Kreatieweskryfmodule: Wenke vir onderwysers

  • 0

https://klaskenades.wordpress.com/

Hoe help 'n mens leerders om opstelle te skryf? Dink buite die boks: gebruik die internet, luister musiek.  Hier is 'n onderhoud tussen Estelle Kruger en Marian Clift wat onderwysers wenke gee om hul leerders se kreatiewe skryfpotensiaal te ontsluit. 


I saw the angel in the marble and I carved it until I set him free. (Michelangelo)

Estelle Kruger het ’n kreatieweskryfmodule vir Hons BEd-studente aangebied wat sy Klaskenades[1] noem. Sy gesels met een van die studente, Marian Clift, oor haar ervaring en eie toekomstige toepassing van die module, sowel as haar leerteoretiese interpretasie daarvan

Marian, wat was jou eerste indruk van die blog waaraan julle moes deelneem as deel van deurlopende assessering?

Voor ek met hierdie module begin het, was ek heel blog-ongeletterd. Ek het geweet dat dit baie populêr in onderrigkringe word, maar ek het nie gedink dat dit werklik vir my eie situasie relevant was nie. Jy het ons baie slim geforseer om blog-geletterd te raak, Estelle, deurdat jy ons gedwing het om na elke les ons eie kreatiewe pogings op die blog te laai en ons is op die blog blootgestel aan wat ‘n vulkaan van idees was. Daar is ‘n legio oorspronklike idees en lesmateriaal wat genoeg is om enige onderwyser wat vir enige ouderdom klasgee, baie lank besig te hou. Ek was ook verstom oor al die skakels na ander relevante bladsye en webwerwe wat op die Klaskenades-webwerf is. Ek kon hierdie een webwerf gebruik as ‘n poort om baie wyer oor die skeppingsproses te lees.

As jy hierdie program sou wou gebruik/kopieer in jou eie konteks, hoe sou jou aangepaste weergawe daarvan lyk? Vertel dit asseblief in besonderhede.

Ek sou inderdaad graag jou program kopieer, met my eie idees daarby, en skeppendeskryf-programme wou aanbied vir volwassenes, spesifiek onderwysers wat hulle eie kreatiwiteit weer wil aan die brand skop voordat hulle dit terugploeg in hulle leerders in. Die konstruktivistiese metode wat jy volg, werk soos ‘n bom. Ons almal leer deur self te doen en te skep. As mens self – soos ons nou – deur die proses gegaan het en beleef het hoe uitstekend die program gestruktureer is om almal kreatief aan die skryf te kry, is dit ‘n logiese gevolg dat mens weer wil hê ánder moet die sukses ervaar wat jy ervaar het.

My ideale program vir volwassenes sou vier weke lank duur, met ‘n weeklikse 90-minute-sessie in ‘n warm, informele en stimulerende omgewing. Elke student moet ‘n joernaal hou waarin hulle kreatiewe idees, die klaspogings en hulle eie pogings wat voor of na die klas plaasgevind het, kan neerpen. Hulle kan ook foto’s, prente, tekeninge, ens byvoeg en moet die joernaal altyd byderhand hê. Daar sal ook ‘n blog beskikbaar wees waarheen studente kan gaan vir inspirasie, hersiening van klaswerk, vir toegang tot ander relevante bronne. Elke klas se voltooide gedig moet op die blog gelaai word as ‘n manier om produkte te “showcase”. Studente kry geleentheid om mekaar se werk te lees en positiewe kommentaar in die vorm van resonerende sinne[2] (Kruger 2016:60; op die blog oor “Kommentaar of kritiek?”) te lewer – dit is sinne as reaksie uit die hart en nie net die verstand nie. Studente is dus nie ongemaklik omdat hulle hul werk vir ander moet voorlees nie. Die kursusaanbieder (ek) kyk dat die skeppings aan die stylvereistes voldoen en lewer self ook positiewe kommentaar op elke poging.

Elke les bestaan uit dieselfde fases met verskillende stimuli wat gebruik word en verskillende tipes gedigte wat geskryf word.

