Kosgedigkompetisie: Wenner aangekondig

  • 1

kosgedig650

Die wenner van die kosgedigkompetsie is Michèle Meyer met die gedig "Ryp vy":

Ryp vy
Michèle Meyer

So moes Eva seker voel
toe son brok deur blaar;
Wel geen pratende slang
Of engelwagte, maar

verleiding hang hier vlak voor my:
ruik die vyebloed!
Fyn haartjies glans op vy se lyf
Proe reeds die onkeerbaar soet.

Vroet dieper die koeltes in
waar vy-lyfies mekaar bemin.
Langs fluweel gebleikte blaar
Hoor Eva nou een praat met haar:

Vingers sluit sag om die prys
Vymelk word taai teen haar lyf.

Die wenner kry 'n boekpakkie met die volgende vier Human & Rousseau-publikasies:

• Wenresepte 2
• Spogresepte
• Gourmet Susters
• 7de Laan vier fees

 

Die volgende gedigte was ook op die kortlys:

Met krui en anys
Catharina E

Ek blaai deur 'n blinkbladboek
verby hors d'oeuvres van tuingroen basilieblare
bestrooi met die rooi van babatamaties
en seekattentakeltjies wat wellustig krul
soos slangetjies oor douvars roket

By die groentespys pronk 'n wulpse sigorei -
ek ruik selfs die groen boeket -
met 'n botterslaai die ene blinkblare
en daarnaas 'n prul aspersie
roomgeel van die botter

Verby rosige biltongblaartjies met glasige randjies
baldadig bestrooi van anys en koljander
brosgebraaide lywe van kwartels gevul met druiwe
skilferkorssnoektert getooi met sprietuie
en 'n pastei van spek en duiwe

Tot die laaste blaai - op 'n tafel vol soet
met bessies en roosblare besaai
pryk 'n oopgespreide vy bo-op 'n meringekoek
daar is beloftes van gemmer en dadels
en kolwyntjies belaai met neute en turkse lekkerny
bedruip met botterkaramel en sjokeladestroop

Gastroreligio
Jaomi Zeeman

Kom na my toe,
almal sat van
papegaaipap, pakkies en poeiers,
al die kommandowurms en pape
met windbrood op die water.
Lê die siele van julle
lang tande
voor my lensiesop neer
dat julle verkwik kan word
in die kapel van my kombuis.
Neem en eet uit my oond,
sien en sluk van my stowwerige flesse
en my bekers
loop oor
by die altaar van my vuur.
Bely jul honger
op die heilige grond
van my lappie knol en krui
dat ons lank mag bly lewe
by die gebruik van
baksels, brousels,
bredies en boude.
Salf die kosyne met stoomgeure
vrygekoop met ’n lang sous of murgbeen
sodat ons kan opvaar
in ’n meelwolk
tot ons weer
so saam is
vir ’n volgende
maal.

 

Die hunker na haksel
Marie Tredoux

Die hunker na die heilsaamheid
van haksel op rys kon my soms oorrompel
in koue wagkamers snags in die Karoo.
Of bedags as ek lang ente strompel
van huis tot huis –welsynamptenaar.
Want die lange ente stap
sou my sente spaar
vir die naaste kafee se allegaar.
Wat my honger sou stil ja
maar net weer bewys
die geknaag sal maar bly
vir haksel op rys.

 

om rys te kook
Wicus Luwes

resepte praat van
koppies meel en knippies sout
dit praat van skil en druk
hande wat knie en roer
resepte sê niks
oor skuurborsels en krapmerke
en handvatsels
wat blase brand nie
resepte sê niks
oor alles wat onherroeplik kan verander
in die tyd wat dit neem
om 'n handvol rys gaar te maak nie

(Lees meer oor die gedig op Versindaba)

 

  • 1

Kommentaar

  • Driekie Grobler

    Baie geluk aan al die wenners, dis waarlik puik werk en dankie Litnet vir die heerlike uitdaging 🙂

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top