Kommentaar op Angus en Dirk se kommentaar onderaan Raed-na-Gael se brief van 10 deser

  • 9

Genade maar julle is snaaks, nie soos in laggerig nie maar soos in gemeen, vies, aaklig, venynig en lelik.  Dirk is erg onthuts oor Raed-na-Gael se uitwys van die swak Afrikaans, tot so ’n mate dat hy half ad hominem raak en selfs die woorde ‘fok’ en ‘moer’ gebruik, iets wat mens van Jan Rap en sy maats kan verwag maar nie maklik van Dirk nie.  Wat gaan aan? Iets stink in Denemarke.

Dirk weet te vertel dat, die enigste verantwoordelikheid wat die koerant het, is om as verspreidingskanaal vir daardie advertensie te dien.  Verkeerd – as kaal meisies in ’n motoradvertensie gebruik word gaan die koerant nie daardie advertensie plaas nie; IEMAND by die koerant moet hierdie goed keur en sorg dat onwelvoeglike materiaal nie geplaas word nie. Daardie iemand by die koerant swaai lood of is bloot onbevoeg.

Die patetiese Afrikaans in die betrokke reklame is onwelvoeglik in die ergste graad en met dié nou dat Afrikaans deesdae onder totale aanslag verkeer, behoort ’n soort van ’n regstellende aksie ten opsigte van Afrikaans in die media te geld; daar moet ekstra voorsorg getref word teen hierdie soort onwelvoeglikhede wat Afrikaans in ’n slegte lig stel. 

Dirk se kniebuig teenoor Engels is al so erg dat hy die volgende growwe fout maak: hy skryf “ . . . die adverteerder het dit goedgedink om beleefd teenoor die Afrikaanse leser te wees en haar in haar eie taal te bedien.”  Die leser in ‘haar’ taal?  Dit is grammatika verkrag in ’n poging om polities korrek (gender korrek?) te wees en in wese is dit patroniserend; ewe hooghartig word die vroulike ook nou ’n beurt gegee.  ‘Leser’ hier, soos ‘persoon’, is ’n onsydige entiteit waarvan die persoonlike en besitlike voornaamwoorde soos die manlike is. 

‘Leseres’ sou korrek gewees het as Dirk spesifiek die vroulike bedoel het maar dit sou dan die manlike lesers uitgesluit het terwyl die uitdrukking ‘die leser in sy eie taal’ voorsiening maak vir beide vroulike en manlike lesers.  Hierdie praktyk van die vroulike ook ’n beurt gee is tipies Engels (veral Amerikaans) en dit is weer eens die klakkelose navolging van Engelse gebruik deur al hoe meer Afrikaanssprekendes.  Engels het lankal sy hoflikheidsvorm verloor en ook die vroulike van meeste selfstandige naamwoorde maar vir baie van ons is dit goed Want Engels Is Goed (mos).  Vir ouens soos Dirk-hulle moet Afrikaans ook in die vuur spring as Engels in die vuur spring.

Dirk se gedienstigheid is so tiperend van ’n groot gros Afrikaanssprekendes deesdae; hy sou verkies dat daardie reklamebylaag in Engels geplaas gewees het en “ ... elke liewe Afrikaanse leser sou presies geweet het watter produkte aan die bod was en wat dit kwansuis kan doen”. So al asof Afrikaans nie toereikend genoeg is vir hierdie soort reklame nie. 

Nog is dit het einde niet. Dirk beskou hierdie brouwerk van die adverteerder as “beleefdheid teenoor die Afrikaanse leser” waar dit in wese ’n growwe afjak teenoor die Afrikaanse leser is. Hoe gedienstig kan mens nou eintlik wees?  Soos die spreekwoord sê, as jy gaan lê is dit makliker om op getrap te word.  

Angus se poging tot vertaling is in dieselfde gedienstige gees; die gehoor moet sien hoe ontoereikend Afrikaans is.  Soos Raed-na-Gael sê, die bestuur (redaksie) by die koerant is te inhalig om ’n geldjie te spandeer vir ’n ordentlike vertaling.  Trouens, dit behoort nie eers nodig te wees om geld uit te gee nie, eintlik moet enige werknemer daar in staat wees om daardie gemors reg te maak en sy salaris dek die koste. Maar EINTLIK, eintlik, behoort die adverteerder die nodige respek vir die koerant en sy lesers te hê om nie sulke gemors voor te lê nie.  Respek word egter verdien en mens kan nie anders as om af te lei dat die Afrikaanse media Afrikaans so behandel dat niemand meer respek daarvoor het nie.

