Krap uit die see deur Fourie Botha: ’n resensie

  • 0

Krap uit die see
Fourie Botha
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485307570

Die gedig as karapaks

“The world dies over and over again, but the skeleton always gets up and walks”.

So lui die programmatiese motto van Fourie Botha se tweede digbundel, Krap uit die see. Dit is afkomstig uit Henry Miller se bundel verhale en essays The wisdom of the heart. In samehang met die foto van ’n reusespinnekopkrap op die omslag is die motto – en trouens, ander werk van Miller – rigtinggewend by die lees van die gedigte in Botha se bundel.

Die skeefloop van die krap dien as verleiding om hierdie resensie op ’n sywaartse trajek te begin, op die spore van Miller langs.

Deur sy revolusionêre en destyds omstrede skryfwerk oefen Miller ’n beduidende invloed op Krap uit die see uit, veral wat betref temas soos verhoudings, die erotiek, kreatiwiteit, verganklikheid, verderf en hernuwing. Sy semi-outobiografiese debuutroman, The Tropic of Cancer (1934) – waarvan die eerste uitgawe op die voorplat ’n illustrasie van ’n krap met ’n vrou in sy knypers het – en sy latere The Tropic of Capricorn (1939) getuig van sy belangstelling in die astrologie. In ’n brief aan een van sy geliefdes, Anaïs Nin, skryf hy:

For me Cancer means the crab – the creature which could move in any direction. It is the sign in the zodiac for the poet – the halfway station in the round of realization. Opposite Cancer in the Zodiac is Capricorn, the house in which I am born, which is religious and represents renaissance in death. Cancer also means for me the disease of civilization, the extreme point of realization along the wrong path ⎯ hence the necessity to change one’s course and begin all over again. Cancer then is the apogee of death in life, as Capricorn is of life in death.

Hierdie aanhaling bied waardevolle toeligting by die krapsimboliek in Botha se digbundel. In ’n onderhoud met Joan Hambidge (Woorde wat weeg, http://joanhambidge.blogspot.co.za/­2017/07/onderhoud-fourie-botha.html) verduidelik Botha dat hoe meer hy “oor dié gedierte gedink het”, hoe meer het dit hom aan die digkuns herinner: “die idee dat die intieme gebeente aangebied word as sigbare karapaks”.

Die krap se monsteragtige uiterlike (ongeag grootte), ongewone, aweregse beweeglikheid (die meeste krappe loop skeef, maar sommiges kan na alle kante skarrel) en kamoeflering (bruin, blou, rooi) is ’n besonder geskikte simbool vir die digter en die digkuns. Die reusespinnekopkrap op die omslag is ’n skrikwekkende gedrog. Dit lyk soos ’n enorm groot spinnekop, met agt pote en ’n paar buitengewoon lang en dun knypers. Die aggressiewe vertoon van krappe is dikwels ’n blufspel – ten spyte van sy vreesaanjaende voorkoms is die reusespinnekopkrap glo ’n heel saggeaarde siel. Die eksoskelet, met sy harde, knobbelrige en stekelrige karapaks – wat die sagte binneste omhul – bied beskerming teen predatore soos seekatte. Uit hierdie eksoskelet moet die krap herhaaldelik met moeite ontsnap ten einde te kan groei. Met sy nuwe, sagte dop is hy dan besonder weerloos. Die oranje en wit kleur van die skelet dien as kamoefleermiddel waar hy op die seebodem aas, terwyl hy homself op byna kreatiewe wyse met sponse en seewier tooi ten einde met sy omgewing saam te smelt. Hy skuil graag in holtes en gate diep in die see.

Met die vindingryke uitbuiting van hierdie assosiasies, sowel as die uiteenlopende wyses waarop eksistensiële en metafisiese kwessies vanuit die perspektief van ’n jong gay man belig word, lewer Fourie Botha bewys dat die beloftes van sy debuutbundel in vervulling gegaan het. Vyf van sy gedigte is reeds in 2010 in Nuwe stemme 4 opgeneem. ’n Jaar later het hy gedebuteer met Donkerkamer, die produk van ’n MA in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad onder leiding van Joan Hambidge. Donkerwerk was ook op die kortlys vir die Ingrid Jonker-prys.