Die fases is: Voor skryf, Tydens skryf en Na skryf.

Voor skryf: Studente moet eers tot stilstand kom en binne-in hulself keer. Hulle moet dink waar hulle was, waar hulle nou is en hoekom hulle hier is. Asemhalingsoefeninge kan ook gebruik word om die aandag te fokus of hulle kan op ‘n kersvlam konsentreer as ‘n tipe van kort meditasie.

Les 1:

Hiervoor is daar verskillende foto’s van bome (op die blog beskikbaar) op ‘n tafel uitgesit. Party bome is kaal, sommige het interessante strukture, een fokus op die wortels van die bome, ens. Elke student kies een wat by hom/haar aanklank vind. (Visueel) Verder is daar stukkies boombas, herfsblare, varsgesnyde gras, ens om die reuksintuig te betrek. In die agtergrond speel Beethoven se Pastorale Simfonie of “Morgenstimmung” uit Grieg se Pier Gynt Suite. Vivaldi se Vier seisoene sal ook werk.

Tydens skryf: Studente word ingelig dat hulle vandag ‘n haikoe gaan skryf en die struktuur word kortliks bespreek. Daarna moet elke student ‘n rustige plekkie vind en vryskryfwerk doen. Hulle moet aanmekaar skryf, mag nie uitvee of uitkrap nie (bewussynstroom-skryf), terwyl die musiek steeds in die agtergrond speel. Studente raak bewus van hulle bewussynstroom en soos hulle kreatiewe ratte begin loskom, begin hulle vryskryf beweeg in die rigting van wat in hulle onderbewussyn skuil. Terselfdertyd is die proses bevrydend.

Na 10–15 minute moet hulle stop, en dan sleutelwoorde in hulle skryfwerk omkring wat hulle gaan gebruik om ’n haikoe te skep. Kognitiewe interpretasie, eksplorasie en inligtingsverwerking vind nou plaas. ‘n Gepaste titel help gewoonlik om die skryfwerk in konteks te plaas.

Na skryf: Studente hersien nou hulle pogings en laai dit op die blog wanneer hulle gereed is. Die klas eindig met refleksie-/leidende vrae deur die aanbieder. Studente praat oor hoe hulle die proses ervaar het en word aangemoedig om meer daaroor te skryf in hulle joernaal.

Les 2:

Voor skryf: Nadat studente asemhalingsoefeninge gedoen het om te fokus, speel ons ‘n metafoor- en verbeeldingspeletjie (na aanleiding van jou Klaskenades-gids, 2016:17–8)[3]. “Verbeel jou jy is ‘n kleur, vorm, storie, ens.” Studente word weer voorgestel aan beeldspraak en in besonder aan die eenvoudige skoonheid en effektiwiteit van die metafoor. Die slim vorm van ‘n pantoen word bespreek en die klas kyk na ‘n paar voorbeelde.

Tydens skryf: Studente vind weer hulle eie plek vir die vryskryfaktiwiteit. Vandag brand daar gegeurde kerse in die klas en die musiek in die agtergrond is “wêreldmusiek”. Weer vryskryfaktiwiteit wat daarna op dieselfde manier as die vorige week omgesit word in ‘n ‘n pantoen.

Na skryf: Studente hersien en verbeter taalgebruik en voltooide produkte word weer op die blog geplaas. Aan die einde van die les reflekteer almal op presies wat nou eintlik gebeur het in die klas. Die kreatiewe proses word ontleed.

Les 3:

Voor skryf: Vandag begin die studente onmiddellik deur mandalas wat hulle self gekies het, in te kleur. Vandag speel daar liedere in die agtergrond in tale wat die studente nie magtig is nie. Voorbeelde is "Gabriella’s song" uit As it is in heaven, Edith Piaf, Cesaria Evora, Frida Boccara, ens. Daar is nie bepaalde beelde of reuke om studente se verbeelding te rig nie.

