Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys: Tegnologie – ’n oplossing?

  • 3

 

Wees in ’n krisis bedag op die gevare, maar (h)erken die geleenthede

Ons neem bykans elke dag kennis van die enorme, en toenemende krisis in die Suid-Afrikaanse onderwys. Daar is egter ’n breër prentjie wat ons bly miskyk: onderwys wêreldwyd staan ook voor ’n krisis. Juis hierin lê ons hoop.

 

Waarheen nou, onderwys Suid-Afrika?

Die toestand van ons basiese onderwys is ironies ’n simptoom, eerder as deel van die oplossing, van die “perfekte storm” wat tans besig is om ons brose samelewing swaar te tref.

Soos ons almal weet, plaas die toenemende politieke en ekonomiese onstabiliteit druk op angstige politieke amptenare wat maklik die skuld vir die wanfunksionerende onderwysstelsel plaas op “die onregmatige uitsluiting van die verontregte meerderheid”. Gevolglik beteken dit nie net druk op die regte van minderhede nie, maar op al die ouers deur sentralisering en die gepaardgaande blootstelling aan magsvergrype.

Dis asof ons vasgevang is in ’n wurggreep van verkeerde denke waar ingryping dikwels “meer van daardie denke” beteken.

 

“Why Johnny can’t read” en “No child left behind”

Die krisis in die onderwys is egter nie uniek aan Suid-Afrika nie en dis ook nie ’n onlangse probleem nie.

Google die boonste frases, “why Johnny can’t read” en “no child left behind”, en jy kom agter dat ’n drukkende situasie in onderwys selfs onder die sogenaamde Eerstewêreldlande voorkom. Die soekresultate wys ’n ontnugterde Brittanje aan die een kant en drastiese, maar futiele Amerikaanse pogings aan die ander kant om die onderskeie onderwyskrisisse aan te spreek. Groot projekte het gevolg en miljarde ponde en dollars is in die water gegooi. Klink dit bekend?

Eers betreklik onlangs is besef dat skole eintlik jongmense voorberei vir ’n wêreld wat nie meer bestaan nie. Deur middel van ’n skoolstelsel wat geskoei is op ’n paradigma wat rondom 1860 in die destydse Pruise ontstaan het om ’n doeltreffende werkerskorps vir die nywerheidswêreld te skep. Metodiek en inhoud het op hierdie denkwyse gevolg en die basis is gelê vir ’n stelsel wat opvoeding aan die massas verskaf.

Intussen het die wêreld aanbeweeg na ’n inligtingsera terwyl dit nog steeds swaar dra aan ’n uitgediende onderwysstelsel wat hoofsaaklik ’n industriële ekonomie bedien.

 

Tegnologie as oplossing?

As deel van die regrukpoging word tegnologie dikwels as die groot uitkoms gesien. Selfs in Suid-Afrika sien ons die reste van jare lange peperduur pogings om rekenaarsentra by skole in te rig of tablette aan leerders te voorsien.

Het al die tegnologiehulpbronne hoegenaamd ’n verskil gemaak? Alhoewel die data deur onderwysowerhede óf ondeursigtig is óf glad nie bestaan nie, is daar min rede om te glo dat tegnologie tot dusver wel ’n noemenswaardige impak op die gehalte van onderwys gemaak het. Inteendeel!

Vandag begin ons besef, in die besigheidswêreld en onderwyssektor, dat tegnologie as sulks nie die oplossing kan bied nie. Die oplossing lê op ’n ander vlak: ’n kultuurverandering moet plaasvind in die wyse van onderrig en leer om onsself te posisioneer binne ’n totaal nuwe wêreld van enorme uitdagings en geleenthede.

 

Die nuwe digitale werklikheid

Hoe lyk hierdie nuwe wêreld? Tans is daar besig om ’n groot revolusie hier reg onder ons oë plaas te vind. Dis ’n totale omwenteling wat gedryf word deur ongekende bevolkingsgroei en vernuwing op tegnologiese gebied. Gevestigde maatskappye het geleer dat klein ondernemings wat in garages ontstaan het, ewe skielik ’n groot bedreiging inhou deur die effektiwiteit waarmee hulle die massas bereik. Gevolglik word hierdie opkomende ondernemings deesdae links en regs oorgekoop deur die grotes.

