Kunste Onbeperk: paneelgesprekke oor die stand van Afrikaanse musiek by kunstefeeste

  • 6

Emo Adams, Deon Maas, Mercy Kannemeyer, Jaconell Mouton en Danie Marais

Die gehalte van musiek by feeste is iets waaroor gehore al vir jare kla. By vanjaar se KKNK het Deon Maas opskudding in musiekkringe en op sosiale media veroorsaak met sy rubriek oor musiek wat in Krit verskyn het. Maas voer aan dat dieselfde kunstenaars jaar na jaar op verhoë gesien word en dat daar min ruimte vir vernuwing en alternatiewe musiekopsies beskikbaar is. Dit raak egter ’n ingewikkelde kwessie, omdat smaak verskil en omdat gehore oor die afgelope paar jaar tot ’n mate gediversifiseer het – nog nie heeltemal nie, maar daar is ’n verskeidenheid in mense wat musiekkonserte bywoon. Daar word ook groei getoon in die verskillende genres teenwoordig by feeste, onder andere rymklets, hip-hop, riel en klassieke musiek.

’n Gesprek oor die stand van musiek by feeste is Maandag 15 Mei in die Kunstekaap gehou sodat kunstenaars kan sê wat hulle pla en hoe daar tot oplossings gekom kan word. Daar was twee sessies. In die eerste een het Churchill Naude, Carien Loubser, Willem Breytenbach, Jaconell Mouton en Emo Adams die paneel gevorm. Die tweede paneel het bestaan uit die organiseerders en vervaardigers Magdaleen Kruger, Shihaam Domingo, David Kramer, Wilmie Kritzinger en Retha Bornmann. Die gespreksleier was Danie Marais en die doel van die gesprek was om die gesprek wyer as net die KKNK te span en sodoende op feeste in die algemeen te konsentreer.

Willem Breytenbach, wat betrokke was by Huisgenoot Skouspel en Afrikaans is Groot, meen dat dit moeilik is om oplossings vir die musiekbedryf te vind, want een skoen gaan nooit vir almal pas nie. Vanuit ’n bemarkingsoogpunt (hy werk ook vir Lumico, ’n sosialemedia-bemarkingsmaatskappy) kan hy wel sê dat platemaatskappye in Suid-Afrika nie hul produk goed genoeg bemark nie. Hy meen ook dat die radiostasie RSG ’n goeie plek vir bemarking is vir sommige kunstenaars.

Op daardie punt het Emo Adams ’n bietjie verskil – ten einde te verseker dat teaters vol bly en dat mense na sy konserte toe kom, maak hy seker dat radiostasies juis nié sy musiek speel nie. Adams praat uit ’n teateragtergrond en meen dat jou lojale volgelinge na jou vertonings sal kom, maar daarvoor moet jy seker maak dat jy ’n kwaliteitproduksie op die planke sit.

Carien Loubser, die vervaardiger van Zoid Afrika, het erken dat daar talle uitdagings in die musiekbedryf is, maar ook talle geleenthede, wat beteken dat daar oplossings gevind kan word. Kunstenaars moet ook ’n sekere mate van entrepreneurskap hê sodat hulle die waarde van werkskepping kan besef.

Die musiekbedryf gaan, nes ander vermaaklikheidsbedrywe in die land, gebuk onder swaar finansiële laste en dit kan as ’n uitdaging gesien word. Indien entrepreneurskap ontwikkel word, kan daar tot effektiewe oplossings vir die musiekbedryf gekom word.

Dan is daar ook die gesindheid van sommige kunstenaars, wat deur Jaconell Mouton geopper is. Die bedryf is baie klein en mense praat. As ’n kunstenaar by ’n repetisie opdaag en verwag dat dinge sommer net moet gebeur, kan dit tot gevolg hê dat niemand weer met daardie kunstenaar wil werk nie. Mouton, wat dikwels agter die skerms werk, wou ook weet hoe kunstenaars hul astronomiese fooie regverdig.

“Afrikaans gaan dood deur die tipe goed wat mense in Afrikaans doen,” meen Churchill Naude. Volgens hom is die musiekbedryf ook stagnant weens swak kwaliteit. Talle is ook bang vir nuwe idees en bly sodoende in hul gemaksone, en alhoewel party feeste regtig moeite doen om seker te maak dat musiek dinamies en vars bly, misluk sommige nog omdat hulle te vas is in hul ou manier van dinge doen.

