Kunsonderhoud: Cobus van Bosch oor Geheue

  • 0

Cobus van Bosch gesels met Naomi Meyer oor Geheue, sy solo-uitstalling by die Anglo-Boereoorlog-museum in Bloemfontein.

gewonesoldate

Gewonde soldate
(Olie op doek, 38 cm x 76 cm, 2015)


Hallo Cobus, het jou solo-uitstalling in opdrag ontstaan, en indien wel, wat was die opdrag presies? Of, as dit uit eie beweging ontstaan het, wat het jou inspireer om dit aan te pak?

Ek het verlede jaar by die William Humphreys-museum 'n tentoonstelling van portrette uit die breë Suider-Afrikaanse verlede gewys, en toe het die mense by die Anglo-Boereoorlog-museum in Bloemfontein laat weet hulle sal bereid wees om werke rondom die Anglo-Boereoorlog (ABO) te wys indien ek ooit so iets sou wou skilder. Ek het toe 'n klein ABO-tentoonstelling op vanjaar se Woordfees op Stellenbosch gewys, waaruit die huidige tentoonstelling in Bloemfontein gespruit het.

Vertel ons lesers asseblief van hierdie uitstalling van jou. Wat is die tema?

Die tema is kortliks die emosionele impak van die oorlog op mense van destyds en veral ook my eie ervaringe van, en emosionele reaksie op, beelde (foto's, ens) wat van die oorlog behoue gebly het.

stapelboeke

The Trouble with Memory
(Olie op doek, 46 cm x 60 cm, 2014)

Geheue. Dis maar 'n selektiewe en 'n onbetroubare besigheid. Maar jy het visuele materiaal uit die ABO se tyd gekry – het dit gehelp om jou geheue ... te vorm, te verfris ...?

Die visuele materiaal het beslis my opinie van die destydse gebeure help vorm en selfs verander – al wat ek van die oorlog kan “onthou”, is wat ek op foto's gesien het, asook natuurlik wat daaroor geskryf is. Ek weet die hervertellings is subjektief en dat foto's net fragmente is en nie die volle verhaal vertel nie. Maar ook diegene wat die oorlog beleef het, het meestal nooit die volle verhaal gesien nie en is dikwels ook maar deur gerugte en die opinies van die dag beïnvloed. Selfs “hindsight” is glad nie so presies soos mense soms dink nie – die geskiedenis word omtrent daagliks herskryf en “verander”, en so dikwels bepaal eietydse opvattinge hoe ons na die verlede kyk en wat ons daarin raaksien of verkies om te ignoreer. Ek glo 'n paar woorde kan meer impliseer as 'n duisend prente, maar jy gaan 'n baie goeie skrywer moet wees om 'n sterk prent se impak te troef. Dus het die foto's die sterkste indruk op my gemaak. 

Kom ons begin nog voordat jy die foto's of visuele materiaal in jou besit gehad het. Vertel my van jou eie emosionele gedagtes (indien enige) omtrent die ABO voordat jy by hierdie projek betrokke geraak het. Die tweede deel van hierdie vraag is: Het daardie subjektiewe geheue omtrent jou voorafgaande indrukke 'n rol gespeel in hoe jy toe inderdaad die beelde uitgebeeld het?

Ek het in 'n Afrikaanse kultuur grootgeword wat die ABO vertolk het as tegelyk 'n oomblik van heroïsme vir die Afrikaner en een van vreeslike lyding. Soos baie ander het ek ook aan die Boere gedink as moedige, godvresende helde wat hul regmatig-verkrygde land en bestaan verdedig het teen bose geldmagte, terwyl hul vroue en kinders in konsentrasiekampe uitgedelg is. Hoe meer ek oor die oorlog opgelees het, hoe meer het ek egter begin vermoed dat die waarheid meer genuanseerd is. Was die dapper penkoppe nie dalk maar net uitgebuite kindersoldate nie? Het die bittereinders bygedra tot die ellende deur so lank met 'n verlore saak vol te hou? Hoeveel Engelse soldate moes teen hul gewete huise afbrand en vee uitwis? Kan jy verarmde swart mense van die Transvaal en Vrystaat verkwalik dat hulle in die Engelse 'n beter bondgenoot gesien het as in die Boere wat hulle so oorheers het? Ek het dus probeer om die beelde minder te tooi soos wat Afrikaner-nasionalisme dit sou wou he, en dit "gryser" te maak – ek sê byvoorbeeld in die titels nie aan watter kant die seuns geveg het nie (daar was ook seuns onder die Britse magte), of vir wie die swart mense gewerk het nie (beide kante), en maak dit ook nie visueel duidelik in die skilderye nie. 

