Kristalvlakte: Onderhoud met Amy Jephta

  • 2

Amy Jephta (foto: www.drama.uct.ac.za)

Lees ook 'n onderhoud met Tertius Kapp

Lees ook 'n resensie van Kristalvlakte

Kristalvlakte: Amy Jephta gesels met Naomi Meyer

Amy, wat was jou rol en betrokkenheid by die Suidoosterfees se Kristalvlakte?

Ek is die dramaturg. Die verwerking en skryf van die teks was my verantwoordelikheid. Ek het betrokke geraak na Suidoosterfees 'n soektog begin het vir 'n nuwe werk vir 2016.

Vertel asseblief die storie van Kristalvlakte in ‘n paar sinne – of vertel die titel dalk reeds die storie?

Kristalvlakte is gebaseer op Brecht se epic, Mutter Courage und ihre Kinder. Die storie handel oor 'n ma wie haar kinders aan die lewe moet hou te midde van 'n oorlog. In hierdie teks is sy 'n smousvrou met die naam Priscilla. Sy smous met tweedehandse goedjies om geld te maak. 

Die titel self is veelsydig. Dit verwys natuurlik na crystal meth, die “kristal” waaroor die oorlog gaan in hierdie storie. Dit het ook 'n eggo van die sogenaamde Kristallnacht in Nazi-Duitsland – daardie beeld het skerp deurgekom in my gesprekke met Tertius (Kapp). En dan verwys dit na die glasbekers wat Priscilla verkoop – sy sê hulle is "min of meer kristal" ... amper eg, maar nie heeltemal nie.

Hoe het Kristalvlakte van Mutter Courage und ihre Kinder af ontwikkel? Wat is eners, wat is anders?

Die stuk deel baie van sy struktuurelemente met die oorspronklike drama. Die tonele is episodies, soos Brecht se teks was. Elke toneel kan op sy eie staan as 'n snapshot van 'n oomblik. Wat ek ontwikkel het, is die taalgebruik. Die dialoog is amper foneties in die Kaapse Vlakte-dialek geskryf. Ek het hier en daar 'n paar karakters verander, geskep of saamgesmelt. Die aard van die oorlog is my verwerking, asook die tydsperiode. Maar van Brecht se oorspronklike temas kom steeds sterk deur.

As iemand self op die Kristalvlakte woon, waarom dit gaan besoek as jy net ‘n aand lank ‘n show wil gaan sien en wil wegkom van dit alles? Anders gestel: Vir wie is Kristalvlakte geskryf?

My eerste bedoeling is altyd om te skryf vir die gehoor wat ek verteenwoordig. Ek wil eerstens hê daardie gehoor (in hierdie geval, bruin mense van die Kaapse Vlakte, soos ek) moet voel hulle is outentiek uitgebeeld – ons taal, ons lewensbestaan. Maar ek skryf ook hierdie storie vir mense wie nie die werklikheid van lewe op die Vlakte daagliks konfronteer nie. Mense kan partykeer in Kaapstad rondloop met blinddoeke. Daar's 'n ander wêreld aan die ander kant van die N2 wat hulle nooit aan hoef te dink nie. Ek hoop my woorde forseer mense om daardie lewens te oorweeg. Al is dit net vir twee ure.

  • Kristalvlakte het by die Suidoosterfees 2016 gespeel
  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top