"Krag lê in mobiliteit" – Roland de Vries gesels oor Eye of the Firestorm

  • 3

Titel: Eye of the Firestorm
Outeur: Roland de Vries
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780992191252

Koop Eye of the Firestorm nou by Kalahari.com.

YouTube-beelde kon al vir mense wys hoe lyk dit om in die oog van ’n storm – soos in ’n orkaan – te wees. Maar daar is ook ander storms. Soos oorloë. En hoe vóél dit om in so ’n storm te wees? Een waar mens om jou lewe vrees en waar mens terselfdertyd veg teen ’n sisteem? Afgetrede generaal-majoor Roland de Vries het ’n boek hieroor geskryf. Een met ’n baie gepaste titel.

Eye of the Firestorm is op 9 Mei 2013 by Naledi se kantoor bekendgestel.

Naomi Meyer het met generaal-majoor Roland de Vries oor sy boek gesels.

Hallo Roland, as ek so informeel mag wees. Die grensoorlog is lankal verby. Waarom nóú hierdie boek?

Eerstens is dit belangrik om te besef dat die meeste jong soldate dienspligtiges was wat kort na hulle oorlogservaringe teruggekeer het om ’n loopbaan en gesinslewe te begin. Dit is eers nou, 30 jaar later, dat hulle werklik by ’n punt kom waar hulle verpligtinge so ver gevorder is dat hulle aandag aan hulle persoonlike pyne en opgekropte behoeftes kan gee.

Nadat ons die veterane-organisasie van 61 Gemeganiseerde Bataljon Groep in Julie 2007 gestig het, het baie van my oudkollegas my gevra om ’n boek te skryf sodat hulle die omvang van dit wat ons voor in die gevegslinie ervaar het, beter kon vertaan. Ek wou dit ook doen om eer te betoon aan die mense met wie ek saam in die weermag gedien het. Noodwendig het Henriette (my vrou) en ons kinders ook druk op my geplaas om my lewensverhaal te vertel.

Ek het min aansporing nodig gehad, aangesien ek dit geniet om oor oorlogvoering te skryf. Dit is ook belangrik dat ons leer uit die verlede, sodat ons ’n veiliger toekoms in ons land vir al ons mense kan verseker. Ek het gevind dat met die skryf mense nader aan mekaar gebring is – oudvyande ook.

Ek gesels hier met ’n afgetrede generaal-majoor! En tog lees ek in Rapport van “Roland ’my-naam-is-nie-generaal-nie’ de Vries”. Maar is rang nie van die grootste belang in die weermag nie?

Nie vir my nie. Tydens ons militêre loopbane was dit seker belangrik as een van die grondslae van enige militêre organisasie en binne die milieu van geykte dissiplinêre stelsels en vir bevel- en beheerdoeleindes. Dit is nou verby en ek wil nie nou op my rang genoem word nie, want dit plaas skanse tussen mense, soos vir loopgrawe in uitputtingsoorlogvoering. Nou het ek net vriende en hulle noem mekaar op die naam.

Dis seker nie aldag maklik om so ’n titel te dra en ’n leier te moes wees nie. Watter besluite moes jy neem wat jy vooraf geweet het nie gewild sal wees nie?

Daar was baie sulke besluite wat ek moes neem wat my onpopulêr by my seniors gemaak het – die boek is deurspek met voorbeelde. Een was dat ek my eie kop gevolg het met doktrine-ontwikkeling vir mobiele oorlogvoering; ’n ander dat ek die weermag se transformasieproses in Januarie 1994 met entoesiasme aangegryp het omdat ek geglo het dat verandering reg was.

Tydens sodanige besluite het ek eerstens oorweeg oor verantwoordbaarheid en tweedens of dit reg sal wees vir die mense wat aan my sorg toevertrou was. Ek het baie verkeerde besluite geneem; dan het ek ’n nuwe besluit geneem – no regrets. Ek het my mense ook toegelaat om verantwoordbare foute te begaan, net nie te veel nie. Anders hoe leer jy en hoe bevorder jy die uitoefening van inisiatief en die neem van berekende risiko’s in oorlogvoering?