Bron: The Digital Vortex in 2017, Wade 2017

Die stand en aard van industrieë binne hierdie nuwe digitale wêreld word mooi geïllustreer deur die sg digital vortex. Die opstellers, ’n navorsingspan van die Global Center for Digital Business Transformation, het die aard van digitale ontwrigting geïdentifiseer. Daar is hoofsaaklik drie herkenbare kenmerke:

  1. Voorwerpe word na ’n sentrum getrek. Hoe nader aan die sentrum, hoe vinniger gebeur dit.
  2. Die proses is chaoties. Daar is nie ’n voorspelbare en herkenbare patroon nie.
  3. Voorwerpe bots, verdeel en smelt saam.

Dit is hoe die toenemend vinnigveranderende wêreld van vandag en môre lyk. Dis die wêreld wat ons kinders ingestuur word en soos hier bo gesien, is die opvoedkundige sektor self nie vrygestel van die maalkolk van digitale kragte nie.

Net soos wat daar rede tot kommer is, is daar in dieselfde mate rede tot optimisme.

Toekomsvoorspellers soos Peter Diamandis praat van ’n nuwe golf van voorspoed wat die mensdom sal tref. Trouens, volgens hom gebeur dit alreeds en trek die mensdom tans meer voor- as nadeel deur die stand van tegnologie. Mense leef langer, is gesonder, die vlakke van geweld is minder en dis maar net die vooraand van die algemene gebruik van nanotegnologie, voedseltegnologie, groot deurbrake in die mediese wetenskap, gratis en veiliger vervoer, en die grootskaalse ontginning van water- en energiehulpbronne wat uiteindelik tot ’n oorvloed sal lei (Diamandis en Kotler 2012).

As dit die geval is, dan sal die mens waarskynlik verval in verbruik en gemak. Dink maar net aan die eksistensiële krisis wat dit sal inhou. Hoe moet ons kinders en hulle nasate vir so ’n wêreld voorberei word? Dit is die kernvraag wat ons moet stel as ons na ons kinders se opvoeding kyk, want ons begin alreeds die tekens daarvan sien.

 

Wat moet ons kinders leer?

Daar is onder onderwysdenkers darem beweging in hierdie verband te bespeur. Ons sien al die afgelope paar jaar die holruggeryde onderwysuitdrukking 21ste-eeuse vaardighede. Kyk gerus na ’n Wikipedia-artikel daaroor; die afbakening daarvan is so groot soos die Heer se genade. Die bekendste hiervan is sekerlik die vier K’s (Partnership for 21st Century Learning, 2016):

  • Kreatiwiteit
  • Kritiese denke
  • Kollaboratiewe leer
  • Kommunikasie.

Vir my is die bogenoemde vaardighede opsommend en tekenend van dit wat ons van kunsmatige intelligensie onderskei – ten minste vir die afsienbare toekoms. Dit omvat ook die veelvoudige intelligensies soos deur die Harvardse akademikus Howard Gardner (1999) geïdentifiseer:

  • Taalkundig (linguistic)
  • Logies-wiskundig (logical-mathematical)
  • Ruimtelik (spatial)
  • Liggaamskinesteties (bodily-kinesthetic)
  • Musikaal (musical)
  • Interpersoonlik (interpersonal)
  • Intrapersoonlik (intrapersonal)
  • Naturalisties (naturalistic).

Gardner se definisie van intelligensie is heel eenvoudig: om probleme te kan oplos binne ’n gegewe konteks.

Daaruit leer ons dat intelligensie uit baie meer bestaan as wat ons akademies- en logies-gerigte skoolstelsel vir die besluitnemers van môre aanbied.

I look for three things in hiring people. The first is personal integrity, the second is intelligence and the third is a high energy level. But, if you don’t have the first, the other two will kill you. (Warren Buffet, UH, Berkshire Hathaway)

Op die keper beskou, onderskryf ek Peter Diamandis en Kotler (2015) se beginsel van eksponensiële denke. Ons het nog altyd hulpmiddels of instrumente gebruik om vir ons oplossings te help bied. Dink maar net aan die outydse telraam wat deesdae gevorder het tot die wetenskaplike sakrekenaar wat in eksamenlokale toegelaat word. Besighede gebruik byvoorbeeld besigheidsintelligensie waar rou data betekenis kry deur grafiese voorstellings en projeksies.