Raed-na-Gael slaan die spyker op sy kop as hy die ‘Dirk-Rigters’ (en natuurlik Angusse) kwalik neem vir die stand van ons taal.

Jan Rap

 

  • 9

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Kort en op die man af: Jy weet nie hoe advertensiebylaes by koerante werk nie. Let wel ek praat nie van advertensie-kopie binne die koerant nie, maar van advertensie-insetsels/bylaes. Die adverteerder versorg dit en die koerant versprei dit. Om onwelvoeglike, kaal meisies en swak vertaling aan mekaar gelyk te stel is vergesog.
    Die gewraakte advertensie is op vroulike lesers gerig. (By the way, nié leseresse nie, dis 2017, nié 1970 nie) Daarom bedien die adverteerder die leser in 'haar' taal. Die tyd van patriargie is verby.
    My kwik is opgestoot deur Raed-na-Gael se onsmaaklike verwysing na vroue "sonder tanne" en oujongnooiens. Dis erg kwetsend en definitief nie meer snaaks nie. Te veel brannewyn-en-coke gesuipte humor. Is dit rêrig vir jou snaaks?
    FC Boot se aanhaling uit Jan FE Celliers se gedig "Die Vlakte" is omtrent van toepassing op julle denke en die dinamika van Afrikaans as taal in die huidige tydsgewrig:
    Ek slaap in die rus van die eeue gesus,
    ongesien, ongehoord,
    en dof en loom in my sonnedroom,
    ongewek, ongestoord.
    Tot die yl-bloue bande van die ver-verre rande
    skuif my breedte uit,
    wyd-kringend aan die puur al-omwelwend asuur,
    wat my swyend omsluit ...
    Ja Jan en FC, ..."Die osse stap aan deur die stowwe"...
    Afrikaans en sy sprekers het al derduisende kilometers verder aangestap. (Én hulle verstaan almal Engels!)

  • Beste Jan,
    Dis lekker om van my die sondebok te maak. Alles wat Dirk geskryf het, is my skuld. Die koerantredakteurs wat swak Afrikaans in hulle koerantadvertensies toelaat,is my skuld. Die rigting wat Afrikaans deesdae inslaan met die opneem van Engelse woordeskat, is my skuld.
    Die feit dat ek en Dirk foutlose Afrikaans skryf, word gerieflikheidshalwe oor die hoof gesien, terwyl jy en Raed-na-Gael se skrywes wemel van die spel- en taalfoute. Ek is seker daarvan dat Dirk my nie sal prys deur te sê dat ek die spyker op die kop geslaan het nie.
    Wat my vertalings betref wat jou en Raed-na-Gael so grief, ek het nie probeer snaaks wees nie. Ek wou eerlik sien hoe lyk die advertensie in Standaardafrikaans. Pleks dat jy my gelukwens met my vertaling van ‘multi-‘ met ‘veeldoelige’, nou word ek persoonlik aangeval. Dit is nou mý skuld dat julle Afrikaanssprekendes julle taal so verwoes met Engelse strukture, idiome en woordeskat. Pleks dat julle Dirk bedank daarvoor dat hy nugterheid in julle denke probeer verkry, nou word sy skrywe sommer so goedsmoeds afgekraak.
    Dis mense soos jy en Raed-na-Gael wat sal veroorsaak dat Afrikaans spoedig net ʼn omgangstaal sal wees in verafgeleë gehuggies.
    Groete,
    Angus

    • Beste Angus
      Ek maak jou nie die sondebok nie; jy's dan een van die belhamels, die voorbokke. Moet jouself (en Dirk) ook nie so invloedryk ag dat die kwyn en verskraling van Afrikaans jou skuld is nie; jou invloed strek nie so wyd nie. Die media, baie Afrikaanse politieke leiers en dominees is verantwoordelik daarvoor en ouens soos jy en Dirk huppel ewe gedienstig agterna want dis mos nou al 2017.
      Jou vertaling van daardie skoonheidsreklame was nie jou beste poging nie (jy sê mos jy skryf foutloos), dit was maar weer speel vir die gehoor. Tussen die lyne sê jy (subliminaal) sien, Afrikaans is nie toereikend genoeg om skoonheidsmiddels te adverteer nie.
      Jou logika is verdag. Raed-na-Gael wys die uiters swak Afrikaans in 'n advertensie uit, ek stem saam met hom dat dit powere Afrikaans is en nou, volgens jou, is ek en Raed-na-Gael die ouens wat die Taal laat agteruitgaan. Hoe werk jy dit uit? Ons is juis die ouens wat wys hoe Afrikaans verniel word. Jy, daarenteen, doen jou bes met 'n gek vertaling om te wys dit kan nie anders nie, jy verdedig die powere Afrikaans van die sepies en Dirk wou gehad het die advertensie moes in Engels geplaas gewees het. Die implikasie is natuurlik dat jy en Dirk handhaaf Afrikaans (deur Engels te stoot) maar ek en Raed-na-Gael verniel Afrikaans deur daarvoor in die bresse te tree. Hoe werk jou kop?
      Terloops, 'veeldoel' sou 'n beter vertaling as 'veeldoelige' gewees het.
      Groetnis
      Jan Rap