Jy sit die taktieke van oorlogvoering in jou boek uiteen. Maar dink mens klinies oor oorlogvoering in die hitte van die stryd as alles net gaan oor oorlewing?

Jy dink die heeltyd, selfs in jou slaap. ’n Bevelvoerder moet deurgaans situasiebewustheid handhaaf. Wat laat die terrein die vyand toe om te doen? Wat laat die terrein eie magte toe om te doen? As die vyand dit doen, wat gaan ek doen? Waar is die vyand die kwesbaarste? Hoe kan ek die vyand deurgaans verras en uitoorlê?

Onderliggend is die konsepte van oorlogvoering in jou en jou mense se wese vasgelê – dit is tweede natuur. Dit word tydens opleiding, oefeninge en krygspele oor en oor gedoen. Die belangrikste in die proses is die handhawing van gesonde moreel en selfvertroue-ontwikkeling – dit tel veel meer tel as die fisiese dinge – dit lê in spanwerk en onderlinge vertoue. ’n Bevelvoerder moet sy ondergeskiktes vertou; hulle selfs toelaat om foute te maak en om te leer in die proses.

Jy is veral bekend daarvoor dat jy betrokke was by die ontwikkeling van die Ratel. Hoe sou jy die Ratel beskryf: as ’n voertuig of as ’n wapentuig?

Die Ratel was merkwaardig. As ons nie Ratels in Angola in die tagtigerjare gehad het nie, sou ons nie nou vrede in ons land gehad het nie. Die Ratel was veel meer as ’n wapen. Die kombinasie van vuurkrag, mobiliteit, pantserbeskerming en buigsaamheid in aanwending het die voertuig laat deel vorm van ’n geïntegreerde gevegstelsel uit eie reg. Troepe wat in Angola geveg het, sê vandag vir my dat hulle Ratels individuele persoonlikhede gehad het – vandaar die name wat op baie Ratels verskyn het.

Wat bedink ’n mens terwyl jy so ’n masjien ontwerp?

Hoe jy die masjien se bepaalde sterkpunte optimaal kan benut ten spyte van sy tekortkominge en om dan te verseker dat dit ruim binne die bepaalde gevegskonsepte toegepas kan word.

Hoe effektief is wapentuig werklik? Was ons wapentuig altyd opgewasse teen die ander kant se wapentuig?

Nee, daar is vanselfsprekend altyd tekortkominge in toerusting. As voorbeeld: tydens die Angola-gevegte moes Ratel 90’s dikwels tot selfs sewe 90 mm-pantserbreekrondes vuur om ’n Russiese T-54/55-tenk uit te skiet. Dit plaas geweldig druk op bemannings. Die teenvoeter vir die probleem is beter gevegsleierskap, durf, terreinbenutting en taktiek as jou vyand.

Wanneer jy in Eye of the Firestorm oor die Ratel praat, verwys jy na jul “relationship”. Maar, soos met die Grensoorlog, sal almal nie met soveel warmte daaroor praat nie. Wat het jou heel eerste na oorlog en wapentuig aangetrek?

Ek kan dit as iets magies beskryf. Oorlogvoering is beide ’n kuns en ’n wetenskap. As jy dit onder gevaarvolle omstandighede kan bemeester, dra dit by tot optimale selfverwesenliking.
Wat vir my wonderbaarlik was, was hoe mense en hulle toerusting tot gedugte vegeenhede saamgesnoer kon word – soos 61 Gemeganiseerde Bataljon Groep, 32 Bataljon en 101 Bataljon. Soldate verstaan kameraadskap. Jy kry nie sommer daardie hegte band tussen mense in die privaatsektor nie.