Die Anglo-Boereoorlog: mense is nou nog nie uitgeskryf of uitgeskep hieraan nie. Waarom is dit so 'n kragtige onthougebeurtenis?

Afgesien van die impak wat oorloë maar altyd het, moet ons besef dat persentasiegewys 'n buitengewoon groot deel van die Boerebevolking uitgewis is. Boonop is die Transvaal en Vrystaat byna tot op die grond afgebrand – niemand het die ekonomiese ramp van die oorlog vrygespring nie. Dan was daar nog die pyn van vernedering en verlies aan onafhanklikheid. Dit op sigself is baie onthoubaar, maar dis ook kragtige brandstof vir 'n Afrikaner-nasionalisme om dit in die psige te ets. Ook was die ABO die eerste “media-oorlog” – joernaliste van oor die wêreld het soontoe gestroom en selfs gewone soldate het vir die eerste keer kameras saamgedra – daar is baie visuele materiaal en dit was makliker as tevore om iets gepubliseer te kry.

Maar gaan jou uitstalling net oor hierdie spesifieke oorlog?

Hierdie uitstalling gebruik spesifiek beelde uit die ABO as vertrekpunt, maar die portrette en die emosionele aspekte daarvan is natuurlik van toepassing op enige oorlog.

gevangene

Gevangene
(Olie op doek, 23 cm x 30 cm, 2015)

Jy skryf dat jy die projek as 't ware as historikus aangepak het, maar toe het jou aanslag verander. Verduidelik asseblief; brei uit?

Eers het ek gedink ek gaan die “saak regstel” oor wat in die ABO gebeur het, en toe besef ek dat ek dit fisies met 'n paar prente nie gaan regkry nie en dat ek dit boonop weens 'n emosionele reaksie wil “regstel”. Eers toe ek besef dat geen impakvolle geskiedskrywing (hoe “onpartydig” ook al) sonder emosie plaasvind nie, het ek mettertyd besluit om die ding om te swaai en eerder 'n verhaal oor die menslike kondisie te probeer skilder. Bygesê, die inhoud van alle portrette wat 'n kunstenaar van ander skep, is ook selfportrette, omdat jy slegs dit wat persoonlik tot jou spreek, eerlik kan eggo. Ek verf dus wat ek sien (getuie) en dit wat my raak (emosie). Dis subjektief, maar hopelik ook eerlik.

Watter kunsmediums het jy gebruik en hoekom?

Al die werke is in olie op doek, my gunsteling-medium.

Gaan hierdie kunsuitstalling elders heen hierna, of is dit die finale tentoonstelling?

Ek sal na afloop van die uitstalling kyk of ek dit nie dalk na Johannesburg of Kaapstad kan skuif nie. Ek het jare gelede 'n solotentoonstelling in Kaapstad gehou.

Waar kan mense gaan kyk en tot wanneer?

Die tentoonstelling duur tot 31 Januarie 2016 in die Oorlogmuseum van die Boererepublieke (Anglo-Boereoorlog-museum) in Bloemfontein. Dis ook te sien op my webblad by www.cobusvanbosch.com.

mansopstoele

St Helena (Olie op doek, 100 cm x 150 cm, 2015)

 

'n Keur van kuns-artikels op LitNet:

Skerwe uit die Ontstaan van 'n Oorledige Self

Ampie Coetzee
Kuns 

Who is Tant Koek?

Hannelie Coetzee, Naomi Meyer
Kunsonderhoud

Artist Andrew Hart Adler in conversation with Steyn du Toit

Andrew Hart Alder, Steyn du Toit
Art Interview

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top