Die tegnologie wat ons deesdae tot ons beskikking het, stof die mens op seker gebiede heeltemal uit. Ons brein kan byvoorbeeld slegs twee- of driedimensionele voorwerpe  voorstel, maar ’n rekenaar kan sedert sy ontstaan byvoorbeeld ’n multidimensionele kubus in sy geheue vir dataverwerking skep. Tegnologie is nog altyd ingespan om ons ’n trappie hoër te laat dink. Met eksponensiële tegnologie kan hierdie denke verder ontwikkel word. Ons dink dus toenemend op hoër vlakke.

Kunsmatige intelligensie is glad nie meer beperk tot groot maatskappye en staatsintelligensie nie. Gewone programmeerders, en daarom selfs klein besighede, het reeds toegang tot die kragtigste dataverwerkingsalgoritmes. Dit is binne enigiemand se bereik, ons kinders ingesluit.

Is die gevaar daar dat kunsmatige intelligensie (KI) die mens uiteindelik sal verbysteek?

Volgens Moore se wet groei die verwerkingsingskrag van verwerkers eksponensieel en volgens die KI-kenner Ray Kurzweil is hierdie punt van “singulariteit” geprojekteer vir 2023. Hy projekteer selfs dat die verwerkingsvermoë van rekenaars die gesamentlike menslike breinvermoë in 2045 sal oorskry!

Bron: Ray Kurzweil se toekomsprojeksie op grond van Moore se wet. (Dvorak 2016)

Hoe op aarde moet ons hiermee meeding? Hoe moet ons die menslike brein leer om die krag van toenemende kunsmatige verwerking te beheer? Die antwoord is eenvoudig: deur die voorsprong wat ons tans geniet en tegnologiese hulpmiddels daarvoor moet inspan. Ons moet intap in die eienskappe van die menslike brein wat ons eerstens onderskei van die dier en andersins onderskei van digitale verwerking. En ons sal ons sokkies vinnig moet begin optrek.

Diamandis en Kotler verwys in hulle boek Bold (2015) na die beginsel van “flow” wat oorpronklike deur die sielkunde-akademikus Mihaly Csikszentmihalyi bestudeer is. Vloei word gedefinieer as ’n sielkundige toestand wat jou geheel en al in denke dompel sodat jy heeltemal tred verloor met tyd, plek en jou eie behoeftes. Ons almal ervaar dit soms. Ek kry gereeld insigte in die oggend vroeg op probleme wat my die vorige dag moedeloos gehad het. Daar is talle voorbeelde daarvan in die geskiedenis: Isaac Newton se aha-oomblik toe hy die appel sien val; Einstein wat dit gereeld reggekry het met sy dagdromery wat volgens hom die primêre bron van sy groot deurbrake was; en Boeddha wat dit gekry het terwyl hy onder ’n boom sit. Dink maar net aan die revolusionêre veranderinge wat dit in ons wêreld teweeggebring het!

Die Nobelpryswenner Daniel Kahneman beskryf in sy boek Thinking fast and slow (2011) twee soorte denke: stelsel 1- (vinnige) en stelsel 2- (stadige) denke. Vinnige denke is die gevolg van reeds gevormde breinpatrone uit vorige ervarings wat op ’n geldige of ongeldige wyse op nuwe situasies van toepassing gemaak word, terwyl stelsel 2-denke inligting versigtig opweeg en nuwe breinpatrone vorm.

Ons het beide soorte denke nodig, maar met vandag se magdom inligting wat ons voortdurend toestroom, is die versoeking groot om in stelsel 1-denke te verval. Ons sien dit in sosialemediakommentare op Suid-Afrikaanse gebeure en in Amerikaanse verkiesings waar deelnemers tog te vinnig tot ongeldige gevolgtrekkings kom wat weer tot absurde veralgemenings lei. Ons sien dit in politici wat simplistiese populistiese oplossings vir komplekse probleme aanbied.

Teenoor ’n kollega merk ek onlangs op dat dit vir my gaan oor ’n balans tussen vertikale (of gespesialiseerde) teenoor horisontale (algemene) kennis. Hoe meer die mens kennis opdoen op beide vlakke, hoe groter is die kans om nader aan die waarheid te kom. Met die kennisontploffing, groot datastelle en die komplekse aard van vandag se vinnigveranderende wêreld raak dit kritiek om dit te kan bereik. Die enigste moontlikheid is deur middel van tegnologie wat as uitbreiding van ons denke kan dien. Hoe vinniger ons vir ons kinders leer om dieptekennis oor verskillende dissiplines te kan verkry in samewerking met ander, hoe beter is die kanse dat ons komplekse probleme sal kan aanpak en oplos.