Oor Deon Maas se rubriek meen Naude dat talle mense praat, maar sodra iemand iets sê op die manier waarop Maas dit gedoen het, draai mense teen hom. En indien jy saamstem, kry jy nie meer sekere geleenthede nie. Hy meen ook mense is bang vir die waarheid en dat daar nie genoeg variasie in Afrikaans is nie. Volgens hom maak feeste ook die fout om te dink hulle kan hul program “ont-wit” deur ’n paar bruin gesigte in te gooi en hy meen dat daar harder gewerk moet word om werklike diversiteit te laat realiseer.

Natalia da Rocha het uit die gehoor gepraat en gemeen dat daar rondom die olifant in die vertrek gepraat word – talle mense sit nog in stilte. Feeste is ontoeganklik vir talle mense en sy wou weet hoe gaan die kunstenaars en feeste maak om nuwe gehore te ontwikkel. Sy meen ook dat daar meer hande gevat moet word in die bedryf sodat almal musiek saam kan red. Ook uit die gehoor het Gabi le Roux laat hoor dat die wêreld honger is om klanke van Afrika te hoor en daarom is ’n groep soos Ladysmith Black Mambazo baie gewild. Dat te veel Afrikaanse musiek dieselfde klink, is ’n slaggat vir die bedryf.

Tydens die tweede paneelgesprek het Magdaleen Kruger gemeen dat mense rede het om te kla, maar sy het ook genoem dat RSG maniere het om te verseker dat goeie musiek op die lug kan kom. Smaak en kwaliteit is subjektief, en RSG streef daarna om ’n verskeidenheid klanke op die lug te sit binne die kwota waaraan radiostasies onderworpe is.

Shihaam Domingo, vervaardiger van onder andere die suksesvolle Die Riel van Hip Hop, sê haar grootste frustrasie met die musiekbedryf is die persone aan wie voorleggings gedoen moet word. Sy noem hulle die “gatekeepers” wat soms verblind word deur hul eie agendas, en haar hoop is dat panele en mense wat besluite neem rondom watter musiek gekeur word vir feeste, oop en ontvanklik vir nuwe idees sal wees. Sy doen al vir die afgelope vyf jaar ’n projek by die KKNK waar sy en haar span by gemeenskappe ingaan om nuwe talent te soek. Daar is dus nuwe stemme, maar omdat daar nie altyd genoeg platforms is nie, word daardie nuwe stemme nie altyd gehoor nie.

Wilmie Kritzinger, ’n Kunstekaap-projekbestuurder, stem saam dat platforms geskep moet word om nuwe talent te ontgin en dit is wat hulle probeer doen. Hulle werk met gehoorontwikkeling en maak seker dat gemeenskappe teater toe gaan.

David Kramer erken ook dat die musiekbedryf op ’n slegte plek is, maar dieselfde vraag is 10 en 20 jaar gelede ook aan hom gestel en toe was die musiekbedryf ook op ’n slegte plek. Hy meen ook “die mark gaan nie weet wat die mark wil hê voordat jy dit vir die mark gee nie”.

Retha Bornmann, kreatiewe hoof van Oppikoppi, wat vanjaar vir die 23ste keer aangebied word, is gevra hoe sy die feeslandskap sien. Sy het erken dat daar talle uitdagings is met betrekking tot finansies, gehore en weersomstandighede wat nie altyd verhelp kan word nie, maar dat Oppikoppi ’n goeie voorbeeld van nasiebou ook is. Daar tree ’n verskeidenheid kunstenaars op en vanjaar smelt die fees saam met Rocking the Daisies ten einde ’n volhoubare en effektiewe feeservaring te skep. Dit is ’n voorbeeld van hoe die musiekbedryf gered kan word – samewerking, want uiteindelik gaan dit oor die kuns en oor kunstenaars wat kos op die tafel moet sit. 

Teen die einde van die dag was die mandaat duidelik: die musiekbedryf kos geld, borge moet geld gee vir vertonings, maar die kunstenaar moet eers seker maak dat daar iets is om in te belê. Nuwe platforms vir jong talent is nodig, maar daar moet hard gewerk word om die platform te verdien. Alhoewel daar talle uitdagings is, is daar ook hoop en geleenthede.

