kykNET Fiësta-benoemings 2017

  • 0

fiestas_650

Die benoemings vir die kykNET Fiësta-toekennings is bekend gemaak. Die Fiëstas, die enigste toekenning van sy soort in die land, vereer sedert 2011 rolspelers vir hul uitsonderlike bydraes tot die land se grootste kunstefeeste.

“Die Fiëstas-paneel het in 2016 meer as honderd Afrikaanse debuutproduksies gesien,” sê Naudé van der Merwe, sameroeper van die Fiëstas-paneel. “Ons het belangrike insig gekry in wat vir kunstenaars en feeste belangrik is en ons kon elke fees se unieke karakter voel. Die spieël wat kunstenaars vir gehore ophou, reflekteer die tyd waarin ons leef en soms laat dit mens angstig, soms laat dit jou lag, huil, in verwondering staan, soms laat dit jou koud, maar meestal word jy geïnspireer.”

Een van die aanpassings wat die Fiëstas-paneel in samewerking met die organiseerders gemaak het, was om die musiekkategorieë uit te brei.

“In die musiekkategorieë was daar so ’n groot verskeidenheid dat ons besluit het om die kategorieë aan te pas en ’n wyer net te gooi om sodoende meer erkenning te gee,” sê Van der Merwe. “Daar is nou een kategorie vir grootskaalse produksies, een vir meer intieme musiekvertonings en een vir musiekvertonings wat ’n duidelike narratief volg.”

Die kategorie vir Beste Opkomende Kunstenaar is ook vanjaar terug met vier talentvolle jongelinge wat vir die toekenning in aanmerking kom. Daar is dus, ingesluit die toekennings vir die gunsteling fees en die Blou Stoel-toekenning, vanjaar ’n totaal van sewentien Fiësta-toekennings op die spel.

Die kykNET Fiësta-toekenningsgeleentheid vind op Donderdag 23 Februarie 2017 in die Kunstekaap-teaterkompleks in Kaapstad plaas en word regstreeks op kykNET (kanaal 144 op DStv) uitgesaai.

Vier jong regisseurs, Nico Scheepers, Amy Jephta, Wolf Britz en Steven van Wyk, is ook by die toekenningsaand betrek. Hulle sal elkeen verantwoordelik wees vir die vier vermaak-segemente van die aand wat die opening en finale insluit. Die uitvoerende regisseur van die toekenningsaand is Ian von Memerty en die musiekregisseur is Janine Neethling. Die TV-regisseur vir die regstreekse uitsending is Rudi Botha.

Hiermee die benoemdes in die onderskeie kategorieë:

 BESTE AKTEUR

Chris van Niekerk – Pa (KKNK)
John Kani – So Ry Miss Daisy (Aardklop)
Stefan Erasmus – As (Woordfees)
Tobie Cronjé – Kul (KKNK)

BESTE AKTRISE

Antoinette Kellerman – Die Huis van Bernarda Alba (KKNK)
Ilse Klink – Kristalvlakte (SOF)
Karli Heine – Heidi (KKNK)
Sandra Prinsloo – So Ry Miss Daisy (Aardklop)

BESTE MANLIKE BYSPELER

Albert Pretorius – Hond se Gedagte (Woordfees)
Dawid Minnaar – Die Huis van Bernarda Alba (KKNK)
Dean-John Smith – Kristalvlakte (SOF)
Tobie Cronjé – Heidi (KKNK)

BESTE VROULIKE BYSPELER

Cintaine Schutte – Die Huis van Bernarda Alba (KKNK)
Lynelle Kenned – Heidi (KKNK)
Nicola Hanekom – Kul (KKNK)
Nicole Holm – In Ongenade (Woordfees)

BESTE REGIE

Francois Toerien – Heidi (KKNK)
Jaco Bouwer – In Ongenade (Woordfees)
Marthinus Basson – Die Gangsters (Woordfees)
Nico Scheepers – Rooivalk (Woordfees)
Wessel Pretorius – Die Ontelbare 48 (Innibos)

