Klimtol speel én besin

Titel: Klimtol
Skrywer: Etienne van Heerden
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624057796

  

Koop Klimtol by Kalahari.com.
Koop Klimtol by Leserskring.
Koop Klimtol by Amazon.

 

Die oeuvre van Etienne van Heerden is mettertyd besig om te ontwikkel in ’n omvangryke geheel waarin die verskillende tekste na mekaar uitreik en selfs op mekaar voed. Dit is dus nie vreemd dat ons die twee hoofkarakters in sy jongste roman, Klimtol, reeds uit vroeëre tekste ken nie.

Die eerste van die twee, Ludo Loeloeraai, het gegroei uit Van Heerden se kortverhaal “Gifkaroo”, wat geskryf is teen die agtergrond van die protes teen breking in die Karoo. In dié kortverhaal is Ludo ’n klimtolspeler wat in die jare sestig en sewentig deur die land getoer het om vertonings te hou as deel van Coca-Cola se bemarkingstrategie en hom op sy oudag in die Weskusdorp Paternoster bevind. In “Gifkaroo” val die aksent net soveel op die breuklyne in Ludo se psige as op die vraagstuk van breking, maar daar is ook die suggestie dat hy die behoefte het om verder te gaan as wat sy klimtolspelery hom toelaat – ek haal aan uit Isobel Dixon se Engelse vertaling van die verhaal, “Poison Karoo”:

He isn’t really made for anything else but his yo-yo stunts, but he wants to give himself at least one chance to see if he can do something bigger than his trick, something less focused on the spinning disk, which might help carry him further, help him land the big fish, bring it home to harbour.

Gevolglik wil hy op sy manier protesteer deur getuienis te lewer van die belangrikheid van water in die psige van die Karoo wat, soos sy eie, kan vol loop van gifwater as breking nie gekeer word nie. In Klimtol verskuif die aksent egter weg van hierdie omgewingsbewustheid en is daar nie sprake van ’n soortgelyke behoefte om die spel of die triek te transendeer nie. In hierdie roman is dit trouens die idee van spel wat oorheers en die fokus van die narratologiese en intellektuele verkenning is.

Spel en trieks is eweneens belangrik in die geval van die roman se ander hoofkarakter, Snaartjie Windvogel, die jong meisie van Matjiesfontein wat in Van Heerden se roman In stede van die liefde deur haar pa aan die “lang manne” uitgelewer word (presies waarom hy dit gedoen het, word eers aan die einde van Klimtol duidelik). As begaafde vioolleerling van Miss Edelweiss is Snaartjie ook ’n speler, en wanneer sy deur hulle toedoen in ’n bordeel in Kaapstad beland, word sy gedwing om ’n lewe te maak uit “turning tricks”, die uitdrukking wat gebruik word vir ’n prostituut wat seks verkoop. Wanneer sy uiteindelik blindelings wegvlug van hierdie lewe, beland sy, net soos Ludo, op Paternoster. Hier leef sy letterlik op die rand van die gemeenskap deur in die veld te skuil en oorleef sy deur seksuele dienste te verkoop, skulpkranse te vleg en klein diefstalle te pleeg. Haar paaie kruis met dié van Ludo, wat hom oor haar ontferm en vir haar kospakkies in die veld laat, maar ook met ander mense van Paternoster, soos Eenslie Maree, wat heimlik op haar verlief is, die bootkaptein Dick Malgas, die vertraagde hekwagter Ankervoet, die enigmatiese dorpsdokter en die kreefinspekteur. Vir Snaartjie was haar stukkend-getrapte viool dit wat haar bo die beperkinge van hulle armoedige lewe op Matjiesfontein kon uitlig.

Daarom steel sy by geleentheid Ludo se klimtol om te vergoed vir die verlange na haar viool, maar neem dit terug wanneer sy besef dat dit nie vir haar verlies kan vergoed nie.

