Kommentaar deur die Afrikaanse Taalraad: Taalbeleid by die Universiteit van Pretoria

  • 3

Die Afrikaanse Taalraad (die Taalraad) tree op as ’n konfederale dakorganisasie vir ’n meerderheid Afrikaanse taal- en kultuurorganisasies en is as ’n taalraad by die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van Kultuur-, Godsdiens- en Taalregte geregistreer. Ons verwelkom die geleentheid om op die Onafhanklike Transformasiepaneel (die Paneel) se uitnodiging te reageer. Gegewe die kort kennisgewing is ons bydrae noodgedwonge tot beginselkwessies beperk en laat ons dit aan ander oor om meer tegniese bydraes te maak.

Die Taalraad bevorder Afrikaans in haar volle diversiteit: Oranjerivier-Afrikaans, Kaaps, Namakwalandse Afrikaans en alle ander vorme van die taal. Afrikaans is nie ’n wit taal nie en behoort aan al haar sprekers. Daar ís in die verlede in Afrikaans seergemaak, maar ook in Afrikaans ’n stryd teen onreg gevoer. Die Taalraad mik dus op die heling van die letsels van die verlede en versoening tussen die sprekers van die taal. Ons reik ook uit na ander, onder andere diegene wat negatiewe persepsies van die taal het.

Ons beskou Afrikaans as ’n hoogs ontwikkelde taal van bemagtiging wat aan al haar sprekers se emosionele, religieuse, sosiale, kulturele, en akademiese behoeftes kan voldoen – beter as wat enige ander taal dit vir hulle sou kon doen. Daarom bevorder die Taalraad Afrikaans in die huis en moedertaalonderrig op skool en universiteit.

Ons glo dat die Grondwet ruimte skep vir ’n meertalige bestel waarin hierdie funksies van Afrikaans op ’n gelyke basis met ander tale uitgeleef kan word; ook dat teenstrydige belange, waar dit sou bestaan, by wyse van onderhandeling, goeie beplanning en bestuur versoen kan word. Met ’n bietjie verbeelding en ’n bereidwilligheid tot kompromie, kan almal gewoonlik geakkommodeer word.

Ons besef dus dat die verdere ontwikkeling van Afrikaans nie in ’n vakuum kan geskied nie, maar gekoppel is aan die ontwikkeling van ons ander inheemse tale, Nama inkluis. In hierdie opsig is ons veral opgewonde oor die prominensie van isiZulu by die Universiteit van KwaZulu-Natal. Ons hoop dat hierdie voorbeeld deur ander universiteite gevolg sal word en dat die Universiteit van Pretoria dieselfde gewig agter die ontwikkeling van Sepedi en ook Afrikaans sal gooi. Daarvoor is duidelike teikens en meganismes binne die raamwerk van die Taalplan nodig. Met meertaligheid bedoel ons dus nie die simboliese insluiting van inheemse tale as hulpmiddels nie, maar die ontginning van die volle waarde van hierdie tale op ’n volhoubare basis.

Hierdie standpunt is nie bloot gebaseer op oorwegings van eiebelang nie, maar ook op die besef dat ons tale ’n uiters waardevolle ekonomiese hulpbron daarstel. Taal help om mense se volle potensiaal te ontsluit, daarmee ook hulle vermoë om aan die ekonomie deel te neem en daartoe by te dra. Taal skep ruimte vir nuwe produkte en markte wat slegs deur meertalige maatskappye geteiken kan word. Deur die inheemse tale binne ’n meertalige bestel te ontwikkel, kan die land dus sy ware ekonomiese potensiaal bereik.

Kwantifisering van hierdie bydrae sal wys dat mens die ekonomiese waarde van taal nie kan veronagsaam nie. Studies oor moedertaalonderwys op skoolvlak binne ’n meertalige verband wys byvoorbeeld duidelik daarop dat die bykomende kostes daarvan duidelik regverdigbaar is op grond van die ekonomiese rendement wat dit genereer. Een van hierdie rendemente sluit in die doeltreffender gebruik van beperkte hulpbronne op universiteitsvlak. 1

Taal kan ook ’n belangrike bydrae tot positiewe sosiale verandering2 lewer soos wat wyle Neville Alexander geargumenteer het. Volgens hom is meertaligheid ’n voorvereiste vir die ware kulturele onafhanklikheid van die land, vir die kulturele selfvertroue wat ons nodig het om as ’n nasie te ontwikkel.3 Hy het dit ook as ’n voorvereiste vir ’n ware deelnemende demokrasie beskou. Die lot van Afrikaans sal die politieke lot van die land bepaal, het hy gedink.