Tydens skryf: Studente gaan daarna direk in ‘n vryskryfaktiweit in. Na die vryskryf moet die studente met behulp van die riglyne op die skerm en die materiaal wat hulle in die vryskryfaktiwiteit gegenereer het, ‘n snelsonnet skryf.

Na skryf: Studente reflekteer op hul indiviuele kreatiewe proses deur leidende vrae van die aanbieder. Pogings word op die blog gelaai.

Les 4:

Voor skryf: Daar is items met interessante teksture op die tafel waarvan elke student vyf moet kies (skulpe, klippies, kinderspeelgoed, ens).

Tydens skryf: Elkeen moet in hulle vryskryfaktiwiteit die vyf artikels noem. Daar is daarna ‘n kort bespreking van die genre van “memoire” en daarna moet elke student die vryskryfaktiwiteit verwerk na ‘n beknopte memoire van 100 woorde.

Na skryf: Na die refleksie en eie redigering moet die studente hulle memoires op die blog laai. Hulle kan persoonlike foto’s ens bysit as hulle wil.

Fotobron: http://proessaywriter.net/8-inspiring-creative-writing-blogs/

Hoe interpreteer jy hierdie lesreeks in terme van leerteoretiese beginsels?

My skryfonderrigprogram is konstruktivisties en my studente leer deur te doen (ervaringsleer). As die onderwysers eers verstaan presies hoe die skeppingsproses werk agv direkte ervaring, sal hulle dit baie makliker vind om hule leerders op die reis te begelei. Konstruktiviste glo dat mense leer deur hul eie begrip van die wêreld te vorm dmv hulle eie ondervindings. Hulle reflekteer dan ook oor hulle eie ondervindings. Omdat elkeen se brein anders werk (Gardner[4] se meervoudige intelligensies) en elkeen ‘n ander verwysingsraamwerk het, is ek nie te voorskriftelik nie. Ek probeer so leerdergesentreerd as moontlik wees, veral in die reflektiewe fase van die klas. Die klas en die kursus is ‘n proses. Die voor-skryf-proses help studente om in die oomblik te wees en die vryskryfaktiwiteit laat werklik die “creative juices” loskom. Hulle kom in noue kontak met hulle emosies en gedagtes en verfyn so hulle woordkeuses.

Ek wil hê dat my studente, en hulle studente daarna, volgens Piaget se beginsels in kontak kom met hulle “essence”. Hulle moet verstaan dat kreatiwiteit nie reg of verkeerd is nie. My skryfklas is proses- en nie produkgeoriënteerd nie. Studente word nie gevra om hulle gedigte vir die klas te lees nie. Ek is net ‘n fasiliteerder wat die kreatiewe proses aanhelp – die proses is vir elkeen intens persoonlik.

Die idee van ‘n joernaal is om die idee dat skryf altyd ‘n 3-bladsy-essay is, teen te werk. In die joernaal is daar nie reëls nie; elkeen is vry om hulself uit te druk. Die uiteindelike doel is – soos vir die hele kursus wat ons by jou gedoen het – dat studente meer oor hulself moet leer. Dit gee studente insig in wat onder hulle eie velle lê en is terapeuties. Deur my keuses van materiaal wat ek gebruik, stimuleer ek hulle verbeelding.

Verbeelding is, volgens Rorty (2000),[5] die plek waar die kognitiewe denke en die estetiese by mekaar uitkom. Die kurrikulum in skole konsentreer op die kognitiewe, maar bitter min aandag word aan die verbeelding en die ontwikkeling van kreatiwiteit gegee. Baie onderwysers neem aan dat die verbeelding vanselfsprekend is en dat dit nie gestimuleer hoef te word nie. My lesreeks is daarop gemik om almal te laat besef dat kreatiwiteit nie net vir ‘n uitverkore paar mense bedoel is nie, maar dat almal kreatief kan wees. As die regte situasie geskep word met stimulasie en opvoedkundige ondersteuning, kan enigiemand die bevrediging wat saam met kreatiwiteit kom, ervaar. Volgens Margaret Meek[6] is kreatiwiteit net ‘n mengsel van verbeelding en kognitiewe bewustheid. Ons het dit almal.