Krap uit die see bevat etlike boeiende, aangrypende en onthutsende verse wat ’n breë spektrum onderwerpe en temas dek, soos die inlywing van die kind in die leefwêreld van volwassenes; die dinamiek en problematiek binne gesins- en familieverband; seksuele ontwaking, homoseksualiteit en erotiek; psigiese ontwikkeling, ontnugtering, verwonding en dood; maar ook die moontlikheid van heling en herstel. Dit gaan gepaard met ’n uitgebreide register emosies, wat behendig in toom gehou word. Die “slobberige kwyldrade van die bibberende mond” – waarteen Opperman so gewaarsku het – tref mens nie in hierdie bundel aan nie.

Anders as in Donkerkamer kom daar geen foto’s in die bundel voor nie. Dit word aan die leser oorgelaat om speurtogte te loods, soos in die geval van gedigte met ’n ekfrastiese strekking, byvoorbeeld Annie Leibovitz se foto van ’n rok van Emily Dickinson (“Rok”), ’n foto van Margaret Atwood (“By ’n foto van Margaret Atwood”), ’n kunswerk deur Georgia O’Keeffe (“Cow’s skull with calico roses”) en Judith Mason se skildery Wild dog (“Die onpaar paar”). Meestal dien die beeldmateriaal slegs as prikkels vir hierdie knap gedigte en is hulle nie minusieuse beskrywings daarvan nie.

Die bundel word ingelei deur ’n programgedig, “Krappegesang”, wat in die slotafdeling ’n eggo kry in “Reusespinnekopkrap”. “Krappegesang” is ’n vreemdsoortige loflied oor hierdie potsierlike artropood; ’n byna totemistiese vereenselwiging met dié wanstaltige gedierte:

Krappegesang

Ek besing my bloedbroer, die krap:
sy pootjies soos breipenne,
hy met die rooi hakskene,
die ogies tandestokkies met olywe.

Skeef-skeef kom hy oor die korrels
soos ’n rilling teen ’n ruggraat op,
die mandibels ’n gekoek
vol hengelaas en visstront.

Waarom bemin ek hom so,
wil ek sy harde karapaks poets,
die knypers vryf tot ’n vonk spat,
hom met ’n hamer oopbreek?

Hier in sy gat wil ek inkruip;
vir hom wil ek aan die bors voed;
hoor hoe hy sy dekplate vir my
laat kerm soos geroeste slotte.

Jirre, hoe jeuk, hoe krap dit nie
in hierdie skedelpan van my kop?
Ek wil jou skud soos ’n blik spykers,
witvleise uit jou doppe skraap.

Die sterk homoërotiese inslag van Botha se debuut is ook in hierdie vers te vinde. Die krap het immers “rooi hakskene” en veroorsaak ’n “rilling teen ’n ruggraat op”, sodat die spreker-digter sy “harde karapaks [wil] poets” en sy “knypers [wil] vryf tot ’n vonk spat”. Die reëls “Hier in sy gat wil ek inkruip;/ vir hom wil ek aan die bors voed” hang hiermee saam. Uiteraard wil die vers ook iets te kenne gee omtrent die aard van die bundel en digterskap in die algemeen, sodat dit as ’n metapoëtiese gedig beskou kan word. Die jukstaposisie sowel as die oormekaarskuif van man en krap groei mettertyd uit tot botsende emosies soos aantrekking en afsku; bewondering en weersin; liefde en haat. Die “skedelpan” van die spreker se kop is vol kriewelrige gedagtes wat uiting soek en hom feitlik tot raserny dryf. Daarom wil hy dit (sowel sy kop as die krap) skud “soos ’n blik spykers,/ witvleise uit jou doppe skraap”.

Die pendant van “Krappegesang” is “Reusespinnekopkrap”, die inleidende gedig van die laaste afdeling, “Dryf”. Die gedig het as motto ’n reël uit Margaret Atwood se gedig “Landcrab I” uit True stories (1981): “The truth is we are born from stones.” Die gedig lui soos volg:

Reusespinnekopkrap

The truth is we are born from stones
Hier in die akwarium beloer ek jou agter glas.
Kan jy my bespeur?
Jammerlik lelik: net ’n ma
sal dié gevreet kan liefkry.
Jy dra jou skelet op die mou,
knypers soos knuppels in die lug.
Skuins-skuins roer jy, hensop kastig,
lek jou kliplippe af.
Waarom krabbel almal so oor jou?
In jou pype is daar g’n murg –
jy is ’n bal gekoude papier,
maar ook ’n boodskap, ’n gedig –
my krapperige tweelingbroer.