Die veranderende belangstellings van ons leerders is ons vennoot. As jy jou passie volg en ondersteuning in terme van tyd en ander bronne kan verkry, dan is die kanse goed dat jy jou algemene kennis op ’n baie diep vlak kan bou. Dit is die leerders wat hulself oopstel vir leer (nederig is) en kan saamwerk met ander belangstellendes (oor geografiese grense heen) wat die vaardighede sal hê om die onsekere, maar opwindende toekoms in te gaan.

 

Hoe moet ons kinders leer?

Daar is oor min dinge so baie geskryf as die opvoedkunde. Onderrigmetodiek kom al duisende jare aan en is diep ingebed in die filosofie, akademie en teologie. Ek het geen twyfel daaroor nie dat die waardevolle insigte van die voorste onderrigdenkers oor die eeue nog net so geldig is as vandag en dat ons die magdom van hierdie insigte voorop behoort te stel as vertrekpunte om die hedendaagse onderwysprobleme aan te spreek.

Ek noem maar enkeles van die meesters en die insigte wat ons vandag nog verryk. Sokrates en sy Sokratiese metode: ons moet nie alleen vrae stel aan ons kinders nie; ons moet dit modelleer. Peter Diamandis vra vir sy kinders elk dag na skool nie “Wat het julle vandag geleer?” nie, maar “Watter vrae het julle gevra?”

René Descartes, die vader van moderne filosofie se uitlating is alom bekend: “Ek dink, daarom is ek.” Descartes bevraagteken die werklikheid in alle vorme (Bragg 2011). Hy kom tot die gevolgtrekking dat die blote feit dat hy dit bevraagteken, sy bestaan bewys. Die sielkundeterm metakognisie kom onmiddellik na vore: denke oor denke. Wanneer leerders oor hierdie eienskap beskik, neem hulle eienaarskap van hul eie leerwyse en help dit dan om leer te optimaliseer.

Lev Vygotsky: sy bekende “zone of proximal development” onderstreep die belangrikheid van spanwerk (Vygotsky 1978). Daar is vorme van leer wat net deur middel van interaksie met ander kan plaasvind. Tegnologie maak dit nou meer as ooit moontlik – en dit nogal intuïtief.

John Dewey: sy beginsel rondom eksperimentele leer is vir my van onskatbare waarde. Volgens Noam Chomsky (Learning without frontiers 2012) is dit wat by hom die verskil in die lewe gemaak het. Leerders wil ontdekkers wees. Vrae moet aan leerders gestel word, al beteken dit soms dat ons nie altyd antwoorde het nie.

Napoleon Hill se Think and grow Rich was die gevolg van ’n jare lange studie wat deur die destydse miljardêr Dale Carnegie geborg is. In die studie is suksesfaktore van suksesvolle sakemanne geïdentifiseer. Een daarvan is dat talentvolle mense gereeld met mekaar in verbinding is en gesels en idees uitruil en probleme deel. Hy noem dit Masterminds (Mastermind Success Alliance 2014). In die konsultasiemaatskappy waarby ek betrokke is, word hierdie beginsel hoogs suksesvol toegepas deur middel van betreklik goedkoop konferensiesagteware wat mense in soortelyke situasies en kontekste oor die wêreld bymekaar bring.

Benjamin Bloom se “taksonomie” is die een stuk klassieke teorie wat onderwysstudente al vir jare leer ken het en al hoe meer haalbaar word deur tegnologie. Die groot insig hier is dat leer optimaal plaasvind wanneer leerders aktief is: dat die klem op leer moet wees en nie op onderrig as sulks nie.

Net soos van die meesters van ouds, kan ons beslis kennis neem van die hedendaagse onderwysdenkers.

Die neuroloog en deesdae onderwyskundige Judy Willis vra groter klem op die sosiale wetenskappe en die kunste, want dit is waar die mens met sy ontwikkelde prefrontale korteks tot sy reg kom (Willis 2011). Dit is wat ons onderskei van die dier en wanneer hoë vlakke van integrasie tot kreatiwiteit en nuwe insigte lei. Dit is hier waar ons nog vir ’n geruime tyd KI sal kan klop.

John Hattie is ’n Nieu-Seelandse onderwyskundige. Met sy metastudie van ’n ongeveer een miljoen onderwysstudies plaas hy voorafkennis as die nommer 1-faktor waaroor leerders beheer het en wat leer bevorder. Sedert 2009 hou hy ’n lys van faktore by wat ’n impak op doeltreffende leer het (Killian 2017).