Deel van die module-inhoud was dat julle moes kyk na sir Ken Robinson[7] se video: Do schools kill creativity?. In watter mate bevestig hierdie video jou ervaring op skoolvlak van die ontwikkeling van jou eie kreatiwiteit?

Ek stem volkome saam met Ken Robinson dat die meeste skole daar buite die dood van kreatiwiteit probeer bewerkstellig. Sy stelling dat kreatiwiteit net so belangrik soos geletterdheid is, is in die 21ste eeu meer relevant as ooit tevore. Leerders is dikwels so bang dat hulle antwoord “verkeerd” sal wees dat hulle ophou om kreatief te dink en eerder by aanvaarde denkpatrone hou. Soos Robinson tereg sê: “We are educating them out of their creative capabilities.”

In my eie ervaring het ek gesien hoe die skeppende kunste altyd die laagste status in skole geniet. Jaar na jaar moes ek hoor dat my mees talentvolle student nie wil voortgaan met musiek nie, want “wat kan hulle na skool daarmee doen?”. Ons akademiese sisteem gee al die prestige aan akademiese vaardigheid – die ander intelligensies wat Gardner so akkuraat uitlig, geniet weinig status in die skolastiese sisteem.

Die wêreld het oor die laaste 30 jaar radikaal verander met konsepte soos globalisasie, kennisekonomie en neoliberalisme wat gesprekke oor opvoeding oorheers. As ‘n mens kyk hoe anders die wêreld nou lyk as selfs 20 jaar gelede, moet ons almal erken dat ons eintlik geen benul het hoe die wêreld waarvoor ons veronderstel is om ons leerders voor te berei, nou eintlik gaan lyk nie. Robinson sê tereg dat ons dringend oor die beginsels van opvoeding moet herbesin om leerders te help om die meeste van hul onsekere toekoms te maak. Die meerderheid mense leef hulle hele lewens sonder om ooit werklik gebruik te maak van hulle talente. Robinson praat van die “tyranny of common sense”. Die verbeeldingrykes onder ons word afgeskiet en gemedikeer om “normaal” te wees; om nie met die status quo te wil peuter nie.

Passie vir iets is inderdaad wat die gees energie gee. Elke leerder behoort die reg te hê om sy/haar passie te vind en na te volg. As ‘n mens doen wat jou passie is, is nie een dag ‘n schlep nie.

Julle moes ook reflekteer oor die gebruik van die blog en ’n reflektiewe joernaal in die module. Jou medestudente het die volgende hieroor geskryf – hoe reageer jy daarop?

Oor die algemeen

  • Ek het die gebruik van die blog en veral die joernaal baie geniet en ek het baie geleer uit hierdie ervaring. Die gebruik van hierdie instrumente het my toegelaat om baie van myself te ontdek waarvan ek nie eers bewus was nie. (Annine Schultz)

Die blog

  • ... ek het dit geniet om ander studente en persone se werke en kommentaar te lees. Dit gee ‘n mens soort van ‘n venster of opening tot hul gedagtes en hul manier van dink ... (Annine Schultz)
  • Ander persone se kreatiwiteit kan jou eie kreatiwiteit soort van ‘n “push in the right direction” gee ... (Amy Williams)
  • Een van die probleme wat ek ervaar het met die blog, is dat dit baie tyd verg. Jy moet gereeld online gaan en post ... (Amy Williams)
  • Die blog is ‘n slim instrument om kreatiwiteit met tegnologie te integreer. (Annine Schultz)
  • Blog was ‘n fun experience. I was able to post poems and stories. It helped met a lot to know there is a platform where you read your work after posting. (Josefina Asheeke)
  • It fascinated me to communicate on Google Hangouts with the lecturer [while she] was at a different [geographical] place. (Josefina Asheeke)