Monolinguisme beperk naamlik toegang tot die staat en die ekonomie tot diegene wat Engels goed beheers. Meertaligheid skep daarteenoor toegang vir die res en verhinder die konsolidasie van staatkundige, ekonomiese en politieke mag in die hande van ’n klein, hoofsaaklik stedelike elite. Om hierdie redes bevorder die Taalraad konsekwent meertaligheid, en waar toepaslik, die gebruik van Afrikaans in besigheid, die staat en publieke ruimtes.

Die meeste inheemse tale in Suid-Afrika, met die moontlike uitsondering van isiZulu wat uitstekend as lees- en skryftaal geanker is, ervaar tans toenemende druk. Die gebruiksvorme van Sepedi in en om die stedelike gebiede verskil byvoorbeeld toenemend van die meer tradisionele vorme in die platteland – soveel so dat sommige taalkundiges selfs voorspraak vir ’n herstandaardisering van die taal begin maak. Dieselfde geld toenemend vir Afrikaans en ander inheemse tale soos isiXhosa, waar die plattelandse vorms toenemend as die “regte” of “suiwer” variante geld.

Die behoud en verdere ontwikkeling van hierdie tale as instrumente van kulturele vernuwing en bemagtiging, voorveronderstel die betrokkenheid van die universiteite. Dit is ’n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap wat universiteite moeilik kan negeer. ’n Balans moet eenvoudig tussen die taalbehoeftes van plaaslike gemeenskappe en universiteite se versugting na internasionalisering gevind word. Juis by wyse van hierdie worteling in die plaaslike kan die negatiewe invloede van neo-liberale internasionalisme besweer word.

In die geval van die UP is ’n beginselbesluit oor die waarde van beide Afrikaans en Sepedi as tale van bemagtiging dus nou nodig. Dit sal ’n finale besluit wees omdat ’n latere terugkeer na die status quo waarskynlik nie lewensvatbaar sal wees nie. En daar is wyer implikasies: indien Afrikaans val, dan val Sepedi. As Afrikaans nie kan oorleef nie, dan is die kanse vir die meeste ander inheemse tale skraal.

Die Taalraad hoop dus dat die Paneel in hulle oorweging van die bydraes wat deur verskillende partye gemaak word, die waarde van taal as ’n instrument van kulturele, ekonomiese en politieke bemagtiging nie sal onderskat nie; so ook nie die emosionele waarde van taal nie, en haar rol in die kunste en die verwoording van mense se intiemste ervaringe van die werklikheid. Hierdie funksies word almal ondermyn indien die intellektualisering van ’n taal ignoreer word.

Juis weens ons ingesteldheid op taal en kultuur, het die Taalraad baie begrip vir die vervreemding wat so baie studente op die kampus van die UP en ander universiteite beleef. Die UP ís ’n histories wit Afrikaanse ruimte met ’n sterk Westerse, of eerder internasionale, akademiese tradisie. Daarbenewens daag baie studente swak voorbereid in hierdie ruimtes op en sukkel om die druk te verwerk, finansiële probleme inkluis.

Ons verstaan ook dat hierdie ervaring tot frustrasie en dikwels selfs woede lei - klassieke simptome van “kultuurskok” waarmee internasionale of multikulturele maatskappye gereeld te doene het. Dit is nietemin disfunksioneel wanneer hierdie spanninge omslaan in negatiewe, of hatige of rassistiese, stereotipering van ’n ‘ander’, of die skepping van kru vyandbeelde.

Dit word gevaarlik wanneer sulke reaksies aansluiting vind by verdelende ideologie wat onverdraagsaamheid, en soms ook geweld, regverdig. Die radikaliserende nul-som benaderings wat deur sommige akademici en akademiese instansies bevorder word, kan almal, ook studente inkluis, uiteindelik baie kos.

Dit is nietemin ’n gegewe dat kampusse, dié van die UP inkluis, sal verander om gehoor te gee aan die behoeftes van die studente. Die onnodige afskaffing van Afrikaans sal egter nie “verdeling” tussen studente ophef nie – meer kreatiewe en minder drakoniese idees is nodig om versoening tussen studente te bewerkstellig. Dit sal veel eerder verbittering en onttrekking tot gevolg hê.