Die reusespinnekopkrap met sy klipperige voorkoms word met behulp van geykte segswyses beskryf: “net ’n ma/ sal dié gevreet kan liefkry”; hy dra sy “skelet op die mou”; en in sy “pype is daar g’n murg”. Sou hierdie retoriese, gefossileerde uitdrukkings verband hou met die skynbare onvermoë van die spreker-digter om iets nuuts en verbeeldingryks oor die krap te skryf, teenoor vele digters voor hom? Hy wonder immers: “Waarom krabbel almal so oor jou?” Dus: waarom word daar so dikwels oor krappe geskryf? Onder die krabbelaars is daar, naas Margaret Atwood, ook die reeds genoemde Henry Miller (vergelyk die reël “I am Chancre, the crab” uit sy roman Black Spring, 1936), en hier te lande Wilma Stockenström met haar gedig “Die kluisenaarskrap op my kriewelrige palm” in haar bundel Monsterverse (1984). Ten slotte is die krap vir die spreker-digter in “Reusespinnekopkrap” ’n voos-ontginde en wegwerplike onderwerp, verwysende na al die pogings om dit wat raar, afwykend en ontstellend is, te probeer omskryf. Maar desondanks is die krap ’n waardevolle vorm van kommunikasie – ’n gedig oor en aan sy “krapperige tweelingbroer”. Dit gaan waarskynlik ook hier om ’n dialoog met die alter ego.

Naas hierdie twee sleutelgedigte oor die krap is daar heelwat ander wat oor krapperighede, frustrasies en verlies handel. Die bundel bestaan uit vier afdelings: “Laagwater” (10 gedigte), “Vuisneste” (12), “Rakende” (8) en “Dryf” (11 verse). Die eerste afdeling handel oor die verhoudingsproblematiek van ’n argetipiese familie in ’n landelike, Calvinistiese omgewing: ’n bakleierige, besope pa; ’n sorgsame, maar veroordelende ma; ’n geroetineerde, standvastige oupa; ’n dapper, maar brose ouma; en ’n onbegryplike broer, met ’n byna fundamentalistiese religieuse ingesteldheid. Midde-in die familiedramas is daar ’n noulettende en sensitiewe waarnemer, wie se lewensverhaal op ’n losweg chronologiese wyse aangebied word deur middel van herinneringe en drome. Die afdelingtitel, “Laagwater”, suggereer nie net die ebgety as aanduiding van die ritmes en siklusse van die heelal nie, maar ook die oersee waaruit alle bestaansvorme ontwikkel het; asook die blootlegging van dit wat soms onsigbaar is. Die donker kante van die familie word met bruuske eerlikheid geopenbaar, in ’n poging om tot begrip te kom. ’n Hoogtepunt in die afdeling is die onheilspellende slotgedig, “Die koms”, waarin allerlei gediertes (soos Van Wyk Louw se Raka en sy strandjutwolf) snags buite rondsluip en die mens bedreig.

Die tweede afdeling, “Vuisneste”, bevat hoofsaaklik gedigte met ’n gay-tematiek. Die titel sinspeel op “muisneste” en het duidelik homoërotiese assosiasies. Die gay jong man se toevlug en troos is nie Psalm 23 nie, maar sy slimfoon, waarop hy obsessief en met “bloederige duime” nuwe moontlikhede verken. Sy pogings om weer in sirkulasie te kom, word in “On the rebound” as ’n allesverterende vuur uitgebeeld. NP Van Wyk Louw se “Piromaan”, asook dié van Johann de Lange, gloei mee, terwyl die diefstal van Peter Blum se wartaalwoord “foknakwyf” die seksuele en die poëtiese tot op die rand van die waansin dryf. Fantasieë oor mans strek vanaf ’n hunkering na “afvlerkmans” in “God complex” en ’n “leër knopgatsoldate” in “Die generaal, my geliefde”, tot ’n voetfetisjisme in “Podofiele”. Die “Vuis” van die afdelingtitel het uiteraard ook assosiasies met aggressie en geweld, wat in verskeie gedigte na vore kom – dikwels in die vorm van sadomasochistiese praktyke. Wanneer daar uiteindelik “huis-huis” gespeel word met ’n geliefde, neem jaloesie, verveling en ontgogeling oor, sodat die wellustige drome van vroeër vervang word met ’n vernietigingsdrang. In “Bed”, die laaste gedig in die afdeling “Vuisneste”, klink dit so:

Onder jou vlerk lê ek en broei
oor die dag wanneer ek
ons bed petrol gooi,
afbrand soos ’n wilg
van vinkneste vervuil.

