Kosgedigkompetisie (en 'n resep vir vanaand)

  • 1
Neem deel aan LitNet se kosgedigkompetisie en wen een boekpakkie met heerlike kookboeke, al vier uitgegee deur Human & Rousseau. Die besonderhede van die kompetisie volg ná die onderhoude.


Wenresepte
is welbekend. Die eerste boek het bestaan uit ’n keur van resepte wat sedert 1977 in Huisgenoot verskyn het. Wenresepte 2 het hierop gevolg. Hierdie boek is in 2014 bygewerk en herdruk. Spogresepte, op sy beurt, is 'n Leserskring-publikasie wat vir die eerste keer in 2014 verskyn het. Albei heerlike kookboeke. Maar hoe verskil hulle? Naomi Meyer het Daleen van der Merwe, Human & Rousseau se opdraggewende redakteur: Niefiksie (Kookboeke), oor albei publikasies gevra.

(En as jy 'n vinnige resep vir aandete nodig het: onderaan elkeen van die twee onderhoude is daar 'n resep uit die betrokke boeke wat jy kan aflaai.)

Wenresepte 2

Baie geluk met die heruitgawe van hierdie spoggerige boek. Waarom spesifiek hierdie publikasie heruitgee?

Dankie vir die kompliment. Ons is ook baie trots op die publikasie. Vir die afgelope tien jaar het ons en Huisgenoot etlike versoeke, van die publiek en boekwinkels, ontvang om die eerste drie Wenresepte-boeke in die reeksuit te gee. Baie mense wil graag die volledige stel Wenresepte besit vanaf 1 tot 8. Daar is ook 'n tendens van nostalgie en mense hunker na die ou bekende. Ons het dus basies reageer op die behoefte wat daar is.

Die Wenresepte-reeks is reeds wenners en alombekend. Wie beskou jy as die teikenmark van hierdie boeke?

Die teikenmark is baie algemeen - van pasgetroud tot ervare kok. En die voordeel is dat dit alle geregte insluit van sop tot nagereg en heerlike gebak. Dit is beslis 'n staatmaker, met bestanddele wat jy in jou kombuis het.

Die oorspronklike Wenresepte 2 is in 1984 uitgegee. Sedertdien het die land verander. Wat het in die boek verander?

Weens die groot aanvraag na die boeke het ons besluit om die boek in sy oorspronklike formaat uit te gee. Die enigste aanpassing is dat ons nuwe foto's geplaas het. Dan die gewig- of volumemates van blikkies en pakkies wat dalk verander het.

Laai 'n vinnige pizzaresep uit Wenresepte 2 af.

Spogresepte

Baie geluk met hierdie mooi boek. Enige spesifieke voordele vir Leserskring se lede - of slegs beskikbaar aan Leserskring se lede, vandaar die titel?

Die boek is algemeen beskikbaar vir Leserskring en in die handel by die meeste toonaangewende boekwinkels. Leserskringlede kan natuurlik die boek deur Leserskring teen 'n spesiale prys aankoop.

In die resepteboek laat byvoorbeeld die rooifluweelkoek mens se mond water. Tog bestaan daar meer as een resep vir, sê nou maar, rooifluweelkoek. Waar kom hierdie boek se resepte vandaan en wie is die gekose kokke wie se resepte vir publikasie gekies is?

Die boek is saamgestel uit resepte wat vir 'n kompetisie deur Leserskring-lede ingestuur is. Mense stuur dus net hulle beste resepte in om seker te maak hulle staan 'n kans om te wen. Toe is die beste resepte uitgekies vir die boek deur die samesteller, Christelle Erasmus. Dus bestaan die boek uit die beste van die bestes. Dit kan mos net 'n wenner wees!

Is Spogresepte net vir gaste, of sommer net vir by die huis ook, om in die algemeen vir die gesin te kook? Vir wie is hierdie boek bedoel?

Die resepte is 'n goeie balans van vir onthaal en ook vir die huis – maar met die klem op iets meer spesiaal. Die boek is vir almal wat hou van lekker eet, gesellig kuier en mense bederf met iets spesiaals.

Laai 'n resep vir Franse roosterbrood met aarbei- en lemoensous uit Spogresepte hier af.

kosgedigkompetisie

LitNet nooi alle digters uit om ’n gedig (in Afrikaans) oor kos te skryf. Die wengedig sal een boekpakkie met die volgende vier Human & Rousseau-publikasies wen:

Wenresepte 2
Spogresepte
Gourmet Susters
7de Laan vier fees

Stuur jou gedig aan: wen@litnet.co.za.

Woordbeperking: 300 woorde.

Sluitingsdatum: 5 Junie 2015.

'n Kortlys van gedigte sal op LitNet geplaas word. Slegs een gedig per digter mag ingeskryf word. 

* Geen korrespondensie oor die keuse van kortlys of wenner sal gevoer word nie.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top