As gevolg hiervan sal die UP sekerlik ook ’n sterk bron van inkomste verloor, iets wat die universiteit se leierskap sonder twyfel reeds weet. Hulle weet sekerlik ook dat die studente dikwels geldige griewe het, maar ook dat die toegee aan populistiese eise in alle waarskynlikheid slegs tot meer ekstreme eise sal lei.

Die universiteit se leierskap hul sonder twyfel in ’n moeilike posisie en dit is maklik om van buite af opinies te lug. Nietemin moet ons daarop wys dat dit binne ’n gesonde en verdraagsame demokrasie moontlik moet wees om ’n plek vir Afrikaans en Sepedi langs Engels by die UP te handhaaf. Kwessies soos taal, kulturele ruimtes en kurrikulum by die UP moet dus onderhandel word eerder as dat ’n meerderheidsgroep eenvoudig hul wense op ’n minderheid afdwing. ’n Nuwe gedeelde taal- en kulturele ervaring op die kampus moet deur ope gesprek geskep word.

Verdraagsaamheid is uiteraard ’n voorvereiste hiervoor, iets waarvan daar tans te min op kampusse te bespeur is, die UP ingesluit. In hierdie opsig is ’n rol vir politieke stigtings soos die Achmed Kathrada Stigting, die Mandela Stigting en ander aangewese. Ook die Taalraad is bereid om te help.

Hóé die kampus verander is amper belangriker as die resultate daarvan. Dit het implikasies vir die politieke kultuur van die land as geheel.

Conrad Steenkamp
Hoof van die Afrikaanse Taalraad

Eindnotas

1 Meer as 70% van studente wat universiteit verlaat, dui byvoorbeeld probleme met Engels aan as een van die hoofredes vir hulle besluit. Daar is etlike goeie artikels hieroor geskryf en ons kan binne die bestek van hierdie bydrae nie daarop ingaan nie.

2 Lees “transformasie”, indien u wil, hoewel mens dalk oor die presiese inhoud van die begrip moet praat.

3 Lees in hierdie geval “dekolonisering”, hoewel mens hier ook oor die inhoud hiervan kan praat.

  • 3

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Die Afrikaanse Taalraad (ATR) word 'n dakorganisasie genoem. Ek sou dit eerder 'n sambreelinstansie noem. Nie "soveel so" nie, eerder "dermate" of "in so 'n mate". Nie "te doene het" nie, eerder "te make het".

    "Die Taalraad bevorder Afrikaans in haar volle diversiteit." Soos die gewoonte in ATR-geledere is, word allerhande soorte Afrikaans in hierdie teks genoem, met een opvallende uitsondering: Standaardafrikaans. Dit hinder my dat die volle naam van die ATR tot "die Taalraad" verkort word, dus dat die verwysing na Afrikaans uitgelaat word. Dit herinner aan Chris Brink, ‘n vorige rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), se vyandigheid teenoor Afrikaans toe hy dit eerder "die Taal" as Afrikaans genoem het. Afrikaans word glad te dikwels deur die ATR se meertaligheidsmanie ondergeploeg. Ek herinner my dat daar heeltemal tereg al na die ATR as 'n meertaligheids- en versoeningsinstansie verwys het eerder as om die benaming ATR as letterlik 'n weerspieëling van sy werklike aard te beskou. Wannie Carstens, die eerste ATR-voorsitter, se evaluering van die ATR-werksaamhede gedurende sy dienstermyn was dat dit veral met versoening suksesvol was, dus nie soseer met die bevordering van Afrikaans nie. Gerhard van Huyssteen het onlangs daarop gewys dat dit grammatikaal verkeerd is om Afrikaans te vervroulik deur na die taal as "haar" te verwys. Desnieteenstaande is dit wat Carstens doen, asook die huidige ATR-voorsitster en die uitvoerende hoof (wat ingevolge die ATR se Akte van Oprigting eerder die besturende direkteur genoem behoort te word). Ek beskou hierdie vervroulikingsfoefie as 'n knieknik vir feminisme, dus 'n teenproduktiewe poging om in die mode te probeer wees. Iets waaroor ek nog nie duidelikheid het nie, is of diegene in ATR-geledere die ATR ook as vroulik takseer.