Die semantiese verwantskap tussen die woorde krap en kanker speel ook ’n opmerklike rol in die tematiek van die bundel. In die aangrypende “Might he but moor tonight in me” (’n aangepaste aanhaling uit Emily Dickinson se “Wild nights – wild nights!”) weet die spreker “lank voor” die minnaar se dokter van die “kanker/ soos sagtedopmossels aan sy ballas”.

Die titel van die derde afdeling, “Rakende”, het verskeie betekenismoontlikhede. Dit kan beteken “betreffende”, “aangaande” of “met betrekking tot”; byvoorbeeld: rakende geweld kan verwys word na die kwatryn “Koolkoppe”, oor 13 verkoolde mensekoppe wat in Mexikostad gevind is. Die afdelingtitel kan terselfdertyd ook verwys na dit wat ’n mens raak en ontstel – dit wat Miller as die kanker van die samelewing voorstel. Voorbeelde is gewelddadige gebeure hier te lande en elders: die moord op Juliet Haw, ’n kopieredakteur van Hermanus; asook die gruwelike selfdood van die Tibettaanse non Qiu Xiang, waarskynlik uit protes teen onderdrukking deur die Chinese regering. Die afdelingtitel kan ook beteken “aangrensende” of “naasgeleë”. In die geval van die Siamese tweeling Chang en Eng Bunker verkry die titel ’n skrynende waarde. Ná hul dood is hul saamgegroeide lewer gepreserveer en in ’n museum in Philadelphia, Pennsilvanië uitgestal. Dit wat privaat en intiem is, word sodoende voyeuristiese geweld aangedoen. Die tradisionele tafelgebed “Vir spys en drank” word in die gelyknamige gedig tot ’n uiterste geparodieer deur ’n oordadige enumerasie van kossoorte en eetplekke, met die volgende ontstellende (selfs gewelddadige) versoek ter afsluiting:

Voer hom, Here: dié man wie se ribbebene
sedert sy diagnose maergesuig word van binne.
Stop hierdie geraamte aan tafel se smoel vol kos.
Here, druk u gavage in sy gorrel af soos ’n kruis.

Die laaste afdeling het ’n besonder veelduidige titel: “Dryf”. Dit vat die belangrikste temas in die bundel saam, maar wel op ’n minder woedende manier. Ten spyte van al die krapperighede is daar tog die wonder van “geheime kodes/ ’n dol Fibonacci” wat gestamel word (“Afasie”). In “Mondwerk” word die voorneme uitgespreek om die “vitte” (waarskynlik die kritici) behoorlik “onder ink [te] steek onder klippe” en aan te hou om in ’n eie kodetaal te “sing” – al sou dit vir ander onverstaanbaar wees. Meevoerende gedigte in hierdie afdeling is “By ’n foto van Margaret Atwood”, “Cow’s skull with calico roses” en veral “Die onpaar paar”. Oor die twee slotgedigte, “See” en “Mosambiek”, wat albei siklies aansluit by die programgedig, sê Botha in ’n onderhoud aan Louis Esterhuizen (http://versindaba.co.za/­2017/07/17/onderhoud-met-fourie-botha-krap-uit-die-see/):

Die ou idee van die ouroboros, die slangetjie wat sy eie stert sluk, was in my gedagtes toe ek dié twee gedigte gekies het om die bundel mee af te sluit. Ek wou ’n swaar, seer bundel met ’n korrel hoop eindig. Met ’n weerbegin. Dieselfde truuk as met die slotgedig in Donkerkamer. Om iets uit te krap is nie net seer nie, dit bring ook verligting.

Krap uit die see is ’n treffende bundel wat oorwegend somber en donker gedigte bevat. Die digter slaag egter daarin om ’n afstand te bewerkstellig ten opsigte van sy onderwerpe deur die gebruik van kragtige en verrassende beelde, die implementering van ’n verskeidenheid toonaarde (saaklik, sardonies of ironies) en die uitbuiting van verstegniese aspekte. Hy oorspeel nie sy hand met die simbole en intertekste nie en laat genoeg aan die verbeelding van die leser oor. Ten slotte is dit ’n bundel met die harde karapaks van ’n krap wat die intieme binneste beskerm en telkens weer hernuwe kan word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top