19 Oktober 2017 vanaf 09:00 tot 13:00 by die monument op Paarlberg plaas en kos R50 per persoon. Koffie/tee is ingesluit en kursusgangers kan hul eie middagete bring of bestel by Volksmond Koffiewinkel op die perseel. Daar word aanvaar dat die kursusgangers bekend is met die reëls soos vervat in die vorige ‘groen’ AWS. Kursusgangers wat reeds die nuwe uitgawe het, behoort groter nut uit die werksessie te kry. Plekke is beperk, bespreek dus asseblief  vroegtydig by Nkita Pietersen op 021 872 3441 of e-pos student@taalmuseum.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top