    "Afrikaans is nie 'n wit taal nie." Hierdie stelling is sowel vals as (potensieel) uiters skadelik. Dit is in dieselfde orde as Wim de Villiers, die huidige US-rektor, se deur hom dikwels herhaalde stelling: "Stellenbosch is nie 'n Afrikaanse universiteit nie." Wat daar deur De Villiers beweer word, is besig om ingevolge De Villiers se verengelsingsmanie letterlik waar te word. Wat Steenkamp met sy stelling doen, is volledig in die ATR-tradisie, naamlik om enige verwysing na blanke Afrikaanssprekendes/Afrikaners (soos ook in die geval van Standaardafrikaans) te vermy. My standpunt is dat die ATR die pendulum van regstelling te ver na veral bruines en Kaaps laat swaai. In hierdie proses word die rol van Afrikaners en Standaardafrikaans by voorkeur verswyg en by implikasie geminag. Steenkamp behoort sy bewoording aan te pas, bv "Afrikaans is nie uitsluitlik 'n wit (of witmens-) taal nie" of "Afrikaans is ook 'n wit (of witmens-) taal." Onderliggend aan Steenkamp en die ATR se vermyding van verwysings na Afrikaners en Standaardafrikaans is die valse veronderstelling (gerugsteun deur bv ANC-propaganda) dat Afrikaners en Standaardafrikaans nie kosjer is nie; dat daar 'n onwelriekende geurtjie aan hulle kleef; dat verwysings na hulle vermy moet word. In werklikheid is dit 'n historiese feit dat dit hoofsaaklik aan Afrikaners se danke is dat Afrikaans ontwikkel is, sy beslag gekry het en amptelik as taal erken is. Dit is myns insiens ook 'n onomstootlike feit dat Standaardafrikaans dié Afrikaansvariant is wat die beste verskansing teen verswelging deur Engels bied. Daarenteen bied Kaaps as 'n mengeltaal, wat al hoe meer deur Engelse woorde en uitdrukkings besoedel word, geen werklike verskansing teen toenemende verengelsing nie. Verengelsing word veeleerder deur Kaaps gerugsteun. Wat die ATR herhaaldelik doen, is om 'n kwantitatiewe maatstaf te gebruik, naamlik dat die meerderheid Afrikaanssprekendes bruin is en dat die toekoms van Afrikaans dus in hulle hande is. Kwalitatiewe oorwegings word glad nie verreken nie. Die ATR het bv nog nooit 'n veldtog ten bate van suiwer(der) Afrikaans geloods nie; nog nooit bv 7de Laan-Afrikaans veroordeel nie. Daar is veral twee kwalitatiewe oorwegings wat 'n deurslaggewende rol in die toekoms van Afrikaans gaan speel en wat die ATR gerus kan omarm. Eerstens dat Afrikaans so suiwer moontlik gebruik moet word, met veral die vermyding van onnodige Engelse woorde en uitdrukkings. Tweedens dat Afrikaanssprekendes taalgetrou/Afrikaanslojaal moet wees. 'n Derde oorweging, dat Afrikaanssprekendes sover moontlik altyd en oral Afrikaans moet gebruik, behoort as vanselfsprekend aanvaar te word. In die stryd om die behoud van Afrikaans op Stellenbosch en elders is dit baie duidelik dat 'n beduidende getal blankes Afrikaanslojaal is, terwyl bruin Afrikaanslojaliste uiters skaars is. 'n Mens sou dink dat die ATR, as dit letterlik 'n Afrikaanse taalraad wou wees, minstens drie ononderhandelbare vereistes aan die lede van sy direksie en personeel sou stel: Hulle huistaal moet Afrikaans wees. Hulle kinders moet in Afrikaans skoolgaan. Hulle moet ten gunste van Afrikaans as universitêre onderrigtaal wees. Sowel voorheen as tans kan dit nie van die ATR gesê word dat hy aan hierdie drie uiters redelike vereistes vir Afrikaanslojaliteit voldoen nie. Die ATR probeer te hard om ingevolge die mode multikultureel, inklusief en divers, dus 'n "breë kerk", te wees, met die gevolg dat hy homself in sy kern ontmagtig sodat hy nie doeltreffend kan doen wat hy ingevolge sy naam veronderstel is om te doen nie, naamlik om Afrikaans te bevorder. Die ATR moet sy prioriteite verander. Tans is daardie voorkeure versoening, meertaligheid en die nie-standaardvariëteite van Afrikaans, alles stewig ingebed in politieke korrektheid; vandaar ook die veelvuldige verwysings na bemagtiging, wat veral in politieke diskoers gebruik word. Myns insiens behoort dit vir 'n Afrikaanse taalraad primêr om die taal Afrikaans te gaan. Hy moet hom nie by uitstek deur politieke oorwegings te laat lei nie. Daarmee impliseer ek nie dat Afrikaans of enige ander taal van bv die politieke werklikheid geïsoleer kan word nie.