Sulke gesprekke oor hoe iets gered kan word, alhoewel dit uitputtend kan raak, is nodig en dit is verblydend dat feesbestuurders, vervaardigers en kunstenaars tyd neem om hul feeste te ondersoek, want tye verander en kuns moet saam met die tye verander. Anders bly ons vas in ’n tydperk waar niks en niemand groei nie en dit kan erg nadelige gevolge inhou.

  • 6

Kommentaar

  • Robert van Staden

    Wat help dit om net te praat en praat en praat en niks te doen nie. Dis een ding van die Afrikaanse kultuurkommissarisse: hulle is baie lief vir hulle eie stemme en opinies - maar praatjies vul geen gaatjies.

  • Hier is nou nog een van daardie Wellintonse stemme wat seker by die Breytenbach-sentrum 'n stem gekry het om opinies te lig oor sake waaroor ysterkoeie moet sweet.

    • Na wie verwys CJF in sy kommentaar? Na die skrywer van hierdie verslag oor 'n gesprek tussen verskeie sprekers? Of een van die sprekers op in die twee sessies waarna verwys word?

  • Hans Richardt

    Kunstefeeste en vlooimarkte is sinonieme in SA! By die Trader's Sqaure in Boksburg kos toegang na 'kunstenaars' op 'n Sondag bv R5!
    In SA het ons 'n Newport Folk festival nodig, met beoordeelaars vir bv backtracking kunstenaars ...
    Wat het politieke diskoerse met enige kunstefees te make?
    My idee sou wees, dat as iets nie selfgemaak of geskryf was nie, dit nie hoort op 'n kunstefees nie. Dus, kunstefeeste is net super vlooimarkte deesdae, met 'n 'kuns' spin. Daarom ondersteun ek dit nie.

  • Hans Richardt

    Feit is, daar word deur kareoke-'kunstenaars' sg musiek gemaak en dan vloermoere gegooi omdat ons as verbruikers nie gemors wil koop nie.
    Neem bv Bob Dylan, wat al sedert begin sestigs in bedryf is. Hy het horde minder goeieverkoper albums gehad, met goeie prosa. Watter deel van kareoke-Afrikaans kom naby Dylan se prosa? Neem bv Cohen en sy vorm van prosa. Of selfs iemand soos Springsteen wat dikwels met sy eiesoortige akoestiese benadering ou liedjies laat blink. Dylan, Cohen en Springsteen is almal uit 1960's (gewees?)!
    Ek koop nie kareoke van 'n 1960's Kristofferson-album nie. Kristofferson het bv ander musiek bv "Under the gun" of selfs uit Bloodworth-fliek, wat nooit op SA-radiostasies speel nie. Waarom wil ek 'n SA-weergawe van bv "Bellamy Bros" koop, teen 3x die prys van oorspronklike? Selfs die verbod op invoere van buitelandse musiek, gee nie winsgrense vir SA-kareokesangers nie. Kareoke was in 1980's 'n kroegtydverdryf. Waarom het dit nou in voltydse beroep ontaard? Kareoke maak jou NIE 'n kunstenaar nie, net 'n nabootser/na-aper. Die feit dat dit swaar gaan, is net 'n refleksie van swak kwaliteit. As 'n land se finansiële gradering afgegradeer word, is dit agv swak regering. Die feit dat dit in Afrikaans is, maak die swak gehalte nie beter nie of sg 'kunstenaars' heilige koeie nie. Ek as verbruiker voer met groot moeite nou my musiek in, maar weier om swak plaaslike kareoke te koop.

  • Hans Richardt

    Waarom hoor ons nie retro SA musiek uit 1960's en 1970's nie? Bv 'n popliedjie van The Movers - "Hopeless love"? Hierdie band het NOOIT miljoene gemaak nie ... was 'n etniese gemengde groep. Neem bv Billy Forrest se "Rattler of a lazy life". Vader weet, ons het gelukkig beter gehad. Tog, iemand soos Jack Stone se "Fire 🔥 to dust" het ook 'n moment in my lewe betekenis gegee.
    Dis eenvoudig, nuwe prosa met akoestiese musiek sal beter verkoop, nie 'n nuwe kareoke-spin aan stokou liedjie nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top