BESTE TEATERONTWERP

Birrie le Roux (kostuums) – Die Huis van Bernarda Alba (KKNK)
Francois Toerien en Kosie Smith (beligting, stel, kostuums) – Heidi (KKNK)
Jaco Bouwer (stelontwerp) – In Ongenade (Woordfees)
Rocco Pool (stelontwerp) – Die Huis van Bernarda Alba (KKNK)

BESTE SPEL IN ’N SOLO-VERTONING

Anthea Thompson – My Briljante Egskeiding (Woordfees)
Frank Opperman – Hond (Innibos)
Richard September – Rooivalk (Woordfees)
Wessel Pretorius – Die Ontelbare 48 (Innibos)

BESTE NUUTGESKEPTE AFRIKAANSE OPVOERING

Dana Snyman en Frank Opperman – Hond (Innibos)
Francois Toerien, Grethe van der Merwe en Wolf Britz – Hensop! (Woordfees)
Nico Scheepers – Rooivalk (Woordfees)
Wessel Pretorius – Die Ontelbare 48 (Innibos)

BESTE OPKOMENDE KUNSTENAAR

David Viviers – Klara Maas se Hart is Gebreek (KKNK)
Faith Kinnair – Valencia (KKNK)
Tarryn Wyngaard – Kristalvlakte (SOF)
Vashti Prins – Die Gangsters (Woordfees)

BESTE PRESTASIE IN VISUELE KUNS

Alex Hamilton – kurator van visuele kunsprogram (Woordfees)
Amanda Botha – Herinnering aan Distrik 6: ’n Foto-uitstalling (SOF)
Hannalie Taute – Stink Afrikaners (Woordfees)
Lien Botha – Wonderboom (Woordfees)

BESTE PRESTASIE IN KLASSIEKE MUSIEK

Erik Dippenaar, Elsabé Richter en Bridget Rennie-Salonen – Camerata Tinta Barocca: Handel in die Voorkamer (KKNK)
Grethe Nöthling, Mathildie Wium en Stephanus Muller – Nagmusiek (KKNK)
Stefan Temmingh en Erik Dippenaar – Corelli & Co. (Woordfees)
Albie van Schalkwyk, José Dias en Francois du Toit – Three Pianos (Vrystaat)

BESTE MUSIEKGEDREWE PRODUKSIE – ARENA

Die Liedjieboer (Woordfees)
Charl du Plessis Boogie Woogie Big Band (KKNK)
Boontoe: Engelstemme vir Paasfees (KKNK)
Kô Laat Ons Sing – Adam Small (Woordfees)

BESTE MUSIEKGEDREWE PRODUKSIE – PODIUM

Hunkering na die Ses (SOF)
Mathys Roets (Aardklop)
Naledi Berge Nog So Blou (KKNK)
Rugsak Vol Robyne: Amanda Strydom (KKNK)

BESTE MUSIEKGEDREWE PRODUKSIE – TEATER

Die Afrikaansvatter (KKNK)
Hensop! (Woordfees)
Heidi (KKNK)
Huistoe (SOF)

BESTE AANBIEDING

As (Woordfees)
Kul (KKNK)
Die Ontelbare 48 (Innibos)
Rooivalk (Woordfees)

Die toekennings vir die gewildste fees asook die Blou Stoel-toekenning word by die toekenningsaand bekend gemaak. Feesgangers het onlangs klaar gestem vir hul gewildste fees en die benoemings is Aardklop Nasionale Kunstefees, Innibos Kunstefees, Vrystaat Kunstefees en die Oppiwater Kunstefees.

’n Tweede stemproses deur feesgangers sal dan die gewildste fees in die land bepaal. Feesgangers kan vanaf 12 Desember – 13 Januarie stem vir die fees van hul keuse by www.kyknetfiestas.co.za

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top