    "Daar is in die verlede in Afrikaans seergemaak, maar ook in Afrikaans 'n stryd teen onreg gevoer. Die Taalraad mik dus op die heling van die letsels van die verlede en versoening tussen die sprekers van die taal." Dít is sprekend van die ATR as versoeningsinstansie. As die ATR wesenlik eerder 'n Afrikaansinstansie was, dus taal- pleks van politiekgeoriënteerd was, sou hy 'n beter balans gehandhaaf het deur soms ook los trek met entoesiastiese verering vir die baie positiewe dinge wat in en deur Afrikaans deur veral Afrikaners tot stand gebring is. Soos gebruiklik in ATR-geledere verwys Steenkamp by name en goedkeurend na nie-wittes soos Neville Alexander, Achmed Kathrada en Nelson Mandela, sonder om by name na 'n enkele van die baie meer wittes te verwys wat 'n baie groter bydrae tot Afrikaans gelewer het. Die rol van Afrikaners in Afrikaans word deur die ATR misken soortgelyk aan die manier waarop hy Standaardafrikaans misken. Hierdie strategie kan moontlik nie-wittes vir Afrikaans wen, maar terselfdertyd kan dit die lojaalste Afrikaanssprekendes, die blankes, vervreem. Ek sou nogal graag wou weet waar Alexander te kenne gegee het: "Afrikaans sal die politieke lot van die land bepaal." Hy kan reg hê in die sin dat sowel Afrikaans as die land besig is om onder te gaan.

    Die ATR kan gerus besin oor waarom hy bly hamer op die variëteite van Afrikaans terwyl dit nie (in dieselfde mate) met Engels of enige ander taal gedoen word nie. Waarom Kaaps ongekwalifiseerd verheerlik as dit nie met cockney gedoen word nie? Waarom skepties oor Standaardafrikaans wees omdat dit soos seker enige ander standaardtaal eerder elitisties as plebejies is? Ek hoop ek het in 'n mate daarin geslaag om te verduidelik wat ek teen die ATR se uitgangspunt en houding het en waarom dit myns insiens in die belang van Afrikaans hersien moet word. Ek het begrip daarvoor dat Steenkamp 'n ATR-amptenaar is en hy dus nie almagtig is om 'n instansie te hervorm/transformeer wat sonder sy medewerking in sonde ontvang en gebore is nie.

  • conrad steenkamp

    Ag Johannes ... Ek waardeer jou plasings. Hulle wys dat ten minste een persoon die moeite doen om my goed te lees.

    Kom met my in aanraking vir 'n ordentlike gesprek soos ek reeds gevra het (taalraad@gmail.com), pleks van bloot dieselfde argumente en persepsies met elke artikel te herhaal. Op hierdie wys kan ons dalk selfs 'n punt bereik waar ons oor ten minste sommige goed kan saamstem.

    En dankie vir al die korreksies. As ons kontak sou maak, kan ek die goed dalk voor die tyd aan jou stuur om te redigeer.

    • Johannes Comestor

      Conrad, dankie vir 'n redelike reaksie. Ek het my "argumente en persepsies" in die openbare domein geplaas in die hoop dat dit tot verandering/transformasie kan lei; ook in die ATR. Alles wat ek hier bo geskryf het, het as oogmerk die bevordering van Afrikaans. Ten minste sommige van my opmerkings behoort (ernstige) oorweging te geniet. Sedert jy die voltydse uitvoerende hoof van die ATR geword het, het daar 'n merkbare verbetering in die funksionering van die ATR ingetree. Daar word bv (dadelik) op aktuele Afrikaansgebeure gereageer, wat voorheen selde die geval was.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top