Kan mens werklik in woorde beskryf wat mens in die oog van die vuur – tydens nagtelike oorlogvoering – beleef?

Daar kom ’n eienaardige kalmte oor jou en ’n gemoedsrus en vertroue in die mense wat saam met jou is; so saam met die bangheid. Dan weet jy dat jy moet fokus en so positief as moontlik moet beweeg van die een gevaarvolle moment na die volgende. Veel later besef jy dat daar baie skietgebede was. ’n Ou lees Psalm 23 baie voor die tyd; ’n ou moet ’n spaar Bybel byderhand hê.

In ’n oorlog is daar ’n ander werklikheid wat bestaan. Is daar oggende wanneer mens opstaan, binne daardie ander plek, met alles wat sin maak? Of met niks wat sin maak nie?

Ek het altyd geweet dat ons nie om dowe neute oorlog maak nie; dat daar wel sin in was, en dat die politici tot hulle sinne sou kom om iewers in die toekoms vrede te maak, was daar wel.

Ons was andersins so besig op die grens om gevegsgereed magte te handhaaf en aan te wend dat daar nie veel tyd was om aan ander dinge te dink nie. Daar het vir my baie vreugde in die opleiding en samesyn van my soldate gelê – dit was amazing fun gewees, tesame met die groot verantwoordelikheid wat ons gedra het.

Tydens die boekbekendstelling is daar dikwels verwys na hoe belangrik jou gesinslewe vir jou is en was. Hoe het jy gevoel toe jou seun gebore word en jy besef, met al die kennis waaroor jy beskik: eendag gaan hy nog nat-agter-die-ore moet Grens toe?

Jou vrou en kinders is ’n ankerpunt in jou lewe. Onder moeilike omstandighede dink jy baie aan hulle – daaruit put jy krag. As ek so na die foto’s van my jong dienspligtiges kyk wat by my in 61 Meg was in 1981–82, dink ek baie aan my kinders en die Grensoorlog – hoe sou ek nou voel as hulle moes gaan? – en dan teug ek my asem effens in. As dit moet, dan moet dit. Ek was baie trots op ons jong seuns ten tye van die oorlog: hulle was krygers. Ons volkie se kinders is dit steeds.

Andersom: Het jy soms daaraan gedink dat jou gesin jou enige dag kan verloor, bloot omdat jy betrokke is by oorlogvoering?

Ek kan nie sê ek het ooit bewustelik daaraan gedink en dit bedink nie. Ek en Henriette het baie daaroor gepraat en was voorbereid daarop. Dit het ons net nader aan mekaar gebring en meer voluit laat leef – amper asof dit die band tussen ons en ons kroos nog sterker gemaak het. Vir my was oorlog ’n uitdaging en ’n beroepsverantwoordelikheid.

By die boekbekendstelling het jy beantwoord waarom daar oorlog is: “To create a better form of peace.” Hoe lyk vrede?

Nie soos in Somalië, Egipte, Libië, Afghanistan en Irak nie. Eers as jy baie in ander lande gewerk het, besef jy wat ons in ons land het: nieteenstaande die wankelrige politiek leef ons goed hier, en hier is baie goeie mense. As die politici ons los, kan ons dit maak werk. Daar is iets aan Suid-Afrika en ek bly positief oor ons toekoms – ons het nie verniet daarvoor geveg nie.

Vrede vandag beteken baie dinge. Vrede kan vreedsame naasbestaan beteken. Vrede kan beteken ons lewe relatief ongehinderd met bewegingsvryheid, godsdiensvryheid, sosiale en ekonomiese vryheid, ens. Vrede kan beteken ongehinderd en onbedreigd. Dis eers as jy werklik ’n wêreldperspektief ontwikkel dat jy verstaan dat alles relatief is. In vergelyking met baie ander lande in die wêreld gaan dit goed met ons in Suid-Afrika.

Van alles van die oorlog: Is daar een klein verhaal, van ’n paar sinne lank, wat jou bybly?