      • Beste Jan,
        Ek verstaan dat mense soos jy en Raed-na-Gael veg vir die behoud van Afrikaans, en dat julle dit goed bedoel, maar in julle onkunde verrig julle meer skade as goed.
        Vir julle is Afrikaans 'n kleinood wat beskerm en vertroetel moet word, wat weggehou moet word van die invloed van Engels. Geen Engelse woord mag insluip in die Afrikaanse woordeskat nie. Julle gun Afrikaans nie die natuurlike ontwikkeling waardeur alle tale van die wêreld gaan nie. Julle wil hê dat Afrikaans nog moet lyk soos in 1925. Julle besef nie dat 1925-Afrikaans in die 21ste eeu onvoldoende is nie. 'n Taal moet hom gedurig aanpas by nuwe omstandighede, sy woordeskat moet groei om aan nuwe behoeftes te voorsien.
        Geluk bo geluk, julle kan absoluut niks doen om die vooruitgang van Afrikaans te stuit nie. Nie ek of jy of die koningin van Engeland (by wyse van spreke) kan keer dat Afrikaans nie ook van ander tale se woordeskat gebruik maak nie. Ons is in die gelukkige posisie dat Engels sommer ons buurman is wat Afrikaans kan help om sy woordeskat uit te brei. Engels is die toonaangewende taal in die wêreld op alle gebiede.
        Ek besef dat jy beswaar maak teen die gebruik van 'n Engelse woord ipv 'n bestaande Afrikaanse woord, maar dit gebeur maar met alle tale, dat bestaande woorde se betekenisse vervaag en dat nuwe woorde hulle plek inneem. Woorde se betekenisse verander ook dikwels. Dit is nou maar so dat ons ouer garde die woorde 'verbasend' en 'wonderlik' ken, maar dat dit verdring word deur 'amazing'. (Dis nou maar een voorbeeld; daar is seker 30000 ander). Ek is seker, as jy met 'n klomp jong kinders praat en jy sê iets is wonderlik, sal hulle jou nie mooi verstaan nie. Sê egter dat dit amazing is, en almal weet waarvan jy praat.
        Groete,
        Angus

  • Angus,
    Jy sit alweer die pot mis. Webvoet sal nie toelaat dat kommentare geplaas word wat wemel van spel- en taalfoute nie. So wys dit in ons voorleggings uit! Ek weet.

  • Beste Raed-na-Gael,
    Ons moet Webvoet vra om jou skryfsels netso te plaas, dan kan ek jou dophou. Oppas! en versigtig skryf.
    Groete,
    Angus

  • Angus en Dirk se traagheid om vir Afrikaans in die bresse te tree kom duidelik na vore. In plaas daarvan verkies hulle om eerder op vermeende "pornografie" te fokus deur "sonder tanne" en "oujongnooiens" raak te lees en nie die flagrante miskenning van Afrikaans nie. Dis 'n aanduiding van hoeveel hulle al in hierdie opsig gekondisioneer is.

  • Beste Dirk
    Niks word geplaas sonder nagaan en keuring nie. Die redakteur is per slot van rekening die projekleier en die koerant wat uiteindelik op straat verskyn het by wyse van spreke sy stempel op. Hy't of onbekwame mense in diens geneem, of nie toegesien dat die keuringsproses ordentlik implementeer is nie of hyself het lood geswaai.
    Daar is wel leseresse en bestuurderesse, net soos daar verpleegsters, balletdanseresse, vroedvrouens en koninginne is, die jaar 2017 ten spyt. Om die waarheid te sê, nou in 2017 sien mens al duidelik hoe Afrikaans, weens die omhelsing van Engels deur sy sprekers, agteruitgegaan het. Die grootste gros Afrikaanssprekendes (en jy en Angus is ingesluit) word raak beskryf die Jan F Cilliers se osse in die 'Ossewa': geduldig, gedienstig, gedwee. En definitief kan nie alle Afrikaanssprekendes Engels praat soos jy beweer nie (ek het persoonlik ondervinding daarvan), net soos alle Engelssprekendes nie Afrikaans kan praat nie.
    Groetnis

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top