Koms van die motman deur Chris Karsten: ’n lesersindruk

  • 0

Koms van die motman
Chris Karsten

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798176224

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Daar word gesê dat die grens tussen spanningslektuur en letterkunde in Afrikaans besig is om mee te gee. Daar word die laaste tyd groot pryse vir misdaadfiksie toegeken – pryse wat voorheen slegs vir “letterkunde” beskore was.1

Maar is pryse ’n aanduiding?

Ek is nie so seker nie. Hoewel misdaadfiksie ’n groot deel van my aandag geniet, en gereeld op my leeslys is, weet ek al uit ervaring dat hierdie tipe boeke nie oor tien of selfs vyf jaar meer veel gelees word nie. Dat baie van hierdie boeke kunstig geskryf is, is ongetwyfeld, maar die oues word vinnig vervang deur nuwes.

Koms van die motman word beskryf as die “slotroman in die jongste Ella Neser-trilogie”. Maar ons het reeds vir Neser leer ken deur die “Abel Lotz-trilogie” – wat na Abel vernoem is, nie na Ella nie. Hoe dit ook al sy, Ella is ten minste ’n veel minder ongure karakter as Abel, en in Koms van die motman hou sy haar lyf natuurlik weer speurder, maar dié keer gaan dit oor die dood van haar eie vader, wat vir elf jaar lank al in ’n koma was. Neser is dus nie self deel van die amptelike ondersoek nie, maar benewens dat sy die polisie op hulle tone hou, stuur sy natuurlik haar eie ondersoek van stapel.

Haar verhouding met Lou Pepler worstel voort, maar nou is daar ook nog die aantreklike staatsaanklaer, Fred Lange, wat betrokke was by die verhoor van Ella se hoofverdagte, Arthur Wilky. En tussendeur hou sy die agterdeur oop met ’n beplande nuwe loopbaan op ’n boot.

Baie tyd word spandeer aan Wilky, en daar word tereg gepraat van die “digte detail”2 van Karsten se boeke. Wilky met sy liefde vir klassieke musiek en plante is ’n figuur vol nuanses en misterie, en hy word ’n kleurryke gevangene in die tronk waar hy ’n vonnis uitdien vir ’n misdaad wat hy volhou hy nooit gepleeg het nie.

Die ontknoping van die boek is so onvoorspelbaar dat niemand dit kan voorsien nie, maar dit is wat my betref ’n bietjie onoortuigend. Tog bly die boek ’n aangename leeservaring.

Tussendeur die verhaal is daar ook “interludes” – soos die verhaal van ’n Zoeloeman, Mzuzepi, wat geassosieer word met die ontstaan van Suid-Afrika se bendestelsel in die tronke. Wat wou die skrywer met hierdie “tussenspele” sê?3 word daar gevra. Daar is skynbare ooreenkomste tussen die verhale van Wilky en Mzuzepi, maar iewers vervaag hierdie skynbare ooreenkomste.

Hierop het ek nie antwoorde nie. Die tussenspele het my gedagtes ver laat dwaal, want ek lees al baie jare misdaadfiksie, spesifiek na die boek Coldsleep Lullaby van Andrew Brown (Zebra, 2005), wat ook in Suid-Afrika afspeel, en ook so wissel tussen ’n verhaal van eeue gelede en die hede. Maar daar is die ooreenkomste veel duideliker as in Koms van die motman. Mzuzepi Mathebula se verhaal, wat na bewering elemente van die waarheid bevat, was totaal onbekend aan my voordat ek hierdie boek gelees het, en dit het ten minste my belangstelling in die saak geprikkel.

Koms van die motman is nie vir my ’n hoogtepunt uit Karsten se pen nie. Daardie eer behoort aan Abel Lotz en dié se manewales. Maar die boek het my ook darem glad nie teleurgestel nie. Koms van die motman is goeie misdaadfiksie, en bied prikkelende vermaak en ontspanning. Dis niks meer nie, maar beslis ook niks minder nie.

Eindnotas

1 D Steinmair, Chris Karsten se nuwe “kat-en-muis”, Rapport Weekliks, 5 November 2017, bl 13.

2 Ibid.

3 C van Rensburg, Motman se gefladder geen ligte musiek nie, Volksblad, 13 November 2017, bl 7.

Foto van Chris Karsten: Brenda Veldtman

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top