Krisis in ons opvoedingstelsel

  • 10

Vroeër vandeesweek is die uitslag van die 2016 PIRLS- (Progress in International Reading Literacy Study-) opname bekend gemaak.

Hierdie studie word dwarsoor die wêreld onderneem deur middel van gestandaardiseerde leestoetse wat onder graad 4- (die ou standerd 2-) leerders uitgevoer word. Vyftig lande het aan die 2016-opname deelgeneem. Suid-Afrika het die laagste van al die lande getoets. As dit ’n wedloop was, het ons laaste gekom.

Dit behoort nie regtig as ’n verrassing te kom nie, want ons was in 2011 ook, soos die Engelse sal sê, “dead last”. So ook in 2006. Wat maak hierdie jaar anders? In 2006 kon ons nog die reënboognasie-verskoning gebruik. In 2011 was die amptelike weergawe dat daar darem ’n verbetering tussen 2006 en 2011 was. Of anders gestel, ons is nog steeds laaste, maar ons is darem nie so sleg laaste soos die vorige keer nie. Hierdie keer het die Departement van Basiese Onderwys versoek dat ons tog in ag moet neem dat ons een van slegs vier Afrikalande is wat deelgeneem het.

Selfs al aanvaar ons daai holruggeryde verskoning dat alles uit Afrika vrotter is as alles Westers, dan verklaar dit nog steeds nie hoekom ons nie intern noemenswaardige verbetering getoon het sedert 2011 nie.

Maar wat is die spesifieke bevindings waarop ons moet let?

Daar het altesaam 12 810 leerders van 293 skole dwarsoor die land en vanuit elk van die 11 landstale deelgeneem. Uit hierdie groep kon 78%, met ander woorde feitlik 8 uit 10, leerders nie met begrip lees nie. Seuns het swakker gevaar as meisies. Kinders in diep landelike skole en in sg townships het swakker gevaar as kinders in stedelike skole.

Kinders wat in Afrikaans en Engels getoets was, het beter gevaar as dié in enige van die ander landstale. Setswana en Sepedi het die swakste gevaar, met 90%, of 9 uit 10, kinders nie in staat om met begrip te lees nie.

Dit beteken die argument dat kinders beter leer wanneer hulle in hul moedertaal onderrig word, moet verder ondersoek word. Dis nie net onderrig in die moedertaal sonder meer nie; ek wil aan die hand doen dat ons as ’n nasie moet fokus op kwaliteitonderrig in moedertaal.

Dit beteken ons moet ophou verskoning maak vir die feit dat daar nie genoeg handboeke in skole is nie. Daar is oorgenoeg handboeke, maar dit word nie behoorlik versprei nie. Leerkragte word nie na behore ondersteun nie. Daar is ’n groter fokus op prestasie in wiskunde en wetenskap, en basiese leesvaardighede word afgeskeep. Taalvaardighede word afgeskeep.

In 2011 is daar bevind dat 59% van skole nie oor ’n biblioteek beskik nie. Soortgelyke syfers vir 2016 was nie beskikbaar nie, maar vermoedelik is daar nie ’n groot verbetering nie.

In stede daarvan om hulle met beeldpoetsery op te hou, behoort die Departement van Basiese Onderwys werk te maak daarvan om effektiewe programme in te stel om geletterdheidsvlakke te verhoog. Daar is tans ’n nasionale bewusmakingsveldtog, maar dit lyk op die oog af nie asof dit veel vermag nie. Dalk behoort hulle eerder daai fondse aan te wend om hul leerkragte beter op te lei.

Grootte van klasse moet ook dringend aandag geniet. Internasionaal is daar ongeveer 24 leerders per klaskamer. By ons is dit 45, en in Limpopo 55. Daar kan nie gehalte-onderrig verskaf word met sulke groot getalle leerders in ’n klas nie.

Daar is nie voldoende toiletgeriewe en skoon drinkwater by skole nie. Daar dien juis nou ’n saak voor die hof wat swak geriewe by skole ondersoek nadat ’n 5-jarige in ’n putlatrine geval en verdrink het. Daar is nie voldoende klaskamers nie, en in landelike gebiede moet kinders soms buite, onder bome, klas kry. Skole is ver uitmekaar, en daar is nie betroubare, veilige en voldoende busdienste om leerders by skole te kry nie.

Leerders word by die skole verkrag, met die volle wete van leerkragte, en dan word die misdrywe toegesmeer en die oortreders beskerm.

Ons onderwysstelsel is in ’n krisis. Tensy daar daadwerklike en drastiese verbeteringe gebeur aan die manier waarop ons kinders onderrig word, gaan ons binne die volgende dekade of twee ’n ongeletterde generasie volwassenes op hande hê. Dit gaan noodwendig ’n effek op die arbeidsmark, en op sy beurt weer op die ekonomie hê.