Ja, oor een van my jong soldate wat by my verbygeloop het terwyl ons by Omuthiya voorberei het vir Operasie Protea in Augustus 1981. Hy het gestop, omgedraai en tot by my Ratel geloop en spontaan aan my gesê: "Kommandant, moenie oor ons bekommerd wees nie, ons sal ’n gat deur enige vyand veg, maak nie saak hoe sterk hulle is nie!"

Is daar steeds mense wat verduidelikings van jou eis vir die feit dat die Grensoorlog daar was?

Ja, daar is vele mense wat wroeg oor die saak. Baie min mense weet of verstaan tot vandag toe dat ons op die vooraand van ’n volskaalse burgeroorlog gestaan het. Waar ek tans in die Midde-Ooste woon en lande soos Sirië, Irak, Egipte en Afghanistan van nader bekyk, besef ek al hoe meer dat ons ’n noue ontkoming gehad het. As ons praat oor die saak, dan besef mense gou dat ons soldate destyds uitmuntend vir vrede geveg het!

Was jy ooit weer in Namibië, en hoe kyk jy nou na die landskap daar?

Ja, in Oktober 2010 het ek en ’n groepie veterane van 61 Meg en 32 Bataljon ’n slagveld toer onderneem na Namibië en Angola. Die land en sy mense is vreedsaam en inskiklik; mense het meesal met ons in Afrikaans gepraat. Lede van ons voormalige vyand wat ons daar ontmoet het, het aan ons gesê: "Die oorlog is verby, julle is altyd welkom, dit is ook julle land ..." Dit was vir ons opvallend hoe skoon en netjies die land vertoon het, hoe gedissiplineerd hulle weermag vertoon het en hoe veilig ons gevoel het. Suid-Afrika kan ’n paar lesse by sy buurstaat gaan leer!

Jy verwys in jou boek na “The War that Never Was” – wat bedoel jy hiermee?

Dit is interessant dat min mense besef dat daar destyds nooit amptelik oorlog verklaar was nie. Maar ek dink jy verwys spesifiek na Operasie Prone, waar ons al die voorbereiding gedoen het vir ’n groot geveg, maar dat vrede verklaar was voor ons oor die afmarslyn gestap het.

Dit was die tyd toe die elite 50ste Kubaanse Divisie verrassend teenoor Sektor 10 in die noordweste van Suidwes-Afrika in Mei 1988 ontplooi het en waar die laaste groot konvensionele geveg noord van Calueque plaasgevind het. Daarna is ’n skietstilstand op 22 Augustus tussen Suid-Afrika, Angola en Kuba aangekondig. As dit nie gebeur het nie, sou daar ’n grootskaalse streeksoorlog gewees het. Die SAW het egter voortgegaan met mobilisasie van magte en gereedmaak vir oorlog. ’n Warm ontvangs was in die vooruitsig gestel indien die vyand die grens sou kruis – vandaar die oorlog wat nooit gebeur het nie – “the war that never was”. Ons het nogal uitgesien daarna.

Voorsien jy ’n oorlog in Suid-Afrika se nabye toekoms?

Nie as ek dit kan verhelp nie!

Daar is nie op die oomblik onmiddellike sigbare aanduidings nie, maar as jy na die geskiedenis kyk kan ’n enkele redelik onbelangrike insident ’n oorlog ontketen … dus weet mens nooit.

’n Mens moet egter eers oorlog definieer en ’n waardering maak van die bedreigings. Ek glo dat die kanse vir ’n oorlog teen Suid-Afrika in die streek onwaarskynlik is. Ek hoop dat ons nooit iewers in die toekoms ’n burgeroorlog sal hê nie! Ek het al gewonder of brutale misdrywe soos plaasmoorde en soortgelyke onwettige optredes ’n mens tot oorlog kan dwing? Enige persoon het die reg om veilig te lewe, selfs die vreemdes in ons land, en dit is die regering se plig om dit te verseker!