Sugata Mitra se klassieke “Hole in the wall”-projek (TED 2001) leer vir ons ’n paar belangrike praktiese lesse. Hy het met die hulp van borge ’n paar robuuste rekenaars met ’n internetverbinding in die middel van ’n krotbuurt in Delhi geïnstalleer. Dit het onmiddellik die aandag getrek van plaaslike kinders met geen geletterdheid nie en bitter min geleenthede. Video's wys waar hulle saamdrom om die rekenaars en binne ’n kort tydperk het daar onverwagte leer plaasgevind. Met die hulp van tegnologie het kinders die potensiaal hulleself om sonder ingryping van volwassenes te leer.

Ten spyte van baie kritiek onder die akademiese gemeenskap oor Mitra se navorsingsmetodiek en die wetenskaplikheid van sy studie, glo ek het hy met sy beroemde TED-praatjie tog ’n belangrike deurbraak gemaak. Onderwyskundiges het begin kennis neem van tegnologie en die toepassingsmoontlikhede daarvan in die onderwys. Ek en die onderwyskundige Van As Jordaan het ’n eksperiment (in die onwetenskaplike sin van die woord) met dieselfde beginsels by ’n plaaslike hoërskool gedoen. Met enkele iPads en verrassende uitkomste was dit ongetwyfeld die bevredigendste ondervinding in die onderwys wat ek al ooit ervaar het.

Die onderwysdenker Ken Robinson noem in sy jongste werk (Robinson 2017) vir ons dat ons ons skole, besighede en gemeenskappe op ander maniere moet bedryf om groeiende kompleksiteit te kan bestuur.

En as die groeiende tendens vir konformisme ons kinders terughou, dan moet ons afsien van die idee van ’n skool. Daar is nuwe vorme van “opvoedkundige mikrodienste” wat opskiet soos paddastoele en wat intuïtief die absoluut regte ding doen, byvoorbeeld http://www.moneyjam.co.za/ wat basiese finansiëlevaardigheidsontwikkeling aanlyn aan jongmense bied waar ’n deel van die inskrywingsgelde deur die betrokke student gebruik word om aandele op wêreldmarkte te koop. Eksaminering is dus formatief eerder as summatief. Dit gaan oor toepassing in die werklikheid eerder as die uitreik van ’n kunsmatige en subjektiewe simbool. Dis juis wat Robinson aanspreek: akademiese kwalifikasies is soos ’n geldeenheid; dit gaan oor vraag en aanbod. Op die oomblik kry elke Jan Rap en sy maat ’n PhD, wat dus ’n ooraanbod veroorsaak.

Salman Khan is die meesterbrein agter Khan Academy (Khan 2012). Dit is ’n gratis aanlyn platform wat onder andere wiskunde aanbied tot op universiteitsvlak, en dit op ’n baie beter wyse as wat baie bestaande onderwysers in skole kan gee. Dit word ondersteun en geborg deur onder andere Bill Gates en Google. Dit word saamgestel deur onderwyskundiges en ’n groot span programmeerders. Daar bestaan reeds ’n infrastruktuur wat vertaling na enige taal moontlik maak en die aanbod is al lankal meer as vir net wiskunde. Die vorderingstatistieke wat Khan Academy vir die leerder bied, lig presies die probleemareas en sterk punte uit – ’n nuttige instrument vir metakognisie. Khan Academy gee vir die “afrigter” (eerder as “onderwyser”) die geleentheid om uit te vind waar die swak en sterk punte van sy hele groep lê en hy kan sy fasiliterende rol daarvolgens aanpas. Ons kan net sowel praat van metakognisie op groepvlak.

Ek het so ’n paar jaar gelede ’n gesprek gehad met ’n onderwysdosent by ’n gesiene Suid-Afrikaanse universiteit. Sy het dit gehad teen die wyse waarop Khan Academy drilwerk doen. Volgens haar moet wiskunde-onderrig toepassing doen in werklike probleme. Sy het ’n punt beet, maar onthou wat Hattie se uitgebreide navorsing sê: voorafkennis is steeds ’n kritieke komponent vir leer om plaas te vind. My antwoord aan haar was dat Khan Academy juis die rol van inligtingsoordraer van die onderwyser oorneem en sodoende daardie onderwyser bevry om fasilitering en toepassing van kennis in verskillende kontekste te doen. Vir ’n praterige dosent het sy besonder stil geword.