Die joernaal

  • Dit is ‘n goeie manier om gedagtes te genereer, vir ontwikkeling en hoe om te leer en dit wat jy dink op papier te sit ... (Annine Schultz)
  • Dit het ook my skryfwerk en manier hoe ek skryf verbeter. Na ‘n paar dae of weke is dit altyd goed om terug te gaan in jou joernaal en weer deur te lees. Jy kan reflekteer oor dit wat jy neergeskryf het en kyk aan die einde hoe jou eie kreatiwiteit “geblom” het en hoe jy as persoon verander het of nie. (Amy Williams)
  • Die joernaal is ‘n beter manier [as die blog] om alles saam te voeg. Jy het alles voor jou en vir my is dit altyd beter om goed wat in my eie handskrif is, te waardeer. Dit is meer persoonlik ... (Amy Williams)
  • Die realiteit is dat nie alle leerders toegang het tot die internet of ‘n rekenaar nie, so dit sal nie regverdig wees teenoor hierdie leerders nie. Daarteenoor sal almal die joernaal kan verwelkom. Leerders hou van teken en om gebruik te maak van kleur. Die hou van die joernaal sal ook hul skryf en spelling verbeter. (Amy Williams)
  • Die joernaal het gedien as ‘n uitlaatklep vir my. Ek kon my probleme, emosies en ervarings weergee in die produsering van poësie en werk my in joernaal. (Amy Williams)
  • I have grown as a student, it has helped me with learning goals, by integrating life eperiences with learning endeavours. The journal allows freedom of expression because I write in my journal the way I feel, my emotions. It is an investment. I become aware of myself, my personal thoughts and feelings. It enhanced my ability and self-discovery. (Josefina Asheeke)
  • I recommend that, at least every school learner to have a journal in creative writing because it improves writing. (Josefina Asheeke)
  • It also helps learners who do not like talking in public. It improves grammar – I have noticed that the way I wrote in the first day, it improved after many writings. (Josefina Asheeke)

Ek dink die ander se insette is uitstekend. Myns insiens was dit onontbeerlik vir hierdie kursus. Ek het kinderlik trots gevoel as my pogings op die blog gelaai is en was werklik totaal emosioneel betrokke by my joernaal. Daar is ‘n besitterskap en trots wat mens het wat jy nie het as jy net take inhandig om hulle eers weer te sien nadat die onderwyser met rooi pen oor alles geskryf het en wat jy daarna net êrens neersmyt nie. Die feit dat daar na elke les ‘n produk was, was ook uiters bevredigend. Mens kon week na week monitor hoe die kreatiewe proses vinniger en beter word.

Dit is duidelik dat hierdie module tot jou kreatiwiteit gespreek het. Het jy enige planne vir die nabye toekoms in hierdie verband? Dalk verdere studie ...?

Ek hoop die Departement Kurrikulumstudie vra jou om die tweede module aan te bied, Estelle, want ek hoor dis meer teoreties en “akademies”. Daarin sal ek graag wil navorsing doen oor my eie toepassing van hierdie idees. Ook wat die waarde van kreatiwiteit is – ons leef in ‘n tyd van soveel brandende kwessies oor taal, oor geweld en armoede in skole ... Die vraag is: Waar pas kreatiewe skryfwerk in?

Maar, miskien moet ek nie die perde voor die kar inspan nie – dalk is dit net toekomsmusiek.

[1] www.klaskenades.wordpress.com.

[2] https://klaskenades.wordpress.com/kommentaar.

[3] Kruger, Estelle. 2016. Klaskenades: Vernuwende idees vir kreatiewe skryfonderrig. Ongepubliseerde studiegids vir Hons BEd-studente. Universiteit Stellenbosch.

[4] Gardner, H. 1999. The disciplined mind. New York: Simon & Schuster.

[5] Rorty, R. 2000. Being that can be understood in Language. The London Review of Books, ble 23–4. http://www.lrb.co.uk/v22/n06/richard-rorty/being-that-can-be-understood-is-language (26 Mei geraadpleeg).

[6] Meek Spencer, Margaret. 2003. What more needs saying about imagination. Reading Research Quarterly; Pro Quest Education Journal, 38:4.

[7] https://www.ted.com/talks/ken_robinson_says_schools_kill_creativity?language=en.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top