Dit beteken ook dat ons ’n nasie van nielesers op hande gaan hê. Dit behoort enige skrywer tot kommer te stem. Die kombinasie van duurder boeke en minder lesers gaan hierdie alreeds minuskule mark nog kleiner maak. Tensy ons as skrywers inspring en die onderwysdepartement help om lesers te ontwikkel.

Is ek onnodig pessimisties? Kyk na enige van die feeste wat landswyd gehou word om boeke te vier. Dis meesal ouer mense wat dit bywoon. Die jongmense by die feeste werk gewoonlik daar vir sakgeld. Hulle is nie noodwendig mense wat die besprekings bywoon nie.

Vergelyk dit met byvoorbeeld die Grahamstadfees, waar jongmense tyd afvat by hul werk om die fees by te woon. Die leesprogram is die kleinste van al die aanbiedings, en word normaalweg deur ouer mense bygewoon, soos wat die tendens by ander feeste is.

Daar sal altyd lesers wees. Hygromans is en bly gewild. Dis kwaliteitliteratuur wat in die slag sal bly, en dit sal ons as nasie net armer maak.

Ons kan dit omswaai. Graad 4’s kan geleer word om te lees. Hulle kan leer dat lees ’n genotvolle aktiwiteit is.

In ’n ideale wêreld sal skole, biblioteke en skrywers saamwerk om dit te laat gebeur. Filantrope en die regering sal dit finansieel ondersteun. Dit kan egter net gebeur as ons nou reeds ’n begin maak.

  • 10

Kommentaar

  • Hoekom doen niemand niks aan die probleem nie? Ek moet my kinders nou deur die swak stelsel sit omdat die staat sê dit is wet. En dan met hulle nuwe Bella bill wil hulle meer as 50 kinders in 'n klas sit.

    • Dis hoekom ek my kinders eerder tuisskool, hul resultate BAIE beter. Dis al hoeveel keer oor en oor bewys. Ek het eers nie kans gesien daarvoor nie, maar as ek nou terugkyk na 'n jaar se tuisskool kan ek nie glo dat my kinders so gegroei het in selfvertroue en hul punte soveel verbeter het nie ...

  • Marelie van Vuren

    Die program Literati Scholasti (LS) is reeds in 2010 aan die Portefeuljekomitee voorgelê! Die genotvolle speletjie lewer lewenslange vaardige geletterde denkers op! Plus: LS is geskik vir ALLE TALE WAT DIE ROMEINSE ALFABET gebruik. Dus: daar is wonderlike hulpmiddels wat oral gebruik kan word!

  • Elmari Dreyer

    Hoekom is die onderwyskolleges toegemaak? Ek glo die grootste probleem is swak onderwys plus al die ander punte wat genoem is. 'n Onderwyser leer nie skoolhou op 'n universiteit of technikon nie.

  • Barbara Nagel

    Die ouers vervul nie hul rol as rolmodelle nie. Kinders sien ouers nie lees nie. Ouers lees ook nie voor aan kinders nie. Ons leef in 'n kitssamelewing, lees neem tyd ...

    • Christi Rossouw

      Hierdie is 'n uiters geldige argument. Ek is 'n Graad 10-12 Afrikaans-onderwyser. Daar word in die meeste huise nie meer gelees nie. Leerders ken nie eers die stories van Rooikappie, Die sewe dwergies en Gouelokkies, ens nie! Hoe hartseer! Al die skuld kan nie op onderwysers en die onderwysstelsel gepak word nie ...

  • Die twee grootste probleme met ons skoolstelsel is die volgende:
    1. Daar is te veel kinders in 'n klaskamer. Meer as 30 is riskant.
    2. Die feit dat leerders slegs een keer per fase mag druip, maak dat die ongeletterdheid toeneem. As 'n kind bv in graad 1 druip agv swak lees / klanke / woorderkenning / wiskundige kennis, ens mag hy nie weer in die grondslagfase - waar die grondslag vasgelê behoort te word - druip nie.
    Dit is onregverdig dat onderwysers vir hierdie probleem blameer word.

  • Marie Welgemoed

    Ek wil graag ’n bydrae maak. My kleindogter (gr 5) is vanaf Augustus hierdie jaar in Amerika in die skool. Sy het ook nie van lees gehou nie. Daar MOET hulle elke dag een of twee bladsye lees uit die boek wat Maandag by biblioteek uitgeneem is. Dit wat gelees is, moet dan elke dag in vyf sinne opgesom word. Aan die einde van die week, word vyf maal vyf opsommings ingehandig. ’n Opsomming van die hele boek, word dan aan die einde van elke maand ingehandig. Sy is aangemoedig om boeke oor dogters van haar ouderdom uit te neem. Sy is nou ’n ywerige leser wat vir haar oumie eposse stuur oor wat sy gelees het.

  • My klein bydra: Miskien is die era van die boek eenvoudig net verby. Multi-media is die voorland. Kennis (en ook fiksie) gaan dalk deur middel van multi-media-formate oorgedra word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top