kykNET-Rapport Boekpryse 2015: Hierdie boeke haal die kortlyste

  • 0

Die kykNET-Rapport Boekpryse word vanjaar vir die tweede keer toegeken.  In die eerste bestaansjaar van die prys is 54 inskrywings ontvang.  Vanjaar se oes was 56 titels en is ’n gawe aanduiding van die lewenskragtigheid van Afrikaans.

Ons het uitgesien na interessante en innoverende feite en fiksie in Afrikaans en het dit gekry! Die keurders was verras met die hoë gehalte van vanjaar se inskrywings, boeke wat leesplesier verskaf, insig verbreed en rigiede genre-indelings en -grense uitdaag.

Die meerderheid romans is steeds ingebed in die verwikkelde sosio-politieke konteks en geskiedenis van Suid-Afrika en soek deurgaans op subtiele wyses na ’n genuanseerde respons op die geskiedenis en eietydse problematiek.

Ook by niefiksie is daar ’n merkbare bemoeienis met die verlede, hetsy met ’n politiese, ekonomiese, historiese of kulturele invalshoek. Dit is kennelik ’n produktiewe genre wat ’n groot keuse bied aan lesers.

Die eksponensiële groei van misdaadfiksie in Afrikaans is opvallend, met veral vroueskrywers wat toenemend hierdie veld met sukses betree.

Vir filmmakers is daar genoeg intriges, kleurvolle karakters en scenario’s om ons Afrikaanse rolprentbedryf ’n goeie hupstoot te gee.

Die kortlys vir 2015 (alfabeties) lyk soos volg:

FIKSIE

buys250 Buys, Willem Anker (Kwela)
ester250 Ester, Kerneels Breytenbach (Human & Rousseau)
duisendstories250 ’n Duisend stories oor Johannesburg, Harry Kalmer (Queillerie)
nagmusiek250 Nagmusiek, Stephanus Muller (Fourth Wall Books)
kamphoer250 Kamphoer, Francois Smith (Tafelberg)

NIEFIKSIE

dfmalan DF Malan en die opkoms van Afrikaner nasionalisme, Lindie Koorts (Tafelberg)
nagmusiek250 Nagmusiek, Stephanus Muller (Fourth Wall Books)
sprokie250 Van sprokie tot tragedie in die kollig, Ilse Salzwedel (Penguin)

FILM

ester250 Ester, Kerneels Breytenbach (Human & Rousseau)
duisendstories250 ’n Duisend stories oor Johannesburg, Harry Kalmer (Queillerie)
hartslief Die respektabele meneer Hartslief, Chris Karsten  (Human & Rousseau)

Wenners in beide die fiksie sowel as die niefiksie kategorie ontvang elk R200 000 en die wenner van die Filmprys R100 000.

Die keurders van vanjaar se fiksie toekennings was filmmaker Gerrit Schoonhoven, prof Thys Human (NWU), prof Louise Viljoen (US) en prof Steward van Wyk (UWK) en by niefiksie was dit joernalis Irna van Zyl, filmmaker Herman Binge, boekfees-organiseerder Darryl David (UKZN) en prof Herman Wasserman (UCT).

Die wenners word op Donderdagmiddag 19 November aangekondig by ’n geselligheid in Kaapstad. Die wenner van die Jan Rabie-Rapportprys vir 2015 word by dieselfde geleentheid aangekondig. Dáárdie kortlyste word bekendgemaak in Oktober.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top