Jonathan Bergmann en Aaron Sams is die vaders van die populêre onderwysmetodiek onderliggend aan die beginsel van “flipped learning”, oftewel omgekeerde leer (Bergmann en Sams 2014): die leerlinge doen huiswerk by die skool en leer nuwe inligting by die huis. Die rol van die onderwyser verander van kennisoordraer na fasiliteerder. Hattie verkies eerder die rol van “aktiveerder” wat voortdurend omgewings en omstandighede skep waar leer eerder as onderrig plaasvind. Baie lesers het waarskynlik al die term “flipped classroom” teëgekom. Daar is wél ’n verskil, wat deur die ontdekkers self getref word: “flipped learning” is baie meer as net video’s wat gemaak word deur die onderwyser en wat die leerders by die huis kyk. Dis ’n stappie verder, te wete selfgedrewe leer. Inhoud word self ontdek by die huis en na die skool gebring vir toepassing.

 

Wat is die alternatief vir ons skoolstelsel?

Die onlangs-voorgestelde wysigingswetsontwerp stop ’n skuiwergat van hoop toe: tuisonderrig. In die naam van tuisonderrig kan mikro-onderwysondernemers ’n kritieke rol speel om jou kind ’n funksionele burger te maak wat ’n groot bydrae tot die nuwe wêreld kan lewer. Aan die ander kant bly daar ’n skuiwergat oop. Tipies van ’n sentralistiese regering is afdwingbaarheid ’n groot probleem. Soos Golda Meir praat van ’n geheime wapen wat ons het: daar is nie ’n alternatief nie. Soos wat Seth Godin sê: “Tuisonderrig begin wanneer jou kinders 3-uur van die skool afkom” (Papadopoulos 2017).

Ons kan dus druk plaas op belange-organisasies om fondse of inisiatiewe daar te stel om ondersteuning buite die skool te bied. Daar is ook baie welwillendheid by buitelandse belanghebbendes om hulp en fondse beskikbaar te stel. Tegnologie maak dit moontlik om denkers oor geografiese grense heen bymekaar te bring om planne te bedink om die krisis in die onderwys daadwerklik aan te spreek. Net soos wat die sg Blockchain-tegnologie die staat as monetêre waghond en middelman totaal uitskakel, maak tegnologie dit moontlik om dieselfde op opvoedkundige gebied te bereik.

Diamandis en Kotler praat van die 6 D’s digitale ontwrigting: Digitized, Deceptive, Disruptive, Demonetized, Dematerialized en Democratized. Die laaste drie is vir ons van besondere belang. Om te demonetiseer beteken dat die gebruiker nie meer daarvoor hoef te betaal nie. Waarde is inherent. Om te dematerialiseer beteken weer dat dit in die virtuele ruimtes geskied. Uber besit geen taxi nie, Airbnb besit geen gastehuis of hotel nie. Verbeel jou net dat ons kinders se opvoeding onaangeraak sal wees as daar nie geboue is om aan te raak nie! Die fase van demokratisering is die grand finale waar toegang tot die nuwe ekonomie toeganklik oor die wye wêreld vir almal kan raak.

Waarheen vir gemarginaliseerde tale? Digitalisering van die taal deur VivA is prysenswaardig. Die demonetisering en die demokratisering van inligting is van kardinale belang. Wat gedoen moet word, is om die korpus van geskrewe en gesproke teks (moenie die nieverbale uitsluit nie) as ’n datastel beskikbaar te stel aan die KI van die toekoms. Ons weet dit gaan kom en ons kan nou al die teelaarde skep.

Dieselfde moet gedoen word met ons kinders en die manier waarop hulle leer. Die dataversamelingskomponent binne onderrig is van kardinale belang en organisasies kan interdissiplinêre navorsingskapasiteit opbou om hierdie droom te verwesenlik.

Met die demokratisering van tegnologie kan ouers self die geleentheid aangryp en hul kinders blootstel aan die wêreld van vandag. Onderwysmikrodienste buite die sfeer van die staat is aan die opbloei en raak toeganklik vir Jan Alleman. En as Jan Alleman nie weet hoe nie, gee net die geleentheid oor aan sy kinders om dit self te ontdek. Die moontlikhede is legio.

 

Wat van bestaande skole, hetsy openbaar of privaat?