Die begin van die roman konfronteer ’n mens met drie motoriese momente wat uiteindelik hulle voltooiing vind in die slot van die roman: die ongeluk waarin Ludo ’n kind doodry na ’n vertoning op Tweefontein in die Karoo en van die toneel wegjaag, Snaartjie se vlug van die “suikerhuis” in Kaapstad en die uitspoel van die vermoorde kreefinspekteur se lyk op een van Paternoster se strande. Hierna verloop die roman in ’n boeiende verwewing van momente uit die hede en verlede tot by die einde, waar elkeen van die spanningslyne wat volg op dié ontstaansmomente tot ’n hoogtepunt kom. Die beweging van die klimtol word ’n metafoor van die heen en weer tussen hede en verlede, en daarmee saam van die wyse waarop die gekwelde gemoed altyd terugkeer na onafgehandelde sake en onbeantwoorde vrae.

Die spelmotief word veral in die karakter Ludo uitgewerk. In die hede van die roman is Ludo ’n ou man wat straf drink en steeds sukkel om bepaalde gebeure uit sy verlede te verwerk, veral die dood van die kind wat hy raakgery het en sy vurige verhouding met die kameravrou wat skielik uit sy lewe verdwyn het. In werklikheid is sy naam Stian en is Ludo sy verhoognaam, ’n opsigtelike verwysing na die frase homo ludens, oftewel spelende mens, oor wie Huizinga in 1938 ’n beroemde boek gepubliseer het (hieroor gee die skrywer self inligting in die erkennings agter in die boek). Die Loeloeraai-gedeelte van sy verhoognaam sinspeel op Langenhoven se bekende ruimtereisiger en hou verband met die deurlopende verwysings na die vlieënde piering. Ludo sien dit vir die eerste keer as kind saam met sy ouers op hulle Karooplaas en daarna telkens op momente van verhoogde bewussyn. Die “vliepiering” word vir hom ’n inspirasie, ’n gids en mettertyd ook ’n toevlug. Die bonatuurlike is ook teenwoordig in die moment waarop hy onthou hoe hy sy arm ingesteek het in die soetwaterfontein op hulle buurplaas en dit vir hom gevoel het asof die vel daarvan deur die water afgestroop is. In “Gifkaroo” sinspeel dit op die gevolge van breking, maar in Klimtol word dit eerder verbind met die gevaarlikheid van speel en die kwesbaarheid van sy speelhand, die instrument van sy kuns.

Ten einde die roman se fokus op die idee van spel te onderstreep, word die roman verdeel in trieks eerder as hoofstukke. Die titels daarvan verwys na bekende klimtoltoertjies (“Walking the dog”, “Looping the loop”, en so meer), waarvan die woordspelings, suggesties en ironieë vindingryk binne die raamwerk van elke hoofstuk benut word. Binne die logika van die roman bring spel vryheid van gees en die ekstase van kreatiwiteit en is die oorgawe daaraan ’n verset teen alle vorme van konserwatisme en versmorende roetine.

Dit is spel wat Ludo onderskei van sy ouers se generasie. Sy klimtolspelery vir die Coca-Cola-maatskappy is vir sy pa ’n ligsinnigheid en hy dring daarop aan dat Ludo ’n regte werk kry. Ludo se gedwonge pogings tot die soort beroepslewe wat sy pa sal goedkeur, loop egter telkens op mislukking uit.

’n Nuwe fase in Ludo se lewe en sy verbintenis met spel begin wanneer die vrou uit sy verlede en haar kleindogter hom opspoor. Dié kleindogter, Doris, is (dalk net te toevallig) ook ’n klimtolspeler, maar van die nuwe soort, met borgskappe en kampioenskapstitels agter haar naam. Sy oorreed hom om saam met haar te gaan optree in Europa op maat van Die Antwoord se rap-musiek, en so ervaar hy ’n nuwe generasie se omgang met spel.

Onderliggend aan die roman se uitbeelding van die triekers Ludo, Snaartjie en Doris is daar die suggestie dat ook die skrywer ’n speler is en hierdie roman die triek wat hy vir die leser uitvoer. Wanneer daar van Ludo gesê word dat hy “weet elke triek is ’n spinnerak en binne die spinnerak het elke draad sy funksie en dis ’n sekure web”, kan dit ook op die skrywer van toepassing gemaak word.

