Kuberklas: Praktiese studiewenke vir ouers, onderwysers én leerders

  • 1

Dis binnekort die vierde kwartaal. Jerome Joorst, wat onlangs 'n artikel in LitNet Akademies (Opvoedkunde) geskryf het (Die navigasiepraktyke van leerders uit arm, landelike gebiede), deel praktiese wenke vir voorbereiding, hersiening en algemene akademiese oorlewing met ouers, opvoeders en leerders.

Aan ouers

Maak opvoeding ‘n absolute prioriteit in die huis; monitor studies sodat dit ‘n  roetine word, maar moenie net daar stop nie. Ondersteun jou kinders – jy kan hulle dalk nie help met antwoorde in hul skoolwerk nie, maar wel met positiewe aanmoediging (bemoedigende woorde; dat jy in hulle glo en dat hulle bo sal uitkom).

Aan opvoeders

Jy moet  jou taak as opvoeder in die breë konteks van die Suid-Afrikaanse samelewing verstaan. Jy is geposisioneer tussen die staat se verwagtinge (via die KABV) en die lewenswerklikhede wat jou kinders saam met hulle in die skool inbring. Jy moet dus jou kinders en hul sosiale omstandighede leer ken. Ek weet in vandag se tye is dit baie moeilik, en soms ook gevaarlik, maar jy moet moeite hiermee doen. Jy moet ook verstaan dat elke kind met ‘n ander geskiedenis, sosiaal-maatskaplike omstandighede, ‘n eie siening van die verlede en toekoms en van ander kom. Jy moet altyd in gedagte hou dat die geskiedenis van ons land gekenmerk was (en steeds is) deur geweld en dat jy ‘n veranderingsagent moet wees om daardie siklus te breek. Behandel kinders dus konsekwent met respek; bring hul daaglikse (“straat-”) kennis in jou lesse in; aanvaar dat daar verskillende maniere is om na ‘n ding te kyk. Vier hul klein suksesse. Wees bereid om elke kind elke dag ‘n skoon blad te gee. Baie makliker gesê as gedoen, maar jy is dalk die enigste bron van positiwiteit in daai kind se hele lewe. So maak elke dag ‘n stage performance wat kinders beweeg.

Aan leerders

Drie van my gesegdes toe ek nog skoolgehou het:

  1. Terwyl jy nog asemhaal, wen jy nog (my gesegde toe ek in die skool was).
  2. Gee jou beste elke dag, want jy weet nooit wie in die gehoor (van die lewe) sit nie.
  3. You have to work like a slave  to live like a king.

Nou ja, ons wen nie in die lewe deur goedkoop slagspreuke nie, maar deur geloof te hê met opgerolde moue, met ander woorde jy moet diep glo in wie en wat en waar jy in die lewe wil wees, maar jy moet ook die harde werk daarby voeg. Stel teikens, leer positiewe gewoontes aan, glo in jouself, veral as niemand anders dit doen nie. Glo dat die Liewe Heer nie gemors maak nie; dat Hy jou nooit ‘n taak gee sonder oplossings nie.

Ons moet ook realisties bly as navorsers, ouers, opvoeders: ons kan dalk nie die hele wêreld  verander nie, maar wel die wêreld van een kind en so maak ons klein-klein verskille in die samelewing.

  • 1

Kommentaar

  • Ansie Lessing

    Jerome Joorst raak in sy riglyne aan ouers ‘n baie belangrike aspek in die opvoeding, naamlik ondersteuning, aan. Hierdie ondersteuning kan saamgevat word in “LAG met jou kind” – dit impliseer liefde (L), aanvaarding (A) en gesag (G). Gee aan die kind die liefde en warmte wat nodig is om geborge en aanvaard te voel. Onthou ook altyd dat aanvaarding meer is as net “ek is lief vir jou". Toon waardering vir die kind se pogings, lewer konstruktiewe kommentaar oor skoolwerk en ander optrede en moenie alles wat die kind doen afbreek nie. Elke mens (en ook die kind) funksioneer beter met struktuur en gedissiplineerdheid. Lei die kind dan ook tot selfdissipline.
    In dieselfde trant sou die onderwyser ook kan “LAG met sy leerlinge”. 'n Onbeskryflike groot taak, omdat die onderwyser nooit mag vergeet dat elke leerling 'n individu met 'n eie persoonlikheid is nie.
    Studies soos dié van Joorst lewer 'n groot bydrae tot die verstaan van verskillende kulture en die wonderlike gawes wat in elke kultuur in ons land opgesluit lê.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top