Die opvoedkundige stelsel is ’n sistemiese probleem. Of dit nou ’n staatskool, openbare skool of ’n privaatskool is, ons is nog steeds vasgevang in dieselfde sosiale, besigheids-, opvoedkundige, politieke en akademiese paradigma.

Ouers met uitgediende verwagtings van die onderwys is deel van die probleem. Onderwysers en onderwysopleidingsinstansies wat nog al die jare gevoed is deur die illusie van sukses van die summatiewe en akademiese aard van hul opvoeding, is deel van die probleem. Die skoolstelsel wat kinders volgens ouderdomsgroep klassifiseer en saamvoeg ten spyte van wat gesonde onderwysbeginsels al vir jare lank vir ons sê, is deel van die probleem. En les bes, en loshande die skuldigste, is die beklemmende politieke paradigma wat nou selfs die akkreditasie van die regsgraad LLB by die Universiteit van Kaapstad in gedrang bring suiwer weens politieke teikens wat in die konteks van dekolonialisering nie behaal word nie.

Ons het dus hier te doen met wat literatuur weergee as ’n halsstarrige probleem (“wicked problem”). Baie welkom in die postmoderne wêreld waar kompleksiteit toeneem, veral as jy halsstarrig teen die prikkels van verandering skop.

Daar is seker baie benaderings wat gevolg kan word om hierdie “wicked problem” aan te durf. Die een metode wat vir my soos ’n paal bo water staan, is ontwerpnavorsing (“design research”, Plomp en Nieveen, 2013). Dit is ’n navorsingsmetodiek wat akademici waarskynlik oppervlakkig sal herken as aksienavorsing met sy stewige voete in die praktyk. Daar sit egter baie meer daaragter. Dit is ’n metodologie wat spesifiek gerig is op kurrikulering binne die onderwys, en tweedens volg dit ’n spanbenadering eerder as individuele navorsing. Net soos aksienavorsing is dit eksperimenteel van aard en is daar voortdurend ’n wisselwerking tussen die teorie en praktyk. ’n Breedvoerige literatuurstudie word vooraf gedoen wat uitloop op die daarstelling van ’n teoretiese model. Dit word dan in die praktyk in ’n spesifieke konteks getoets, en op grond van uitkomste word die teorie weer bygewerk. Wéér word die bygewerkte model toegepas, maar hierdie keer in ’n groter konteks. Die proses van voortdurende toepassing en aanpassing word herhaal totdat dit die beoogde omvang van die studie bereik.

In hierdie proses kan tegnologie ’n kritieke rol speel. Een van die groot probleme vir korrekte evaluering is die insameling van data. Rekenaarprogramme wat gerig is op die eksakte wetenskappe (as daar so iets bestaan), was in die verlede besonder nuttig juis omdat dit konvergent van aard is. Dit beteken eenvoudig dat een plus een nie onbeperkte moontlikhede het nie en die uitkoms maklik meetbaar is.

Sosiale wetenskappe en die kunste is ’n hele ander storie. Hoe op dees aarde meet jy met ’n rekenaarprogram die gehalte van daardie gewraakte mondeling oor die vakansie? Daar is egter goeie nuus – baie goeie nuus. Dit word al hoe meer bereikbaar deur KI. Daar is al opkomende ondernemings (“start-ups”) wat begin kyk na die implementering van KI in die klaskamer. Die demokratisering van KI het onlangs met alle erns begin. Enigiemand het deesdae toegang tot kragtige KI-koppelvlakke en algoritmes in die Cloud.

Die wetenskaplike metodologie bestaan dus om hierdie halsstarrige onderwysprobleem op te los. Tegnies en prakties raak dit al hoe meer haalbaar. Al wat nodig is, is nuwe denke en politieke wil.

 

Ter afsluiting

Daar is twee aanhalings wat ek hier gaan jukstaponeer ter wille van vrye interpretasie. Om dit interessanter te maak, besprinkel ek dit met voorafstukkies meta-inligting.

Die eerste aanhaling kom voor in toesprake van John F Kennedy en ander waarvan die taalkundige aanspraak deur Chinese taalkundiges weerlê is. Die tweede is ’n alombekende aanhaling van Victor Frankl wat vir die eerste keer opgeteken is deur Stephen R Covey in sy boek Prisoners of our thoughts, maar waarvan hy nagelaat het om die oorsprong aan te teken. Beide aanhalings is dus suspisieus – of is dit?