Wat beteken jou slagspreuk vir jou – “Krag lê in mobiliteit”?

Die woord strength in Engels beteken vir my meer as krag. Tydens oorlog stel dit jou in staat om met ’n kleiner mag teenoor ’n oormag te veg en te wen (soos tydens Operasie Modular in suidoos-Angola in 1987).

Dit gaan oor ’n meerdere vermoë wat ontketen word deurdat jy nie stilstaan of vasgepen kan word nie. Beweging of beweeglikheid verwys ook na meer as net fisiese beweging. Dit handel insgelyks oor die tempo en soepelheid van denke, kwaliteit van besluitneming, spoed van besluitneming en mistifikasie waar jou optrede nie voorspelbaar is vir jou vyand of teenstander nie.

Die geheim is om verrassend anders te wees – soos om ’n bos blomme vir jou vrou in haar oond te bêre!

Op die Grens was daar die kameraderie. En in Suid-Afrika die ander comrades, besig met die struggle. Hoe gesels mense almal vandag met mekaar oor daardie tyd?

Soldate maak maklik vriende met mekaar as die politici vrede verklaar (politici kan die les gerus leer). Daar is en was nog altyd deur die eeue ’n sêding, “honour among soldiers”. Mens gesels met wedersydse respek en ’n gevoel dat daar tog begrip is vir hoe dit is om oorlog te maak.

My voorstel is om met die geselswerk om ’n kampvuur in die aande te begin. Verkieslik met ’n bottel goeie rooi wyn. Dit is wat enkeles van ons saam met die MK’s gedoen het toe ons met transformasie in Januarie 1994 begin het. Onbevange dialoog waar jy respek betoon vir dit wat ander ook onder moeilike omstandighede beleef het. Dan begin jy om onderlinge vertroue te bou. Die swart mense verwys daarna as “umhlangano” – dialoog waar rang of posisie nie saak maak nie. Dit is soort van ’n ou se Christelike plig, sou ek sê. Ons moet dit met ons kinders ook doen, sonder om altyd voor te sê.

Vertel ons jóú Grensoorlogstorie – en wen Eye of the Firestorm.

 

  • 3

Kommentaar

  • Genl Roland de Vries was 'n merwaardige leier, as hy more vra na sy soldate is ons daar. Ons was die beste soldate in AFRIKA!

    Mag daar nooit burgeroorlog in die RSA kom nie, want hierdie keer maak ons die job kla. Hierdie regering moet wakker word en almal in die land as burgers beskou. Hoe meer hulle die witman vervreem hoe meer dink ek aan my opleiding. Ek is op die direksie van 'n aantal mynbou-maatskappye en die diskriminasie walg my.

    Ek het gekom waar ek is weens my skepper se genade en my opleiding in die SAW wat my voor berei het vir Afrika.

    Die ANC moet nooit die invloed van die SAW op ons onderskat nie, want as ons nie die land op 'n silwer skinkbord weggegee het nie het ons seker nou nog in 'n bankrot land gestry. Ons vra geen gunste - behandel ons almal gelyk. Moenie ons onderskat of verneder nie, julle sal dit berou tot in die vierde geslag. Sekere opleiding en kameraderie vergeet jy as soldaat nooit!

  • Martin Erasmus

    Ek is 64 jaar oud en mense skat my 50 jaar oud.Ek het baie lewe in my en is bereid om die boere te beskerm. Weet jy dalk van plaasboere wat hulp nodig het? Die meeste boere wat vermoor word bly alleen.

  • Elsabe Diederichs

    Beste Generaal Majoor,

    Ek het gesoek na inligting oor die projek Nehemia wat u saam met AfriForum doen.

    Ek is al jare besig met 'n Projek wat gaan oor Nehemia se leierskap en die toepassing op vandag se probleme.

    Is daar 'n moontlikheid om betrokke te raak by so 'n projek of die beplanning van so 'n projek?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top