Kuberklas Kreatief: Die toekoms

Dorette Bester is in graad 11 (foto verskaf).

My oë ontmoet die horison waar die sonsopkoms ‘n nuwe dag verklaar. Ek staar uit oor die grasgroen landerye na die wolke wat die reusagtige berge omring. Die reuk van ryp op die gras streel my siel. ‘n Skaaphond draf verby; hy lyk effens verdwaal, nes ek. Ek maak my oë toe en laat die wêreld verdwyn.

Daar in die stilte, met toe oë verander my verbeelding in ‘n vliegtuig wat my na die uithoeke van die aarde neem, terwyl my wense ‘n paspoort na elke land word en my drome in ‘n toergids verander.

Spierwit sneeu lê reg rondom my en ek voel hoe tyd verdwyn. Big Ben se horlosiewyser gaan staan stil soos ek deur die strate van Londen loop.

In ‘n oogwink is die sneeu en geboue iets van die verlede. ‘n Deurborende hitte tref my en palmbome troon bo my uit.

Ek word op ‘n eiland verwelkom met ‘n kleurvolle blomkrans, terwyl rustige musiek speel. Saam met dansende lywe deel ek in die feesvieringe. My gedagtes word weggevoer met die troostende harmonie van die branders.

Ewe skielik, soos in ‘n 3D-film, bevind ek my op ‘n outydse seerowerskip. Moorddadige winde ruk aan die seile, maar seerowers trotseer die water. Ek kan my oë nie glo soos my gunstelingakteurs voor my hul aksiebelaaide toneelstukke opvoer nie. Ek wil nog skree van opwinding, maar die tonele verdwyn.

Die see rondom my verander na duine en goudgeel sand. Oor een van die vele duine van die woestyn gewaar ek is ‘n reisiger op sy kameel. Hy help my op en ons beweeg noordwaarts. Uit die bloute verander hy en sy kameel in ‘n held en sy koninklike perd vanuit die agtiende eeu.

Ons galop nader aan die son, soos kinders wat die reënboog probeer vang. Ons bereik ‘n digte woud, waar ek watervalle hoor druis en laggende mense op ‘n piekniekkombers kry. In die middel van die towerbos vind ek my familie. Tyd vlieg verby, soos ons oor koeitjies en kalfies gesels.

My oë vlieg oop, en ek staan weer op ons bekende plaas in Riversdal. Soos ek terugloop na ons huis, dink ek aan my wenslysie saamgeflans deur my verbeelding. Al daardie plekke wat ek nog wil sien, al die mense wat ek droom om te ontmoet. Ek dink aan al die geluk wat die toekoms inhou. So mooi kan ‘n lewe wees met ‘n fondasie van hoop, verbeelding en liefde ...

 

 

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top