The Chinese use two brush strokes to write the word “crisis”. One brush stroke stands for danger; the other for opportunity. In a crisis, be aware of the danger –but recognize the opportunity.

En:

Between stimulus and response lies a space. In that space lie our freedom and power to choose a response. In our response lies our growth and our happiness.

 

Bibliografie

Bergmann, Jonathan en Sams, Aaron. 2014. Flipped Learning: Gateway to Student Engagement. Washington DC : International Society for Technology in Education, 2014.

Bragg, Melvyn. 2011. Cogito Ergo Sum. bbc.co.uk. [Aanlyn] 28 April 2011. http://www.bbc.co.uk/programmes/b010mvcp.

Diamandis, Peter en Steven Kotler. 2012. Abundance: The future is better than you think. New York: Free Press.

—. 2015. Bold: How to go big, create wealth and impact the world. New York: Simon & Schuster.

Dvorak, Paul. 2016. Futurist Ray Kurzweil predicts a solar-industry boom and we flail at implications for the wind industry. www.windpowerengineering.com. [Aanlyn] 4 April 2016. http://www.windpowerengineering.com/business-news-projects/futurist-ray-kurzweil-predicts-solar-industry-boom-implication-wind-industry.

Gardner, Howard. 1999. Intelligence reframed: Multiple intelligences for the 21st century. New York : Basic Books.

Khan, Salman. 2012. The One World Schoolhouse: Education reimagined. Londen: Hodder & Stoughton.

Kahneman, Daniel. 2011. Thinking, Fast and Slow. New York: Farrar, Straus and Giroux, 2011.

Killian, Shaun. 2017. Hattie’s 2017 Updated List of Factors Influencing Student Achievement. www.evidencebasedteaching.org.au. [Aanlyn] 24 September 2017. http://www.evidencebasedteaching.org.au/hatties-2017-updated-list.

Learning Without Frontiers. 2012. Noam Chomsky – The Purpose of Education. youtube.com. [Aanlyn] 1 Februarie 2012. https://youtu.be/DdNAUJWJN08.

Mastermind Success Alliance. 2014. Napoleon Hill's Mastermind Principle. YouTube.com. [Aanlyn] 25 Desember 2014. https://youtu.be/5e_KTQBoctQ.

Papadopoulos, Nasos. 2017. ML94: Seth Godin on educating the leaders of the future, secrets of closing the sale and how to do creative work that matters. Metealearn.net. [Aanlyn] 2017. http://www.metalearn.net/podcasts/ml94-seth-godin.

Partnership for 21st Century Learning. 2016. p21.org. Framework for 21st Century Learning. [Aanlyn] Januarie 2016. http://www.p21.org/about-us/p21-framework.

Plomp, Tjeerd en Nienke Nieveen. 2013. Educational design research. international.slo.nl. [Aanlyn] September. http://international.slo.nl/bestanden/Ch01-51_total.pdf.

Robinson, Ken. 2017. Out of our minds. West Sussex: John Wiley & Sons.

TED. 2001. Kids can teach themselves. Ted.com. [Aanlyn] Februarie. https://www.ted.com/talks/sugata_mitra_shows_how_kids_teach_themselves.

Vygotsky, L.S. 1978. Mind in society. Londen: Harvard University Press.

Wade, Michael R. 2017. The digital vortex in 2017: It’s not a question of “when”. Md.org. [Aanlyn] Oktober. https://www.imd.org/dbt/articles/digital-vortex-in-2017.

Willis, Judy. 2011. Understanding how the brain thinks. Edutopia. [Aanlyn] 13 Junie 2011. https://www.edutopia.org/blog/understanding-how-the-brain-thinks-judy-willis-md.

  • 3

Kommentaar

  • Martha Pretorius

    Baie goeie en weldeurdagte artikel oor 'n onderwerp waaroor daar al meer en meer gepraat, gedink en gepubliseer word. My grootste bekommernis is net hoe lank dit ons gaan vat om die geankerheid van die verlede te verruil vir die realiteit van die toekoms. Veral ons as Afrikaners is tradisioneel baie stadig om enige moeilike en uitdagende situasie eerder te beskou as wegspringpunt tot nuwe en alternatiewe denke oor daardie situasie, en sodoende, nader te kom aan 'n alternatiewe oplossing. Sal iemand asseblief die artikel aanstuur vir Afriforum, Solidariteit, die ATKV, die FAK en SADOU!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top