Koöperasiestories by die Bellville Burgersentrum

  • 0

Burgemeester Genis is beswaard. Diep beswaard. Daar is mense wat sonder eer aan die volgende plaaslike verkiesing deelneem, die dorpsbestuur is in wanorde en die regering is net daar vir sekere mense om hulle sakke te vul …

Die verhoogproduksie van PG du Plessis se geliefde verhale het by die US Woordfees geopen, waarna speelvakke by die KKNK, Bellville Burgersentrum en Atterbury teater (Pretoria) volg.

Sandra Prinsloo, wat ook die regie van Du Plessis se Sophia Mentz beredder haar boedel en Teerling behartig het, is die regisseur.

Du Plessis se bekende verhale speel af in ’n kleindorpse omgewing. Dis ’n vorige era, maar soos tipies aan al sy werk, is die karakters en hulle probleme tydloos. Ons herken onsself in die skynheiligheid, geskinder en onderlinge twis van die karakters. Onderliggend bly egter die deernis. Dis volksteater, vol lag en bietjie traan.

Rolverdeling:

Marion Holm, meer bekend vir haar eenvrouvertonings, is saam met Chris van Niekerk, Margit Meyer-Rödenbeck (Dowwe Dolla), die veelsydige Wessel Pretorius, en Carel Nel te sien in die rolverdeling.

Genis (Carel Nel) en sy vrou Johanna (Margit Meyer-Rödenbeck)

Van Niekerk het jare terug op TV die “kakkerlak-ondersoeker” gespeel. Volgens hom is dit “nou ’n werklike eer om dié keer in die verhoogproduksie in die briljante Emgee Pretorius se voetspore te volg en die rol van die amper siniese Veldsman te vertolk”.

Genis (Carel Nel) en Veldsman (Chris van Niekerk)

Vir Holm is dit heerlik om saam met ander akteurs te werk en nie alleen, soos met haar eenvrouvertonings nie. “Die feit dat daar ’n teks, regisseur, stel- en kostuumontwerper en vervaardiger is, laat my voel ek is in Hollywood!”

Volgens Wessel Pretorius is “Oom PG se stories my kinderdae, my ouers, my ooms en tannies, die kuns van luister en oorvertel en die lui Sondagmiddae van braaivleisrook. Ek dink daar is min dinge so Afrikaans soos Koöperasiestories – die dorpie en sy mense met hulle teenstrydighede, voorbehoude en voorliefdes, maar veral warmte. Ek kan ook dan nie aan 'n beter groep mense en storievertellers dink as onder andere Marion Holm en Chris van Niekerk om aan Du Plessis se volksbesit lewe te gee nie. En dit nog onder die ervare en sensitiewe leiding van die meesterlike Sandra Prinsloo.”

Marion Holm, Chris van Niekerk en Carel Nel

Oorsponklike teks: PG du Plessis
Verwerking: Alexa Strachan
Regie: Sandra Prinsloo
Stel- en beligtingsontwerp: Juanita Ferreira
Kostuums: Anel Kleynhans
Musiek: Emile Minnie
Verhoogbestuur: Jeanne Steenkamp
Vervaardig deur: Margit Meyer-Rödenbeck en Alexa Strachan
Met: Chris van Niekerk, Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, Carel Nel, Wessel Pretorius

Koöperasiestories by die Bellville Burgersentrum: 2 tot 7 Mei; 11 en 14 Mei – aandvertonings om 19:30 en Saterdae en Sondae matinee om 15:00

Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

Van die vertonings is ten bate van die volgende instansies:

  • Saterdag 6 Mei om 15:00: ten bate van die Alta du Toit Nasorgsentrum
  • Saterdag 6 Mei om 19:30: ten bate van die Ruyterwacht Seniorsentrum en Fisantekraal Opleidingsentrum
  • Woensdag 10 Mei om 19:30: ten bate van Huis Jabes
  • Vrydag 12 Mei om 19:30: ten bate van die Durbanville Voorbereidingskool

Foto's: Robert Hamblin

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top