Van Heerden se gevoeligheid vir die sosiale teksture van die gemeenskappe waaroor hy skryf, is besonders. In Klimtol beskryf hy met ewe veel sukses die konserwatiewe Karoo-boere van die sestigerjare, die skreiende teenstellings tussen arm en ryk op die vissersdorp Paternoster, waar die lang nadraai van apartheid steeds sigbaar is, en die eietydse klimtolspelers in Europese stede soos Amsterdam en Zürich. Sy taalgebruik is, soos altyd, rats (indien nie met dieselfde maniese flonkering as in Dertig nagte in Amsterdam nie) en ingestel op die wyse waarop Afrikaans die draer van ’n bepaalde tydsgees en ’n karakter se unieke aard kan wees. Ludo, Snaartjie en Doris word elk getipeer deur sy of haar eie klank en woordeskat. Ludo se neiging tot sentimentele segswyses (waaroor hy self krities is) en lang sinne sluit aan by sy gekwelde gemoed. Sy behoefte om te bieg oor die kind wat hy doodgery het, is so groot dat hy keer op keer skuld erken vir misdade wat hy nie gepleeg het nie. Dit is veral in die figuur van Ludo dat die raaisel rondom die moord op die kreefinspekteur verdig word tot ’n metafisiese vraagstuk oor belydenis, skuld en straf. Ten spyte van die herontmoeting met sy eertydse geliefde, die vind van ’n kleindogter en sy metamorfose tot hip klimtolspeler wat saam met die jongstes en bestes in die groot stede van die wêreld trieks gooi, kan die skade van die verlede nie herstel word nie. Die heldhaftigheid van sy stryd, waarvan die finale fases hulleself uitspeel wanneer hy terug is in Paternoster, word op gepaste wyse vergelyk met dié in The old man and the sea van Hemingway. Presies wat die einde van die roman vir Ludo en Snaartjie inhou, kan ’n resensent nie verklap sonder om die voornemende leser se afwagting te bederf nie.

Van Heerden se romans ondersoek dikwels die raakpunte tussen die verhale van mense wat deur ras, ouderdom en sosiale klas gedwing word om apart te lewe. Vandaar die neiging om te fokus op verskillende verhaallyne wat mekaar soms kruis slegs deur die aanwesigheid van sentrale karakters in een ruimte, toevallige ontmoetings, soortgelyke belangstellings of historiese verbintenisse. Die verhale van wit, bruin en swart karakters ontwikkel dus dikwels naas, maar ook apart van, mekaar (Toorberg, Die stoetmeester, In stede van die liefde); ’n ouer geslag Afrikaners wat onder apartheid grootgeword het, word gejukstaponeer met ’n nuwe geslag wat binne ’n nuwe bestel grootword, met ander vraagstukke worstel en nuwe kunsvorme beoefen (In stede van die liefde, Asbesmiddag); die ou(er) man word in ’n ongewone verhouding geplaas met ’n jong vrou (Die swye van Mario Salviati); en die mens met sy wortels op die plaas of in die platteland word gestel naas die een wat hom eerder tuis voel in ’n stedelike ruimte, waar dit ook al in die wêreld mag wees (In stede van die liefde).

Elkeen van hierdie spanningsverhoudings word opnuut en met nuwe nuanses in Klimtol ondersoek. Dit is ’n volkome oortuigende en meevoerende roman waarin die skrywerslens oopgestel word vir ’n wye spektrum van menslike ervaring, maar daar ook erkenning gegee word aan die behoefte om terug te keer na ’n ruimte van oorsprong, of dit nou dié van die gesin of die eerste bron van inspirasie is. Die merkwaardige van hierdie roman is dat dit selfs die mees siniese leser (soos byvoorbeeld ek) oortuig dat ’n roman met ’n klimtol as onderwerp die waardige draer kan wees van ’n besinning oor die aard van kreatiwiteit, vryheid, verantwoordelikheid en skuld.

Lees 'n onderhoud met 'n klimtolkampioen.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top